“Wees listig soos die slange en sagmoedig soos die duiwe”
94 Kyk, so pas kom die vroeëre spreker ook weer na my toe en vra my, omdat hy `n vreemde man naas die prior gesien het, wie hierdie man is en wat hy hier doen. Julle sal hierdie vraag in die eerste plek nie so baie belangrik vind nie, maar wanneer julle oordink waaroor dit hier gaan, naamlik oor die waarheid, dan kry die vraag sekerlik meer gewig vir julle as wat die geval aanvanklik was. Moet `n mens nou die vraesteller trompop die waarheid sê? Moet `n mens hom met `n uitvlug antwoord? Moet mens hom heeltemal geen of slegs `n halwe antwoord gee? Of moet `n mens hom op `n bankie laat wag, totdat die antwoord op die vraag hom vanself aanbied? Kyk, dit is suiwer agtenswaardige punte wat rondom die vraag van hierdie monnik afspeel.
2 Ons sal sien hoe die vraesteller hom laat afskeep, en daarom sê ek aan hom: Luister beste vriend en broer, hier is dit nie die plek om jou te vertel of jy te vroeg of te laat met jou vraag vorendag gekom het nie. Dit is reg dat jy die vraag stel, maar dit sou volgens die goddelike ordening verkeerd wees, as ek jou `n antwoord daarop sou gee, voordat jy innerlik in staat sou wees om so `n antwoord te verdra.
3 Want sien jy, bepaalde antwoorde is hier in die Ryk van die geeste so geaard, dat dit die vraesteller se geestelike lewe sou kos, as dit hom voortydig sou bereik. Daarom kan ek jou hierdie keer niks anders op jou vraag sê nie as: Wees geduldig voor die Heer, in deemoed en liefde, dan sal jy te gelegener tyd die korrekte opheldering oor hierdie vreemdeling ontvang. Maar nou verder niks meer hieroor nie, want soos jy sien, is die hele geselskap onder leiding van die vreemdeling en die prior al vlak by ons, ja, hulle is eintlik reeds hier.
4 Die monnik merk op: Ja, liewe hoë vriend en broer, vir jou is jou antwoord helder en verstandig, maar daarenteen moet ek my wel met my eie duisternis tevrede stel. Desondanks het jy my, teen my verwagting in, soveel gesê, want omdat ek by die beoordeling van menige saak, soos ek eens, al was dit ietwat bedek, aan jou, wat taamlik skerp van gees was, gesê het ek ontdek dat daar met die vreemdeling iets heel besonders aan die gang moet wees. Sou dit nie die geval wees nie, dan sou ek werklik geen rede hê om jou dinge te vra waarop jy my `n ontwykende antwoord sou moet gee nie. Sou hierdie vreemdeling, net soos jy, slegs `n bode uit die hemel wees, dan sou die kennismaking met hom sekerlik net so lewensgevaarlik vir my gewees het as met jou. Hy moet dus sekerlik heelwat meer wees en hoër staan as jy, wanneer jy so `n getuienis oor hom gee.
5 Bowendien voel ek, by die nadering van hierdie vreemdeling, `n seldsame, nog nooit voorheen ondervinde aantrekkingskrag, wat my `n vae vermoede gee dat hierdie vreemdeling baie naby die Heer staan en dat niemand die Heer miskien so naby is as hy nie! Het ek gelyk of nie?
6 Ek sê vir hom: Liewe vriend en broer, ek kan jou nou niks anders sê nie as: Wees deemoedig en hou jou uitsluitlik aan die liefde van die Heer, dan sal jy nie verlore gaan nie. Wees nie voorbarig nie, want alle goeie dinge het tyd nodig. Wie die vrugte van die boom van die lewe te vroeg en nog eerder die van die boom van die kennis pluk, skaad homself tweevoudig. Ten eerste kry hy `n onryp vrug waarmee hy hom nie kan versadig nie, maar slegs sy gesondheid sal benadeel. Ten tweede bederf hy daardeur ook die boom, omdat hy, deur hom te vroeg van sy vrugte te berowe, solank die geleentheid ontneem om sy seënryke voorraad sappe in die vrugte te plaas, totdat dit weer tot `n volgende bevrugting in staat sal wees. Dit moet jy tog insien, want jy was volgens my kennis op aarde tog `n goeie boomkweker.
7 Die monnik sê: Ja, dit sien ek nou baie goed in, daarom sal ek my nou so stil hou soos `n muis wat `n kat geruik het.
8 Wel, ons monnik het tot rus gekom en dit is goed. Julle sou miskien dink dat hierdie monnik die enigste slimjan in die geselskap was, maar daar is nog meer. Dit is egter ook nog `n oorblyfsel van die wêreldse gesindheid, wat sulke Rooms-Katolieke priesters en heelwat kloosterordes in die besonder, dikwels eie is. Hierdie wêreldse gesindheid moet ook nog daaruit, want hier kan mens dit gladnie gebruik nie; die liefde moet heeltemal suiwer wees. `n Liefde waaraan nog `n sekere graad van slimheid kleef, is nie suiwer nie. Dit kan julle al op aarde sien.
9 Stel julle net voor dat `n origens beskaafde en welgemanierde meisie bemin word deur `n baie agtenswaardige jongman, waarna haar belangstelling ook uitgaan. Om egter heeltemal seker te wees van sy liefde, bedink sy heimlik allerlei slim plannetjies om agter te kom hoe dit werklik met die liefde van haar beminde gaan. Wanneer julle die voorbeeld oppervlakkig bekyk, sal julle sê: Die meisie handel redelik, want haar handelswyse is tog die beste bewys dat sy baie van haar jongman hou en dat daar dus baie aan sy liefde geleë is.
10 Goed, sê ek, ons sal hierdie liefde ietwat nader op die proef stel en net sien of dit werklik daarteen bestand is. Laat ons aanneem dat die jongman te wete kom van die sluheid van sy uitverkorene en by homself dink: Hoe is dit eintlik met jou liefde gesteld, dat jy my laat bespioneer? So-iets het ek nog nooit gedoen nie, want ek vertrou volkome op jou hart. Om welke rede moet jy my dan vir minder trou aansien as ek vir jou? Wag maar, ek sal jou liefde net toets en maak asof ek nog `n verhouding met `n ander meisie het. Dan sal dit wel gou duidelik word hoe dit met jou liefde gestel is. As jy van my hou, soos ek van jou, dan sal jy jou nie aan my steur nie, maar hou jy nie so suiwer van my as ek van jou nie, dan sal jy my die rug toekeer en sal jou hart in plaas van met liefde, met woede vir my vervul wees.
11 Wel, hierdie man doen dit en dit is te voorsien dat die sluwe geliefde weldra so-iets te wete gekom het. Maar wat is nou die gevolg? Laat ons haar maar net beluister, want waarvan die hart vol is, daarvan loop die mond oor. Haar woorde sou wel as volg kan lui: Sien julle nou ? O, ek het `n goeie neus; dit is net soos wat ek gedink het. Hierdie bedrieër van my hart, hierdie eerlose man, beskou my as `n dom gans en meen dat hy met so `n armsalige wese weinig te doen sou hê. Maar die arme wese is nie so dom soos wat die bedrieër, die eerlose man, dink nie! Inteendeel, sy is tienmaal slimmer en het op hierdie manier die skandelike aard van die man, wat vir verstandig en eerlik wil deurgaan, aan die lig gebring. Kom nou maar net hier jy, ontroue, eerlose man, dan sal ek jou `n wederliefde toon, wat jy nog lank sal onthou.
12 Kyk, waarvoor was die sluheid van die meisie nou goed? Ek sê julle: Vir niks nie; sy het wel baie van die agting wat sy vroeër van haar aanbidder geniet het, verloor. Wat sal daar gebeur as die jongman weer na haar toe kom? Luister self. Hy kom na haar toe en die ontvangs deur haar sal ook dadelik volg. Hy kom haar so pas met die mees opregte liefde tegemoet; maar hoe kom sy hom tegemoet? Kyk die groot kilte en daarby die hewige brandende jaloesie. Hy is buitengewoon verbaas oor haar gedrag en sê aan haar: Hoor net hier, jou gedrag bevreem my ten seerste; wat is die rede? Sy sê: `n Eersame jongedame is `n onbetaamlike gedraende jongman geen antwoord verskuldig nie en kan hom niks anders sê nie as dat dit infaam van hom is, om as valse harteveroweraar en bedrieër van sy geliefde dit nog te waag om hom daarheen te begewe, waar daar vir hom geen plek meer is nie; na die plek, wat hy, as gevolg van sy trouelose gedrag, heeltemal onwaardig is om te nader.
13 Hy sê: Wat hoor ek nou? Was dit só met jou liefde vir my gestel? Was dit wantroue, in plaas van liefde? Werklik, as jy my ooit opreg liefgehad het, soos wat ek jou liefhet, dan sou jy my vertrou het soos wat ek jou vertrou het; dan sou jy my nie laat bespioneer nie, want dit het ek ook nie op jou gedoen nie. Ek het dit egter ontdek en het daarom jou liefde vir my op die proef gestel. En kyk, jou liefde het nie die proef deurstaan nie. Jy het nooit van my gehou nie, maar wou slegs selfsugtig deur my bemin word. Jy wou slegs jou eie beeld in my vereer, terwyl my beeld in jou `n voorwerp van jou minagting was. Kyk, met so `n liefde is ek werklik in die geheel nie gediend nie! Ek sal jou nou egter ietwat bedinktyd gee; ondersoek jou hart, of jy my kan liefhê soos wat ek jou liefhet en nog steeds liefhet. Kan jy dit doen, dan sal ek jou nie uit my hart ban nie, maar jou by my hou, soos voorheen. Maar kan jy dit nie, dan het jy my na afloop van die bedinktyd ook vir die laaste keer gesien.
14 Wat sal ons jongedame na hierdie veelbetekenende woorde doen? Daar lê twee weë oop. Is haar beledigde hoogmoed deur die wysheid van die man oorwin en sien die jongedame haar skuld in, dan sal die saak goed afloop. Maar groei die beledigde hoogmoed, dan sal die saak sekerlik `n fatale wending neem, dit wat by soortgelyke sake meestal die geval is. Omdat die vroulike hart, wat nie met baie liefde vervul is nie, haar nou deur die wysheid van die man oorwin voel, begin sy gewoonlik haar eiewaarde steeds hoër aan te slaan, en in plaas van om versoening te wil, val sy op wraak. Ek dink dat die voorbeeld julle voldoende daarvan sal oortuig dat `n sekere sluheid, absoluut geen deel van ware, suiwer liefde kan uitmaak nie.
15 Julle vra nou weliswaar, hoe moet mens dan die uitspraak van die Heer begryp toe Hy aan Sy apostels en leerlinge, aan wie Hy die enigste gebod van die liefde gegee het, nogtans daarby gesê het: “Wees slim en listig soos die slange en sagmoedig soos die duiwe”?
16 O my liewe vriende en broers, hierdie slimheid en listigheid is heeltemal iets anders en beteken dat die mens hom deur geen enkele versoeking moet laat verblind, asof hy daardeur die liefde en genade van die Heer sou verlaat het, maar hy moet hom vanuit sy eie diepste innerlike oortuiging niks van hierdie versoekinge aantrek nie en opreg by homself sê: O Heer, laat nou oor my kom wat U heilige wil maar goedvind en al kom dit vir my alles hoe vreemd en teenstrydig voor, ek weet tog dat U my bo alles liefdevolste en allerbeste Vader is. Ek wil U des te meer liefhê, namate U Uself vir my verberg, want ek weet dat U altyd des te nader aan my is, namate U verder van my verwyderd blyk te wees. Daarom wil ek U ook steeds meer uit al my lewenskragte liefhê.
17 Kyk, in die voorbeeld is die bespreekte slimheid en sagmoedigheid van die liefde saamgevat, maar daaraan ontbreek ons slim en skerpsinnige monnik nog ten seerste, en daar moet in die ons toekomende onderhandeling nog ekstra aandag daaraan bestee word.