Die bekentenis van `n prediker
97 Vervul van die hoogste saligheid gaan die prior na sy broers, soos die Heer hom dit opgedra het. Daarom volg ons hom om te sien, hoe hy sy taak sal vervul.
2 Kyk, ons bekende praatsugtige monnik gaan hom ook al tegemoet en vra hom met `n verskrikte gesig: Luister broer, hoe is dit moontlik dat jy in hierdie huiweringwekkende tyd, waarin ons gesamentlik wag op die onverbiddelike Regter, met so `n opgetoë gesig vanuit jou goeie skuilplek na ons toe kan kom? Het jou eenvoudige leidsman dit by jou bewerkstellig, of het jy jouself moed ingepraat? Vertel my en ons almal waarom jy so vrolik geword het. Die Heer sy alle lof, eer en dank dat Hy jou hierdie vrolikheid toegestaan het. Ons arme sondaars daarenteen slaan hier des te meer vol angs en vrees uit. As ons tog ook `n bietjie gehelp kon word, dan sou dit werklik vir ons angstige gemoed van die grootste belang wees.
3 Werklik, hoe dikwels het ek op aarde vir die volk vanaf die kansel gepredik, hoe verskriklik dit is om voor die aangesig van die onverbiddelike Regter te verskyn en hoe vreeslik dit is om in die hande van die lewende, almagtige God te val! Dit is bes moontlik dat baie van my toehoorders ook innerlik diep geskok was deur my preke, maar ekself het my preke sekerlik die allerminste ter harte geneem en het daarna, soos julle weet, `n lekker sluk van `n goeie glas wyn geneem wat baie goed gesmaak het. Hier is die volgende spreekwoord presies van toepassing: Wie `n kuil gegrawe het vir `n ander, val ten slotte self daarin. Daarom sit ek dan nou ook tot oor my ore in hierdie kuil en voel sterk en lewendig, wat ek tydens my lewe deur my preke vir die ander wou laat voel. Daarom vra ek jou dan ook des te dringender, om vir my en vir ons almal `n klein troostende mededeling te gee, waarin jy ons vertel hoe dit moontlik is, dat jy in die situasie waarin ons onsself bevind, so vrolik kan wees.
4 Die prior sê: Luister, geliefde broer, my vroeëre angs en die angs wat jy nou nog vir die Heer het, berus op die feit dat ons die Heer nooit wou aanvaar soos Hy is nie, maar dat ons Hom tot die verskriklikste van alle wesens gemaak het. Daardeur het ons die ware Christus verloor, dit wil sê, die Christus wat bloeiend en sterwend aan die kruis, Sy grootste vyande, pynigers en folteraars nog geseën het en hulle selfs, vanweë hulle onwetendheid, verontskuldig het. Ja, die Christus het ons verloor, wat die misdadiger, wat hom tot Hom gewend het, met `n oop hart opgeneem en selfs hulle, wat Hom aan die kruis gehoon het, nie verdoem het nie. Ons het vir ons, in plaas van hierdie ware Christus, `n Christus as tiran geskape, wat voortdurend op wraak uit is, tot aan die bepaalde, dit wil sê, deur ons bepaalde, onsinnige vergeldingsdag, terwyl ons tog maklik kon oordink het, dat die Heer die wraakneming op Sy armsalige skepsele nie so `n lang, onbepaalde tyd hoef uit te gestel het nie, maar met hulle kon gedoen het wat Hy met Sodom en Gomorra gedoen het.
5 Verder het ons ons Christus voortdurend ontoeganklik en verhewe voorgestel, waardeur Hy hom baie weinig oor Sy skepsele sou bekommer, maar hulle tot by die dag van die laaste oordeel sou laat begaan, omdat hulle immers Sy woord en Sy wette gehad het. Daarby het ons egter weinig gedink aan dit wat die goeie Herder gesê het, en die belofte: “Ek bly by julle tot aan die einde van die tye”, het ook onopgemerk by ons harte verbygegaan. In plaas van om bly te gewees het met die aanwesigheid van die lewende Christus, het ons slegs genoeë geneem met die dooie, seremoniële, waardeur ons die ware Christus steeds meer uit die oog verloor het.
6 Ons het alles in die materie geplaas en ten slotte het ons onsself selfs dag in en dag uit verbeel om skeppers van Christus te wees. Op grond van hierdie hemeltergende aanmatiging, waarby ons gedink het om oor die goddelike liefde en erbarming mag te kan uitoefen, het ons gesondig dat dit `n ware skande was! Omdat `n liefdevolle Christus ons materieel nie soveel sou inbring as `n streng regverdige en onverbiddelike nie, het ons alles toegeskryf aan Sy allerstrengste regverdigheid, in plaas van om as swak wesens na Sy ewige liefde en ontferming te verwys. En soos wat ons Hom in die tydelike, wins- en rentegewend gemaak het, so het Hy ook tot op die tydstip vir ons gevoel gebly.
7 Maar dink julle dat die ware Christus daarom werklik verander en so geword het, wat ons, dwaas genoeg, in onsself van Hom gemaak het? O nee, liewe broers, Hy het, soos Hy altyd en ewig was, naamlik nog tot op hierdie oomblik, heeltemal dieselfde allerbeste, heilige Vader gebly en sal dit verder ook ewig bly!
8 Hy is nog dieselfde oneindige liefdevolle Vriend, wat aan elkeen sê: “Kom na My toe, julle wat belas en belaai is, Ek sal julle almal verkwik.” Hy is nog dieselfde Christus, wat aan die kruis in Sy hart Sy beledigers, Sy vyande en folteraars verontskuldig het en hulle almal in die volheid van Sy goddelike liefde vergewe het.
9 O vriende en broers, ek sou wil sê: As `n aardbewoner ooit `n groot en swaar sonde kan begaan, dan kan dit eintlik geen groter een wees as wanneer iemand, uit skandelike aardse eiebelang, die onuitspreeklike goedheid en liefde van die Heer so misken, soos wat ons dit misken het nie!
10 Beskou maar net die geskiedenis van die verlore seun. Wat besonders het hy gedoen om hom met sy diepgekrenkte Vader te versoen? Niks anders nie as, gedryf en genoodsaak deur groot en gruwelike armoede, weer na die huis van sy Vader terug te keer, om daar desnoods die laagste kneg te wees. Maar wat doen die Vader? Hy kom hierdie terugkerende seun reeds halfpad tegemoet. En toe hy by hom was, voor hom neersink en hom sy, uit nood gebore, verlange beken, help die vader hom dadelik orent, druk hom aan sy heilige bors, laat hom terstond die mooiste klere aantrek en sorg vir `n groot vreugdemaal.
11 Sê net, liewe broers, het ons Christus ooit vanuit hierdie oogpunt beskou? Ons het ook wel oor die verlore seun gepredik, maar hoe! Die verlore seun moet hom bekeer deur ons bieg en daarna deur allerlei opgelegde boetewerke, wat dikwels erger was as die varkvoer wat die verlore seun in die vreemde tot hom moes neem. Bekeer so `n verlore seun hom werklik, dan vind hy, in plaas van die enige ware, goeie Vader, tog niks anders as ons, wat hom tot sy sogenaamde ommekeer aangesit het en daarby nie gedink het Wie en waar die Vader is en waarheen die verlore seun hom moes wend nie!
12 So het ons gehandel; maar ons goeie heilige Vader het gladnie verander nie. Ons almal is niks anders as sulke verlore seuns wat al vroegtydig die van die Vader verkreë goed op aarde verkwis en verspeel het. Ons het ons armoede buite die Vaderhuis, reeds vir `n geruime tyd pynlik gevoel. Laat ons daarom terugkeer en ons voor Sy voete werp. Nie sodat Hy ons miskien `n voortreflike maal mag berei en ons met baie eerbetoon mag opneem nie, maar sodat ons die allerlaastes in Sy vaderhuis mag wees en Hom daar met al ons lewenskragte mag liefhê.
13 Die monnik sê: O broer, watter woorde het jy nou gespreek en watse hemelse balsem het jy nie daardeur in ons harte gegiet nie! Ja, jy het die ewige waarheid gespreek. Hoe kon ons Hom, die algoeie, heilige Vader, wat ons met die grootste vreugde en met die grootste liefde van ons hart sou moes afwag, so vrees! Ja, liewe broer, ek kan jou verseker dat jy my ook alle angs vir die Heer so goed as weggeneem het, dat ek selfs nie meer vir die allerstrengste oordeel bang is nie. Want ek weet nou dat ek Hom, die so oneindig liefdevolle Christus mag en kan liefhê. Omdat Hy so oneindig goed en liefdevol is, voel ek, dat ek oral gelukkig kan wees waar ek Hom, die Liefdevolste maar kan liefhê.
14 Ek dank jou, broer, ook in die naam van al ons broers hier, vir die oorbring van so `n heerlike boodskap, wat die liefdevolle eenvoudige man jou sekerlik ingegee het. Ek gee jou ook die volle versekering dat ek en ons almal nooit sal ophou om die ware Christus lief te hê nie, ja, ewig bo alles lief te hê, omdat Hy so deur en deur, oneindig goed en liefdevol is! Ja, wie Hom nie so sou kan liefhê nie, moet waaragtig erger wees as die slegste helse duiwel! Ek was eers bang om voor Sy aangesig te verskyn, maar van nou af aan sal dit my vurigste wens wees om die allerheiligste Vader in my groot onwaardigheid slegs eenmaal werklik te mag sien.
15 O my Christus, hoe baie het ek U lief, noudat ek U beter leer ken het as op aarde. Wees my arme sondaar genadig en barmhartig en ontneem my nie hierdie saligheid, wat daaruit bestaan dat ek U met al my kragte kan liefhê, oral waar U ontferming en U heilige wil my maar sal ontbied. O Heer, ek verlang ewig niks van U nie, want ek is immers nie die allergeringste genade werd nie. Laat U slegs deur my liefhê en as dit moontlik is, laat my dan volledig in so `n liefde vir U opgaan!
16 Die prior sê: My liewe broer, sê my net, nadat jy innerlik so verander het, hoe my eenvoudige man, wat so pas van agter die struikgewas te voorskyn kom, jou nou geval?
17 Die monnik sê: O liefste broer, hierdie man geval my al vanaf sy eerste verskyning buitengewoon goed. Ek sou Hom kon volg waarheen hy maar wil en sou hy my ook hier of daar neerplaas om op die Heer te wag, dan sou ek soos `n rots op `n punt `n halwe eeu lank kan bly staan, sonder om ook maar `n haarbreedte af te wyk. Dit is nou regtig `n man wat ek om die hals sou kan val, om al my liefde oor hom uit te stort. Die prior sê: Wat sou jy dan doen wanneer die Heer van alle hemele en alle wêrelde jou in so `n eenvoud sou nader?
18 Die monnik sê: Om so `n gevoel uit te druk, sou wel by elke, nog so verhewe, hoogste hemelse gees die woorde in die keel bly steek! Dit sou iets onverdraaglik groots wees, al was dit maar `n oomblik van saligheid.
19 Die prior sê: Praat met die eenvoudige man self daaroor, hy kom al na ons toe. Hy sal die beste in staat wees om jou uitsluitsel te gee waar ek, glo dit, my broer, inmiddels geen woorde meer voor het nie. Ek sê jou: Gaan, ja gaan julle almal hierdie eenvoudige man tegemoet. Hy sal vir julle, net soos vir my, die ware weg na die Vader wys en die Vader ook Self laat sien. Meer kan ek julle nie sê nie.
20 Maar nou strek die eenvoudige Man Sy arms uit en sê: Kinders, kom almal in die arms van julle goeie Vader, want Ek is Die Een Wie julle so erg gevrees het.
21 `n Algemene skreeu klink op en almal val voor Hom neer en ween van te groot liefde vir Hom! En al wat mens van hulle hoor is: O, goeie heilige Vader! So oneindig goed is U?! O, mag ons U tog so liefhê, dat ons liefde U ook maar enigsins waardig sou wees!
22 En sien, die Heer buig Hom na hulle toe, rig almal op en sê aan hulle: Kinders, luister nou en verneem My streng, regterlike oordeel, wat lui: Volg My, want Ek, julle enige, ware goeie Vader sal julle Self lei na `n vrugbare plek, vir julle steeds groeiende bestemming in My Ryk! Maar nie op hierdie plek, waar nog soveel van julle sinsbedrog te sien is nie, maar eers op `n lewende, suiwer plek sal Ek julle laat sien wat julle verder moet doen en hoe julle My volkome in gees en waarheid moet liefhê en in so `n liefde aanbid as die enige, ewige ware God! Laat dus alles hier agter en volg My!
23 Kyk nou hoe ons liewe Vader weer `n groepie verlore kinders na Sy huis bring en hoe hulle Hom, Sy heilige naam lofprysend, volg. Laat ons hulle ook volg, sodat ons die volledige verlossing kan meemaak.