Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 54

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Bevryding uit die skynhemel

54 Kyk nou, na gelang die vaartuig die oewer nader, herken ons woordvoerder sy tafeldienaar, wat hy hom nog goed herinner, ook steeds beter. Daarom wend hy hom tot sy geselskap en sê: Kyk net daar, as dat nie ons mooi tafeldienaar is nie, dan is ons nat ondergrond geen water nie. O, dit is hy; sy hele manier van doen, sy gesig, sy lang blonde hare; kort en goed, hoe nader ons aan hom kom, des te beter herken ek hom! As ek nou maar `n klein bietjie almag gehad het, dan sou ek graag `n klein donderbui op hom wou afstuur. Aangesien ek dit nie kan doen nie, sal ek hom tog, tenminste as ons by mekaar is, met enkele goedgekose, skerp woorde uit my mond tref. Ek kan tog nie glo dat daar in die geesteryk, dit wil sê daarbo in die verdagte hemel, en hier benede in die land, twee geeste te vinde is wat soos twee druppels water na mekaar lyk nie. Ons sal daarom ook nie maak asof ons hom al voorheen gesien het nie, maar afwag wat hy self stellig gaan sê wanneer ons almal aan land is. Sê hy egter niks, dan sal ek wel `n gesprek met hom aanknoop en sekerlik te wete kom of hy die tafeldienaar is of nie! `n Ander uit die geselskap sê aan die woordvoerder: Luister vriend, gestel dat hierdie gees, wat kennelik op ons staan te wag, wel ons bekende tafeldienaar is, dan dink ek baie anders oor die manier waarop ons met hom moet omgaan as jy, beste vriend en broer. Kyk, dit was tog sonder meer jou en ons aller wil om van die vorige sit, eet en gaaphemel weg te kom. Die dienaar het dit vir jou, volgens my wete, ook verseker. Dat hy juis daarbo nie meer na ons toe gekom het nie, verbaas my gladnie, want, staan my toe, ten eerste het hy dadelik na sy vertrek vanweë die verkeerde teks, hom van lering onttrek en ten tweede het niemand van ons, juis om die rede, sy raad met betrekking tot ons gedragsreëls in ag geneem nie. Dat hy ons daarom min of meer aan ons lot oorgelaat het en ons inderdaad in `n groot verleentheid gebring het, vind ek, in aanmerking geneem dat ons hom werklik brutaal behandel het, sonder meer volkome korrek. Omdat ons so wonderbaarlik gered was en ongedeerd gebly het, en dit sekerlik alleen aan hom te danke het, is ek van mening dat ons ons donderbui, ons skerp woorde en slim benaderingswyse liefs agter­weë kan laat. Anders sou hy miskien op die idee kan kom om ons nog eens te vergeet en die land wat nou so naby is, ook so `n bietjie los te maak soos die daarbo in die hemel.

2 Die woordvoerder sê: Baie geagte vriend en broer, goedbe­skouend het jy gelyk; ek was ietwat hardgebak, maar jou woorde het my nou volkome nugter gemaak. Hierdie dienaar kan netsowel `n vermomde engel wees, hoewel ek by hom nog geen vlerke gesien het nie, maar dit kan hy sekerlik verborge onder sy gewaad dra. En as dit so is, die heilige drie-eenheid staan my by, dan sou ons tog aan die kortste end trek, want so `n engel moet ontsettend sterk wees. Ek het my eens deur `n egte vroom geestelike laat vertel dat so `n engel met sy enorme krag, baie maklik die hele aarde met een slag van sy groot, vlammende swaard, in twee kan slaan. As ons hom dus ietwat al te grof bejeën hier, sou dit later kan blyk dat hy onder sy gewaad, behalwe sy vlerkpaar, ook `n goed gevormde, vlammende swaard verberg. Ek wil verder nie praat oor wat hy daarmee, gesien ons ontsettende swakheid, alles sou kan doen nie.

3 Die ander sê: Ja, ja, beste vriend en broer, op die punt het jy weer gelyk. Ook al lyk hy nie so goed tuis te wees in die Heilige Skrif nie, daarom kan hy tog wel `n egte engel wees; en dus sal ons hom dan ook baie deemoedig tegemoet tree.

4 `n Derde uit die geselskap merk op: Luister broers, ses oë sien meer as twee! Ek is van mening dat ons ook met betrekking tot die Heilige Skrif en die teksverwisseling, of beter gesê, die naams­verwisseling, beslis geen ophef moet maak nie. Hoe kan ons eintlik weet welke plek die goddelike woord by hemelse geeste en in die besonder by engele inneem, hoe hy dit lees en hoe hy dit begryp? Dit is ook baie goed moontlik dat Johannes wel hierdie uitspraak oor Christus gedoen het, maar dit nie self opgeskryf het nie; ook kan daar deur die baie oorleweringe, net soos na my wete, `n hele brief van Paulus, vir die wêreld verlore gegaan het. In die hemel sal dergelike dinge sekerlik nie verlore gaan nie. Daarom dink ek, soos reeds gesê, dat ons, wat dit aanbetref, onsself in ons onwetend­heid ietwat meer beskeie moet opstel. Soos julle weet, was ek op aarde self `n geestelike en selfs doktor in die teologie en het as sodanig in die heilige boek ook wel menige haat gevind. Maar ek het my getroos met die gedagte dat as sulke verdwene gedeeltes onontbeerlik vir die heil van die mense sou gewees het, die Heer dit ook nooit sou toegelaat het dat dit verlore sou gaan nie. En verder dink ek nog dat so `n gedeelte eendag in die hemel, vir `n hoër geestelike doel, in die suiwerste vorm aanwesig sal wees. Kyk, die woordvoerder en ook alle ander is volkome tevrede met die voorstel.

5 Inmiddels het ons vaartuig by die oewer aangekom en die hele geselskap, meer as honderd man sterk, begewe hulle aan land, waar die tafeldienaar op hulle staan en wag, en hulle met oop arms tegemoetgaan. Ons woordvoerder gaan heel eerbiedig na hom toe en sê: Is dit jy, of is dit nie jy nie? Die tafeldienaar sê: Ja, dit is ek! En ons het weer hier saamgekom, soos wat ek julle al daarbo te kenne gegee het. Jy en jou geselskap het nie aan die voorwaardes wat deur my gestel was, gehou nie, en namate julle daarvan afgewyk het, moes ek myne ook wysig. Tog wou ek julle van julle skynhemel bevry. Daarom moes ek aan die hand van jou veranderde maatstaf, ook `n ander weg bewandel om jou en die hele geselskap uit die skynhemel te gaan haal.  

6 Julle vra my nou wat die hoogs wonderbaarlike betekenis van so `n eienaardige weg is en julle vra verder nog wat die kennelike teenspraak tussen die, deur my aan tafel getoonde stewigheid, en die daarna tog spoedig volgende plaaslike, totale instorting van die hemel, beteken. Want in sy natuurlike betekenis sou so-iets flagrante oëverblindery gewees het. Ek sê vir julle: Dit alles het `n betekenis, wat volkome met julle innerlike ooreenstem, want toe ek julle, nog aan tafel, die stewigheid van julle hemel laat sien het, het ek julle niks anders getoon as die stewige grondvesting van julle hemel wat nog op misvattings berus het.

7 Toe jy egter in my nabyheid die onvolmaaktheid en weersin­wekkende dwaasheid van jou hemel begin te voel, verhef jy jou uit die sentrum van jou dwaling en vlug met baie wat, heimlik ook deur my aangespoor, jou insigte gedeel het. Op die uiterste grens van jou dwaling het ek jou alles getoon wat jou nog aan jou dwase hemel gebind het. Daaraan moes jy aandag geskenk het, maar selfs aan die grens van jou dwaling het jy nog daaraan bly vashou en wou jy maar nie insien wat ek aan jou gesê het nie. Daarom wou jy dan ook verder in jou dwaling gegaan het. Nie ek nie, maar die woord wat ek tot jou gespreek het, het ondanks jou wil om jou eie weg te volg, jou dwaling losgewerk, sodat daar op menige plek `n skeur ontstaan het waardeur jy baie maklik die geheel verkeerde basis van jou skynhemel kon insien. Ja, ten slotte het my woord jou heeltemal gevange geneem. Hulle, wat nog te swak was, was daardeur, deur `n nuwe kloof, van jou geskei en so word jy, soos gesê, volkome gevang.

8 Omdat jou dwaling daardeur steeds meer begin insak het, vlug jy met jou geselskap op die muur. Hierdie muur was die goddelike Woord, wat weliswaar in jou bly hang het, maar wat nog in al sy fragmente vir jou totaal onbegryplik was. Daarom het hy vir jou en jou geselskap ook geen draagkrag gehad nie. Dit het gelyk om uiteen te wyk en val saam met julle in die diepte, dit wil sê die Woord, wat tot dan toe slegs julle verstand besig gehou het, en val vir `n klein deel in die lewende diepte van julle harte. Baie spoedig het julle `n groot plas water onder julle gesien, wat gedreig het om julle te verslind. Maar die water was niks anders as die sigbare wysheid van insig, wat in die geringe fragment van die Woord, wat in jou diepte geval het, verborge is. Met hierdie “woordmuur” in jou hart het jy baie gou die groot, glansende see van insig bereik en die Woord word vir jou en julle almal `n sekere draer oor die oneindige stroom van goddelike wysheid, wat ook in die klein Woordfragment verborge gelê het. Toe jy die Woord heimlik steeds meer in jou opgeneem het, het dit jou gedra, namate jou opname­vermoë gegroei het, steeds nader na `n vaste lewensoewer toe. En jy kon dit nie bereik het, voordat die woord volkome sou seëvier oor die eiedunk van jou hart nie. Die Woord het egter geseëvier en daarom het jy daarmee ook op die vaste oewer beland.

9 Dink maar net terug aan al die belaglike kletspraatjies, wat trouens alles `n produk van jou goedmoedige oppervlakkigheid is; dan sal jy maklik insien hoe onhoudbaar en leeg al jou begrippe oor God en hemel is. Nou eers bevind jy jou op die eerste ware grond van die Woord; soek daarom ook op hierdie grond, dan sal jy, net soos jou geselskap, God en die hemel, vanuit `n heel ander gesigspunt leer ken.

10 Kyk daar, tussen môre en middag staan `n groot paleis. Daarheen moet julle julleself begewe. Daar sal julle alles vind wat julle nodig het.

11 Ons woordvoerder sê: O, liewe hemelse hooggewaardeerde vriend, wil jy dan nie so goed wees om ons daarheen te begelei nie? Die vermeende tafeldienaar sê: Dit is nie nodig nie, want julle sal nie die weg daarheen mis nie, maar ek sal so vinnig soos `n gedagte vooruitgaan en julle daar ontvang en bekendstel. Eers daar sal ons enkele woorde oor Johannes en Paulus van naderby belig, dan sal ons goed sien wie van ons die mees kundigste op die gebied van die Woord is. Volg dus my raad op en gaan daarheen. Amen! Kyk, die vermeende tafeldienaar het skielik verdwyn en ons nogal verblufte geselskap begin die aangegewe weg op te gaan. Ons sal hulle weer volg en getuie wees van al die gedenkwaardige wat nog sal gebeur. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205