Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 32

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Geboorte vanuit die duisternis. In `n eerste graad van die lewenslig

32 Kyk, die geselskap sien hierdie twee bodes ook al. Ons belangrikste redenaar gaan hulle vriendelik tegemoet om hulle netso vriendelik op te neem. Soos julle dit byna self kan hoor, sê hy aan hulle:

2 “Wees by my en ons almal duisend maal welkom! Ek ken julle weliswaar nie, maar ek sien wel dat julle, mense soos ons, of so pas van die aarde hier aangekom het of êrens `n beter weiding moes gevind het as ons, want julle lyk onvergelykbaar beter as ons almal saam. As julle eers van die aarde af aangekom het, dan maak ek julle dadelik daarop attent, dat die sogenaamde Robinsons op aarde daar stukke beter aan toe is as ons. Vir hierdie bewering het julle geen ander bewys nodig nie as om ons slegs van kop tot tone te bekyk. Ons onmenslike goeie uiterlike sal julle dan op die eerste oogopslag selfs in hierdie nog baie aansienlike duisternis baie duidelik toon, hoe dit hier met die goeie lewe lyk. Daarby kan ek julle goed verseker, dat hier glad geen siektes voorkom nie, want wat kan nog by ons siek word? Ons kan hoogstens die siektes kry wat net klippe kan kry, want ek dink, wanneer mens byna al sy lewenssappe kwyt is, mens dan ook alle siektes kwyt is. Die enigste euwel wat iemand erg in die begin gaan pla is honger, `n maagklag dus. Maar soos wat die honger gewoon­lik die beste kok is, so is daar dan ook vir hom baie gou kos waarmee hy sy kookkuns buitengewoon op die proef kan stel. Kyk, daar aan ons voete op die sand is so `n probeerseltjie vir ons maag te siene. Dit is mos; mens sou kan sê, egte Yslandse en Siberiese mos. Die skaars doudruppels wat tussen die blaartjies sit, is bowendien ook die enigste dorslessende middel wat in hierdie enorme sandwoestyn te vinde is. Trek julle dus niks daarvan aan as hierdie situasie miskien wel ewig sal duur nie, want geduld en gewoonte maak uiteindelik alles vir iemand draaglik. Ons sal almal baie bly wees as julle met julle ietwat fosforesserende gewade by ons sal bly, want ek kan julle verseker dat mens eerder teen alles kan wen as teen hierdie duisternis. Daarom kan julle julle goed voorstel dat julle fosforesserende skynsel vir ons almal soos `n son lyk! Maar nou liewe vriende, sal julle dalk so vriendelik wees om te vertel wat die rede is dat julle van die aarde af hierheen gekom het of, as julle van `n beter weigrond af kom, my mee te deel wat julle daartoe gebring het om dit te verlaat en julle hierheen te begewe?

3 Die een sê: Arme vriend, jy vergis jou ten seerste in ons, want ons het, nóg van die aarde, nóg van een of ander beter weigrond in hierdie streek na julle toe gekom, maar ons kom van die Heer, wat Christus heet en wat jy net as `n doodeerlike man beskou, terwyl Hy tog die enigste Heer van hemel en aarde is. Hy het ons na julle toe gestuur om aan julle te toon wat die rede is dat julle al so lank totaal onbeholpe in hierdie streek ronddool.

4 Wanneer julle julleself afvra: Hoe het ons op aarde geleef, dan sal julle helder en duidelike herinnering vir julle sê: Ons almal het altyd eerlik en redelik gehandel en geleef. Maar vra julle julleself verder af: Waarom het ons so geleef en gehandel, dan sal julle niks anders kan sê nie, as: Ons het vernaamlik maar net vir ons eie welsyn geleef. Wêreldse eer, wêreldse lof en die daarop gebaseerde aansien by ander mense was die vernaamste beweegredes van al ons edele dade. Ons was steeds troue lede van die staat en kerk. Waarom dan? Miskien uit liefde vir God? Hoe kon dit moontlik wees, terwyl ons God tog in die geheel nie geken het en dus ook nie geweet het wat Sy heilige wil kon wees nie. Ons troue lidmaatskap van staat en kerk was ten eerste daarop gebaseer om juis daardeur baie maklik veel meer voordele te bemagtig as ander wat nie by staat en kerk in so `n gunstige aansien gestaan het soos ons nie. Verder lê aan hierdie geestelike blinde trou aan staat en kerk hierdie gedagte ten grondslag: As daar, volgens die leer van die priesters en ander verkondigers van onsterflikheid aan die anderkant, een of ander lewe is na die dood, dan kan ons by `n dergelike handelswyse tog nie ten gronde gaan nie. As daar nie so `n lewe is nie, dan sal die deur ons dade verworwe roem tenminste op aarde by ons kinders en kleinkinders tog bly voortlewe en mens sal miskien nog oor honderde jare oor ons praat en sê: Dit was manne en dit was tye, waarin sulke manne geleef het!

5 Kyk, soos gesê, moet julle innerlik ook so-iets vir julleself gesê het. Sodoende het julle tog kennelik, sonder enige innerlike begrip, uit die aardse lewe in dié geestelike lewe oorgegaan en julle het absoluut nie geweet wat vir die geestelike lewe nodig is nie, nog minder hoe dit geaard is en waaruit dit bestaan. Wat was derhalwe vanselfsprekender as dat julle in die geestelike lewe niks anders kon aantref nie, as slegs dit wat julle van julle stoflike lewe hierheen saamgebring het, naamlik `n hoogs beklaenswaardige, arm gestalte van julle wesenlike karakter en `n volslae duisternis oor die begrippe van die geestelike lewe. Met ander woorde: Julle het as`t ware hier aangekom soos wat `n embrio, by die natuurlike verwekking van die mens, in die moederliggaam aankom, waar ook volslae duisternis alom heers. In `n sekere sin voed die embrio homself slegs met die afval uit die bloed van die moeder, totdat hy met so `n tog uiters arm en onsmaaklike kos die natuurlike krag bereik waarmee hy homself uit die duister ontstaansoord bevry. So bevind ook julle julleself hier in `n sekere sin in `n “moederliggaam” en moet julle julleself ook steeds met die gelyksoortige afval daarvan voed. 

6 Maar omdat daar nog `n lewende vonk vir die ewige lewe in julle is, naamlik julle geringe liefde en hoogagting vir Christus, het hierdie vonk julle geestelike embrio’s geryp vir die geboorte uit julle eie duistere sfeer. Dit sal met julle gaan soos wat jy aan die slot van jou toespraak aan jou geselskap gesê het: As ons saam met Christus nêrens in lig opgaan nie, kan ons seker wees daarvan dat hierdie duisternis vir ewig ons eiendom sal bly.

7 Derhalwe het julle in Christus die lig gevind. En julle sal dan ook ervaar wat die Heer aan een van Sy leerlinge gesê het, naamlik, dat niemand die ewige lewe en dus die ryk van God ten deel kan val, wat nie wedergebore word nie. Dit het die Heer in die nag aan Sy leerling gesê om hom daarmee aan te toon dat elke nie-wedergebore gees hom in `n nag bevind soos `n embrio in die moederliggaam, en dat die Heer ook in die nag na die nog nie wedergebore gees kom om hom uit hierdie nag in die lig van die ewige lewe tot wedergeboorte te bring.

8 Omdat nou, as gevolg van julle ontwaking, maar nog geringe liefde vir die Heer, dat die tyd van die nuwe geboorte aangebreek het, en ons is hierheen gestuur om julle uit julle geestelike geboorteplek te haal en julle na `n plek te bring waar julle as kinders versorg sal word. Daardeur sal julle weer nuwe lewenskrag kan vergader om met hierdie kragte, namate hulle meer of minder ontwikkel sal wees, in `n sfeer te kom wat presies deur die Heer vir julle kragte aangepas sal wees.

9 Dink egter nooit aan `n hemel asof dit `n oord van beloning is vir die goeie werk wat die mens op aarde volbring het nie, maar bedink dat die hemel uit niks anders bestaan nie as uit julle eie liefde vir die Heer!

10 Hoe meer julle die Heer met liefde sal omvou en hoe deemoediger julle ten opsigte van Hom en al julle broers sal wees, des te meer sal julle van die waaragtige hemel in julle dra. Skaar julle dus agter ons en volg ons!

11 Kyk net hoe die hele geselskap hulle verheug en hierdie twee bodes volg.

12 Julle vra wel waarheen hulle die geselskap sal bring. Draai julle maar net om en kyk, daar gunter al behoorlik ver agter ons, sien julle die bekende geopende hoë wand; merk julle nog niks nie? Lyk dit nie byna soos die oopgaan van die moederskoot by die geboorte van `n kind nie?

13 Julle sê: Inderdaad, soos met `n towerslag begryp ons dit nou as `n wonderbaarlike ooreenkoms. Maar as die geselskap deur hierdie kloof gegaan het, waar beland hulle dan? Wat gebeur daar met die kind vlak na die geboorte? Julle sê: Hy word in sagte doeke gewikkel en dan in `n wieg gelê; hy bevind hom dus nog steeds in baie beperkte lewensomstandighede. Julle het tog, toe ons hierdie wand aan die ander kant vanaf die môre genader het, die baie dale links en regs gesien? Kyk, dit is die doeke en dit is die wieg. Hierdie mense word dus in hierdie dale geplaas. Daar lyk dit ongeveer soos wat julle dit in die begin in enkele van sulke dale links en regs leer ken het.

14 Soos `n pasgebore kind nie van vandag op môre tot man word nie, gaan ook `n wedergebore gees, veral in die ryk van die geeste, slegs langsaam vooruit. Nou weet julle in welke omgewing julle julleself bevind. Daarom mag dit julle ook nie verbaas dat julle onder die baie wat hulle hier voortbeweeg, nagenoeg geen hoër leraars aantref nie, want dit sou hier netso nutteloos wees, as wanneer iemand op aarde al onderrig sou wil gee aan `n kind wat hom nog in die moederskoot bevind.

15 Wanneer die geskikte tyd vir `n kind aangebreek het om hom te onderrig, weet julle sonder meer. Daarom is hierdie bodes ook nie hier as leraars nie, maar as waaragtige geestelike “verloskundiges” te beskou! Aangesien ons dit nou weet, kan ons onsself weer bietjie verder op begewe waar `n baie nuwe tafereel homself aan ons sal voordoen. En dus genoeg vir vandag!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205