Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 58

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Vurige verlange na die Heer. `n Eksamen in liefde. Die heilige doel

58 Ons woordvoerder sê: Liewe vriend en broer, jou laaste woorde klink besonder troosvol. Tog wil ek daarby opmerk dat dit met die egte vasgryp van Christus sekerlik `n ietwat twyfelagtige saak bly, solank Hy nie voor my staan nie. Wat my hart betref, het ek Hom, net soos die hele geselskap, lankal opgeneem, maar desondanks wil die goeie Christus hom nie wesenlik deur ons laat vasgryp nie. En so brand ons nou ook almal van liefde vir Hom en ons sou Hom graag wil vashou en Hom dan uit suiwer oorgrote liefde nooit meer loslaat nie! Daar ontbreek by ons vir hierdie allersaligste onderneming niks meer en niks minder as juis die belangrikste betrokke persoon.

2 Dit sou goed wees, beste vriend, ja, buitengewoon goed, om Christus met alle krag vas te hou. Ja, my hele wese en my hande verlang vurig daarna; maar Hy moet wel daar wees, of hom tenminste êrens in hierdie omgewing laat vind. Werklik, as dit daarop neerkom, sou dit my niks kan skeel om uit liefde vir Christus, nog uit duisend van dergelike hemele gewerp te word, en met die boonste hemel sal dit tog wel heel anders wees. As ek maar verseker sou weet dat ek elke keer presies voor die voete van Christus sou beland; maar solank ek nie heeltemal seker is daarvan nie, lyk my liefde vir Christus nog steeds of ek meer tevergeefs hap na hierdie allersaligste lewenslug, asof mens hom in `n atmosfeer bevind waarin geen of slegs baie weinig lewenslug voorhande is.

3 Die vermeende tafeldienaar sê: Het jy dan te min lug hier om in te asem? Jy spreek asof jy hier na lewenslug moet hap.

4 Ons woordvoerder antwoord: Liewe vriend en broer, ek hoop tog nie dat jy my verkeerd begryp het nie, want daar bestaan volgens my mening twee soorte lewenslug. `n Lewenslug wat hier ryklik beskikbaar is, is die vir die lewensbehoeftes van die longe; maar dit bedoel ek nie. Die hart is egter ook `n hoër, asemende wese, wat volgens my beteken dat dit liefde uitasem en daarom ook weer liefde wil inasem.

5 Kyk, toe ek nog as mens op aarde geleef het, was ek, soos reeds gesê, hewig verlief op `n vrou. Vir my longe het ek in hierdie toestand genoeg lug gehad om in te asem. Bevind ek my egter nie in die omgewing van my geliefde nie, dan het ek, ondanks die oorvloed aan lug vir my longe, tog `n verstikkende gevoel gekry. Bevind ek my weer in die nabyheid van my geliefde (neem my nie kwalik as ek nou miskien `n onfatsoenlike uitdrukking gebruik nie) dan sou selfs die lug van `n toilet, by gebrek aan beter, vir my tot `n welriekende geur geword het.

6 Kyk, presies so gaan dit ook hier met my en in die hele geselskap gaan dit sekerlik geen haar beter as met my nie. Ek sê vir jou, ruim al hierdie hemelse heerlikhede op en plaas op die plek waar hierdie pragtige tempel hom nou bevind, `n baie eenvoudige boerderytjie neer. Gee vir my, in plaas van hierdie pragtige sagte klere, `n eenvoudige boere-uitrusting; laat al hierdie weelderige vrugte­boom-lanings plek maak vir `n ietwat armsalige boomlaning en `n karige rog en koringveld; gee my daarby vir Christus; dan sal jy my gelukkiger maak as wanneer jy vir my nog duisend eindeloos mooier gebiede by die uitsig sou toevoeg.

7 Ja, ek sal jou nog meer oor my hart vertel. As dit moontlik sou wees om met Christus in die armsaligste uithoek van die aarde saam te wees, al lyk dit daar soos `n voorportaal van die hel, of as die hel self, dan sou ek tog onuitspreeklik gelukkiger en saliger wees, as sonder Sy sigbare, egte menslike aanwesigheid in die mees verhewe en wondermooiste hemel! Ek dink, beste vriend en broer, dat dit nou tog duidelik genoeg gesê is.

8 Ons vermeende tafeldienaar sê: My liewe vriend, ek het jou baie goed begryp, maar dit lyk vir my dat jy jou liefde vir Christus op `n lyn plaas met jou sinlike, aardse liefde. Ek is egter van mening dat die liefde vir die Heer baie anders geaard moet wees as die vir `n aanstaande bruid. En dan dink ek dat jy, solank jy nie hierdie liefdes in jou hart van mekaar kan onderskei nie, jy Christus ook nie eg kan liefhê nie. So lank jy Hom egter nie eg kan liefhê nie, dink ek dat Christus hom ook nog sal oordink, voordat Hy aan jou sal verskyn, of regtig na jou toe sal kom.

9 Ons woordvoerder sê: Vriend, dit is makliker gesê as gedaan. Lê in my hart nog `n tweede liefde, wat die Heer sekerlik waardiger sal wees as dit waarin ek nou leef, dan sal ek dit terstond laat vaar. Maar ek dink, wanneer ek nou al my liefde in my hart verenig het, ook dit wat ek eens vir my vrou gevoel het, en hierdie verenigde liefde reeds baie lank heimlik op die Heer gerig het, en wel sodanig dat ek nou uit die grond van my hart kan sê: Ek het vir Christus alles gegee wat ek maar het, dan kan ek voorlopig tog nie méér doen nie. Wanneer al hierdie liefde die Heer egter onwaardig is, dan sal ek haar, soos ek alreeds gesê het, enige oomblik aanbied in ruil vir `n ander, wat die Heer waardiger is. Maar ek kan nouliks glo dat die Heer met `n ander liefde deur ons bemin wil word as met dit wat Hyself in ons harte gelê het.

10 Wanneer ek terugdink aan al die lieflinge van die Heer tydens Sy aardse lewe, dan het Hy tog diegene wat Hom met die heel gewone kinderlike liefde van hulle hart tegemoet getree het, die meeste liefgehad. So was Johannes, wat die Heer verseker dikwels links en regs gekus het en hom selfs by die laaste avondmaal uit liefde letterlik aan Sy bors aangevlei het, Sy liefling. Dieselfde was ook die geval met Maria, `n suster van Martha en nie minder met Magdalena, wat tog werklik verlief was op Hom. Juis as gevolg van hierdie groot liefde was sy die een, wat Hom die eerste gesien het na Sy opstanding.

11 Die mees aanskoulike en tasbare voorbeeld wat die liewe Heer Christus gegee het per geleentheid toe mense die klein kindertjies na Hom toe gebring het en Hy gesê het: “Laat die kleintjies na My toe kom, en verhinder hulle nie, want aan hulle behoort die hemelryk!” Kyk, die kindertjies het verseker niks van `n hoër, die Heer meer waardige liefde geweet nie, maar met `n heel kinderlike, natuurlike liefde het hulle die almagtige Heer van hemel en aarde omhels . En tog sê die Heer daarop aan Sy apostels en volgelinge: “As julle nie word soos hierdie kinders nie, sal julle die Ryk van die hemele nie binnegaan nie!”

12 Kyk, beste vriend, dit gee my nou die moed om die Heer met my natuurlike kinderlike liefde of kinderagtige liefde lief te hê, en wie weet of hierdie hoogs eenvoudige liefde tog nie aangenamer vir Hom sou wees as wanneer ek Hom sou liefhê met die aller­suiwerste liefde van `n serafyn (engel).  Ek sou Hom ook wel wil liefhê met `n serafynse liefde, as ek dit sou gehad het! Waarlik, in die opsig sou ek sekerlik geen moordkuil van my hart maak nie; maar nou moet ek tog met die beste apostel Petrus uitroep: “My liefste Christus, kyk, goud en silwer het ek natuurlik nie in my hart nie, maar wat ek het, wil ek graag alles vir U gee, as ek U maar sou kon kry!”

13 Ons vermeende tafeldienaar open sy arms, sprei hulle wyd uit en sê aan ons woordvoerder en via hom tewens aan die hele geselskap: Geliefde vriend en broer, ek het jou immers gesê: Neem Christus maar goed in jou op, dan is Hy ook aanwesig! Jy het Hom opgeneem en daarom het ook gebeur wat ek vir jou gesê het, want Christus het na jou toe gekom en jy sal voortaan nooit meer sonder Sy geselskap wees nie, en so mag jy jou Christus dan na hartelus omhels!

14 Ons woordvoerder, wie se gemoed van liefde baie bewoë is, vra aan die nog steeds vermeende tafeldienaar: Beste vriend, waar, waar is Hy dan, sodat ek met my hele geselskap aan Sy voete kan neersink?

15 En die vermeende tafeldienaar sê: Vriende, broers, hier staan Hy voor julle; Ek is Die Een, wat julle in julle harte gesoek het! Maar Ek was reeds lank voor dit by julle, het julle gesoek en hierheen gebring. Kom dus naby My, dan sal Ek julle daar bring waar Ek woon, te midde van diegene wat My netso liefhet as wat julle My liefhet; want waarlik, Ek vra nie na goud en silwer nie, maar Ek vra na die kinderlike liefde vir My! Wil Ek prag en praal hê, liewe vriende en broers, dan is Ek sekerlik ewig by magte om die hele oneindigheid wondermooi daarmee te versier.

16 Ek is egter `n ware Vader vir julle, My liewe kindertjies, en daarom is julle harte in al hulle kinderlike eenvoud vir My ook meer werd as alle prag van die hemele! Kom dus maar saam met My!

17 Kyk, hoe alles nou skielik verander het. Ons hele geselskap omvou nou die Heer, liefkoos Hom en vlei hulle teen die Vader aan soos kinders doen wanneer hulle hulle goeie ouers `n tydlank nie gesien het nie. En die Heer lei hulle soos `n goeie Vader en leer hulle Self onderweg Sy wonders ken. Kyk, watter saligheid daar nou van die gesigte van ons geselskap uitstraal! Ons woordvoerder roep nog uit: O, wat `n reis; ons heilige Vader lei Sy kinders na waar Hy woon!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205