Besoek aan die aandelike streek
21 Kyk, daar loop `n baie goeie pad; daaroor sal ons op ons gemak wandel. As julle na links kyk, sien julle, as begrensing van `n uitgestrekte vlakte, taamlik hoë, maar tewens tog sagte afgeronde bergkettings, wat baie mooi begroei is met seders en allerlei ander pragtige bome. Die kruine is oral vry en elkeen daarvan is met `n piramide versier en op die top van elke piramide skitter `n helder ster. As julle vanaf hier reg vooruit kyk, sien julle `n breë vallei, wat homself regdeur ver uitstrek en daar oral, so ver as wat julle oog reik, baie vrugbaar lyk. Op verskillende plekke in die dal sien julle ook lieflike mooi geboue, waar mense vlytig in- en uitgaan. Verder sien julle ook dat dit baie druk besig is met die bewerking van die grond. Is dit nie byna asof julle op aarde in `n mooi vallei sou ronddwaal, waarin vreedsame landliede hulle grond netso baie vlytig bebou en bewerk nie?
2 As julle julle blikke na regs rig, sien julle ook verre, ja onafsienbaar uitgestrekte bergreekse, waarvan die laer gebiede ook met mooi bome begroei is, terwyl `n landelike huisie hier en daar tussen die bome te siene is. Bo die beboste gedeeltes verhef `n buitengewoon steil rotsgebergte homself, waarvan die boonste toppe met ewige sneeu en ys bedek is.
3 Julle sê: Hierdie omgewing is wonderbaarlik mooi, daar ontbreek slegs hier en daar `n meertjie of een of ander mooi breë rivier. As dit ook nog daar sou wees, sou `n mens hom nouliks `n liefliker en tewens romanties mooier streek kan voorstel as hierdie nie.
4 Ek sê egter vir julle: Liewe broers en vriende, wees nog `n bietjie geduldig; ons sal ook die dinge in ryk oorvloed aantref, want ons gaan baie vinnig en het in hierdie aandelike streek so ver deurgedring dat dit julle begrip totaal te bowe gaan. Kyk maar net agtertoe en skat net aan die linkerkant die lengte van die sagte, met piramides getooide bergreeks, dan sal julle dadelik merk hoe ver ons al hier deurgedring het.
5 Julle sê: Hoe is dit nou moontlik? Ons kan inderdaad nie die einde van hierdie bergreeks meer sien nie, en dit lyk vir ons asof hy hom ook oneindig ver agter ons uitstrek. Die mooi sterre bo die piramides sien ons heel in die verte maar nog net as verligte sonstoffies glans. Ja, beste broers en vriende, in dié land reis mens buitengewoon vinnig, sonder dat mens iets van die vinnige voortbeweging merk. Hoewel ons nou, soos julle sien, baie rustig stap vir stap wandel, beweeg ons tog so buitengewoon vinnig voort, dat niemand op aarde `n begrip van hierdie snelheid vir hom kan vorm nie. Julle kan dit glo: As dit vir julle moontlik sou wees om julle met julle aardse liggaam so vinnig te verplaas, dan sou julle in `n oomblik deur baie miljarde sonnewêreldgebiede daarmee geflits het. Maar hoe so-iets moontlik is, daaroor sal ons nog wel `n woordjie wissel.
6 Nou rig ons ons blikke weer vooruit en sit ons reis weer baie rustig voort. Julle vra my: Wat is dan die glinsterende vlakte daar ver op die agtergrond waarbo, nog verder weg, aan `n ietwat aandelike, donker uitspansel, `n groot hoeveelheid sterre baie helder skitter? Wees nog bietjie geduldig; ons sal wel daar kom. Maar kyk net bietjie na regs en sê my wat julle daarvan dink. Ek lees goedkeuring in julle oë. Is dit nie `n meer soos dit behoort te wees nie?
7 Kyk net na al die mooi eilande wat hulle bo die rustige en suiwer wateroppervlak verhef, hoe hulle almal bebou is en hoe elke eiland bowendien nog met `n pragtige huis versier is. Kyk net die baie mooi bote op die water, wat baie goed beman is en wat van die een eiland na die ander vaar. Julle is verbaas; julle sien nog nie `n honderdste deel nie; hoe verder ons sal gaan, des te uitgestrekter sal die meer word.
8 Maar soos wat julle kan sien, vorm die linkeroewer nog steeds `n breë vallei tot aan die linker bergreeks en ons moet nog `n hele rukkie wandel voordat ons hierdie vallei smaller, maar die meer daarenteen, breër sal sien. Daar op `n mooi groen heuwel aan ons linkerkant is `n baie mooi tempel met `n goue dak. Soos julle sien, is in hierdie oop tempel ook `n menigte mense wat wit klere dra. Julle sou graag wil weet wat hulle daar doen?
9 Kyk maar net na die nabygeleë oewer van die meer; daar stap `n geselskap so pas uit `n mooi boot, wat hulle ook na hierdie tempel sal begewe. Vra hulle maar, en ons sal terstond verneem wat hulle na hierdie tempel trek. As julle dit egter nie durf nie, sal ek dit ook wel doen; let dus goed op! Ek sal iemand aanspreek.
10 Luister beste vriend en broer in die Heer! Wat trek julle na die tempel wat daar op die top van die groen heuwel gebou is? Hy antwoord: Vriend en broer in die Heer, soos jy sê, waar kom jy vandaan dat jy dit nie weet nie? Ek antwoord: Waarom kyk julle daarheen vanwaar ek kom? Hy antwoord: Ek kyk na die môre. Ek sê: Goed, as jy na die môre kyk, vanwaar ek kom, hoe kan jy my dan vra waar ek vandaan kom? Maar ek wil terwille van diegene wat by my is, dat jy oop en eerlik met my sal spreek.
11 Die gevraagde buig en sê: Magtige bode van die Heer! `n Wyse vanuit die môre, sekerlik vir u `n goedbekende broer, onderrig hier die liefde van die Heer. Ons gaan daarheen om die hoë wysheid te hoor. Ek vra vir hom: Hoe lank is julle reeds onsterflike bewoners van hierdie eilande? Hy sê: Magtige bode van die Heer! Volgens aardse begrippe, bewoon ons hierdie streek al meer as `n honderd jaar. Ek antwoord: Sou julle dan nie graag bietjie meer na die môre toe wil gaan nie?
12 Hy sê: Ons ken nie die weg nie, maar dié eiland was aan ons toegewys om daar te woon en om in ons onderhoud te voorsien. Daar het niemand gekom wat ons verder wou bring nie, en dit ontbreek ons steeds aan moed om uit eie beweging so `n eindelose langdurige reis te onderneem. Die meer wyses onder ons sê dat die môre, waarvan ons die lig goed van hier af kan sien, eindeloos ver weg lê. Daarom dink ons dat dit nooit met ons kragte bereik kan word nie, en daar bly vir ons dus niks anders oor as om ons groot verlange daarheen soveel moontlik te temper. Maar bowendien vind ons nog dat dit wat ons hier besit, al veels te veel vir ons is en dat dit alles suiwer genade en ontferming is van die Heer. Daarom is ons ook baie dankbaar en tevrede daarmee. Slegs een ding sou ons net wil meemaak, dan sou ons vir ewig oneindig gelukkig wees, en dit is dat ons slegs eenmaal die Heer te siene sou wou kry!
13 Ek antwoord: Gaan dan maar na die tempel waar die liefde vir die Heer onderrig word. Dit is die weg waarlangs die Heer na julle toe sal kom. Kyk, die geselskap haas hulle al oor die mooi velde na die tempel.
14 Julle vra my: Watter soort mense was hulle dan tydens hulle aardse lewe? Ek sê vir julle: Dit is die sogenaamde gelowige Christene wat hulle regverdiging slegs in die geloof gesoek het en die liefde nie werklik wou aanvaar nie, asof dit geen waarde vir die ewige lewe sou hê nie. Vir hulle tel slegs die geloof. So `n oortuiging hou hulle hier vas. Die meer beteken die ontoeganklikheid van diegene wat die een of ander oortuiging het. Die eilande beteken egter dat die oortuiging voortgekom het uit die woord van die Heer. Omdat die waarheid nie in verbinding staan met die liefde nie, of anders gesê, die ware van die geloof nie in die ware hemelse verbind is met die goeie van die liefde nie, is die landstreke wat deur hierdie volkere bewoon word, oral deur tussengeleë water geskei. Die vaartuie wat julle op die meer sien, dui op die vriendelike en goeie handelswyse van sulke mense op aarde. Hierdie handelswyse bring, soos julle sien, hierdie eilandbewoners met mekaar in kontak.
15 In hierdie streek aan die linkersy bly hulle, wat vanuit die geloofswaarhede, langsamerhand begin het om hulle liefde in goeie dade om te sit, en daarom dan ook glo in die liefde van die Heer, maar dit bly meer by die glo, as by die liefde. Dit word aangedui deur die oral aanwesige hoë en sterk bome, wat ewenwel geen eetbare vrugte dra nie; vandaar dat die lewensmiddele, soos julle sien, slegs laag op die grond groei, maar tog behoorlik ryklik voorkom. So beteken ook die piramides op die ronde bergrûe aan die linkerkant, met die skitterende sterre bo die toppe, dat “die geloof” die hoogste beginsel is van hierdie mense en tewens hulle enigste lig. Die ryk met seders begroeide orige deel van hierdie berge beteken die mag van die geloof.
16 Dat hulle egter geen eetbare vrugte dra nie, wil sê dat die geloof alleen nie die lewe opwek nie. En alhoewel die geloof al in die geestelike lewe werksaam is, gee dit egter maar min vrugte, en wanneer hulle geëet word, kan hulle die lewe nouliks tot `n hoër potensie bring.
17 Die omgewing aan ons regtersy, met die steil gebergte, grens allereers aan die noorde. Vandaar dat dié gebergte ook so ontoeganklik en hoog is en die grenslyn vorm tussen aand en noord.
18 Julle vra of hierdie omgewing ook bewoon is. O ja, maar hoofsaaklik deur goedmoedige heidene, en ook deur mense wat deur beeldeverering hulle harte behoed het teen die boosheid, en daarby origens opregte wêreldburgers was. Die tempels wat julle hier en daar aan die oorkant bo die bosse sien uitsteek, is ook plekke van onderrig, waarin sulke mense bevry kan word van hulle dwalings, as hulle ernstig wil!
19 So lank dit nie die geval is nie, word hulle gelaat soos hulle is en word geen dwang vir hulle opgelê nie. Omdat ons dit nou weet, kan ons gevolglik weer ons weg verder volg.
20 Julle vra alweer: Wat staan dan daar aan die linkerkant, waar die meer breër en die land aan die linkersy smaller word, `n buitengewone hoë pilaar? Laat ons maar naarstig daarop afgaan; dan sal ons haar spoedig bereik. Kyk, sy kom al nader, en soos julle sien, is ons al daar. Lees net wat daarbo staan. Julle lees goed want daar staan: “Grenspaal tussen die ryk van die kinders en die voorryk”, dit wat `n woonplek is vir hulle wat nog nie in staat is om die oorgang te maak nie.
21 En julle kyk nou verder voor julle, waar `n onafsienbare groot see hom uitstrek en waarin julle nêrens een of ander land kan bespeur nie. Dit is die bewustelike glinsterende vlakte wat ons eers heel in die verte gesien lê het. Kyk maar daar gunter voor julle, heeltemal op die agtergrond kan julle ook die sterre sien. Vir vandag sal ons by hierdie pilaar uitrus en die volgende keer eers aan ons seereis na die verre, met sterre besaaide agtergrond begin. En dus genoeg vir vandag.