`n Egpaar in die hiernamaals
35 Kyk, nie ver van ons vandaan nie, sal julle `n paar menslike wesens sien. Dit is `n man en `n vrou en wel juis in `n situasie wat ons baie goed vir ons doel kan gebruik. Daarom gaan ons nou vinnig na hulle toe, sodat ons hulle dadelik inhaal. Julle vra hoe die verhouding is tussen die twee. Ek sê vir julle: Vir ons doel kon dit nie beter gewees het as wat hulle is nie. Dit is `n verhouding waarby die vrou slegs ses jaar voor haar man oorlede is. Die man het baie oor haar getreur, maar het hom na verloop van `n paar jaar heeltemal in die arms van die religie gewerp en trou volgens sy verworwe insigte geleef. Maar nou is ook hy van die aarde weggeroep en het eers kort gelede hier aangekom. Hierdie inleiding is voorlopig voldoende; die besonderhede sal julle in die gees aan die hand van die praktyk ervaar.
2 Noudat ons by hierdie geleentheid, soos julle sien, ons paartjie gelukkig ingehaal het, hoef julle niks anders te doen as om te let op hulle gesprek wat dadelik sal begin en waaruit julle al die nodige sal kan aflei nie. Luister nou! Sy begin so pas `n vraag aan haar man te stel en sê:
3 Ek is besonder bly dat ek jou na so `n lang tyd eindelik weereens kan sien en ook glo ek dat geen dood ons meer van nou af aan sal skei nie. Maar vertel my nou ook vir so ver jy kan, of my laaste wilsbeskikking noukeurig nagekom was, want dit gaan my besonder ter harte.
4 Die man sê: My bo alles geliefde vrou, sodat jy kan sien hoe stiptelik jou laaste wilsbeskikking nagekom was, kan ek jou slegs sê dat ek self in my laaste wilsbeskikking niks anders gedoen het as om joune weer opnuut te bevestig nie. In my laaste wilsbeskikking het ek my dus presies by die van jou gehou, enkele onbeduidende bemakings daar gelaat. Verder is ons hele vermoë, wat nog met enkele duisende deur my vermeerder is, aan ons kinders bemaak. Is jy tevrede daarmee?
5 Die vrou sê: My steeds geliefde eggenoot, op die bemakings na, volkome! Sê my daarom, hoeveel mag dit wel bedra, en aan wie is dit bemaak? Liewe vrou, sê hy, die bemakings bymekaar het nie meer as tweeduisend gulde bedra nie, is in vywe verdeel en op een na aan vier verwante van jou bemaak. Slegs `n deel moes ek fatsoenshalwe aan die bedelaars bemaak. Ek sou so-iets ook nie gedoen het as jy nie al soms, tydens jou lewe, aangegee het om aan hierdie verwante van jou te dink nie. Maar wat die armes betref, weet jy tog dat mens ten eerste iets moet doen, vanweë die buitewêreld, en daarna ook iets terwille van God, omdat ons tog Christene is en geen heidene nie. Origens beteken hierdie aalmoes van twee duisend gulde tog niks vergeleke met ons groot agtergelate vermoë nie, want soos ek ten slotte bereken het, het elk van ons agtergeblewe sewe kinders `n ronde bedrag van honderd-en-vyftig duisend gulde gekry. Bowendien het alle kinders geleer om suinig met geld om te gaan en kan jy, dus netsoos ek, baie gerus wees oor jou agtergelate vermoë. Aan my sy kan jy nou saam met my op soek gaan na `n ander vermoë wat ons hier ten minste in `n ooreenkomstig gelukkige situasie kan bring, waarin ons kan lewe soos wat ons altans op aarde geleef het.
6 Sy sê: Ek sal wel daarmee tevrede wees as ons kinders maar goed versorg is. Elke kind kon wel die tweeduisend gulde kleingeld in die hande gehad het, en kon voorlopig daarmee begin het, sonder om direk die rente van die groot kapitaal te moes aanspreek. Omdat dit nou eenmaal so is en ons niks meer daaraan kan verander nie, moet ek my wel daarby neerlê.
7 Wat jy egter sê oor `n ander, bruikbare kapitaal, vra ek jou as jou steeds troue, liefhebbende eggenote, om al jou simpel gedagtes, wat dit betref, tog van jou af weg te sit; want daar is reeds ses jaar verstreke waarin ek in groot angs en sorge deur hierdie duistere en eensame woesteny rondgedwaal het, terwyl die enigste wat ek hier, deur verskriklike hongersnood gedryf, eetbaar kon vind, `n soort mos is. Af en toe is hier en daar ook `n soort baie dor gras te vinde waarmee mens ten slotte sy maag kan vul. Sou jy nie toevallig van die aarde af, met nog bietjie skemerlig, juis op hierdie plek aangekom het nie, dan sou ons mekaar in alle ewigheid moeilik gevind het.
8 Hy sê: Maar my geliefde vrou, het jy daarom dan heeltemal geen vermoede om welke redes jy op hierdie donker plek beland het nie? Ek dink tog dat jou te wêreldse gesindheid jou hier gebring het. Jy was wel `n baie spaarsame, en in ons wêreldse verhoudings, baie eersame vrou, en jy was verder ook buitengewoon verstandig; Maar die leer van die ware Christendom was dikwels vir jou `n doring in die oog. Jy het jou dikwels nie so gunstig daaroor uitgelaat nie en het jou meer aan die wysheid en die filosofie van die wêreld gehou. Ek het jou dikwels gesê, liewe vrou, as daar in die hiernamaals `n lewe bestaan, dan dink ek dat mens daarin aan alle wêreldwysheid nie genoeg het nie; daarom sou dit beter wees om hom by God se woord te hou, want die tydelike duur maar kort. As daar egter `n ewigheid bestaan, sal ons met ons tydelike wysheid, soos gesê, baie moeilik ons weg vind. Kyk liewe vrou, dit is letterlik die woorde wat ek baie dikwels in vertroue tot jou gespreek het, en soos ek nou tot my grootste en betreurenswaardigste verbasing merk, het hierdie, jammer genoeg, maar al te goed uitgekom. Daarom dink ek nou, liewe vrou, dat dit vir ons baie hoog tyd is, as mens dit hier so kan sê, om ons heeltemal vry te maak van alle wêreldse herinnerings, en ons vir genade en ontferming tot ons Heer Jesus Christus te wend. Want as Hy ons nie help nie, is ons vir ewig verlore; omdat ek in myself baie seker weet en aanvoel dat daar vir ons buite Christus, in die hele oneindigheid geen God en geen helper meer is nie. Help Hy ons, dan is ons gehelp; help Hy ons nie, dan is ons vir ewig reddeloos verlore! Nou sou ek graag wil dat ek ons hele vermoë aan die bedelaars bemaak het en dat ons kinders daardeur bedelaars sou geword het. Dit sou ons hier sekerlik meer seën gebring het, as al ons wêreldwyse sorg vir die materiële welsyn van ons kinders. Omdat ons ons wêreldse dwaasheid nou nie meer kan verander nie, bly vir ons, liewe vrou, soos gesê, niks anders meer oor nie, as dat ons onsself in alle erns, met uitsluiting van alle ander gedagtes of wense, alleen tot Christus wend, sodat Hy vir ons, ondanks ons groot dwaasheid, genadig en barmhartig mag wees en juis hierdie dwaasheid deur Sy oneindige genade en erbarming aan ons kinders mag goedmaak.
9 Die vrou sê: Ek het wel altyd gedink dat jy jou religieuse, dweperige dwaasheid ook na hierdie wêreld sou saambring. Waar het ek en jy dan ooit op aarde kwaad gedoen? Was ons dan nie altyd regverdig teenoor elkeen nie? Het ons ooit iemand iets skuldig gebly of het ons nooit `n huisbediende die ooreengekome gegee nie? As daar een of ander God sou bestaan of volgens jou mening een of ander “Christus”, dan sou dit tog die grootste onregverdigheid gewees het, dat Hy mense soos ons, sou beloon met dit wat ons hier voor ons sien. Welke God sou dit `n mens dan ook maar in die minste kwalik kan neem dat hy geen geloof kan heg aan `n “ou sage” wat vol onsin en belaglike dinge sit nie. Ek glo naamlik, en dit kan tog `n blinde sien, dat as `n God iets aan die menslike geslag geleë sou hê, vooropgeset dát daar `n God bestaan, die mens hom tog niks onregverdiger sou kan droom as dat hierdie God slegs eenmaal persoonlik, toegerus met algehele wondermag, tot die mense sou gekom het, en dan alleen tot die mense van `n baie klein gebied, terwyl die hele aarde tog bevolk was.
10 Sê my daarom, kan God dan sonder meer verlang dat die mense en volkere, wat nie in dieselfde gebied en veral nie in dieselfde tyd met Hom geleef het nie, onvoorwaardelik moet aanneem dat Hy die een was wat hierdie leer gestig het? Kan God, as Hy bestaan en regverdig is, hulle kwalik neem dat hulle dit nie kan doen nie? Of kan die mense en volkere nie teen God, as Hy miskien bestaan, optree nie en sê: Hoe wil U oes, as U nie gesaai het nie? Hoe wil U oor ons regspraak hou, as U `n onregverdige God is? Wil U egter regverdige regspraak hou, oordeel dan diegene wat U gesien het en tot wie U gepreek het. Maar laat ons met rus, want ons het U nooit gesien en het ons nooit van U bestaan kon oortuig nie. Die woord wat aan ons oorgelewer is en van U afkomstig sou wees, kan ons nooit oordeel nie, omdat dit netso goed versin, as waar kan wees en nog veel eerder versin as waar. So lank ons op aarde geleef het, het ons slegs die ou natuur gesien; van U egter geen enkele spoor nie. Ons het op die wêreld gekom slegs as kinders van die natuurkragte. Die mense en wêreldse leraars het ons eers kennis bygebring. Ons hele lewe lank was daar van U geen spoor te beken nie. Waarom wil U dan oor ons regspraak hou, terwyl U ons nooit `n bewys, wat van U bestaan en geaardheid sou getuig, gegee het nie?
11 Kyk, liewe man, dit is tog so duidelik soos die son op `n helder middag op aarde. Jy sien dit net nog nie in nie, omdat jy nog veels te kort hier is. Wanneer jy so lank hier sal wees soos ek, dan sal dit, selfs in hierdie digte duisternis, volkome helder vir jou word. As bewys van my liefde en trou sê ek ook nog dat jy hier aan die sy van die, jou bo alles liefhebbende vrou, jou sogenaamde God-Christus so lank en so kragtig jy maar wil, mag aanroep; tog staan ek met my liefde en trou daarvoor in dat jy na jare lange geroep tot die duidelike insig sal kom dat ek, jou altyd trou, liefhebbende vrou, met my natuurlike verstand helderder sien as jy met al jou sogenaamde godgeleerdheid.
12 `n Ou spreekwoord sê oor die Bybel: O Bybel, o Bybel, jy is vir die mens `n euwel! En kyk, daardie spreekwoord het gelyk. Sou die mense op aarde die moed gehad het om hierdie ou Joodse onsin met wortel en tak uit te roei, en in die plek daarvoor die suiwer menslike verstand te stel, dan sou die wêreld, wat haar kultuur betref, reeds honderde jare verder gewees het. Nou moet hierdie ou onsin egter, om welke redes dan ook, nog steeds behoue bly, waardeur die mees eersame en opregte mense se hande dikwels vir die fyner werk gebind word. Wat is die gevolg? Dink net na met jou andersins tog goeie verstand! Waar vind mens die mees liederlike, slegte en arm mense? Seker nêrens anders nie as juis daar waar oorwegend die Bybel en veral die nuwe Christelike leer tuis is. Gaan na Rome, gaan na Spanje, gaan na Engeland en jy sal my woorde bevestig vind.
13 Die mense verlaat hulle op `n God en begin in afwagting van Sy hulp, te luier! Maar die hulp kom nie, dus die natuurlike gevolg is dat dergelike mense verarm en al word hulle nie almal slegte kêrels nie, tog is hulle ten slotte die vlytige en nuwer mense tot las. Mens roep alom en sê: God is oneindig goed, hoogs liefdevol en buitengewoon barmhartig; maar Hy sou desondanks tog sekerlik elke bedelaar laat verhonger as hulle nie deur hulle werklustige medemense versorg sou word nie.
14 Kyk, liewe eggenoot, vir eerlike, vlytige en daardeur welgestelde mense is dit vir die lui geestelikheid maklik om te preek oor `n oneindige goeie en barmhartige God. Maar laat ons hierdie mense buite beskouing, dan sal ons spoedig sien wat se treurige einde sulke preke sal neem. Sou hierdie swart of wit skreeuers op aarde geweet het hoe dit met die lewe in die hiernamaals gestel is, dan sou hulle verseker anders preek, of in plaas daarvan die opbrengs ter hand neem. Daar kan sekerlik `n God bestaan as oerkrag wat die hele universum lei, maar `n God soos wat die Joodse Bybel leer, bestaan sekerlik nie.
15 Hy sê: O geliefde vrou, jy is op `n verskriklike dwaalspoor met jou gedagtes, want ek het juis by beroemde teologiese skrywers gelees dat suiwer helse geeste presies so praat soos jy. Ek kan jou verseker dat dit ook die enigste geldige rede is waarom jy jou hier in hierdie ewige nag bevind. Werklikwaar, ek word egter verskriklik bang oor jou! Want met sulke beginsels sien ek jou onherroeplik vir ewig verlore gaan! As jy absoluut geen ander beginsels wil aanvaar nie, dan voel ek my noodgedwonge verplig om jou vir altyd te verlaat.
16 Sy sê: En jy sou in staat wees om my, jou troue, jou ewig liefhebbende vrou so-iets aan te doen? Ek sê jou dat ek so-iets nie sou kan doen nie, al was jy werklik tot die hel verdoem! Ek sou jou nie in die vuur wil verlaat nie, en jy wil my, vanweë my verstandige woorde, verlaat? Dit staan jou ook vry om jou mening op `n verstandige manier vir my uiteen te sit, maar dit mag geen onsin wees nie, want ek hou te veel van jou om jou op dwaalweë te laat beland. Volg my maar, ek sal jou na `n ander plek bring waar dit beter sal wees as hier en waar jy eers, in `n groter geselskap, gevolglik sal ervaar, hoe mens hieraan toe is.
17 Hy sê: My liewe vrou, ek wil jou immers nie verlaat nie, want daarvoor hou ek te veel van jou, en daarom sal ek jou ook volg waarheen jy my maar wil bring, omdat ek sien dat jy by al jou onwetendheid aangaande die ware religie, tog steeds netso eerlik van hart is. Jy is nog steeds my goeie vrou waarop ek verder niks aan te merk het nie, behalwe dat jy nie my insigte kan deel nie. As jy dan ook in die ryk van die duisternis van een of ander beter plek weet, bring my dan maar daarheen, dan sal ons wel sien wat daar alles te doen is. Kyk, sy pak sy arm en lei hom verder. Maar ons sal die interessante paar volg om getuie te wees van die welslae van hierdie verhouding. Sy gaan, dus gaan ons hulle agterna.