|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 29
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
In die ryk van die duisternis van die ongeloof
29 “Kyk, nie ver van ons vandaan nie, beweeg weer iets; sien julle dit? Julle sê: O ja, as ons oë ons nie bedrieg nie, is dit dié keer twee besonder lang, arm en totaal tot op die boude weggeteerde manlike wesens. Julle het gelyk; laat ons onsself daarom maar vinnig beweeg, dan sal ons hulle spoedig ingehaal hê. Kyk, daar is hulle al. Nog merk hulle niks van ons aanwesigheid nie en dit is voorlopig ook goed, want so kan ons hulle afluister en hoor wat hulle met mekaar bespreek. Ons sal ons ook nie deur hierdie twee laat sien nie, maar uiteindelik net so met `n influistering op hulle gevoel inwerk, dat die een of die ander moontlikerwys tot ander gedagtes sal kom. Open dus julle ore en luister, want dadelik sal hulle oor hulle belangrikste probleem gedagtes met mekaar begin wissel.”
2 A sê: “Dit gaan met jou, geagte vriend, dus ook nie beter as met my nie. Hoe lank bly jy al op hierdie plek?” B sê: “Geagte vriend, volgens my gevoel kan dit nouliks enkele weke wees; maar hoe lank is jy al hier?” A sê: “Geagte vriend, volgens my gevoel sekerlik wel so `n twintig jaar.” B sê: “Dit is vir my totaal onbegryplik hoe ek hier beland het; jy kan my glo, want toe jy al `n grysaard was, het jy my as `n aktiewe jong man van so `n twintig jaar nog baie goed geken. Ek het altyd geleef soos wat ek dit volgens my insigte as opreg en redelik beskou het. Ek het my geestelike amp baie trou vervul, en het nooit, wat die bepalings van die kerk betref, ook maar `n letter versuim nie. Ek het altyd volkome in die gees van die alleen saligmakende kerk gepreek. Soveel as wat maar moontlik was, het ek, na vermoë, diegene ondersteun wat ek werklik as behoeftig beskou het, dit wil sê, wat buite hulle skuld tot armoede verval het. In die heilige misoffer het ek tog elke dag God die eer gegee en ek kan my tot by my laaste uur geen dag herinner waarop ek die klein gebedeboek sou verwaarloos het nie. Ek het my na alle verordeninge van die kerklike owerheid geskik en sou in staat gewees het om op lewe en dood te veg vir die regte van die heilige kerk. Ek was streng in die biegstoel en meen om ook baie siele vir die hemel te gewen het. Volgens die gees van die leer van Christus het ek die armes bedeel, die hongeriges gespysig, die dorstiges gelaaf, die naaktes geklee en die gevangenes verlos, en daarom het ek na my sterwe verwag, veral omdat ek my bowendien verseker het van `n volle aflaat van sy heiligheid, die pous, baie sekerlik in die hemel te kom.
3 Maar hoe dit gestel is met die hemel wat so seker deur my verwag was, dit sien jy hier netso goed as ek! Weet jy, beste vriend, ek het wel heimlik dikwels gedink, maar dit nooit openlik uitgespreek nie, dat die Christendom, inklusief Christus, niks anders is as `n gekultiveerde heidendom nie, en het daarom ook weinig vertroue in Christus en die drie-eenheid gehad. Daarom is dit nou vir my baie duidelik hoe seer ek met my heimlike wantroue gelyk gehad het. Wel, wat sê jy daarop?”
4 A sê: “Ja, my beste, agtenswaardige vriend, wat moet ek daarop sê? Ek was geen priester nie, maar het tog geleef, mens kan wel sê, byna netso streng, soos dit vir my deur die, vanselfsprekend beter priesters, onderrig is. Ek het in `n sekere sin ook wel baie vertwyfelinge gehad, maar ek het by myself gedink, dit mag wees soos dit is, ek leef baie rustig soos wat die priesters my geleer het; dit kan vir my tog onmoontlik verkeerd wees. Want ek het by myself gedink: As hulle leer verkeerd en onsinnig is, dan is dit hulle verantwoordelikheid, maar ek was my hande in onskuld! En mag God werklik so `n regverdige regter wees, soos wat alle priesters op die preekstoel oor Hom gepreek het, dan moet Hy my beloon, vooropgestel dat Hy werklik bestaan. Bestaan daar egter geen God nie, dan is dit tog sonder meer alles om`t ewe hoe mens leef. Bestaan daar `n lewe aan die anderkant, dan moet dit tog sekerlik ooreenkom met die eerlike karakter van die mens, al dan nie. Bestaan daar geen lewe na die liggaamlike dood nie, dan sal dit sekerlik ook weinig daarvan afhang hoe iemand op aarde geleef het. Daaruit kan jy nou sien dat ek op aarde as `n volkome eerlike, verstandige en steeds gehoorsame man geleef het. Nou is ek al so lank hier, en dit is nou die beloning!
5 Niks behalwe `n byna ondeurdringbare buitengewone ysige nag, deur net nog so `n droewige dag afgewissel, geen voedsel nie, behalwe bietjie sanderige mos en dit alles moet strook met die liefde, genade en regverdigheid van God, wat so dikwels deur julle priesters gepreek is?! Ek dink nou al meer as twintig jaar daaroor na of daar `n God bestaan of nie, en as ek net iemand ontmoet en oor dié onderwerp met hom praat, dan weet niemand ten slotte tog iets meer as ek nie. Daarom verbaas dit my des te meer dat jy, as gewese priester, wat tog steeds vir die sogenaamde ryk van God gewerk het, met presies dieselfde lot bedeel is as ek. Ek dink dat ons almal vir die gek gehou was met Christus, want dit het my dikwels raaiselagtig voorgekom dat `n God hom kon laat doodmaak het! Die ou, wyse Hebreërs het Christus sekerlik beter geken as ons en het geweet om Hom dan ook as `n baie vroom Joodse dweper na behore uit die weg te ruim om daarna baie netjies die eens gelukkige Romeine as `n gesoute premie in die skoot te werp, omdat hy hulle koningstad verwoes het. Hulle bly by hulle ou God wat tog kennelik `n veel goddeliker aansien het as ons gekruisigde. Ons moes naderhand, as gevolg van die geniale Joodse streek, die god aanneem, wat die mees versmade wese was. Ek dink dat die laaste wel begryplik is, want sou Christus werklik iets beteken, dan moet hier in hierdie, ek kan jou sê, eindeloos groot wêreldsfeer tog iemand iets reëel oor Hom weet. Maar jy kan duisende ontmoet, wat almal as suiwer nugter en beskeie mense beskou kan word, maar nie een weet ook maar iets van Hom af nie. Ek kan jou sê: Ek het al mense ontmoet wat hulle reeds tot twee duisend jaar in hierdie streek bevind en ook heeltemal aan die mos-etery gewoond is. Hulle was tog saam met Christus op aarde, as daar onder ons ooit `n Christus bestaan het, en tog weet hulle netso min iets van Hom af as ons. Sommiges van hulle beweer om selfs nog nooit hierdie Naam te gehoor het nie. Kyk, dit is my idees wat ek so in die loop van my verblyf hier, en so nou en dan ook al tydens my aardse lewe, baie heimlik gevorm het. Hoe geval dit jou?”
6 B sê: “Gewaardeerde vriend, ek moet openlik erken dat daar vir jou idees baie te sê is. Aan die anderkant kan ek van die verstandige Judeërs, wat die kennis van die ware God besit het, tog weer nie volkome as waarheid aanneem dat hulle dit daarom gedoen het, uit wraak teen `n groot nasie soos die Romeine nie, om hulle met `n quasi galge-aas as God op te skeep nie. Daar was juis in dié tyd onder die Romeine ook baie wyse manne en die sou daarom nie erg verstandig gewees het, om hierdie groot en wyse nasie as so dom te beskou dat hulle haar geprese, betekenisvolle gode vir so `n erbarmlike sou ingeruil het nie.
7 Daar jy my egter in dié opsig al jou mening kenbaar gemaak het, wil ek jou ook openhartig vertel wat ek tydens my aardse lewe so dikwels by myself gedink het, en hierdie gedagte lui as volg: Die Romeine, by name die Romeinse priesterstand, het gaandeweg gemerk dat al hulle gode op die lange duur met tot niet sou gaan. Sodoende het hulle langsamerhand, vir die steeds sinliker geworde volk, na `n meer aanskoulike mite gesoek, en hulle laat dit lyk asof die opperste god Jupiter hom baie oor die mensdom ontferm het. Omdat onder alle volkstamme, die Joodse nasie die verste van die egte godedom afgestaan het, sou Jupiter self neergedaal het en in die gedaante van `n Judeër die volk die waarheid oor die korrekte godeleer van Rome geleer het. So `n leer was vir die Judeërs `n gruwel, veral omdat die Romeine in dié tyd baie swaar op hulle maag gelê het. Hulle het dus alles gedoen om hierdie ware god Jupiter in menslike gedaante verdag te maak. Pilatus sou baie goed geweet het wie Christus werklik was; daarom het hy Hom ook soveel moontlik verdedig. Omdat die Jode hulle egter gladnie tot bedaring laat bring het nie, en Pilatus selfs as mede rebel by die keiser gedreig het om aan te kla, het Pilatus by homself gedink: Ek lewer die Almagtige aan julle uit; Hy sal sekerlik beter weet as ek, wat Hy met hom sal laat doen. Hulle het hom toe pro forma op Romeinse wyse deur die Jode laat kruisig, staan toe egter as Jupiter baie maklik weer uit die dood op en laat toe die hoëpriesters te Rome berig, wat hulle nou gedoen het. Vir hierdie priesters was dit water op hulle meule en hulle onderrig die volk dan ook soos hulle hulle hierdie mite met goedkeuring van die Romeine in die jodeland voorgestel het. Hulle versin mettertyd nog `n menigte martelaars daarby, wat miskien met goedkeuring van die keisers, wel enkele egte of los gruweldade uitgevoer het, waarmee hulle die dom volk by dergelike geleenthede `n hele klomp wondertekens op die mou gespeld het. So gaan die ou, reeds verwaterde heidendom onder dieselfde pontifikaat op ons oor, en ons is noodgedwonge onnosel genoeg gewees, om so `n egte kleinburgerlike streek as klinkende munt aan te neem. Daarvoor word ons nou, volgens my ook, die rekening van ons nuut gestigte heidendom aangebied.”
8 A sê: “My gewaardeerde vriend, ek moet openhartig aan jou beken dat kennelik meer te sê is vir jou mening as vir myne. Ek begryp dan net nie hoe `n mens met so `n sluwe onderneming die nuutgestigte heidendom op die Jodedom kon gebaseer het nie. Na my wete, vir sover dit vir my uit die sogenaamde evangelie bekend is, beroep Christus hom uitsluitlik op die sogenaamde profete van die Judeërs, daarom is dit dan ook nie erg aanneemlik dat die trotse, wyse Romeine hulle van die religie, van die Judeërs wat vir hulle baie veragtelik was, sou bedien het, vir die stigting van `n winsgewende religie nie. Verder moet ek baie openlik aan jou beken dat die absolute leer van Christus, op enkele onbeduidende wonder dwaashede na, op sigself `n hele menslike, wyse leer is, wat na my mening gladnie vir die, maar al te bekende, Romeinse hebsug deug nie. Om die rede kan nie maklik bewys word dat dit `n werk van die Romeinse priesterstand is nie, maar dit is beslis wel `n werk van die Judeërs, want uit die geskiedenis weet mens maar al te goed hoe die Romeine hulle teen die opkoms van hierdie leer verset het.”
9 B sê: “My geagte vriend, in dié opsig is jy veels te weinig ingewy in die geheime sluipweë van die priesterdom. Jy het wel in die geskiedenis gelees dat verskillende Romeinse keisers hulle daadkragtig teen die invoer van hierdie religie verset het, maar noem my ook net `n Romeinse pontifaks wat hom by name daarteen sou verset het! Kyk, so was die saak fyn bekook en hierdie nuutgestigte religie het nooit `n beter ingang gevind nie as juis deur die skynbaar noodsaaklike wrede teenkanting van die Romeinse keisers. Dat hierdie nuut gestigte religie op die jodedom gebaseer was, het die volgende voor die hand liggende rede: Omdat die Romeinse wyses deur hulle veelsydige verowerings, voldoende geleentheid gehad het om met baie religieë bekend te raak, kon hulle baie maklik tot die gevolgtrekking gekom het dat `n nuut te stigte religie op geen beter gebaseer sou kan word, as juis op hierdie Joodse nie. Daarom het hulle ook hulle mens geworde Zeus om goeie redes in die jodeland laat optree, want hulle het presies geweet dat alle ander religies nog slegter daaraan toe was as die van hulle.”
10 A sê: “Ja beste vriend, nou kom jou saak inderdaad in `n baie ander lig te staan en ek kan nou nie meer daaromheen om my heeltemal by jou mening aan te sluit nie. Ja, ja, as dit nie so was nie, vanwaar het dan hierdie goud en silwersug van die teenswoordige roomse pontifikaat gekom? Desondanks moet ek hierby tog nog beken dat die eintlike suiwer sedeleer van Christus, waar hy ook vandaan mag kom, bo alle kritiek verhewe en goed is. Dit het my ook nog die meeste aan die Christendom gebind. Dat menige selfsugtige parasiet mettertyd op hierdie suiwer boom vasgesuig het, dit, staan my toe, is ook onmiskenbaar; maar ek moet jou sê, en daardie idee kom juis by my op: As ek moontlikerwys ooit êrens so `n suiwer Christus sou ontmoet, werklik, ek sou Hom onmoontlik vyandiggesind kan wees!”
11En B merk op: “Ja, as Hy sou bestaan, dan dink ek ook so daaroor; maar daar lê nou juis die hond begrawe.” En A merk op: “Weet jy wat, laat ons die graf van hierdie hond gaan soek, en as ons dit gevind het, dan het ons tog tenminste `n sinnebeeld van trou gevind!” “Kyk, bo A word dit al bietjie ligter, maar bo B nog lank nie. Omdat ons hier niks meer te doen het nie, begewe ons ons nou weer op pad.
|
|
|
|
|