|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 25
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
`n Bekeringstog na die beter Stoïsyne
25 Kyk, daar benede in die dal gaan juis drie gestuurde bodes op so `n vangs uit. Ons sal hulle volg en met `n oop oor na die uitvoering van hulle opdrag luister. Hulle trek verder die dal in en van hier af gesien by die derde hut, wat julle ook op `n afgeronde, met mos begroeide rots sien lê, sal hulle die Stoïsyne aanspreek. Kyk maar hoe hulle baie behoedsaam die hut nader en hulle daarby so klein as moontlik maak. Daarom gaan ons nou vinnig daarheen, sodat ook die eerste ontvangs ons nie ontgaan nie. Ons is al ter plaatse; let dus op!
2 Die aanvoerder begroet die sogenaamde hoof van dié huisie, dit wil sê, die allerverstandigste en tewens die leier en leraar van die ander tien persone wat julle in sy geselskap sien. Hoe lui die begroeting? Luister: Baie wyse heer, jy het die sake vanuit die korrekte standpunt bekyk en met jou skerp verstand presies onderskei wat reg en onreg, billik en onbillik, goed georden en ongeorden is. Ons het al van ver af verneem wat `n wyse man jy is, en daarom het ons hierheen gekom om jou oor menige saak goeie raad te vra.
3 Die verstandspresident sê daarop: “In daardie geval is julle heeltemal welkom by my. Vir so ver dit binne my vermoë lê, sal ek julle met graagte help, maar nie waar dit my vermoë te bowe gaan nie. Julle sou wel gehoor het en weet dat my skatte nie uit goud en silwer en allerlei edelstene bestaan nie; ook word by my geen maaltye en geen tafels, voorsien van goedsmakende spyse, aangebied nie. Maar wat ek het, naamlik die oorwinning van die helder verstand, daaruit mag julle put soveel as wat julle wil. Julle kan daarvan verseker wees dat hierdie skatte julle gelukkiger sal maak as wanneer julle alle gedroomde sogenaamde hemelse heerlikhede sou besit, wat niks anders is as heimlik uitgesproke behoeftes van `n gees wat nie tevrede is met wat aan hom gegee is nie. Julle weet dat die ruimte oneindig is en dat die mens in hierdie ruimte dink. Wie sy gedagtes tot in die oneindige laat gaan, vergeet ten eerste dat hyself slegs `n eindige wese is; ten tweede bedink hy nie en word hy dus nie gewaar dat vir hom daar uiteindelik uit sulke gedagtes, niks anders as voortdurende ontevredenheid ontstaan nie. Daaruit volg `n steeds groter verlange na onbereikbare goedere, waaruit uiteindelik ook `n voortdurende onsalige situasie groei, waardeur die menslike dwaasheid maar nog net blindelings deur onbereikbare en grootse, maar leë verwagtings versadig kan word. Bygevolg is die hemel dan ook niks anders as sulke gedroomde goed nie, wat slegs dien ter bevrediging van die verbeeldingskrag van geeste wat ontevrede is met wat vir hulle gegee word.
4 Slegs die helder verstand bepaal die werklike grense van die behoeftes van sy subjektiewe wese, en sy verlang dan in alle objektiwiteit slegs die korrekte mate van sy eie beperktheid, en hierdie maat heet: Volle tevredenheid. Wie tevrede is met dit wat hy langs die weg van sy helder verstand, as die korrekte maatstaf van sy eie beperktheid erken, het die ware hemel gevind en sal hom sekerlik ewig geen ander wens nie, omdat hy duidelik sal insien, dat vir die maatstaf van sy eie beperktheid, niks anders deug nie, as juis dit wat volkome daarmee ooreenstem.”
5 Na hierdie wyse woorde sê die aanvoerder (die bode): “Ons merk al uit jou kort inleiding, dat jy jou die oorwinning van die helder verstand volkome eie gemaak het; daarom waag ons dit ook om met die grootste vertroue in jou wysheid, ons probleem aan jou voor te lê.” Die verstandsverteenwoordiger sê: “Alles waarmee ek julle maar tot diens kan wees, is my plesier, lê daarom geheel vrymoedig en sonder voorbehoud julle probleem aan my voor!” Die aanvoerder (die bode) sê: “Luister dan! In die geselskap waardeur ons afgevaardig was om goeie raad by jou te kom kry, het `n groot stryd ontstaan oor die noodsaaklikheid of oorbodigheid van die lig. Die redes vir die noodsaaklikheid van die lig is net so steekhoudend as die argumente daarteen, daarom kan ons absoluut nie beslis, welke party gelyk het nie.” “Die verstandsverteenwoordiger sê: Laat enkele van julle argumente en teenargumente hoor, en julle kan verseker wees daarvan dat ek die spyker op die kop sal slaan met my oordeel.”
6 Die aanvoerder sê: “Luister maar! `n Rede wat vír die lig spreek lui as volg: Wat sou alle dinge wees sonder lig? Dit sou so goed as nie wees nie. Verder is die lig die grondbeginsel van elke werking en dus ook van elke denke, want sonder die lig, as die alles bewegende en opwekkende krag, sou iets nooit ontstaan het nie, dus ook geen verstandig denkende wese nie. Die lig is immers ook die grondbeginsel van die verstand en is in die suiwerste geestelike toestand die helder verstand self. Kyk, dit is die rede wat vír die lig spreek.”
7 Die teenargument lui egter: “Nadat die lig kennelik voortgekom het uit die duisternis, en dus vóór die lig slegs `n totaal liglose toestand wat die hele oneindigheid deurdring het, is dit die vraag of die oneindigheid in liglose toestand minder oneindig was as nou in die volle lig. Verder lui die teenargument: Dit is aan elkeen bekend dat die binneste van die hemelliggame meestal volkome ligloos is en tog is die materie in so `n liglose toestand netso goed en selfs nog intensiewer aanwesig as op die oppervlakte van `n hemelliggaam, wat baai in die lig. As die hele hemelliggaam, wat egter die inwendige betref, baie goed kan bestaan sonder lig, dan lyk die lig vir die dinge in die natuur tog net `n luukse te wees. Verder lui die teenargument: Elkeen weet dat hy in die nag van die moederliggaam verwek word en juis in hierdie nag die lewe ontvang het. Om welke rede moet alles wat in die nag lewend geword het, dan in die lig tree? Wie ook maar `n bietjie hieroor nadink, moet vanaf die eerste oomblik insien, dat die lig nie net totaal oorbodig is nie, maar ook skadelik vir die dinge, omdat hulle daarby wen en vervolgens kennelik ongelukkig word as hulle dit deur een of ander toeval verloor. Bowendien sê hulle nog: Wanneer die mense totaal blind gebore sou word, dan hoef hulle hulleself ook nooit sorg te maak oor die verlies van die lig nie; want dit is vir `n oog wat aan die lig gewoond is, tog die grootste ongeluk om blind te word. Daarteen bring die teenstanders weliswaar weer die volgende in: In so `n blinde, gelukkige toestand sou daar dan tog heeltemal geen verskil wees tussen `n mens en `n poliep diep op die seebodem nie. As `n mens geen dinge sou sien nie, sou hy hom ook nooit een of ander denkbeeld kan vorm nie. By gebrek aan denkbeelde sou daar dan egter `n groot vraag vir hom voordoen, naamlik hoe dit dan met die dink mag wees, by gebrek aan alle begrippe en vorms. Oor die verlies van die gesigsvermoë ten gevolge van `n ongeluk, sê die verdedigers van die lig: As mens dit as `n ongeluk wil beskou en dit saam as argument gebruik teen die lig, kan mens dit immers ook doen met betrekking tot die ander sintuie wat nie van die lig afhanklik is nie. Om daarom elke ongeluk te voorkom, sou die mens sonder enige sintuig in die duisternis gebore moet word. Hoe die denke van `n mens hom dan sonder sintuie kan ontwikkel, sou mens die beste vir `n klip kan vra! Kyk, baie wyse man, tussen so `n wirwar van gedagtes word ons groot geselskap heen en weer geslinger. Ons hoop vol vertroue dat jy hierdie knoop sal ontrafel.”
8 Die verstandsverteenwoordiger sê: “Luister geagte vriende, dit is `n buitengewone kritieke geval, want hier het elke party die gelyk aan sy kant. Omdat daar volgens die insig van die helder verstand maar een gelyk en geen twee gelyke bestaan nie, word dit hier taamlik moeilik om tussen hierdie twee die korrekte gelyk te bepaal. Dit sal slegs moontlik wees as ons ons eie individuele wese binne die perke hou; luister dus goed! Ons sal hier grondreëls opstel en dan uit hierdie grondreëls die korrekte gevolgtrekking maak. Maar om dit te kan doen, moet ons eers `n nie-bestaan, `n verbruikersbestaan en `n vrydenkende bestaan voorop stel. `n Nie-bestaan het ook niks nodig nie; dus geen verbruik nie. By `n alleen natuurlike verbruiksbestaan word daarvan uitgegaan dat dit slegs kan bestaan as die daarvoor benodigde verbruik aanwesig is. Die hele materie het so `n dergelike bestaan, wat sowel in die nag as in die lig kan bestaan. Omdat die mens egter `n denkende wese is, wat vir homself vry kan beslis, veronderstel `n dergelike hoër bestaan ook `n verbruik wat met die bestaan ooreenkom, waarby die te verbruikte stof niks anders kan wees as die lig nie! Daarom het die nie-bestaan heeltemal niks nodig nie; `n alleen verbruiksbestaan as `n produk van die nag, het ook niks anders nodig as die kos wat volkome ooreenstem met sy bestaan nie; en `n helder vrydenkende bestaan het dan ook noodsaaklik die kos nodig, wat die beginsel van sy bestaan is. So is elke beginsel voldoende vir sy produk en moet noodsaaklik daarvoor aanwesig wees. Dientengevolge ontstaan uit die nie-bestaan `n nie-bestaan, uit die bestaan van die nag `n nagtelike bestaan en uit die bestaan van die lig `n bestaan wat met die lig verwant is. Na gelang die mens dan deur middel van sy suiwer verstand insien dat hy noodsaaklikerwys uit die lig afkomstig is, moet hy dan ook insien dat die lig in dié opsig vir hom`n noodsaaklike substraat is. Vir sover hy hom egter slegs as `n dierlike verbruiker beskou en vir homself `n hoër vrydenkende lewe kan ontken, en hom dan bowendien weer kan omvorm tot `n embrio in die moederliggaam, het hy die lig nie nodig nie. `n Nie-bestaan het nóg die een nóg die ander nodig. Kyk nou, beste vriende, hiermee is die onomstootlike noodsaaklikheid vir die aanwesigheid van die lig so duidelik moontlik voor julle oë en ore uiteengesit.”
9 Die aanvoerder sê: “Luister wyse man, ons kon uit jou uiteensetting goed aflei dat jy `n uitmuntende verstand besit en weet nou presies waaraan ons toe is. Daar is egter nog `n punt wat vir ons nog nie volledig duidelik is nie. Dit gaan naamlik oor die volgende: Waarom het al die tallose vegetatiewe produkte op die hemelliggame, insluitend die soorte van die diereryk, vir alles die lig nodig vir hulle vegetasie en hulle dierlike ontwikkeling? Dit is aan alle natuurgeleerdes maar al te goed bekend dat in `n totaal liglose ruimte byna geen vegetasie plaasvind nie, en dat diere in `n totaal liglose ruimte baie vinnig siek word en heeltemal ten gronde gaan. Tog skyn hulle volgens jou uitspraak geen noodsaaklike ligverbruikers te wees nie, omdat hulle gladnie denkende wesens is nie, en volgens die resultaat van `n grondige ondersoek, dit ook nie kan wees nie. Hierdie bedenking maak ons egter nie omdat ons jou helder insig in twyfel sou wil trek nie, maar om onsself teen die uiteindelike te verwagte valstrik te vrywaar.”
10 Die verstandpresident sê: “Hierdie bedenking is vir my baie welkom. Ons sal haar dadelik voor die regterstoel van die suiwer verstand sleep; luister dus! Kragtens die noodsaaklike stomheid, betreffende die eie bestaan, sou hierdie dinge ewe min lig nodig hê as wat die donker middelpunt van `n hemelliggaam dit nodig het. Omdat ons ook naas hulle bestaan as produkte van die lig, kan ons tog onmoontlik die omgekeerde gevolgtrekking maak, dat ons bestaan terwille van hulle, netso min as wat ek as `n mens kan sê: Ek bestaan sodat dié huis deur my bewoon kan word en ek dit versorg. Die huis is daar vir die mens, maar nie die mens vir die huis nie. As die lig ons dus voortgebring het, dan moet dit tog noodsaaklikerwys eers uit homself die voorwaardes skep, wat vir ons ligverwante bestaan noodsaaklik is. Daarom is die lig ook onontbeerlik vir die dinge wat deur julle genoem is, sodat dit as verbruik kan dien vir ons ligverwante behoeftes. Ek bedoel egter nie die verbruik van die dierlike maag hier nie, wat ook in `n donker ruimte versadig kan word, maar die hoër verbruik van die gees, wat hom slegs kan versadig aan begrippe en vorm het netsoos wat hy self uit die lig voortgekom het. `n Boom in die middelpunt van die aarde sal met al sy vrugte nie aan die gees enige versadiging bied nie, solank hy nie self in die lig gebring word en aan die lig verwant word nie. Kyk, my liewe vriende, hiermee is julle twyfelagtige kwessie opgelos. Mag daar vir julle nog iets duister wees, deel dit dan baie openhartig mee.”
11 Die aanvoerder sê: “Geagte baie wyse man, nadat jy jou mening oor die lig uitgespreek baie raak het, sal jy my sekerlik ook welwillend `n vraag, wat jouself betref, toestaan. Hierdie vraag lui: Wat is dan wel die rede dat jy, as baie wyse ligverdediger, `n woning in hierdie hoek, wat heeltemal van die lig afgesonder is, gekies het?”
12 Die verstandsverteenwoordiger sê: “Die rede is wyser as wat jy kan begryp. As ons die dinge in die lig wil sien, en suiwer belig van mekaar wil onderskei, dan moet ons volgens die korrekte wiskundige reëls van die optiese, self nie in die lig gaan staan nie, maar op `n plek wat voldoende in die skadu lê. Daardeur word ons gesigsvermoë versterk en sal ons die teenoorgestelde voorwerpe skerp omlyn sien. Maar as julle die oë na die lig wend, dan word hulle verblind daardeur en julle sal die voorwerpe wasig en onduidelik sien en steeds genoeë moet neem met hulle skadukant. En daarom lê my woning wel van die liggewende voorwerp, maar nie van die praktiese lig afgewend nie. Daaruit kan julle aflei dat my woning nie afsydig van die lig staan nie, maar wel van die diensbare lig, goedberekend toegewend staan. As julle nog ander besware vind, sal julle in my altyd die onvermoeibare, bereidwilligste man aantref, wat julle in alles, wat maar in sy vermoë lê, tevrede sal stel.”
13 Die aanvoerder het nog `n vraag vir die verstandspresident en sê: “Ek sien nou weer hoe jy volgens die beginsels, wat goed deur jou bereken word, oor alles dink, spreek en handel. Daarom sou ek nog graag van jou wil verneem, waarom jy jou as verdediger van die ligvoeding gevestig het in so `n onherbergsame streek, wat vir die dierlike maag netso min as vir die geestelike te bied het. Is dit nie baie jammer vir jou dat jy jou nie in `n ryker streek gevestig het nie, tot ware seën van baie mense wat egter nog weinig verstand het? Daar sou jy self meer voeding vir jou gees vind, waardeur jy ook vir swak geeste `n kragtige voedsel sou kan berei uit die veelheid van ligstrale wat jou gees tegemoetkom.”
14 “My liewe vriende, oor hierdie vraag sal julle dadelik voldoende lig gegee word.”
|
|
|
|
|