Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 45

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die ooreenstemmende betekenis van eet en drink van die hemelse geeste. Die hemelse huwelik

45 Kyk nou, die taamlik groot geselskap is al naby ons. Kyk net na die liewe kinders, hoe die een nog hemels mooier is as die ander! Die aanblik van elkeen van hulle toon julle weer `n ander skoonheid. Die manlike engele het `n jeugdige krag en hulle gesigsuitdrukkings is buitengewoon sag en ernstig. Hulle oë is groot, wat beteken dat hulle ryk aan lig is; hulle neuse is mooi gevorm en baie gevoelig, wat wil sê dat hulle teergevoelig is en `n skerp aanvoelingsvermoë het. Hulle mond is sag en meestal gesluit, wat beteken dat die wysheid beskeie is. Hulle kenne is ook sag en sonder baard. Dit wil sê dat die eintlike wysheid oop is en nie omhul word met `n wilde gegroei van mistiek nie. Glad en rond is hulle hals, wat beteken dat die waarheid, prinsipieel beskou, baie vanselfsprekend en `n afgeronde geheel is. Kyk verder na die sagtheid van hulle hande; dit beteken dat die wysheid alles met goeie oorleg aanpak en niks onvolmaak wil aanraak nie.

2 Julle sê nou: Dit is merkwaardig dat die manlike wese hom hier byna in dieselfde mooi ronde vorm vertoon as die vroulike, en wel op `n manier wat mens ten slotte nouliks nog weet waarin mens as manlike gees `n groter welbehae sou skep, in die buitengewoon pragtige manlike gestalte of in die vroulike. Dit het, my liewe vriende, sy rede in die waaragtige hemelse huwelik, en wel omdat daar in die Skrif staan dat man en vrou een vlees sal wees. Daarom verskil hulle hier ook maar weinig en is, soos die Heer gesê het, almal gelyk aan die engele van God!

3 Julle vra of daar hier by die geeste geen verskil in geslag bestaan nie. Ek sê vir julle: Dit is hier net so goed die geval as op die hemelliggame, en die geeste eet en drink ook hier en verrig dus ook hulle noodsaaklike behoefte. Verder geniet hierdie hemelse in die eg verbinde persone ook die “egtelike genietinge” soos op aarde; maar dit alles het hier `n baie ander betekenis as op die hemelliggame.

4 Die eet en drink wil sê: Die opneem van die goddelik goeie en goddelik ware, en wat julle onder die sinnelike geslagsdaad verstaan, beteken hier, die vereniging van die goeie van die liefde en die ware van die geloof, tot `n liefdevolle ontplooiing. Dit alles is hier as oorsaak, werking en doel. Wie aldus wil werk, moet immers eers die werkende beginsel, wat daaraan ten grondslag lê, in hom opneem en dit is wat hier onder die opneem van voedsel verstaan word.

5 Die verteer van hierdie voeding bewerkstellig en ondersteun die voortdurende lewe van die geeste. Die lewe wil en kan egter nie `n geïsoleerde op sigself staande iets wees nie, maar hy gryp die voorwerp wat hom aantrek en met hom ooreenstem, vas en skenk sy vertroue daaraan, sodat daardeur as`t ware uit twee lewens `n volkome eenheid ontstaan. Dit kan mens beskou as die doel. Die doel word dan sinvol, omdat `n verenigde lewe in alle opsigte `n kragtiger werking het, as `n op sigself staande lewe, wat nie as `n volmaakte lewe beskou kan word nie, omdat geen enkele doel daarin en dus ook geen groei tot uitdrukking kom nie. Begryp julle dit?

6 Julle sê: Beste vriend, ten dele wel, maar geheel duidelik is dit nog nie vir ons nie. Wel, ek sal dit nogeens bietjie nader belig. Julle het ook reeds op aarde `n ooreenkomstige daad wat lyk soos die geslagsdaad van die geeste.

7 Wat gebeur daar eintlik as `n lewenskragtige man een of ander vrou sogenaamd magneties behandel? Hier gebeur niks anders nie, as dat die man met sy kragtige gees die swakker gees van die vrou binnedring, dit daardeur opwek en met sy krag ondersteun, deurdat hy hom met haar vir `n bepaalde tyd magneties verbind en gedeeltelik fynstoflik verenig, of anders gesê met haar `n “geestelike egverbintenis” aangaan.

8 Wat is die uitwerking van hierdie verbintenis? As julle die veelvuldige verskynsels op dié gebied maar ietwat beskou, dan kan julle onmoontlik anders sê as: Die krag van die swak vroulike gees is deur die daarmee verenigde krag van die manlike gees baie verhoog en kan in so `n toestand dinge tot stand bring wat `n geïsoleerde gees in sy natuurlike toestand tog hoogs selde en dan nog slegs baie moeisaam tot stand kan bring. Heldersiendheid, wat in homself en ander `n insig kry en, kort gesê, die kragtige, helder geestelike deurdring in anders ondeurgrondelike dieptes van die skepping, is die gevolg van so `n vereniging.

9 Wel, presies so is die sogenaamde geslagsdaad geestelik geaard. Dit is `n mekaar vasgryp van twee innig verwante gees­telike potensies en die gevolg daarvan stem dan ook ooreen met die bekende handeling wat ons so pas bespreek het. Nou sê julle wel dat dit alles duidelik is, maar julle vra nog op welke manier hierdie handeling hier verrig word. Ek sê vir julle: So `n handeling word op dieselfde manier verrig as by in die eg verbinde persone, maar daar is van een of ander vorm van sinlikheid daarby, geen enkele spoor te vind nie.

10 In die eerste Kerk, die Adamitiese, was die geslagsdaad by die mense, wat toentertyd voortdurend met die hemel in kontak gestaan het, ook baie meer op `n geestelike, as op `n sinlike manier verrig. By geleentheid van so `n daad was beide die eggenote meer as normaal deur die goddelike Gees deurdring, raak daardeur liggaamlik aan die slaap, ontwaak spoedig uit hierdie natuurlike slaap en word dan een in die gees en daardeur ook volkome in hemelse vervoering gebring. Eers in dié toestand verrig hulle die geslagsdaad en was baie spoedig daarna weer geskei en liggaamlik in die natuurlike sfeer teruggeplaas.

11 Om hierdie rede word hierdie daad toentertyd ook “éénslaap”, “medeslaap” of ook “byslaap” genoem. Omdat die mense mettertyd egter deur allerlei wêreldse genietinge aardser en sinliker geword het, begin hulle ook sonder geestelike voorbereiding in hulle aardse sfeer die vrouens suiwer liggaamlik te beslaap, raak daarby nie meer in `n geestelike slaap, of beter gesê, in `n natuurlike slaap, sodat die gees daardeur vry sou word nie. Daardeur word die vrugte as resultaat van oorsaak en werking dan ook soos wat die oorsaak en die werking self was. Julle sê immers self: “Ex trunco non fit Mercurius”.* Hoe is dit dan derhalwe moontlik om langs suiwer dierlik natuurlike weg vrugte van die gees te verwek? Ek is van mening dat, as julle slegs enigsins ag slaan op hierdie belangrike, oudhistoriese, volkome ware beskrywing, julle jul nou ook die suiwer hemelse geslagsdaad korrekter en waardiger sal kan voorstel as wat andersins vir julle moontlik sou gewees het, terwyl julle hierdie daad, deur sy teenswoordige, suiwer sinlike verskyningsvorm, op grond waarvan die wette van Moses, met betrekking tot die onkuisheid, gegee was, noodgedwonge as onsuiwer, en dus ook onheilig moes beskou.**

*(Uit een boomstam ontstaan niks goddelik nie)

**(Sien ook ‘Saturnus’, hfst. 37)

12 Dit weet julle nou. Maar wat beteken dan die geestelike “verrigting van die noodsaaklike behoefte”, wat met die natuurlike ooreenkom? Wat beteken die natuurlike dan? Niks anders nie as die wegwerk van die uiterlike vorm, nadat dit, as draagster van lewensbevattende substansies, hierdie substansies afgegee het. Kyk, lewe kan onmoontlik anders manifesteer en uiter as slegs in `n met haar ooreenkomende vorm. Hierdie vorm kom ooreen met alle uiterlike vliesagtige omkleding van dié dinge. Ook al is die vrugte wat julle hier sien, niks anders as suiwer lewende ooreen­stemmende vorm nie, voortgekom uit die liefde en die wysheid van die Heer, maar dan soos hier sigbaar word, ook as ooreenkomstige vorm van waaragtige geloof en daadkragtige liefde, kan hulle tog nie sonder `n uiterlike vorm voorgestel word nie, ewe min as wat `n gedagte hom kan manifesteer sonder woorde.

13 As julle dus woorde hoor, dan eet julle geestelike vrugte. Die woorde as vorm, word deur julle weer baie vinnig geestelik weggewerk, maar die betekenis van die woorde bly in julle. Kyk, dit stem volkome ooreen met hierdie geestelike verrigting van die noodsaaklike behoeftes.

14 Die vorm is die draers van die lewende. Omdat die lewende egter suiwer goddelik en dus die mees innerlike en allersuiwer geestelike is, kan dit ook deur geen uiterlike gees volkome suiwer opgeneem word nie. Daarom skep die Heer dan ooreenstem­mende liefdesvorme, wat dan draers van Sy lewe is. Wil ons derhalwe die lewe in ons opneem, dan moet ons dit saam met die vorm opneem. Eers in ons word die vorm as lewensdraer vernietig; die lewe word daardeur vry en verenig baie spoedig met die ook goddelike lewe in ons, versterk haar en hou haar lewendig. Die vorm self, as vernietigde huls, word dan volgens die ordening van die almag uit ons hele lewende wese verwyder.

15 By julle op aarde noem mens so-iets die “afval”, maar hier word dit die skeiding genoem. By julle is die vorm grofstoflik, by ons is dit ook geestelik, dus onmiddellik vervlugtig en geheel verdwynend. Aangesien julle dit nou alles weet, sal ons weer terugkeer na ons groot, wondermooie geselskap.

16 Kyk, ons vroeëre stamouerpaar staan reeds by ons. Hy kom na my toe en sê: Magtige bewoner van die ewige môre en tog sekerlik `n baie geliefde vriend van die Heer, kyk, ons het nou alles verlaat en ons hele besit en ons kosbaarhede op jou raad weggegee. Jy sien dat ons baie saam is en tog is daar nie een onder ons, wat anders gesind sou wees as wat ek is nie. Ons staan nou dee­moedig hier voor julle; sê jy, wie hier in die Naam van die Heer is, maar wat jy wil en wat die wil van die Heer is, dan sal ons dit doen!

17 Nou sê ek aan hulle: Geliefde broers en susters, Wees nie spyt dat julle gekies het vir die liefde vir die Heer nie, en volg ons in Sy Naam! Kyk daar gunter, aan die anderkant van die rivier waar julle op min of meer onherbergsaam lykende heuwels, op gepaste afstand van mekaar, klein onaansienlike huise sien lê, daarheen sal ek julle bring en elkeen sy eie woning gee. Julle sal daar weliswaar nie so aangenaam en mooi woon as hier in die pragtige paleis nie, maar daaraan sal julle moet gewoond raak, want in die ewige môre, in voortdurende teenwoordigheid van die Heer woon mens nie in sulke paleise nie, maar in baie eenvoudige klein hutte. Ook is mens daar nie so skitterend geklee as hier nie, maar die waaragtige kinders van die Heer loop byna heeltemal naak rond. Daar mag niemand werkloos wees nie, want die Heer weet hoe om sy kinders voortdurend baie besig te hou.

18 Hier het julle “salige rus” en geniet heerlik en vredig van alles wat julle in so `n ryke oorvloed besit; daar word mens egter nie so onderhou nie. Mens moet daar werklik ywerig werk om sy daaglikse brood te verdien.

19 Hier hoef julle vir niks te vra of te dank nie, want die Heer gee julle alles vry uit Homself in die grootste oorvloed, maar daar sal julle altyd die Heer en die Vader moet vra en dank.

20 Hier het elkeen as selfstandige heer sy eie tafel en kan eet en drink na eie welgevalle. Daar het niemand `n eie tafel nie, maar moet almal by die Vader aan tafel kom.

21 Hier kan julle eet wat julle wil, maar daar is die reël: Eet wat vir julle op tafel voorgesit word.

22 As julle met hierdie ruil tevrede is, volg my dan! Daardeur sal julle wil ewenwel nie die geringste geweld aangedoen word nie.

23 Luister, nou sê die hele geselskap: O groot liewe vriend van die Heer, al besit ons hier duisend sulke paleise, dan sou ons dit tog verlaat, as ons naby die woning van ons groot heilige Vader mag wees, as die slegs allerlaaste en allergeringste dienare! Alle voor­waardes wat julle ons gestel het, is tog te groot en te verhewe vir ons. As ons maar waardig bevind kan word om die brood­krummels van die tafel van die Heer te mag ontvang, dan sou ons daardeur reeds onuitspreeklik gelukkiger wees as hier, omdat ons by al hierdie groot prag presies dit moet ontbeer wat enkel en alleen vir alle engele die allerhoogste saligheid uitmaak, naamlik die aan­skouing van die Heer, wat veral `n voortreflike, heilige Vader is vir hulle wat by Hom in die môre woon.

24 Ons gewaar ook wel die Heer hier in die heilige genadeson bo ons, maar die Vader te midde van Sy kinders kan ons nie aanskou nie!

25 Bring ons dus maar waarheen jy wil en gee ons `n plek volgens jou hemelse insig. Ons sal jou volg!

26 Nou sê ek: Volg my dan oor hierdie rivier na daardie heuwel­land. Laat julle nie afskrik deur die golwe wat julle vroeër nie kon dra nie, omdat julle grondbeginsel nie die eintlike “grondslag van die lewe” was nie, naamlik die liefde vir die Heer. Maar nou het hierdie liefde julle basis geword, sodat die water van hierdie rivier julle sal dra, want dit verteenwoordig immers julle basis. Kyk hoe almal ons nou volg en hoe die water van die rivier hulle dra soos `n stewige bodem!

27 Sodoende sal ons onsself gesamentlik na die heuwelland daar gunter begewe en ons geselskap daar installeer. Daarna kyk ons nog wat hom daar alles sal afspeel en hoe tevrede die geselskap daar sal wees.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205