Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 93

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die vermoë om op verskillende plekke gelyktydig te kan verskyn. Uitleg

93 Nou gaan ons ook, sodat ons ook op tyd ter plaatse is, want die geselskap het nie veel tyd nodig om by die ander in die tuin te kom nie; daarom moet ook ons dadelik daar wees. Kyk, ons is al waar ons moet wees. Die Heer weet wel dat ons ook getuie was van alles wat daar met die sieleslapers gebeur het, maar verder weet niemand daarvan nie. Julle vra nou: Hulle, wat intussen in die tuin agtergebly het, sal tog wel weet dat ons afwesig was?

2 Kyk, in die opsig gaan dit in die Ryk van die geeste ietwat anders as op aarde. Op aarde is julle sigbare aanwesigheid ten nouste verbind met julle individualiteit en julle kan julle op geen enkele ander manier aan iemand vertoon as deur persoonlik by hom aanwesig te wees nie. Maar soos gesê, hier is dit `n bietjie anders. Daar kom op aarde ook wel seldsame gevalle voor wat soos hierdie verskyningsvorm lyk, maar slegs in `n heel beperkte mate.

3 Persone wat op twee, drie, vier, vyf, ses of nog meer plekke gelyktydig kan verskyn het iets soortgelyk, naamlik een en dieselfde persoon soos wat hy ten voete uit is, oftewel homself nog eens sien, of deur iemand anders op `n heel ander plek gesien word; soms selfs ook tegelykertyd op verskillende plekke, sonder om hom ewenwel persoonlik werklik op één van hierdie plekke te bevind. Dit is dus `n soortgelyke geval, wat egter maar selde voorkom. `n Ander geval wat veel meer soos die geestelike verskyningsvorm hier lyk, as die vorige, kom meer dikwels voor, maar kry juis daardeur te min aandag en word daarom ook te oppervlakkig beoordeel en nie in wese begryp nie.

4 Die volgende is die geval. Wanneer `n mens hom êrens in sy uiterlike verskyningsvorm bevind, dan kan dit gebeur dat sy bekendes op honderd, ja duisend verskillende plekke tegelykertyd aan hom dink. Geeneen van almal wat aan hom dink, stel hom anders voor as wat hy volgens vorm, gestalte en geaardheid werklik is nie. Vra julle nou net af hoe al hierdie mense dan so aan hom kan dink en in hulle gees reproduseer, terwyl hy in werklikheid tog slegs as één mens bestaan?

5 Die rede daarvoor is dat elkeen in sy gees nie slegs `n beeld nie, maar tallose baie beelde van die ander in hom dra, soos die beeld van twee teenoor mekaar geplaasde spieëls hom ook talloos baie male kan weerspieël, dit wil sê dat hulle mekaar, wat die sigbare beeld betref, talloos baie kere wederkerig kan opneem. Die twee eerste wedersydse spieëlbeelde sal die lewendigste en tewens ook die grootste wees. Alle daaropvolgende sal opvolgend kleiner en ook steeds minder lewendig wees. 

6 Wanneer jy die voorgaande `n bietjie begryp, sal dit nie vir jou moeilik wees om ook die verskyningsvorm hier in die suiwer Ryk van die geeste te begryp nie, want wat mens by julle gedagte­vorming noem, is hier as`t ware volledig uiterlik ontwikkelde verskyningsvorms. Die eerste is die lewendigste en die minste verganklik. Die later gevormde beelde, of die sogenaamde by­gedagtes, wat julle hoogstens as vlugtige herinneringe ken, is nie meer van belang nie en verskyn ook nie meer in een of ander vorm nie, behalwe by `n individu, wat `n sterk wil het en hierdie beelde in hom dra. Ons het egter eers voor hierdie tuinbewoners gestaan en die allergewigtigste sake met hulle bespreek. Daarom was ons, en is dit nog, die vernaamste gedagte of eerste refleksie in hulle. Dit is die rede dat hulle ons ook voortdurend bly sien, sonder dat ons steeds as persone reëel by hulle aanwesig hoef te wees.

7 Die hoofeienskap van die verskynsel is egter, dat hierdie verskyningsvorm vir diegene, wat dit vanuit sy hoofgedagtes te voorskyn geroep het, aanspreekbaar en ook tot elke gesprek in staat is. Jy vra hoe dit moontlik is. Ook in die geval is daar op aarde verskynsels, wat hierop trek. So kan iemand byvoorbeeld `n droom hê waarin hy aan `n vriend die een en ander gesê het, waarna hierdie vriend hom ook die een en ander vertel het. Kom hy naderhand in `n ontwaakte toestand by sy vriend, dan ken hy sekerlik geen sillabe van dit wat sy volkome ewebeeld in die droom aan sy vriend gespreek het nie. En tog was die woorde van die dromer en die van die in die droom verskynde vriend sodanig dat die dromer nie vooraf geweet het wat hy aan sy droom verskynde vriend sou gaan sê het nie, totdat hy sy mond oopgemaak het. Dit is dus `n ooreenkomstige verskynsel.

8 `n Tweede soortgelyke verskynsel is die van op twee of meer plekke tegelykertyd se verskyning, waarby ook dikwels die verskyn­ing van die eerste, oorspronklike verskyning, gesprekke voer met diegene aan wie hy verskyn. Hierby kom die ooreenkoms met hierdie suiwer geestelike verskyning al ietwat duideliker tot uiting, want in hierdie sfeer weet die oorspronklike individu dikwels nie, dit is ook vaag, wat hy êrens in sy slegs geestelike nagevormde verskyning gesê het. Jy sê nou wel: Hierdie verskyningsvorm is nie afhanklik van die hoofgedagte van diegene wat hom te sien kry nie. Dit is inderdaad so; daarom is hierdie verskyning ook slegs as gelyksoortige, maar nie as volkome identieke aangehaal nie. Dit het eintlik wel een en dieselfde oorsprong, maar die verskynings­vorm moet homself daar natuurlik veel meer versluierd manifesteer as hier, waar alles oop en helder, suiwer geestelik voor ons staan.

9 Om dit nog makliker te begryp, moet jy goed onthou dat die van die hoofdindividu afgeskeide verskyninge op tweërlei maniere tot stand kan kom. Ten eerste op die reeds bo meegedeelde manier, ten tweede egter ook deur die vasberade wil van diegene wat, behalwe as hoofdindividu, nog êrens anders sigbaar wil optree. By hierdie tweede manier word, as mens dieper daaroor nadink, ook die twee of meervoudige optrede begrypliker. Tog kan so-iets op aarde nooit eg duidelik tot uitdrukking kom nie, omdat die geestelike, selfs in die mees gunstige omstandighede, tog onveranderlik met die materie in konflik is.

10 So sou daar nog `n derde gelyksoortige, sprekende verskyningsvorm bestaan by die sogenaamde monoloogsprekers, wat een of ander individu gefikseer voor hom plaas en dan, soos julle gewoond is om te sê, ‘con amore’ woorde met hom wissel. Die geval pas nog die beste hierby, met as enigste verskil hierby, dat die gefikseerde persoon ten eerste by die monoloogspreker nie in sy werklike verskyningsvorm optree nie, en ten tweede, dat hierdie gefikseerde persoon in wese tog maar net sê, wat die alleenspreker hom in `n sekere sin, soos julle gewoond is om te sê, in die mond lê.

11 Hier is die spreek van die verskyningsvorm egter volkome identiek aan die van die hoofdindividu. Dit gebeur omdat die verskyningsvorm geen fantasie is nie, maar die opgeroepe lewendige, geestelike afspieëling van die hoofdindividu.

12 In diepste wese is hulle eintlik `n uiting van broeder- of naasteliefde, wat slegs op die Heer gebaseer is. Nou staan egter, as gevolg van hierdie liefde van die Heer, wat elke gees in hom dra, elke gees, en dus ook alles wat in die gees aanwesig is, in voortdurende kontak met die Heer Self. Wanneer ons nou voor `n ander gees, soos in die geval, nie werklik, maar slegs skynbaar sprekend optree, dan is die optrede lewendig in die Heer toevertrou. Sodra ek iets dink, gaan die denke via die Heer oor in die afdruk van my tweede of uiteindelike honderdste ek, en hierdie tweede afdruk van my ‘ek’ handel en spreek dan presies so, asof ek self werklik handelend en sprekend aanwesig sou wees. Ons kan dientengevolge as hoofindividualiteite ook alles tot op die laaste druppel weet, wat ons verskynde ewebeelde gedoen en gespreek het.

13 So-iets lyk vir jou weliswaar `n bietjie al te wonderbaarlik, maar in die volmaakte Ryk van die lewe, waar `n beroep op velerlei maniere gedoen word, op die volledige inset van elke gees, is dit ook werklik so. By julle sê mense wat sorglik besig is, tog ook dikwels: Kon ek maar oral tegelyk wees; kon ek my maar in twee of in vier deel! Die gesegde, hierdie begeerte en hierdie dikwels baie sterk gedagte is `n baie duidelike bewys daarvan, dat dit in die Ryk van die gees moontlik moet wees, om homself op bogenoemde wyse doeltreffend te verveelvoudig, sonder dat die eenheid van die hoofdindividualiteit ook maar die geringste deling daardeur ondergaan.

14 Want wat daar maar in die gees bedink kan word, is in die Ryk van die geeste ook volkome reëel uitgebeeld voorhande, slegs met die verskil: By onvolmaakte geeste onvolledig, by volmaakte egter volkome as ewebeeld van die allervolmaaktste in die Heer. Ek dink dat dit nie nodig sal wees om nog meer woorde aan die geval te bestee nie. `n Goeie begryper weet wat hiermee gesê is, maar vir `n slegte begryper sou duisendmaal soveel nog nie genoeg wees nie. Nou kom ons geselskap ook al uit die klooster; laat ons onsself daarom voorberei daarop om hulle te ontvang!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205