|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 83
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Die ewige Woord van God as regterstoel van Christus
83 Ons het die groep monnike nou so genader, dat ons goed met hulle kan praat. Daarom sal ek dan ook dadelik my vraag aan die geselskap herhaal, sodat ons uit hulle antwoord kan aflei in hoeverre hulle, as gevolg van ons vorige gesprek, tot besinning gekom het. Julle vra: Moet so-iets in hierdie geestelike wêreld ook altyd met woorde afgehandel word? Is aan die geeste van jou volmaaktheid, nie toegestaan om by sulke bedrieglike geeste, sonder om `n woord te wissel, op die eerste oogopslag te beoordeel hoe dit met hulle innerlik gestel is nie?
2 Ek sê vir julle: Dit is aan elke gees van die boonste hemel toegestaan en hy kan dan ook elke onvolmaakte gees met die eerste oogopslag volkome deursien. Daarmee word die onvolmaakte gees egter nie gehelp nie. Dieselfde geval geld wanneer een of ander misdadiger op aarde aangevat word. Die gereg is weliswaar by die eerste verhoor, deur die getuieverklaring, volkome daarvan oortuig dat die individu hom aan `n sekere vergryp skuldig gemaak het. Maar tog kan hy die misdadiger nie wetlik straf, solank hy sy misdaad nie self beken het nie. Die woord is dan die enigste middel om die innerlike bloot te lê; of, sowel die mens as die gees gee deur die woord sy innerlike prys aan die openbaar.
3 Daarom dien net my insig in die innerlike van hierdie geeste vir niks nie. Ek kan die geeste wel, as gevolg van die insig, so lei dat hulle hul uitspreek, en my noodgedwonge nie kan ontwyk en dan hulle innerlike deur die woord na buite keer en aan die openbaar prysgee.
4 Daardeur word dan ook die woorde: “Dit sal aan julle hardop van die dakke verkondig word” volkome bewaarheid. En elders staan daar by Paulus: “Voor die regterstoel van Christus moet alles geopenbaar word!” dit wat soveel wil sê as: Alles moet deur die woord geopenbaar of geuiter word, want die woord is die eintlike regterstoel van Christus. “Van die dakke luid verkondig” beteken dat elkeen hom deur sy eie woord sal oordeel of anders gesê, sy innerlike volledig sal moet prysgee. Want soos die dak die beskutting is van `n huis, waardeur die mens hom tydens sy aardse lewe so goed moontlik beskut teen inwerkende onweer van buite af, so is die woord, geestelik gesien, die middel wat uit eieliefde tot selfbeskerming dien. Omdat die eie woord, in die geestelike betekenis, egter gelyk is aan die dak van `n huis, wat hier in die geestelike wêreld heeltemal geen beskutting meer kan bied nie, beteken “hardop van die dak verkondig”: hom deur die eie woord van alle innerlike ondeugde ontdoen. Julle het al menigmaal soortgelyke ontboesemings gehoor; desondanks is dit vir julle tog nie oorbodig om ook die volgende aan te hoor nie.
5 Daarom wil ek my nou, met my vraag wat ek reeds van plan was om te stel, tot die monnikegeselskap rig. Uit hulle antwoord kan julle dan aflei, hoe sleg en duister die kern, wat in hulle verborge lê, nog is. Let dus goed op; hier kom my vraag:
6 Wel, soos julle sien, het ek weer, na die oorwinning oor julle hemel, teruggekom. Hoe lyk dit nou met julle innerlike insig en die verdeemoediging daarna? Beskou julle julleself nog as egte dienare van die Heer, of meer as eiesinnige bedrieërs van die volk?
7 Die prior sê: Ons het ons innerlike grondig ondersoek en gevind dat ons die hellestraf volkome verdien het, omdat ons by nadere beskouing ingesien het dat jy waarlik `n bode van die goddelike geregtigheid is en bowendien toegerus is met `n mag, waardeur al ons mure en torings soos nietige kaf vergaan. Ons is en bly ewig in die skuld by die Heer en elkeen van ons dra soveel van hierdie skuld op sy eie skouers, dat dit hom, as gevolg van die goddelike geregtigheid, nooit meer vergewe kan word nie. Daarom het ons niks meer verder met jou te bespreek nie, maar vra, as dit vir jou moontlik is, slegs om soveel goddelike genade en erbarming, dat jy ons, vanweë ons skuld, nie verdoem tot die allerbitterste en allerpynlikste graad van die hel nie.
8 Sou dit moontlik wees om hier te bieg, dan sou ons honderd jaar lank wou bieg om daardeur, na die mate van die met die bieg verbinde boete, bevry te word van ons skuld. Omdat dit nie moontlik is hier nie en ons volgens Paulus bly lê soos wat ons geval het, bly daar immers niks anders vir ons oor nie, as om jou verdoemende oordeel treurig af te wag.
9 Nou sê ek: Dus met bieg, dink julle, sou dit moontlik wees om van julle sondes af te kom? As julle geloof daarop gerig is, sê my dan net by welke geleentheid die Heer op aarde die bieg ingestel het as middel om sondes te vergewe.
10 Die prior sê: Beste vriend, jy sal tog goed weet dat die Heer Sy apostels die mag verleen het om te bind en te ontbind. Dit is tog `n sonhelder bewys dat die Heer die bieg ingestel het. Ook die apostel Jakobus sê nadruklik: “Beken openlik julle sondes teenoor mekaar”. As mens dit alles en nog veel meer oordink, kan mens tog onmoontlik ontken dat die Heer die bieg openlik ingestel het as middel om sondes te vergewe.
11 Nou sê ek: Luister vriend en broer, as jy die woord van God so opneem, dan is dit geen wonder dat die wanhoop vir jou hier naby is nie. Sê net, bestaan daar wel `n groter dwaasheid as die volgende. Stel jou net twee vyandiggesinde mense voor, dus twee mense wat wedersyds `n misstap begaan het of skuldig is, maar by elkeen van hulle begin hierdie bose toestand mettertyd die gewete te belas. Om hulle egter van hierdie lastige toestand te bevry, gaan elkeen van hulle na `n ander persoon toe om sy skuld aan hom te beken, sodat hierdie buitestander, wat tog heeltemal niks met hulle wedersydse struwelinge te make het nie, sy skuld sou vereffen. Sê net, as so `n vreemde persoon, vir wie die hele skuld gladnie aangaan nie, `n dergelike skuldvereffening op hom neem, wat is hy dan? Is hy dan nie `n growwe bedrieër nie? Innerlik is jy dit met my eens. Goed, maar dit sal vir jou nog duideliker word.
12 Laat ons eens aanneem dat A `n duisend gulde aan B skuldig is. In plaas van om aan B die duisend gulde eerlik terug te betaal, laat A hom deur `n bedrieër, C genaamd, oorhaal om aan hom, aan wie A nooit `n sent verskuldig was nie, die vordering van B volledig te voldoen met slegs honderd, in plaas van met duisend gulde. Wat sal B dan wel sê oor die aflossing van hierdie skuld en sal die skuld van A aan B wel daardeur afgelos wees? Ek dink, dat selfs helse geeste dit nie kan beweer nie. Bygevolg kan ons dit tog des te minder van die Heer beweer, aangesien Hy tog die allerheiligste Liefde en Wysheid in Homself is.
13 Daarom moet aan die tekste oor die mag om sondes te vergewe, wat deur jou aangehaal is, `n ander uitleg gegee word, want die argument van jou raak nóg kant, nóg wal. Ek sal jou daarom ietwat tyd gee om goed daaroor na te dink; daarna kan jy my dan meedeel tot welke slotsom jy gekom het. Maar langer as sewe minute moet jy nie daaroor nadink nie. Wel, ondersoek jouself volgens gees en waarheid. Amen.
|
|
|
|
|