Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 22

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die voorgrens van die kinderryk

22 Julle vra: Beste vriend en broer, hoe sal ons dan oor die enorme see-oppervlak kom, terwyl daar nêrens `n boot of `n skip te siene is, waarvan ons kan gebruik maak, of wat ons kan saamneem nie? Ek sê vir julle: Dit sal ons ook nie nodig hê nie. Dit hang nou van julle af of julle deur die water wil wandel soos wat die Israelitiese volk eens deur die Rooi see of soos Petrus eens met die Heer oor die wateroppervlak gewandel het. Dit kan op beide maniere, en dit sal gebeur soos wat julle dit wil. Julle sê dat ek maar moet beslis en aangee wat die beste is.

2 Wat my betref, wil ek liewer die Heer volg soos Moses. Probeer dus om saam met my die wateroppervlak te betree en wees nie die minste beangs nie, want ons sal netso maklik oor die water loop as oor die land. Kyk, ons staan al op die water; hoe vind julle hierdie bodem? Julle sê: Mens loop besonder goed hier. Oral waar ons loop is die bodem heel fyntjies, maar tog veerkragtig en laat hom nie indruk nie. Die water is baie helder en lyk ook besonder diep te wees. Maar dit boesem ons tog geen vrees in nie, omdat ons mekaar oortuig het dat dit stewig genoeg is om ons te dra.

3 Dit is korrek, beste vriende en broers, solank `n mens nog naby die oewer staan, nog `n hele klomp voorwerpe en die vaste land om hom heen sien en die wateroppervlak spieëlglad is. Maar wanneer mens `n hele ent verder gekom het en die water steeds meer begin golf, moet mens goed oppas om geen watervrees te kry en daarby sy ewewig te verloor nie. Maar so stewig as wat die water hier is, bly dit oral; daarom probeer ons ons reis te vervolg. Hou julle maar stewig aan my vas en stel geen angstige nie, maar `n flink stewige stap, want met versigtige stap sou julle nie veel bereik nie. Soos julle sien is die wateroppervlak besonder glad en as mens sy voete nie stewig daarop plaas nie, kan mens maklik gly en val, en dan kos dit baie moeite om weer op hierdie gladde bodem orent te kom. Wel, ons staan stewig op ons voete en soos wat ek sien, maak julle goeie vordering.

4 Dus maar reg vooruit totdat ons die taamlik sterk golwende plek bereik het wat daar aan die verre horison te siene is. Kyk, ons gaan baie goed vooruit. Hier en daar skommel die bodem weliswaar as gevolg van die algehele beweging van die see, maar soos julle sien, word ons stap nie in die minste daardeur beïnvloed nie.

5 Maar waarom kyk julle so gespanne in die water? Het julle miskien iets daar laat inval wat in die diepte gesink het? Julle sê: Beste vriend, glad nie. Ons kyk slegs omlaag of daar onder ons in die water nêrens visse of ander waterdiere is nie. Ek sê vir julle: Wees nie besorg daaroor nie, hier geen sprake van watermonsters nie, maar klein edel vissies is daar in groot getalle. Julle sou graag ietwat daarvan wil sien? So ja, dan moet julle julle `n bietjie omdraai, dan sal julle dadelik sien hoe hulle vanaf die môre na die aand trek. Wel, julle het julle omgedraai. Kyk net wat `n enorme hoeveelheid mooi glansende visse vanuit die omgewing van die môre dié hele onafsienbare water verlewendig! Lyk hulle nie soos die goudvissies by julle op aarde nie? Julle sê: O ja, hulle skitter alleenlik baie sterker.

6 Julle sou wel graag wil weet, wat hierdie vissies hier te beteken het? Hierdie vissies beteken die van die ewige môre uitstromende lewe, wat die element deur en deur laat oplewe en vervolgens as vry lewe na buite tree in alle oneindige ruimtes van God se ewige skeppings.

7 Aangesien ons nou tog netso gehalt het, kyk dan ook netso na die oppervlak van dié groot water. Wel, julle skrik en sê: In godsnaam, die hele oneindigheid lyk wel vervul te wees met dié water, want nêrens is daar nog iets van land te ontdek nie. So ver die oog reik, sien dit in die verste vertes niks anders as die golwende en witagtig glansende oppervlakte van `n eindelose see nie. Ek sê egter vir julle: Maak julle nie bedruk daaroor nie, maar bedink dat dit met ons, met dié enorme wateroppervlak om ons heen, tog nie so sleg gaan as eens met Christoffel Columbus, toe hy met sy slegte vaartuie in die middel van die Atlantiese Oseaan gevaar en daar angstig om hom heen gekyk het of hy êrens land kon ontdek nie.

8 Laat ons ons reis maar weer vervolg. Ons het die golwe al taamlik genader. Wanneer ons daar sal wees, moet julle maar goed aan my vashou, want ons sal daar diep waterdale en hoë waterberge moet oorgaan.

9 Kyk nou, die golwe kom steeds nader. Hou julle nou vas, nog `n paar treë volgens ons geestelike manier van voortbeweeg en ons is by die golwe. Wel, daar is al die eerste golfrand. Kyk, wat `n diep waterdal en kyk net hoe die water in dié dal na benede stort; en kyk hoe daar `n waterberg met skuimende golwe hom byna tot aan die uitspansel blyk te verhef.

10 Julle sê: O, beste vriend en broer, dit sal wel onmoontlik wees om daaroorheen te kom, want dit lyk tog angsaanjaend hier! Daar slaan `n paar hemelhoë golwe oormekaar. En daar vorm `n waterkloof so diep, asof mens vanaf `n hoë berg in `n huiwering­wekkende diepte afkyk!

11 Maar ek sê vir julle: Hier sal dit die beste met ons gaan, want soos julle kan sien, stroom die waterravyn alweer vol; daarom kan ons nou ons weg heel maklik vervolg. Voordat ons hierdie swewende waterberg sal bereik, sal die water ook weer gelyk wees daar. Kyk, hy het alweer omlaag gekom; nou is ons weg weer gelyk. Maar daar is alweer `n groot waterravyn; wild skuimend stort die nat wande in die diepte in. Laat ons maar netso geduld hê. Die ravyn sal spoedig weer `n gelyk bodem word. Kyk, die wande het hulle alweer saamgevoeg en ons kan ons weg verder volg. Daar kom alweer `n enorme waterberg op ons af en agter ons het so pas alweer `n nuwe watervallei gevorm. Julle sê: Hierdie enorme waterberg sal ons verseker meesleur in die waterravyn in. Maak julle geen sorge nie; die berg sal die ravyn maar net opvul en ons sal weer `n vlak weg kry.

12 Kyk nou, na onweer en reën kom sonskyn. Met hierdie waterberg het ons ook die hele golweparty van hierdie see al gepasseer en ons het alweer rustige water voor ons. Maar daar heel in die verte, waar julle `n massa sterre bo die water sien, kom nog `n gevaarlike plek met groot draaikolke. Ook daaroor hoef julle julle geen sorge te maak nie; sy sal ons netso min skaad as die golwe. Kyk net, na ons versnelde reis is ons ook al by hierdie kolke. Ons moet hier steeds verder oor die rand van die kolke loop, dan kan hulle ons nie keer nie. Skrik nie van die donderende geraas van hierdie kolke nie en kyk omhoog na die uitspansel, hoe ons onsself reeds onder die sterre bevind, wat ons kort gelede nog so van veraf gesien het. Span julle oë nou nogeens goed in en kyk reg vooruit. Wat sien julle?

13 Julle roep: Land, land! Wel, dan was hierdie see tog nie so eindeloos as wat julle dit nog kort gelede vir julle voorgestel het nie. Kyk, daar op `n landtong, wat taamlik ver in see uitloop, staan alweer `n pilaar. Julle vra wat dit beteken? Ons sal dadelik daar wees en julle kan die opskrif self lees. Nog maar `n paar treë en ons is alweer op die droë grond. Kyk, daar is die pilaar ook al!

14 Wat staan daarop geskryf? “Voorgrens van die kinderryk”. Nou weet julle waar ons onsself bevind. Julle sê: Maar in hemelsnaam, dit is tog wel `n ontsettende bergagtige streek! Moet ons onsself dalk ook nog dieper in dié bergland begewe? O ja, dit is juis die hoofsaak; daarvoor het ons die verre reis hierheen gemaak. Dit moet julle sien, want eers hier word die ware betekenis van die aand bekendgemaak. Daarom sal ons onsself die volgende keer in hierdie bergstreke waag. En dus rus ons vandag weer by hierdie pilaar uit.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205