Besoek aan die middag. Die werking van waaragtig glo en daadwerklike liefde
41 Kyk nou, soos ek gesê het en nog voordat julle daarop bedag is, is ons ook al waar ons wil wees. Ons is dus al in die middag. Sê my net hoe dit julle hier geval en wat julle alles sien.
2 Julle sê: “Dit geval ons uitstekend hier; tog moet ons beken dat ons hier nog meer verwag het as wat ons nou voor ons sien. Hierdie streek lyk soos `n bekoorlike mooi landskap, soos wat daar op aarde sekerlik baie is; maar iets boaards verhewe moois kan ons nie hier herken nie.”
3 “Ja liewe vriende, julle het in wese wel gelyk; daar skyn hier, soos julle kan sien, ook `n son en sy staan in hierdie streek presies op die hoogste punt. Verder lyk die hemel ook lieflik blou, netsoos by julle op aarde. Rondom sien julle `n ryk verskeidenheid van vrugbare velde en heuwels, begroei met vrugtebome; selfs wingerde in julle styl ontbreek nie. Hier en daar sien julle ook baie aansienlike berge bo die kleiner heuwels uitsteek; julle sien ook hier en daar aardig geboude huise waar mense in- en uitgaan; ook op die velde sien julle hier en daar sommige mense besig met die versameling en bewerking van die vrugte.
4 Dit is waar, oppervlakkig gesien het alles hier `n treffende gelykenis met die mooi landskappe op aarde. Maar ek sê vir julle, as ons een van hierdie wonings bietjie nader, sal die inrigting daarvan julle dadelik bietjie anders leer. Kyk, juis aan hierdie straat, wat tussen `n dubbele ry vrugtebome deurloop, lê, soos wat julle sien, `n egte behoorlik geboude huisie. Daarheen sal ons gaan en kyk hoe dit van binne lyk.
5 Wel, ons is reeds by ons doel. Kyk, die eienaar van die huis staan juis by die ingang, maar kan ons nie sien nie, want vir die bewoners van die middag is ons nog onsigbaar. Tog voel hy aan dat daar meer innerlike wesens in sy nabyheid is. Daarom luister hy in homself en soos julle sien, lyk hy daardeur soos iemand wat skielik diep in gedagtes versonke is. Ons sal ons dan ook dadelik in sy woning begewe.
6 Kyk, ons is al in die inwendige van die huis; hoe geval dit julle?” Julle slaan die hande inmekaar van verbasing en sê: “Maar in hemelsnaam, hoe is so-iets nou moontlik?! Ons sien dat die huis van binne buitengewoon pragtig versier is en ook lyk die huis van binne onvergelykbaar veel groter as van buite. As ons deur een of ander venster na buite kyk, sien ons nie die geringste spoor meer van die vroeëre omgewing nie, maar alles is baie anders en weergaloos grootser. Oral sien ons wonderbaarlike, indrukwekkende paleise en tempels; die verafgeleë berge skitter asof hulle met die ligmaterie van die son self oorgegiet is en `n wye vlakte strek hom voor ons uit. Op hierdie vlakte staan tallose paleise van `n onvoorstelbaar wonderbaarlike en indrukwekkende skoonheid. In die middel stroom `n rivier; haar golwe glinster asof die allermooiste geslypte diamante deurmekaar gerol word, terwyl die oewers begroei is met reusagtige groot bome. Dergelike bome het ons ook wel op die natuurlike son gesien, maar hierdie is nog duisend maal pragtiger, want hulle lyk almal deursigtig en hulle blare skitter na alle kante soos `n lewendige deel van `n reënboog. Hoe pragtig is die inwendige van die gebou tog! So-iets het ons in natuurlike opsig slegs op die middelgordel van die son gesien, maar vergeleke hiermee, was alles daar maar grof en onvolmaak, want hier is alles tog met so `n, mens sou kan sê, oneindig verregaande suiwerheid en akkuraatheid uitgebeeld, dat mens wel jare lank vol grootste verbasing sou kan bly stilstaan by `n klein detail. Die eindelose kleureprag, wat oral heerlik en passend verdeel is, is al so hemels aantreklik, dat ons met reg nie meer kan besluit om die woonhuis te verlaat nie.
7 Ja, ja, liewe vriende, dit is so; die inwendige kry hier reeds sy waarde. Die waarde is nog wel te meet, maar tog al so groot dat dit julle begrippe te bowe gaan, want dit is die werking van die lig wat uit die wysheid ontspring het, uit die ware geloof in die Heer, en deur die ware geloof, dan ook volgens eweredige verhouding, uit die daadwerklike liefde, wat `n laer rangorde is van die eintlike liefde vir die Heer.
8 Julle vra: “Word so `n huis hier dan deur net een enkele salige mensegees bewoon? O nee, laat ons onsself maar van die eerste vertrek na die teenoorgestelde begewe, dan sal julle daar verskeie gelukkige mensegeeste, en wel van beide geslagte, aanskou. Kyk, daar op die agtergrond is sowat dertig wesens. Dit is almal bewoners van die huis en die man wat ons by die ingang gesien het, is `n dienaar van almal wat daar woon. Hy doen sy uiterste bes om almal van al die moontlike te voorsien. Daarom is hy ook die grootste onder hulle en op die duur geheel die eienaar van die huis.
9 Sien julle nie hoe buitengewoon pragtig hierdie dertig bewoners geklee is nie? Sommiges dra selfs stralende krone op hulle hoofde, is oorgelukkig en in hulle geluksalige gevoel prys hulle die Heer.
10 Maar kyk nou net na ons man wat nog by die deur staan, hoe eenvoudig hy lyk. `n Wit gewaad wat deur `n eenvoudige lyfband om sy middel vasgehou word, is al wat hy van hierdie hemelse prag vir homself geneem het. Hy sou hom weliswaar baie mooi kan tooi, maar daarin skep hy geen genoeë nie. Sy saligheid bestaan slegs daarin, dat hy sy broers en susters so gelukkig kan maak as maar in sy vermoë lê. Wat hy verkry deur die liefde en genade van die Heer, dra hy dadelik oor aan sy vriende en as dit hulle groot vreugde gee, is hyself tot trane toe geroer. En as hy alles weggegee het, is hy die gelukkigste!”
11 Maar julle vra: “Waarom is hy dan nie by die geselskap nie? Dit kan julle maklik uit sy gelaatsuitdrukking aflei. Hy is vol van grootse gedagtes en dink daaroor na, wat hy weer vir sy geselskap sou kan doen, om vir hulle `n nuwe saligheid te berei. Kyk, hy het al iets gevind. Ek het julle immers vooraf gesê dat hy ons nie kan sien nie, maar wel `n vermoede van ons het. Daarom keer hy steeds meer in homself om ons gewaar te word en probeer al op voorhand iets vir sy geselskap van ons te verkry. Ook bespied hy om hom heen, of hy nie êrens `n vroeër aangekome kan ontdek, wat nog geen onderdak het nie, sodat hy hom dadelik kan tegemoetgaan om hom in sy woning op te neem.
12 So lank ons in die huis bly, sal hy ons nie sien nie, maar as ons weer na buite gaan, dan sal hy ons sien. Dan sal julle ook sy onnoemlike vreugde sien en in hom `n besonder liefdevolle en gasvrye man ontdek. Laat ons dus na buite gaan.”
13 “Kyk nou, hy sien ons, val dadelik voor ons op sy knieë en sê”: “O, my onbekende hoë vriende van die Heer, ek het julle aanwesigheid wel gevoel, maar was nie in staat om julle te sien nie. Aangesien die genade my nou egter ten deel geval het om julle te sien, versoek ek julle, terwille van die oneindige liefde van die almagtige Heer, om my tog nie weer so vinnig te verlaat nie. Gaan liewer nog eenmaal saam met my, my woning binne, sodat ek my klein geselskap nog veel gelukkiger met julle aanwesigheid kan maak, want julle sal sekerlik iets meer weet oor die Heer, ons liefdevolle Vader. Vertel ons, want `n woord van Hom is vir ons baie meer werd as alle heerlikhede wat ons hier in onnoemlike oorvloed besit.”
14 “Nou sê ek aan hom”: “Gemaniël, staan op, dan sal ons saam met jou, jou huis binnegaan. Kyk, hy staan op, strek sy arms na ons uit en gebaar deemoedig, daarby vriendskaplik en liefdevol glimlaggend, dat ons hom voor mag gaan. Kom dus saam met my, want nou sal ook die hele geselskap ons te siene kry.
15 Kyk hoe die hele geselskap opstaan en ons bly tegemoetkom. Luister nou hoe Gemaniël ons aan die geselskap sal voorstel.” Hy sê: “Sien julle wel, my innig geliefde broers en susters, ek het julle immers gesê dat die algoeie Heer en Vader ons sekerlik baie spoedig `n groot geluk ten deel sal laat val deur een van sy verhewe vriende na ons toe te stuur, sodat ons van hom `n woord van die Vader mag verneem! En kyk, die algoeie Vader het al ons innigste wens tegemoetgekom, want nog voordat ons daarop bedag was, het hierdie verhewe vriende ons huis al binne getree.
16 In die begin kon ons ongeseënde oë hulle weliswaar nog nie, vanweë hulle groot heerlikheid, aanskou nie, maar die groot genade van die Heer het ons oë geseën, waardeur ons hulle, tot ons groot saligheid, nou in ons midde sien. Ons weet nog nie wie hulle is en hoe hulle heet nie, maar ons begryp dat hulle groot, innige vriende van die Heer is en dit is al ons grootste saligheid!”
17 “Kyk, nou wend hy hom tot ons en vra beskeie vir `n woord van die Vader, terwyl hy sê”: “Verhewe vriende van die Heer, ek weet wel dat `n woord van die Vader, selfs deur julle mond uitgespreek, te heilig is om deur ons op `n waardige manier aangehoor te word; maar ons liefde vir Hom, die oneindige goeie Vader, laat ons geen rus nie; daarom vra ons julle baie deemoedig daarvoor!”
18 “Nou sal ek hulle dan ook `n woord van die Vader gee. Luister dus”: “Luister beste Gemaniël en ook julle, sy huisgenote, broers en susters, so spreek die Heer”: “Laat die kleintjies na My toe kom, want aan hulle behoort die hemelryk!” “Kyk hoe almal nou stralend neersink, terwyl Gemaniël sugtend van liefde sê: “Ja, ja, dit is waarlik die woord en die stem van die Vader; wie nie klein is en gelyk aan die kindertjies nie, sal die hemelryk nie binnegaan nie! O liewe broers en vriende, laat hierdie allerheiligste woorde tot hoogste sier en grootste rykdom van ons huis word.
19 Daarom wil ons vir ewig en altyd klein wees, sodat ons daardeur miskien ook net die groot genade ten deel kan val, dat die Heer ons streek sal besoek, sodat ons na Hom toe kan gaan; en mag Sy verhewe vriende ons dit belet, dat Hy dan ook allergenadig aan ons mag sê: “Laat die kleintjies na My toe kom en hinder hulle daarom nie, want aan hulle behoort die hemelryk.”
20 “Nou het julle gesien hoe dit hier toegaan. Julle vra my heimlik”: “Hierdie geeste is tog kennelik reeds in die hemel; hoe kan hulle dan so praat asof nog niemand van hulle die Heer gesien het nie? Maar ek sê vir julle: Hulle sien weliswaar die Heer voortdurend soos wat julle op aarde die son sien; dit beteken soveel as: Die lig van God is bo hulle hoofde, dit wat dui op die sfeer van die wysheid.
21 Aangesien die menslike van die Heer egter die allersuiwerste liefde uitbeeld, `n liefde wat nog baie anders geaard moet wees as hulle hier s`n, is hulle ook nog nie in staat om die menslike van die Heer te aanskou nie, en sodoende kan hulle dus steeds verder vervolmaak word. Dit gebeur ook, hoewel maar selde, dat die Heer hierdie streek soms regstreeks of deur `n hoër engelgees besoek. Dan word ook altyd die kleinstes van hierdie streek aangeneem en na die môre gelei.
22 Maar nou sal ons ook die huis seënend verlaat en in hierdie streek verder trek; ons gaan oor die hoë berge wat julle daar in die verte sien. Daar sal ons weer `n ander gedeelte van die middag leer ken. Daarom genoeg vir vandag.”