|
Die Geestelike Son - Boek 1 JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 55
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102. |
|
|
Eerste soliede woonplek na die skynhemel. Onbegryplike drie-eenheid. Die evangeliese Christus
55 Ons woordvoerder sê aan sy geselskap: Nee, maar dit is tog merkwaardig! Tot nou toe het ek altyd geglo dat geeste slegs vir die mense op aarde so skielik onsigbaar kan word, maar dat geeste ook vir geeste onsigbaar kan word, is vir my iets splinternuut. Wie my kan sê hoe hierdie gees, wat ongetwyfeld `n engel moet wees, so vinnig voor ons oë kon verdwyn, - nou, hy weet meer as ek. By my arme lewe: Ek is van mening dat mens op aarde eerder in die maan kan byt, as om `n antwoord op hierdie vraag te vind. `n Ander gee hom ten antwoord: Beste vriend, kyk, dit vind ek nou weer nie so vreemd nie, want op aarde het ek dikwels gehoor dat engelegeeste bliksemsnel kan reis. Omdat hierdie egte engelegees dus so vinnig voor ons oë verdwyn het, is dit niks anders as `n duidelike bevestiging van dit wat ons al so dikwels op aarde gehoor het.
2 `n Derde sê: Beste vriende, alles goed en wel wat betref die engel wees van ons tafeldienaar, maar vir so `n vinnige vlug sou hy tog eers sy vlerke in beweging moes gesit het. So lank as wat ek geen vlerke by `n engel sien nie, glo ek nog nie dat dit `n engel is nie, want alle vroom mense op aarde sou altyd die engele met vlerke gesien het, dit wat egter maar net moontlik was in `n toestand van sogenaamde geestelike vervoering, dus altyd net met geestelike oë. As vroom mense die engele van God egter altyd met vlerke gesien het, waarom ons, wat nou tog self geheel gees is, dan nie?
3 Die eerste woordvoerder sê: Beste vriend, wat dit betref, moet ek jou openlik sê dat die verlange voortkom uit `n baie swak geestesgesteldheid. Elkeen weet tog dat hierdie vlerke slegs op groot snelheid dui en dus slegs `n sinnebeeld is. Daarom kan so `n gees baie goed `n engel wees, sonder dat hy `n paar sigbare vlerke het. Die opvallende is slegs, soos ek al gesê het, dat die een gees voor die ander onsigbaar kan word. Dit bring my selfs nie van die wysie af dat ons as geeste nie in staat is om so vinnig vooruit te gaan as ons tafeldienaar nie, want daarvoor sal ook wel `n sekere oefening nodig wees; sodoende leer mens! Maar soos ek sê, die onsigbaar word laat my nie los nie. Genoeg hieroor. As ons hom weer eens sal ontmoet, soos wat hy gesê het, dan sal hy dit wel vir ons uitlê.
4 Bekyk liewer net hierdie egte wondermooie omgewing; werklik, dit is vir my wel duisendmaal mooier as ons vroeëre verhewe hemel. Hier sou ek graag wil woon en êrens daar op die berge so `n egte gemoedelike boer word. Kyk tog net na die weelderige gras, die wondermooie blomme, die mooi lane met bome, wat, volgens wat dit lyk, die edelste soorte vrugte dra; en dan die klein riviertjies. En kyk net daar voor ons, hoe hierdie groot, pragtige vlakte omgewe is deur skitterende gebergtes en hoe hierdie berge sonder uitsondering versier is met wondermooie paleisagtige geboue. As my oë my nie bedrieg nie, dan sien ek op die nabystaande berge ook die in wit geklede lewende wesens wat voor die paleise wandel. Dit geval my goed! Hierdie omgewing lyk tog veel meer soos `n hemel, as die waarin ons as ewige vraatsugtige poliepe maar moes bly sit.
5 Ja, dit is buitengewoon pragtig. Mens sien hier weliswaar niks van die drie-eenheid nie, maar daarenteen word hierdie omgewing deur `n skitterende son verlig. En as ek dit eerlik mag sê, moet ek aan julle beken dat ek by die aanskouing van al hierdie prag, die aanblik van die heilige drie-eenheid hier netso goed kan mis as destyds op aarde; maar in plaas daarvan kom daar `n ander idee by my op.
6 As ons êrens hier net vir Christus, die Heer kon ontmoet, en wel soos Hy eens op aarde geleef en Sy apostels onderrig het, dan sou dit vir my, by al die mooi, wel die allergrootste genot wees. Want een ding moet ek nog eerlik aan julle beken: Die aanblik van die goddelike drie-eenheid is op sigself wel baie verhewe, maar ek sou my werklik in die diepste van my hart `n infame leuenaar voel, as ek sou beweer dat hierdie aanblik my ook maar enigsins `n warm gevoel van liefde sou gegee het. Ek het my wel soveel moontlik daartoe gedwing, maar ek het nie geslaag om die drie persone in gelyke mate met liefde te omvou nie. Want hou ek van die Vader, dan kon ek nie tegelykertyd ook van die Seun hou nie. Toe ek daarvan bewus word, kom die gedagte by my op dat die Vader, net soos die Seun, dit wel net so ongunstig kon opneem. Wil ek slegs van die Seun hou, dan vra ek my af of die Vader wel tevrede sou wees daarmee.
7 Ook moet ek opreg beken, dat my innerlike stryd om die Heilige Gees in die vorm van `n duif lief te kry, tevergeefs was. In die geval kon ek netso goed `n stuk hout liefhê as hierdie derde goddelike hoogs onpersoonlike persoon. Die Heilige Gees was dus met my liefde die minste bedink en wel omdat ek my nie sover kon bring om sy wese te deurgrond en my iets daarvan voor te stel nie. Vader en Seun het my steeds nader aan die hart gelê; as daar maar net nie twee was nie, maar net óf die een óf die ander, dan sou ek in staat gewees het om heelwat, hetsy van die een, of van die ander te hou.
8 Ek het weliswaar dikwels heimlik gedink: As Christus hom maar net vanaf Sy hoë troon êrens heen kon begewe het, waar ek Hom heel alleen kon gryp en gekry het, dan sou ek Hom waarlik uit die diepste van my hart kon liefhê, maar met my te geringe liefde vir die ontoeganklike lig, het ek, soos gesê, nóg die Vader, nóg die Seun in hulle ontoeganklike lig kon nader. Ek vind dit trouens volkome teennatuurlik om liefde, of dit nou `n geestelike of `n liggaamlike betref, op iets in die oneindigheid te rig, want liefde verlang `n bereikbare objek - om iets onbereikbaar lief te hê, vind ek klinkklare onsin.
9 Toe ek nog op aarde was, het ek eens probeer of ek nie verlief kon word op so `n egte mooi ster nie. Vir die doel het ek so `n ster langdurig bekyk en my hart so goed as wat ek maar kon gedwing; maar dink julle dat ek in staat was om egte liefde vir die ster in my op te wek, soos vir `n goeie vriend of `n simpatieke vriendin? O, daartoe was ek nimmer in staat nie!
10 So het dit nie veel beter met my gegaan met my liefde vir die drie-eenheid en vir die heiligste altaar sakrament nie; want so dikwels as wat ek kommunie toe gegaan het en daarna myself afgevra het of my hart meer na die sakrament, of meer na my vrou en kinders toe, moes ek tot my skande beken, dat my liefde vir vrou en kinders heelwat sterker was as die vir die heilige sakrament. So kon ek die drie-eenheid, net soos die heilige altaar sakrament, nooit eg in my hart insluit nie, maar dit slegs met `n sekere geheimsinnige, heilige ontsag benader. Ja, ek het ten slotte so ver met my heilige ontsag gegaan, dat ek die natuurlike liefde van die hart vir God, letterlik as sonde beskou het.
11 Net met Christus was dit anders. As ek Sy heilige evangelies gelees het, het ek Hom steeds vir my as aanwesig voorgestel en tydens my armsalige lewe het ek altyd daarby gedink: As ek die genade sou gehad het wat die apostels ten deel geval het, werklik, dan het ek self `n apostel geword en sou sonder die minste moeite, uit suiwer liefde vir Hom, vrou en kinders verlaat het! Ja, ek moet julle ook sê dat ek eintlik, as ek goed daaroor nadink, alles slegs uit liefde vir die evangeliese Christus gedoen het, waartoe my boweal enkele geluksalige drome oor Hom, my die mees liefdevolste aangespoor het.
12 Met die heilige drie-eenheid en die heilige altaar sakrament het ek steeds onwillekeurig voortdurend innerlik gebly worstel. Want vir hierdie te misterieuse, onbegryplike, goddelike verhewenhede was my hart as`t ware omgewe deur ewige noordpoolys. Vriende, met hierdie bekentenis wil ek niemand iets opdring nie; ek het maar net my hart in hierdie vrye omgewing aansienlik gelug. Julle kan dieselfde doen, want voordat ons die aangeduide paleis sal bereik, sal daar nog ietwat tyd verstryk.
13 Verskeie uit die geselskap meld aan hom en sê: Vriend en broer, ons kan jou opreg verseker dat dit in die opsig nooit `n haar beter met ons gegaan het nie. Ons het wel alles pligmatig geglo, maar ons was dikwels vervul van `n geheimsinnige, heilige ontsag, waardeur ons volkome afgestomp geraak het, maar het dan weer ons rus volkome in die evangeliese Christus terug gevind. Om die rede ontvlam daar dikwels in ons hart `n groter liefde vir die allersaligste moeder van God en ook vir menige ander heiliges, as vir die allerheiligste, goddelike Verhewenheid, wat ons wel gevrees het, en dit dikwels tot in `n sekere mate van vertwyfeling. Om liefde op te gewek het vir Die Een wat ons so erbarmlik gevrees het, is daar egter iets meer voor nodig.
14 Dit is ook die vraag of ons in hierdie omgewing ook die salige maagd Maria, of `n ander heilige te sien sal kry, want in die hemel waar ons onsself bevind, was daar, selfs met die grootste oplettendheid, geen spoor daarvan te sien nie. Vriend, jy wat andersins steeds die beste idees het, kan ons miskien ook meer hieroor vertel.
15 Die woordvoerder sê: Liewe vriende, oor hierdie saak moet ons, dink ek, nie te veel vra nie, maar ons uitsluitlik beywer om, ten eerste so vinnig moontlik die aangewese paleis te bereik, om daar die beloofde opheldering te kry oor die woord van God, wat nie deur my en ons almal begryp word nie, veral die by Paulus en Johannes, en ten tweede kan ons onsself, aangesien die goddelike drie-eenheid vir ons onsigbaar geword het, maar eerder weer aan ons evangeliese Christus hou. Volgens Sy uitspraak: “In die Ryk van My Vader is baie wonings” lyk hierdie plek hier tog heelwat meer soos `n hemel, as die daarbo, waar ons maar een enkele woning gesien het. Nou genoeg hieroor, want kyk, ons vermeende tafeldienaar kom ons alweer tegemoet. Laat ons hom dan ook maar baie stil en rustig tegemoet gaan.
|
|
|
|
|