Die oorwinning en verlossing van `n wyse Stoïsyn
27 Die verstandspresident sê: “Beste vriende, alvorens `n bevredigende antwoord op hierdie vraag gegee kan word, is dit noodsaaklik om verskillende dinge goed van mekaar te onderskei. Vir eers moet die begrip “liefde” volkome verstandelik uiteengesit word; eers dan sal `n mens daaruit kan aflei hoe sy reageer tot haarself en tot alles wat haar omgewe. Die begrip “liefde” is niks anders, en kan onmoontlik iets anders wees nie, as `n behoefte wat hom uiter en waarvan die oorsaak kennelik niks anders kan wees as `n gebrek aan dit waarna die behoefte uitgaan. Die behoefte lyk soos honger. Wanneer `n mens `n stewige honger het, dan het hy so `n enorme eetlus dat hy as`t ware daarvan oortuig is dat hy ten minste `n wêreld moet opeet voordat sy honger gestil sal wees. Maar wat sê die werklike ervaring oor hierdie fantastiese voorstelling? Niks anders nie as: Jy hongerige mens, eet maar `n enkele pond brood en jy sal voldoende versadig wees! Kyk, presies dieselfde is die geval met die meer geestelike behoefte van die begrip “liefde”. Die na liefde hongerende mens is van mening dat hy die maag van sy hart met die hele oneindigheid moet vul, voordat hy behoorlik versadig sal wees. Wat is egter die oorsaak van die onsinnige verlange? Dit is nêrens anders te vinde nie as in die nie versadig wees van die horison van eie insigte, waardeur dan noodgedwonge die een leegte op die ander volg; die een gemis volg op die ander en bygevolg die een behoefte op die ander. Liefde begeer versadiging. Aangesien dié vermoë tot begeer egter `n suiwer meganiese eienskap van die gees is, woon in haar ook nie die vermoë om te beoordeel wat sy vir haar versadiging moet verlang nie. Omdat juis deur die vermoë tot begeer, `n leegte in die insig tot uiting kom, kan die gebrek aan insig, wat dieselfde is as glad geen insig nie, dan ook nie die noodsaaklike voeding vir sy versadiging beoordeel nie. By so `n geleentheid, keer sulke leeghoofde hulle dan, met hulle blinde vermoë om te begeer, inderdaad na die gebied van die oneindige en is dan van mening dat hulle uit hierdie ewige horing van oorvloed, die ontbrekende as sogenaamde gebraaide voëls in die mond sal vlieg. Hoe ydel so `n egte waanidee eintlik is, is tog voor die hand liggend, omdat sulke “oneindigheidliefhebbers”, in plaas van een of ander volledige versadiging, slegs `n steeds groter honger kry. Dit is ook baie vanselfsprekend en aan die hand van `n natuurgetroue voorbeeld ook goed te begryp. Stel julle net `n gewone hongerige mens voor, met naas hom `n mandjie brood, terwyl hy sy mond steeds verder na die oneindige ruimte toe oopsper, asof hy die hele aarde, die son en die maan en die hele sterrehemel sou wil verslind, maar nie na die brood naas hom kyk nie. Dan is dit tog duidelik dat hy met sy honger na die oneindigheid van uur tot uur hongeriger sal word en as hy nie spoedig na die mandjie gryp nie, uiteindelik aan die hongerdood oorgelewer sal wees. Hieruit kan julle, geagte vriende, tog sonder verdere uitleg, maklik aflei hoe dit is met die sogenaamde “liefde vir God”. Die ware liefde vir God kan bygevolg immers niks anders wees en uit niks anders bestaan nie as dat elke willekeurige mens sy insigte, tot aan die horison wat vir hom gegee is, moet naleef. Hierdie verwesenliking kan egter eers op dreef kom wanneer die mens homself, en dus die domein wat vir hom gegee is, onderken het. Maar om dit te kan doen, moet die mens alle hindernisse baie sorgvuldig uit die weg ruim, hom van alle uiterlike onbelangrike behoeftes bevry, en hom dan na sy eie middelpunt begewe van waaruit dit vir hom eers moontlik word om sy hele horison te aanskou en sy domein dan op te vul met dit wat vir hom gegee is. As hy dit met volharding en groot selfverloëning tot stand gebring het, dan het hy ook sy liefde of sy begeerte volkome versadig. Wat hy van dit alles sal kan verteer, sal hy dadelik maklik uit sy eie oorvloed wat vir hom gegee is, aanvul. Dit is dan, vanuit die standpunt van die suiwer verstand besien, `n volledige en versadigde liefde, wat nie meer as honger nie, maar steeds as `n verblydende versadiging tot uitdrukking kom. Kyk, dit is nou vir my horison die mees duidelike opvatting. Kan julle egter iets hierteen inbring, dan kan julle dit, soos gesê, netso onbevange doen as wat dit my vry staan om te reageer op elke teenwerping.”
2 Die aanvoerder sê: “Beste vriend, jy het jou antwoord goed deurdink en ons kan in wese niks daarteen inbring nie. Omdat jy ons toegestaan het om verder te praat, wil ons nog graag `n uiters belangrike saak met jou behandel. Wees dus so goed om na ons te luister.
3 Kyk, by ons word nog hoofsaaklik iets anders geleer en niemand wil teen hierdie leer ingaan nie. Desondanks weet ons ewenwel, vanuit jou sienswyse bekyk, nie wat ons daarvan moet dink nie. Hierdie leer bestaan naamlik uit die volgende:
4 God, of die allesomvoutende krag en magsbeginsel, sou homself op Sy sentrum gerig het, daarin `n kulminasiepunt van geheel Sy oneindige krag en mag gevorm het en juis as kulminasiepunt van geheel die goddelike Wese in menslike gedaante, en wel in die persoon van `n sekere Jesus Christus, op die planeet aarde opgetree het. Hy sou daar self onderrig het, sou die mens as Sy skepsele, soos `n broer tegemoet getree het, om ten slotte uit allergrootste liefde vir Sy skepsele, Sy deur Hom aangeneemde liggaam deur hulle te laat doodmaak!
5 As bewys van Sy goddelikheid het Hy dinge en dade verrig wat vir geen mens moontlik is nie, wek Homself na drie dae op uit die liggaamlike dood en keer toe ten aanskoue van baie weer terug in Sy goddelike sentrum!
6 Hy het in die wêreld, of beter gesê, op die planeet aarde, die mense niks anders geleer nie as dat hulle Hom bo alles moes liefhê en beloof aan hulle wat dit doen, Sy Ryk, wat sou bestaan uit `n steeds dieper kennis van God, uit `n steeds groeiende liefde vir Hom en uit hierdie kennis en liefde ontspringende onuitspreeklike geluksaligheid, wat die ewige lewe in God genoem word.
7 Sien, hierdie saak is nie so onbeduidend soos wat julle dink nie. In die omgewing waar ons vandaan kom, woon hierdie Christus, en ons kan ons nog steeds baie duidelik en lewendig daarvan oortuig dat alle skepsele in die hele oneindigheid Hom gehoorsaam. Van Sy kant is `n enkele wenk voldoende en tallose leërs van wêrelde hou op om te bestaan, en weer `n wenk, en tallose leërs vul weer die eindelose dieptes van die ewige oneindige ruimte. Wat sê jy nou van ons probleem, wat ons jou hier in jou sfeer voorgelê het?”
8 Die verstandspreses sê: “As julle hele verhaal geen hersenskim is nie, dan is, wat betref die konsentreer van die oneindige mag en krag in een of ander sentrum, bepaald niks onmoontlik geleë nie, omdat uitgaande van elke gegewe punt, oneindig baie lyne denkbaar is. Wat die menswording van dié goddelike krag en magsentrum betref, daar is wel die een en ander daarteen in te bring, alhoewel die suiwer verstand so-iets juis nie as `n volkome teenstrydigheid kan aanneem nie. Dat dié Wese egter dan hoofsaaklik die liefde tot Homself geleer het, kom die suiwer denker voor as suiwer egoïsme van die kant van die goddelike Wese. Aanvaar ons by die goddelike Wese, of by die in homself gekonsentreerde oerkrag egter die egoïstiese behoefte, dan hou hy, om te begin, op om absoluut te wees; en sou mens dit kan betwis, dan staan al die bestaande `n totale vernietiging te wagte.
9 Dit moet derhalwe met hierdie liefde anders gestel wees, en dan kan die goddelike sentrum hom baie goed in `n menslike vorm openbaar. Wanneer dit deur julle beskrewe liefde egter slegs `n hongerige is, dan moet dit vir julle tog voor die hand liggend wees, in welke hande die wesenlike van alle dinge hom sou moet bevind, as die oneindige mag en krag hom as`t ware noodgedwonge met hulle moet versadig.
10 Aangesien jy my egter nog verder oor hierdie Christus verklaar het, dat Hy in sekere sin, op grond van Sy belofte, Hom as die altyd openbarende almag en oerkrag, werksaam onder julle sou bevind, dan moet julle tog duidelik insien dat ek vanuit my gegewe sfeer niks kan sê, nóg daarvoor, nóg daarteen. Dit kom by dergelike sake altyd op eie ervaring neer.
11 Sou ek hierdie Christus, of die vermenslikte goddelike sentrum, self kan aanskou, dan sou ek ook baie seker weet in hoeverre dit waar is. Maar so, geagte vriende, moet julle genoeë neem met wat ek het. Maar kan julle hierdie Christus hier by my bring, dan kan julle daarvan verseker wees dat ek sy Wese, vir sover dit in my sfeer lê, nie onverstandig sal beoordeel nie, maar daar mag niks bo my sfeer uitgaan nie!
12 Die aanvoerder sê: Gestel dat hierdie Christus as die mees liefdevolle Wese hiernatoe sou kom en jou sou gebied om Hom te volg, wat sou jy dan doen?”
13 Die verstandspresident sê: “As Hy dit is en ek Hom erken as dit wat julle oor Hom vertel het, dan is daar tog niks beter te oordink nie, as dat die oneindig kleiner potensie die oneindig groter, noodgedwonge deur homself gedryf, moet volg, omdat daar dan geen uitweg moontlik en denkbaar is nie. Is die saak nie so nie, dan is dit tog ook duidelik dat ek nie eiemagtig uit my sfeer kan tree nie, omdat ek met my sfeer, soos ek al voldoende uitgelê het, `n gegewe iets, maar nie `n homself skeppende iets is nie.”
14 Die aanvoerder sê: “Kyk dan na My, Ek is die Christus, wat wil jy nou van My hê?”
15 Die verstandspresident sê: “As jy Christus is, laat ek dit dan sien en ek sal jou volg.”
16 En Christus as die aanvoerder sê: “Word lig in hierdie sfeer en jy, kaal streek, word tot `n paradys!”
17 Kyk nou, die verstandspresident val voor die Heer neer, aanbid Hom en sê: “Dit is dus waar dat alle dinge vir God moontlik is! Heer, omdat U my armsalig, deur homself verbannene, so genadig was, vra ek U om my op te neem in U sfeer!
18 Maar laat my in U genadesfeer die allergeringste wees! Ek weet dat U my horison kan verwyd, netsoos U Myself soos ek is, uit Uself gegee het; ek het aan hierdie sfeer, as die mees bekrompene van alle lewende sfere, gewoond geraak, laat my dan ook as die allergeringste onder al diegene wat U vir U genade waardig bevind het, in hierdie sfeer bly. Glo my, o Heer, en sien die in my geheel van U uitgegane wese, dat my gees nooit in staat was om hom voor te stel dat ek U, oneindige Gewer, ooit in U Oerwese sou aanskou nie. Omdat ek U nou so aanskou het, is ook alle grootste lewensvoorwaardes van my gees, deur hierdie aanblik vervul.”
19 En die Heer sê: “Volg My dus en jy sal daar waar Ek onder My kinders bly, sekerlik nie die geringste wees nie! Maar nie hier nie, eers daar sal jy in My die mees liefdevolle heilige Vader erken!
20 Kyk, beste vriende, dit is nog een van die allerbeste maniere om so `n suiwer verstandsgees uit sy sfeer te verlos. Maar daar is in hierdie, vir julle sigbare omgewing, nog baie sulke geeste, by wie dit nie so maklik gaan as by hierdie nie. Dit is in die besonder die geval, wanneer sulke Stoïsynse verstandsgeeste daarby, as gevolg van hulle geleerdheid, ook nog `n aansienlike graad van hoogmoed in hulle het, wat nou juis dikwels voorkom. Dit sou vir julle nie goed wees om so `n bekeringsproses by te woon nie, want julle kan gevolglik aanneem dat daar dikwels, honderde pogings misluk. Sodoende sal ons ook hierdie streek weer verlaat en ons dieper in die middelste ravyn begewe. En daarmee genoeg vir vandag.”