Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Gang na die hel

20 Om op hierdie gunstige heuwel te kom, sal ons onsself na die môrekant van hierdie algehele noordelike streek begewe en van daaruit eers ons hoogte beklim. Die meer noordelike streek is te afskuwekkend om verder daardeur te kan reis en bowendien sal ons haar tog vanaf die hoogte kan aanskou. Gaan dus saam met my; ons sal op geestelike manier so vinnig moontlik ter plaatse wees.

2 Ons is reeds by die eerste dal en kyk nou net na die rivier; daar sal julle die egpaar sien wat ons al voorheen ontmoet het. Kyk hoe hulle hulleself in die water van die rivier reinig en ten dele ookal opmerklik beter begin lyk. Julle vra wat dit beteken?

3 Dit gee die toestand van `n mens weer, waarin hy meer as genoeg het van die vleeslike ondeug, waarby hy dan `n berou-moedige verlange kry om homself te verbeter, volledig af te sien van dergelike sondes en hom dan so goed moontlik te suiwer van al die boosheid van die sonde. Julle sien hoe moeilik so `n reiniging is. Hierdie rivier het maar weinig inhamme wat vir sulke, soos julle sê, afgeleefde sondaars toeganklik is. En hulle mag hulleself ook nie te ver daarin waag nie. Om te begin is die stroming in die rivier te sterk en tewens is sy vol verskynsels wat dreig om sulke boetelinge te verslind.

4 As hulle egter dapper in hulle inham volhard, word hulle daardeur sterker en gesonder, kry steeds meer moed en as hulle geheel op kragte gekom het, kan hulle hulleself stroomopwaarts begewe in die rigting tussen môre en middernag, waar die rivier vandaan kom. As hulle by die plek gekom het waar julle in die verte aan beide kante van die rivier `n heuwel sien, dan het hulle die enigste brug oor die rivier bereik, waaroor hulle op die ander oewer kan kom, waar hulle dan die omgewing van die aand kan bereik.

5 Hoe dit verder met die gebied aan die aandkant gestel is, sal ons baie goed sien wanneer ons daar na die noordelike streek sal reis. Laat ons onsself, noudat julle dit weet, dadelik na die afgesproke hoogte begewe om hierdie noordelike streek van daar af van naderby te bekyk.

6 Julle vra alweer of mens nie hierdie heuwel van daar af kan sien nie? O ja, kyk maar daar na bo, na die taamlik verafgeleë hoogste witgrys bergtop, dit is die afgesproke standplaas. Julle gril wel `n bietjie vir so `n steil en duiselingwekkende hoë bergtop. Maar dit maak nie saak nie, want ons sal hom net so maklik beklim as die plek waarop ons nou staan. As julle wil, gaan ons op weg. Julle wil dit en ons is al ter plaatse. Kyk, daar is taamlik baie plek op hierdie top, maar julle moet nie al te naby een of ander rand kom nie, en verseker nie by die dieper een, wat, soos julle sien, na die pikdonker noorde gekeer is nie.

7 Kom staan dan nou by my en kyk na benede. Sien julle die drie valleie taamlik in die verte, daar in die rigting van die aand? Dit is reeds aan ons bekend. Maar agter hierdie drie sien julle nog sewe daar en as julle baie goed kyk, sal julle sien dat hulle vol gate sit waaruit donkergrys rook opstyg. Julle vra wat dit beteken?

8 Dit is slegs die toestand van `n mens tydens sy aardse lewe, waarin hy die goeie ken, maar opsetlik die slegte kies en dan vanuit sy innerlike verdorwenheid teen sy beter wete in handel. Die gate, wat na die invallende lig van die middag gerig is, beteken die kennis van die werklike waarheid; die opstygende rook uit hierdie gate beteken egter die vry en eiemagtige verandering van die goddelike waarheid in ydel bedrog. Die verborge vuur waaruit die rook opstyg, is die verborge verdorwenheid wat `n gevolg is van die hoogste graad van eieliefde en die daaruit voortkomende heerssug. Vanuit hierdie verdorwenheid word al die goeie saad van die lig verander in die saad van die onkruid. Die onkruid word dan deur die vuur aangesteek, dit verbrand en los op in hierdie sigbare rook.

9 Julle sien hoe hierdie sewe dale deur bergkettings van mekaar geskei is en dat elke bergketting uit tien heuwels bestaan. Elke heuwel is met `n soort kapel versier. Wat beteken dit wel? Hierdie tien heuwels stel die verhewe wette van Moses voor. Die kapelle op die heuwels dui op die wysheid van die wette. Die sewe dale, wat hierdie heuwelrye van mekaar skei, gee nogeens die sewe gebooie van die naasteliefde aan.

10 Nou sien julle in hierdie dale onder elke heuwel `n dampende gat. Die betekenis daarvan is die ondergrawe van die goddelike gebooie en die totale verduistering en ten gronde rig van die naasteliefde, wat alles by mekaar geneem, die groot ontug van Babel genoem word. Hierdie rook is egter erger as die pes. Wie hom eenmaal ingeasem het, word spoedig dermate bedwelm en verblind dat hy nie alleen in die dal self geen vry plekkie kan vind nie, maar hy kan, hoe hy hom ookal wend of keer, nie die plek waarop hy deur die rook verpes word, verlaat nie.

11 Julle vra: Wat gebeur daar dan met so iemand? Kyk maar bietjie noukeuriger na benede, dan sal julle maklik kan sien hoe uit die, origens goed geslote kapelle, reddende wesens na benede snel, na sulke bedwelmde wesens toe gaan om hulle van die plek weg te trek na vryer plekke. Soos julle egter ook kan sien, is daar maar min wat hulle verder laat bring. Die meeste bly baie eiesinnig op hulle standpunt staan en laat hulle liewer deur die swart bodes, wat uit die openinge opstyg, in hierdie gate intrek, as om hulle deur die steeds wakende bewoners van hierdie kapelle te laat red.

12 Kyk, dit is die eintlike beeld van julle teenswoordige wêreld en dit skets die wese van alle verdorwenheid van die mense tydens hulle lewe op aarde.

13 Julle sien dat hierdie hoë bergreeks die middernagtelike voorgebied oneindig ver geskei hou van die werklike duister middernag, wat julle agter ons rug in sy mees huiweringwekkende en verskriklike gedaante kan aanskou.

14 Voordat ons `n blik op hierdie agtergrond werp, sal ons eers nog ons blikke na die kant van die oggend rig.

15 Kyk, daar kyk julle na nog, na ons reeds bekende drie middeldale, dit wil sê, die drie wat ons persoonlik besoek het, sewe dale. Soos julle sien, lê hierdie, vergeleke met die vooraf bekykte dale, in die aandelike omgewing, aansienlik hoër en daar is oral talryke dorpe. Met slegs `n bietjie inspanning sien julle ook maklik dat daar nêrens egte orde te vinde is nie. Daar is nêrens `n bietjie lewe te siene nie. Julle sien dat die akkers grotendeels braak lê en waar nog `n koring of ander gewasveld is, steek oral meer as driekwart onkruid bo die edele graan uit. Slegs in die laaste dal na die môre toe, lyk dit bietjie beter; maar selfs daar is meer wanorde as orde te sien.

16 Tewens sien julle op dieselfde soort heuwels as tussen die dale na die aand toe, kapelle, maar as julle egter goed kyk, sien julle slegs baie min mense wat daarheen wandel. Die welwillende kapelwagters het weliswaar oral soveel moontlik, baie maklik begaanbare weë aangelê, maar selfs dit is vir die bewoners van hierdie dorpe nog veels te ongemaklik en onbegaanbaar. En soos wat julle kan sien, die mooi tuine rondom die kapelletjies, heeltemal beplant met goeie vrugtebome en die mooi uitsig vanaf hierdie heuwels oor die rivier na die gelukkige streke van die ewige môre, is nie in staat om hierdie trae seweslapers daartoe te beweeg om uit hulle slaaphoeke op te staan en na bo na hierdie kapelletjies te wandel nie.

17 Julle sê: Dit is alles goed en wel en ons sien dit met eie oë; maar wat beteken dit?

18 Beste broers en vriende, ek is van mening dat julle dit tog by die eerste oogopslag moet deursien. Daarom sal ek julle niks anders daaroor sê nie as wat die Heer aan Johannes gesê het met betrekking tot die gemeente van Sardis toe Hy gesê het: “Omdat julle nóg warm nóg koud maar lou is, sal Ek julle uit My mond spu.” Meer hoef ek werklik nie te sê nie; vergelyk slegs julle sogenaamde goeie of beter wêreld met dié beeld en julle sal letterlik bevestig kry, dat dit waar is.

19 Word daar nie op aarde gesê nie: Ek doen tog niks verkeerds nie; wat gaan die sogenaamde goddelike gebooie my dan nog aan? As ek my rustig hou en niemand benadeel nie, wat wil mens dan nog meer van my hê? Kyk, met dié beginsel het die hele bevolking van hierdie streek hom aan die slaap gesus en bekommer die een hom nie oor die ander nie. As daar iemand om hulp roep, kom niemand hom te hulp nie, of iemand mompel uit een of ander slaaphoek aan hom: Help jouself so goed as wat jy kan, ek sal myself ook help as ek iets makeer. Ek het niks met jou te make nie en jy nie met my nie; elkeen maar vir homself!

20 Kyk, daarin kan julle julle wêreld sekerlik baie goed herken; maar waar bevind sy haarself? Ten eerste sien julle dat sy netsoos die ander baie slegte gebiede, deur hierdie noodlottige rivier afgeskei is van alle gelukkige gebiede en ten tweede, dat die gebied, netsoos dit wat ons na die aand toe gesien het, baie naby aan die grensgebergte tussen hierdie en anderkant lê. Soos julle sien, loop al hierdie dale ten slotte by hierdie hoë bergwand uit in `n duister, sogenaamde tonnel of onderaardse gang wat regstreeks na die buitengewone ander duister wêreld lei, wat nou agter ons rug is.

21 Julle vra: Wat is dit? Maar ek sê vir julle: Nadat ons dié voorgebied bekyk het, keer ons onsself ietwat om en kyk na daardie gebied aan die teenoorgestelde sy. Drie vlugtige blikke sal meer vir julle sê as wat julle sou wil weet.

22 Wel, julle het julle omgedraai; wat het julle daar gesien? Julle sê: Tot nou toe niks anders nie as `n steeds digter en digter wordend nagtelike duister. Kyk nogeens; wat sien julle nou?

23 O, nou roep julle: Vreeslik, vreeslik, ellende en nogeens ellende! Ons sien niks anders as vuur en nogeens vuur en gloeiende slange wat hulle in die vlamme kronkel nie. Goed, maar kyk nogeens; wat sien julle nou? Deur dié skouspel is julle, soos wat ek sien, met stomheid geslaan en nou sê ek vir julle: Wat tydens julle derde blik voor julle oë afgespeel het, is die eerste graad van die werklike hel! Daar is nog `n tweede en `n derde. Maar dit kan julle nie aanskou nie, want `n kortstondige blik sou al julle lewe kos, omdat die mees intense dood al daar woon. Ek het dit vir julle laat sien, om dit aan julle duidelik te maak, waarheen die ondergrondse gange vanuit al hierdie dale onherroeplik heen lei.

24 Hoe swaar vir die gees, ja vir die materiële boosaardige sware gees die terugweg word, kan julle baie maklik aflei uit die onmeetlike diepte wat hom vanaf hierdie bergreeks steil na benede tot in `n ewig duistere afgrond uitstrek. Meer hoef julle voorlopig nie hieroor te weet nie. 

25 Hierdie standplaas waarop ons onsself bevind, is egter die vrye hoogte van `n mens tydens sy aardse lewe, van waaruit hy in gelyke mate die ware en die valse, die goeie en die bose baie goed in homself kan onderskei.

26 Wie op hierdie hoogte staan, het die ware betekenis van die lewe gevind en kan nooit meer verlore gaan nie, tensy hy hom vanaf hierdie hoogte, soos `n waansinnige na benede in die afgrond sou stort. Maar so-iets sal hy wel versuim! Laat ons nou weer vanaf hierdie hoogte na benede gaan waar die bootjie op ons wag; julle wil dit, en kyk, ons is alweer op die plek van bestemming.

27 Stap maar vinnig in; dan sal ek hom losmaak en julle weer na die gelukkige oewer aan die oorkant bring. Julle sit daarin, die boot is losgemaak en die tog begin.

28 Kyk, dié keer duik daar nog meer monsters op, wat dreig om ons te verslind, soos by die vroeëre oortog. Daar is die veilige oewer al trouens; nou kan hulle maar hulle tande in die boot sit, ons is op die droë grond! Van hier af sal ons onsself dan na die gebied van die aand wend en dit besigtig. Ons sal egter eers die volgende keer, ons skrede na hierdie beter streek wend, en dus genoeg vir vandag!  


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205