Verder op die proef gestel. Die begin van die beloning
95 Nou is ons prior, saam met sy eenvoudige man, ook by ons en met `n baie verheugde gesig maak hy die eenvoudige man so pas op my opmerksaam. Hy sê aan Hom: Kyk, liewe vriend en broer, daar tussen die twee minder belangrik lykende geeste staan die verhewe bode nou. Die eenvoudige man sê: Goed, my vriend en broer, gaan na hom toe en vertel hom alles. Die prior sê: Maar jy, liewe vriend, gaan tog sekerlik ook saam? Die eenvoudige man sê: Gaan jy maar vooruit en as dit nodig mag wees, sal ek jou wel volg.
2 Die prior stem daarmee in, kom nou na my toe en sê: Liewe verhewe bode van die allerheiligste God uit die hemele, kyk, hier is almal wat gevange was. Nie een het daar agtergebly nie; inteen-deel het daar nog een meer saamgekom, wat daar gevange was. Hierdie een was egter geen gevangene nie, maar aan hom het ek, naas God, die almagtige Heer, die redding van hierdie arme broers te danke.
3 Nou sê ek: Ja, my liewe vriend en broer, as hierdie vreemdeling, die taak wat aan jou opgedra is, uitgevoer het, hoe staan dit dan met jou verdienste? Ek het tog die voorwaarde aan jou gestel dat jy die gevangenes slegs met die hulp van die Heer moet bevry. Hoe kon jy jou dan daarby deur hierdie vreemdeling laat help, sonder om te oordink hoe jy die taak sou uitvoer en wie die vreemde man, wat jou gehelp het, eintlik is? As jy op die manier te werk gaan, wat kan `n mens dan nog verder aan jou toevertrou?
4 Weet jy dan nie dat die Heer jou nie die krag gegee het om daarmee te luier nie, maar dat Hy jou, uit Sy groot genade, slegs die krag van die lewe geskenk het, om regverdige liefdadigheid daarmee uit te oefen? Vra jou nou net af, in welke lig jy so voor my staan? Daarom sê ek vir jou, regverdig jou nou na behore voor my, anders beskou ek jou taak as onvolbring en plaas ek jou ten slotte selfs agter die bekende kloof, waar jy vir altyd die aanblik van die vlamme sal moet verdra en daarby oordink wat op die weë van die Heer die korrekte manier van handeling is.
5 Die prior sê: My liewe vriend en broer, as dit al is, plaas my dan maar vinnig agter die vlammende kloof. Al moet ek ook, volgens aardse maatstawwe, duisend jaar heeltemal alleen daaragter smag, dan sal ek agter die vlamme, wetende dat my arme broers gered is, die Heer tog bo alles loof en prys, omdat Hy vir my arme gevange broers, deur die toedoen van hierdie liefdevolle vreemdeling, so genadig en barmhartig was.
6 Vir myself is ek daarvan oortuig dat ek jou raad stiptelik, en sonder dwang, dus vrywillig gevolg het. Ek het my, saam met my arme gevange broers tot die Heer gewend, en toe ons vertroue die hoogs moontlike graad van liefde en erbarming van die Heer in ons bereik het, kom hierdie redder na my toe. Toe begryp ek dat ek ewig volkome onwaardig is om `n uiteindelike persoonlike hulp van die Heer te verwag. Aangesien die Heer egter tog eindeloos barmhartig is, het Hy my, verseker in Sy allerheiligste Naam, hierdie man as redder gestuur; die Heer sy alle lof, eer en glorie! Die broers was heeltemal sonder my toedoen gered; nou kan daar met my gebeur wat maar wil! Moet ek agter die kloof, gee my dan maar dadelik die bevel daartoe, dan sal ek my juigend en die Heer lowend daarheen spoed, en as dit moontlik is, vir elkeen van hulle tienvoudig boete doen!
7 Nou sê ek: Goed, my vriend en broer, bedoel jy dit ook werklik? Die prior sê: O vriend en broer, beproef my maar; gee my maar die bevel, dan kan jy jouself weldra daarvan oortuig dat ek sal handel soos wat ek gespreek het en soos wat die heilige wil van die Heer dit verlang! Daarop sê ek: Goed, dan kan jy dadelik op die weg gaan; gaan dan terwille van jou broers!
8 Kyk, die prior bedank my vir die bevel, maak `n regsomkeer en gaan reëlreg weer terug om sy pos agter die kloof in te neem. In die verbygaan sê hy nog aan die eenvoudige man: Liewe vriend en broer, jy het voorheen tog gelyk gehad. Soos jy sien, moet ek nou werklik self vir my geredde broers agter die hittige kloof gaan staan en daaroor nadink, hoe mens op die weë van die Heer moet handel. Maar ek gaan met graagte; wanneer ek maar weet dat my broers gered is, vind ek myself nie so belangrik nie. As ek die Heer vir Sy groot liefde en erbarming maar kan loof en prys en Hom na vermoë bo alles kan liefhê, dan sal die vlamme my nie so erg van stryk bring nie. En daarom gaan ek nou in die Naam van die Heer; maar as jy by die Heer kom, dink dan aan my.
9 Die eenvoudige man sê: Ja, jy kan daarop reken dat ek jou nie sal vergeet nie. Gaan nou maar en voer die opdrag van die bode uit. Kyk, nou gaan hy werklik juigend, die Naam van die Heer lowend, daarheen. Julle vra nou, hoe lank hy daar sal moet bly, maar ek sê vir julle: Maak vir julle geen sorge oor hom nie, hy sal weer spoedig terug wees, want in plaas van die kloof, sal hy slegs hoë gaste uit die hemel aantref, wat hom `n nuwe gewaad sal aantrek.
10 Kyk maar net, daar kom hy alweer en wel reg op my af, gekleed in `n wit gewaad en met `n skitterende kroon op sy hoof. Nou is hy hier en ek vra hom: Liewe vriend en broer, wat is dit nou? Is dit die kloof? Jy kom, in plaas van om agter die vlammende kloof te boet, nou terug in `n hemelse liefdesgewaad?
11 Die prior sê: O liewe vriend en broer, ek kon glad niks daaraan doen nie. Kyk, juis toe ek na die betreurenswaardige plek op die agtergrond in ons refter wou gaan, staan daar, in plaas van die vlammende kloof, drie stralende jongelinge, wat aan my gesê het: Broer in die Heer, ons weet waarheen jy wil, maar jou bestemming lê nie daar nie; dit was slegs `n laaste beproewing van jou hart. Trek daarom die gewaad van jou vroeëre dwalings uit en trek in plaas daarvan, die nuwe gewaad van liefde en waarheid aan. Ek het teëgestribbel en gesê: O vriende van God, so `n genade is ek ewig onwaardig! Maar al my teenstribbel het niks gehelp nie; of ek wou of nie, my klere was van my liggaam geneem en die gewaad was in die plek daarvan, bliksemsnel vir my aangetrek. En nou het ek dit aan en skaam my daarvoor, omdat ek my te onwaardig vir so `n gewaad voel. Maar wat kan ek doen? Ek het dit nou eenmaal aan en omdat ek geen ander het nie, kan ek dit nie uittrek en daardeur tot `n ergerlike voorwerp van spot word voor my broers nie. Ek dink egter dat die Heer dit alles met my laat gebeur het, sodat ek waarlik deur en deur verdeemoedig kan word. Daarom sy Hom ook vir ewig alle lof, eer en glorie, want slegs Hy, ja, Hy alleen is goed, ook in die hemele!
12 Nou sê ek: Ja liewe vriend en broer, as dit so is, dan moet ek inderdaad ook wel tevrede wees. Maar nou wil ek jou `n vraag stel, wat jy my moet beantwoord. Sê my net, wat sou jy doen, ingeval die Heer nou na ons toe sou kom?
13 Die prior sê: O vriend en broer, dit sou verskriklik wees! Werklik, as dit moontlik sou wees, sou ek duisendmaal eerder, oftewel agter die vlammenkloof in die vuilste hoek sit, of tenminste hier in die mees behoeftige kleding staan. As die Heer my hier in hierdie kleding sou aantref en my miskien selfs sou vra: Hoe kom jy, onwaardige, aan die gewaad van die hemelse eer? Ja broer, dan sou honderd berge nog te min wees om agter weg te kruip, sodat ek nie langer so `n groot, welverdiende smaad voor die aangesig van die Heer sou hoef te verdra nie. As dit miskien vir jou moontlik sal wees om `n ander gewaad vir my te verskaf, dan sal jy my sekerlik `n groot liefdediens bewys. Klee al my broers, wat sekerlik waardiger is as ek, in sulke hemelse gewade, maar steek my in gepaste lompe (ou tipe oorkleed) en laat my dan heeltemal agter staan as die Heer mag verskyn. Ek sal Hom dan onbespied in die grootste deemoed aanbid, maar laat my nie op die voorgrond staan nie, want nou, so gekleed, sien ek eers baie duidelik in dat ek die allerminste onder my broers is!
14 Nou sê ek: Liewe vriend en broer, dit is nie vir my nie; gaan maar na jou eenvoudige man, want hy is `n volkome eiemagtige helper in die Naam van die Heer. Hy sal sekerlik weer na jou luister en jou gee wat jy verlang.
15 Die prior sê: Ja, liewe broer en vriend, dit is wel die regte man vir my. Ek moet eerlik aan jou beken: Ek hou weliswaar nogal baie van jou, maar van hierdie man hou ek minstens honderd persent meer, want hy is baie sagmoediger en hy luister ook beter na jou. Daarom sal ek my, op jou advies, ook dadelik geheel en al aan hom toevertrou.
16 Kyk, nou gaan die prior ook al na sy eenvoudige man toe en bekla sy nood by hom. Die eenvoudige man sê aan hom: Liewe vriend en broer, jou verlange is vir my buitengewoon aangenaam, daarom geskied aan jou ook volgens jou waaragtige, deemoedige verlange. Gaan maar, daar in die nabystaande klein prieel sal jy wel `n ander gewaad vind.
17 Die prior gaan opgewek daarheen, maar kom baie gou weer onverrigter sake terug en sê aan die eenvoudige man: Maar liewe vriend en broer, dit is vir my `n verrassende ruil! In plaas van `n waardige sober kleed, vind ek `n stralende blou gewaad, aan die rande met helder stralende sterre afgeset en om die middel voorsien van `n helderrooi gordel; bowendien so heerlik geurend, dat ek myself by die aanblik daarvan, en by die waarneem van die welriekende geur, opeens as opgeneem in die hemele gevoel het.
18 Daarom vra ek jou, doen my nie meer so-iets aan nie, want ek sou dit nie kan verdra nie. Laat my maar `n baie gewone verslete boerekleed vind en al is dit hoe verslete en verniel, tog sal ek my onbeskryflik gelukkiger daarin voel, as in die gewaad, wat my nou reeds meer as ooit druk.
19 Die eenvoudige man sê: Nou toe nou, gaan dan na die ander prieel en jy sal die korrekte kleed vind.
20 Kyk ons prior hardloop alweer, maar hierdie keer kom hy nie so vinnig terug nie, dus sou hy wel die korrekte kleding gevind het. Inderdaad, kyk maar; hy kom reeds in `n soort grys, growwe, vernielde kleed na buite en is dolbly oor sy vonds. Hy gaan weer vinnig na die eenvoudige man, alwaar hy God dank vir hierdie, in sy oë so groot lykende ontferming. En die eenvoudige man sê aan hom: Jy voel jou nou in die gewaad van deemoed weliswaar behaagliker, maar as die Heer nou net sou kom en aan jou sou sê: Vriend, waarom kom jy hier sonder `n bruilofskleed aan?
21 Die prior sê: Liewe vriend en broer, as ek dan in die uiterste duisternis gewerp word, is dit maar net volkome reg en billik. Na die miserabelste hoek met my; daar is my plek! Maar om my vir die hemel waardig te ag, ook maar as allerminste onder diegene wat hulle uiteindelik nog in die onderste hemel sal bevind, sal wel ewig die laaste wees waaraan ek sal dink.
22 Die eenvoudige man sê: Nou wel, ek sal jou nou in die diepste geheim iets sê. Kyk, die bode bewerk reeds al jou broers vir die op hande synde verskyning van die Heer, en Ek sê ook vir jou: Hy sal weldra hier wees! Wat sal jy nou doen?
23 Die prior sê: Liewe vriend en broer, terwille van die almagtige Heer, bring my tog na die, volgens jou insig, verste uithoek van hierdie tuin en as dit nie te veel gevra is nie, bly dan tenminste solank by my totdat die almagtige Heer Sy heilige saak met hierdie broers besleg het. En sou Hy my daarna as allerlaaste wil opsoek, dan sal ek my heeltemal alleen voor Hom op my aangesig werp en om Sy goddelike genade smeek.
24 Die man sê: Hoe is dit dan eintlik met jou liefde vir die Heer gestel, as jy tog so bang is vir Hom?
25 Die prior sê: Wat my liefde vir die Heer aanbetref, dit is wel so magtig dat ek alles vir Hom sou wou doen, as ek maar iets sou kon doen! Ek is egter al tevrede as ek Hom maar vanaf enige afstand rustig in my hart kan en mag liefhê. Ek is dit tog sondermeer in alle ewigheid nie werd om in Sy nabyheid te wees nie. As ek terugkyk op my suiwer bekrompe lewe op aarde en bedink hoe dikwels ek daar van God se mag wins gemaak het, dan wil ek van skaamte vergaan! Laat my daarom maar so vinnig moontlik my heil in wegvlug soek.
26 Die eenvoudige man sê: Liewe vriend en broer, ek wil aan jou opregte deemoed glad geen afbreuk doen nie, volg my daarom maar vinnig na die anderkantste hoek, daar na die môre toe. Daar sal ons beide die minste bespied word, omdat die plek met struikgewas begroei is, waar mens nie so maklik kan deurkyk nie. Die oog van die Heer is weliswaar alsiende, maar daar maak dit voorlopig nie saak nie. Laat ons maar vinnig gaan, dan sal ons daar ons deemoedige beskouinge hou oor die manier waarop die Heer sal verskyn. As Hy dan maar nie eerste by ons beland nie! Die prior sê: Wees maar daarvan verseker, dat die Heer nie eerste na die onwaardigste sal gaan nie; daarom is ons volkome veilig. Laat ons dus maar gaan!