Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 1

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die Heer by die herbergier Mucius

(Voortsetting deur Leopold Engel)

1 (Die herbergier:) "... Want alleen in die waarheid is lewe, en derhalwe is die soeke na die waarheid die enigste saligmakende besigheid wat die hart van die mens verwarm en die goddelike Gees, wat in hom woon, steeds meer wek, terwyl in die traagheid, die leuen en die teensin om na die goddelike waarheid te soek, nie alleen die liggaamlike dood geleë is nie, maar veral die oorsaak dat die siel haar steeds meer in materiële dinge verloor; daardeur veroorsaak sy nie alleen `n spoedige liggaamlike dood nie, maar verloor sy ook die vermoë om in die lewe aan die anderkant vooruit te strewe en daar haar enigste heil te soek.

[2] Sou mens die mensdom in haar ou bygeloof laat en haar elke beter insig weerhou, net met die bedoeling dat die dienare van die ou geloof `n aangename lewe kan lei soos wat jy vind, dan moet die Godheid, wat ter wille van die siel `n dergelike verlies van die lewensaktiwiteit tot elke prys wil verhinder, die volkere weldra onder die druk van allerlei plae laat kom, totdat hulle ontwaak, tot selfinsig kom en hulle so geleidelik aan vrymaak van die druk en die blindheid wat hulle sogenaamde leraars hulle besorg het. Maar hoedat dit daarna met die leraars sal gaan, kan jy baie maklik vir jouself indink. Van liefde sal daar dan nie alte veel sprake wees nie; want wie selfsug en leuens strooi, sal ook niks anders kan oes as wat daar na dese uit sulke boosaardige saad sal opkom nie.

[3] Julle doen die volk van Jerusalem dus `n bitter onreg aan, as julle glo dat hulle beter daaraan doen as julle, wat binne julle ou, niksseggende instellings hou, in plaas van om hulle aan te spoor om na die woorde van die Galileër te luister en `n voorbeeld te neem van Sy dade van liefde, waarvan heel Sirië nou al vol is. Julle grenslose hoogmoed en selfsug verhinder julle egter om Hom te herken, wat nou al lank in die volheid van Sy hele goddelikheid na julle toe gekom het - wat ek ook nie herken het nie, maar wat Hy nou duidelik aan my te kenne gegee het."

[4] Oor hierdie woorde van die herbergier was die fariseër nou so verbaas, dat hy nie in staat was om ook maar één woord daarteen in te bring nie; en hy trek hom met enkele niksseggende woorde terug na sy mense, wat die gesprek ywerig in die deur afgeluister het.

[5] Die herbergier kom egter na My toe en sê met egte liefdevolle, goedmoedige hartlikheid aan My: "Majesteit en Heer, vergeef my dat ek U nie onmiddellik in my grote blindheid herken het nie! Maar tydens die gesprek met die fariseër word dit my baie vinnig steeds duideliker geword wie eintlik die Een is wat ek in die skamele huis as gas het. Uself is die Galileër waaroor die fariseër praat! Maar U is nog veel meer as maar net `n groot profeet; want ek het die gevoel dat my hart steeds meer na U toe trek. Bowendien het ek steeds duideliker U beeld voor oë, hoewel ek met my rug na U toe gestaan het, en dit was asof nie ekself, maar U uit my spreek. O sê my tog, beste Majesteit en Heer, was dit inderdaad so?"

[6] Ek antwoord die herbergier: "Ja, dit was verseker so. Nie jy nie, maar Ek het deur jou gespreek, en Ek kon dit des te makliker, omdat `n groot liefdesvlam in jou hart vir My brand, wat My ook na jou huis toe getrek het.

[7] En so sal dit altyd wees: Ek neem alleen daar My intrek, waar die hart in liefde vir My ontbrand is, en in dié hart sal Ek dan plaasneem soos in `n huis wat vir My baie welgevallig is.

[8] Jy wou altyd graag hoor oor die dade van die Galileër, en jy het baie gou ontdek dat daar agter die dade meer skuil as maar net die wonderkrag van `n profeet of van `n groot man. Jy het dan ook opreg gewens dat Ek My intrek by jou sou neem, sodat jy jou self daarvan kon oortuig watter persoon Ek eintlik is. Daarby het jy steeds meer waarde geheg aan wat Ek geleer het as aan My wonders; want die waarheid daarvan was vir jou baie gou duidelik. En sien, so was jy ook opreg voorberei op My koms, en Ek het ligte werk met jou gehad! Want toe Ek eenmaal jou huis binnegekom het, roer die gees homself en openbaar aan jou oorduidelik wat vir vele Judeërs hier nog `n ewig lange verborge geheim sal bly.

[9] Maar laat Ons nou gaan rus, want Ek wil nie dat die fariseërs en kooplui, wat hulle geweldig verbaas het oor jou woorde, vanaand nog na Ons toe kom om `n gesprek met ons te begin nie! Ons sal môre nog genoeg moeite met hulle hê. Laat Ons dus alles uitstel tot môre!"

[10] Na hierdie woorde van My bedank die herbergier My nogmaals met harde stem vir alle bewese weldade. Maar Ek wys hom tereg en sê dat sy verborge dank in sy hart My veel welgevalliger was. Toe swyg hy en bring Ons na `n ander kamer, sodat Ons geen las sou hê van die fariseërs en kooplui wat reeds `n harde gesprek begin het nie. Daar bring Ons die nag dan ook volkome ongestoord deur.


 
 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205