Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 59

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Oor die toelating van oorlog

59 Toe Ons na `n wandeling van verskeie ure die weg bereik, wat van Jerigo na Jerusalem lei, kry Ons `n geleentheid om Onsself `n klein rus te gun, omdat `n groot troep Romeinse soldate, wat van kwartiere wissel en na Rome teruggebring sou word, die weg in beslag neem. Ons gaan daarom langs die kant van die weg sit om die stoet te laat verbytrek, wat Ons daarna moes volg om in Betánië te kom.  

[2] Toe My leerlinge nou hierdie dapper, sterk mense bekyk, wat almal bruingebrand en sterk daar uitsien - hulle het tot keurtroepe behoort, wat die spesiale voorreg gehad het om in Jerigo, wat destyds `n wêreldstad was, te oorwinter - vra Jakobus My of hierdie mense wel egte vreugde beleef aan hulle soldateberoep, en of dit tog ook nie hulle inwonende gees in beweging bring om aan hulle duidelik te maak dat oorlog tog `n gebrek aan broederlikheid beteken en alle moontlike sondes tot geliefdes het. Ten slotte word die vraag aan My gestel waarom Ek eintlik oorlog toelaat, waardeur soveel bloeiende menselewens en hulle bestaansmoontlikheid vernietig word en die siele verru en heeltemal verdorwe word. Almal kyk My vraend aan, omdat die vraag nog nooit direk aan My gestel was nie.

[3] Derhalwe vra Ek hulle om almal nader aan My te kom sit, om nie al te hardop hoef te spreek en die aandag van diegene wat verbygetrek het, nie op Ons te vestig nie, en Ek sê die volgende: "Dit is steeds noodsaaklik dat julle by die beskouing van alle dinge wat hulle in die menslike lewe aan julle blik vertoon, nooit na die buitekant oordeel nie, maar steeds na die innerlike, wesenlike kern. Materiële, uiterlike dinge en geestelike innerlike, dit wil sê ooreenstemmende dinge kan skynbaar in groot teenspraak met mekaar wees, omdat hulle dikwels polêr teenoor mekaar staan, ja, hulle as volledig teenoorgestelde begrippe so móet voorhou, ondanks dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. As die teenstellings vir julle blik baie skril na vore kom, dan meen julle onverklaarbare teenstrydighede te ontdek, wat dit egter vir die oog van die gees absoluut nie is nie. So is dit byvoorbeeld hier:

[4] `n Romeinse soldaat, wie se beroep toelaatbare moord is; in welke verhouding staan dit in sy uiterlike menslike posisie, wat beslis nie ooreenkom met My leer van vrede tot sy innerlike mens nie, wat tog ook van God is en na God moet terugkeer? Hoe is dit tog moontlik, vra julle, dat Ek toelaat dat `n siel, geskenk met die goddelike geesvonk, in sulke verkeerde dinge verstrik raak?

[5] Julle meen hiervoor geen verklaring te kan ontdek nie; want ook al verwys Ek na die vrye wil van die mens, waardeur hy immers in sy uiterlike posisie kan gryp na wat hy wil, sal julle vra: "Is dit vir U dan eg noodsaaklik om die mense soveel vryheid toe te staan dat hulle dit gebruik vir moord en doodslag, en sou dit nie beter wees om die vryheid dan tenminste in soverre te beperk, dat dit nie gebruik word vir soveel onredelike verdriet en leed op aarde nie?" Ja, julle sal vra: "Kan die Godheid, wat die waaragtige liefde is, dan rustig toekyk by so oneindig baie ongeluk en vreeslike ellende, wat die mens homself aandoen, sonder te huiwer of om dit `n halt toe te roep nie? Moet die so liefdevolle Godheid dan nie `n gevoellose Godheid wees nie, wat `n soort vreugde daaraan beleef om rustig toe te kyk hoe Haar skepsele mekaar verskeur? Geen enkele mens sou rustig kon toekyk by soveel ellende nie, as hy die krag daarvoor gehad het, maar alleen sy medelye al sou hom gedwing het om daarop af te spring en die strydende partye met heilige erns `n halt toe te roep. Waarom doen die Godheid dit dan nie, terwyl Sy tog oor alle kragte gebied?" 

[6] Kyk, dit vra menige weifelende siel haarself af, waarin al baie van My helder lig binnegevloei het, en dan begin sy te twyfel aan die ware liefde en selfs aan die aanwesigheid van `n God van liefde, verdwaal in allerlei afgronde van twyfel en word ten slotte afvallig van die ware geloof.

[7] Maar Ek sal julle `n lig gee wat al die vrae voldoende sal belig. Luister dus!

[8] In eerste instansie moet daar gekyk word hoe die een mens hom teenoor die ander mens opstel, en daarna hoe hy, terwyl hy in die materie leef, hom teenoor God opstel - of anders gesê: waarheen neig hy in sy voorstellings, met betrekking tot die sigbare en die onsigbare?

[9] Nou is dit baie natuurlik dat `n eenvoudige mens, wie se siel nog nie so ontwikkel is nie, sy gedagtes in die eerste instansie slegs op die uiterlike sal rig wat hom omring, en ook maar net oordeel volgens dit wat hy sien en hoor. Die suiwer uiterlike van die verskynsels sal hom in eerste instansie aantrek; hy sal dit beoordeel, sy gevolgtrekkings maak en weet om vanuit sy opgedoende ervarings die uiterlike omgewing vir hom benutbaar te maak. Eers wanneer hy sover gekom het dat hy die uiterlike van die natuurlike gebeurtenisse kan beheers, sal sy verstand hom aanspoor na die "waarom" te vra en daarna op soek te gaan. Die loop van die ontwikkeling in die materiële wêreld is egter steeds so, dat die uiterlike omhulsel eers bestudeer word en die geestelike kern daarna met baie moeite uitgespel word. 

[10] Julle weet egter dat die ontwikkeling van die diereryk, asook van die voorafgaande planteryk, berus op die vernietiging van die uiterlike vorm, ongeag die innerlike lewensbeginsel wat daarin heers, wat na vervolmaking streef. Die uiterlike natuurvoorbeeld bly natuurlik ook nie verborge vir `n mens wie se siel nog nie so ontwikkel is nie, ja, dit is in hom aanwesig as `n sielskrag wat oorwin moet word, omdat sy lewensloop die neiging om te vernietig in homself bevat. Hy boots dit dus ook in soverre na, dat hy aanspraak maak op die reg van die sterkste en dit ook uitoefen, solank hy hom nog in `n toestand bevind wat die innerlike ontwikkeling van sy siel belemmer. Eers wanneer daar periodes aanbreek waarin die ontwikkeling van die siel voorop staan, waarby, in `n sekere sin, die suiwer uiterlike, materiële waarneming as `n oorwonne standpunt beskou word, kan die hardheid van die siel nie meer optree nie en sal die reg van die sterkste in die mens geheel en al verdwyn. Dan tree die reg van die verligte menslike gees in werking, wat baie onoorwinliker is as die eerste fisieke krag.

[11] Die soldate staan egter almal op die vlak van die suiwer uiterlike waarneming van die natuur, wat hulle die reg van die sterkste leer - hulle bekommer hulle nog nie oor die ontwikkeling van hulle siel nie - en boots dus ook die stryd in die natuur na, en voel voorlopig ook heeltemal geen leegte in hulleself nie. Ja, hulle kan daarby selfs baie goeie mense wees, selfs goedmoedig, solank hulle geen ingebeelde vyand voor hulle het in die gedaante van `n ander oorlogsugtige soldaat uit `n ander land nie, waar hulle as verbitterde vyande teenoor mekaar te staan kom, sodra die trompet tot die stryd oproep.

[12] Die opvoeding moet Ek egter laat gebeur, omdat die herkenning van die innerlike kern slegs moontlik is deur die deurdring van die harde uiterlike skille, en die menslike gees nie op `n ander manier gewek kan word as deur ervaring nie.

[13] "Experientia docet"* is hier die parool, en julle weet hoe waar die gesegde is; want deur ervaring leer `n leerling meer as deur honderd van buite geleerde, onbeproefde reëls. Die aarde is egter `n skool, waar geeste deur ervaring wys moet word; daarom is hulle hier ook die mees uiteenlopende geleentheid gegee om die een ervaring na die ander op te doen, om die gees vinnig te laat rypword. Maar hoe heeltemal moeilik, met bittere en onaangename ervarings, `n woeste bergstroom lyk, en beteuel kan word tot `n rustig voortstromende, kalm rivier, dit vertel My leer, en My lewe moet en sal steeds `n voorbeeld bly wat laat sien hoe alle ervarings daartoe dien om die gees in die mens digter, ja innig digter, aan God te bring. *[Latyn vir (letterlik): "ervaring leer", of te wel "Al doende leer `n mens" of "Deur ervaring word mens wys".]

[14] As julle dus julle ervarings verontagsaam, sal julle nooit verstandige boului in die ryk van God kan word nie; want by My is dit altyd die saak om die mense langs die praktiese weg op te voed. My stem kan egter meestal eers helder weerklink in die siel van die mens, wanneer die siel deur vele bittere ervarings van allerlei aard verinnerlik is en hom van die uiterlike afgewend het.

[15] As die mensdom dus deur uiterlike stryd en oorlog heen wil gaan, waarby dit tog maar net daarom gaan om `n so groot moontlike magsposisie tussen twee state te handhaaf of te verower, sal die ervaring baie vinnig leer hoe weinig geluk en tevredenheid, asook innerlike geestelike ontwikkeling daar moontlik is, wanneer oorlogsgeskreeu deur die lande dawer en alle lewensvreugde ondergrawe.

[16] In later tye sal die oorlog dan ook as `n onding, as `n vir die mens te verafsku en nie-roemenswaardige toestand beskou word, terwyl daar nou nog eer en roem daarvan verwag word, en oorlog sal volkome verdwyn. Die menslike geslag sal hom, na hy van hierdie uiterlike gevegte afgewend het, na die innerlike wend, en elkeen sal deur die oorwin van sy innerlike vyand meer roem in My oë kan verwerf as die mees seëvierende veldheer in die oë van sy gebieder. 

[17] Maar vir die insig is ervaring nodig, waarvan die weg deur baie sorg en dwalings heen loop. Hierdie skool is die enigste wat werklik `n vrye besluitvorming van die menslike siel toelaat. Dat God dit self kan aansien, is eenvoudig geleë in die feit dat die doel hier hoër staan as al die ander. Die middele wat die doel help bereik, is egter baie wys en dra altyd die sekerste resultaat in homself.

[18] As `n vader `n weerbarstige kind het wat weinig geneë is om sy woorde en gebooie te gehoorsaam, sal hy hom die geleentheid gee om deur een of ander slegte ervaring sy kop goed te stamp, maar hy sal tewens probeer om die bose gevolge soveel moontlik te versag. So is dit ook by God en die mense. God soek altyd die middele uit wat sag is, maar as dit sonder resultaat bly, moet Hy na die kragtigste middele gryp om die mensdom op die weg te hou wat na die doel van vrede en suiwer geluksaligheid voer.

[19] As iemand egter nie die weë wil bewandel nie, omdat hy alles verontagsaam wat vir hom deur hierdie opvoedingsmetode in die weg gelê word, is dit tog baie natuurlik dat die geringskatting hom ten slotte in die verderf moet stort; want hy wil absoluut nie deur skade wys word nie, maar daag alle belemmerings wat hy ondervind, selfs reëlreg uit, sodat hy maklik sy liggaamlike lewe daarby kan inboet deur die mees eenvoudige maatreëls van versigtigheid nie in ag te neem, nie wat vir `n verstandiger mens vanself duidelik is. Maar hoe kan die Godheid verantwoordelik gestel word vir dit waar die individuele mens self deur eie toedoen skuld aan het? Sy is dus nie wreed nie, nóg is Sy geneig om enige genoeë te belewe aan die lyding van Haar skepsele, maar Sy is net gedwing om ter wille van die doel Haar liefde terug te dring en die Wysheid te laat voorrang kry.

[20] Hiermee het julle nogmaals `n verklaring vir dit wat al vroeër in soortgelyke vorm aan julle gesê is. Bekyk die uiterlike dinge dus net vanuit hulle innerlike samehang, sodat julle nie meer voor allerlei twyfel en teenstrydighede stuit nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205