Die gesprek tussen Judas en Thomas. Die afskeid van Betánië. Verblyf aan die Jordaan
69 Toe dit oggend word, probeer Judas vir Thomas te benader en om hom selfs ter syde te neem.
[2] Hulle gaan albei na buite en spreek daar as volg met mekaar:
[3] "Broer", sê Judas, "kan jy die handelswyse van die Heer eintlik goed begryp? Kyk, ons is tog albei manne wat steeds geweet het wat ons wil, en die eenmaal gestelde doel steeds met alle kragte nagestreef het! Maar hier sien ek tog nie meer duidelik wat die Heer eintlik wil nie, en ek is ook nie meer heeltemal oortuig dat Hyself duidelikheid het oor Sy uiteindelike doel nie.
[4] Ons was gister albei getuie van Sy triomf gewees, en het gesien watter klein moeite dit vir Hom sou gewees het om die volk, wat Hom vas aanhang, sodanig aan Hom te bind dat hulle Hom sou gevolg het waarheen Hy maar wil. Maar in plaas van om elkeen nou van Sy sending as Messias te oortuig, laat Hy vir Hom deur die tempel alle vrugte van Sy werk uit Sy hande neem en onderneem Hy niks van dit waarop die hoop van die volk gevestig is nie, terwyl daar in Hom tog werklik soveel krag is dat Hy die tempel en die hele Romeinse ryk sou kon gebied, as Hy maar wou!
[5] Wat het alle Krag van God, waarmee Hy storms, siekes en elke onheil kan gebied, vir Hom voor nut, as Hy in Homself so swak is om die krag nie te gebruik wanneer dit nodig is nie?! Moet die gesondes, wat swaar genoeg ly onder die druk van die Romeine en die gewoeker van die tempel, in Hom geen Heiland vind nie? Wat is die ellende van `n paar siekes vergeleke met die ellende van die groot geheel? Juda, ja, die hele wêreld sug onder die druk van die heerssugtige volk. Hebsugtige konings en `n almagtige keiser wat in weelde baai, beset die troon, wat `n wyse, regverdige en vanuit God uiters kragtige vors sou moet inneem. Die wêreld sou `n paradys word, lyding en verdriet sou verander in vreugde, en armoede in rykdom, as Hy die troon sou beheers wat die keiser van Rome nou inneem!
[6] O, my hart tril van vreugde in my bors, as ek daaraan dink hoe dit alles kan wees - maar hoe dit nie is nie! En waarom is dit nie so nie? Omdat Hy, die enigste in wie die Krag van God leef, nie die moed in Homself kan vind tot `n snelle, vasbeslote daad nie!
[7] Kyk, broer, dit doen my verdriet aan en maak my diep bekommerd; want ek het werklik nog `n hart vir die diep ellende van die volk; maar dit lyk my haas dat Hy, afgesien vir die siekes en die swak broers, Sy hart al kwytgeraak het!"
[8] Thomas antwoord hom: "Broer, dit sê tog alles vir jou! Het die Heer self nie gesê nie: "Ek het nie in die wêreld gekom vir die gesondes nie, maar vir die siekes en gebrekkiges, om hulle te help en te troos"? Wil jy beter weet as Hyself waarom Hy na ons toe gekom het?!"
[9] Verhit antwoord Judas: "En wie is daar wat in die land gesond is? Is elkeen nie siek en gebrekkig nie? Slegs die tempel en die grotes swelg en mes hulle vet met wat hulle mag afpers, en die uiterlike gesonde liggaam van die mense is van binne ellendig, siek en besmeer deur toorn en woede, wat hierdie manier van doen van die oppermagtiges in hulle opwek.
[10] Hy het tog ook vir hierdie mense gekom! Het die volk net `n Messias nodig vir die liggaamlik gebrekkiges? Die volk wil en moet gelukkig wees, dit is die wil van God; maar by die geluk hoort ook `n veilig gestelde uiterlike posisie, soos wat die volk onder Salomo gehad het, sodat hulle in vrede geleef het en by `n uiterlike welstand ook hulle siele kon ontwikkel.
[11] Nee, broer, my hart is verbitterd! Voor jou open ek dit; want jy was altyd nog die enigste wat sy verstand en oordeel nie onder stoele of banke versteek het - soos die ander, wat alles onvoorwaardelik glo, sonder dat hulle weet waarom. Nee, ek is geen slaaf van bygeloof nie en wil dit ook nie wees nie - ek wil weet waar hierdie weg heen lei! Ek wil geen kinderspel nie, ek wil mannedade sien!"
[12] Thomas skrik danig van die grimmig kykende Judas, wat sy gedagtes ineens so onverwags vir hom ontsluit, en hy sê waarskuwend: "Broer, ek is wel iemand wat nie maklik glo nie, maar tog is ek ook oortuig van wat ek eenmaal glo! As jy my in my geloof in die Heer wil laat wankel, wat ek dink, dan is dit vergeefse moeite; want ek weet wat ek van Hom moet dink. Laat my dus met rus!"
[13] Opgewonde werp Judas teen: "Dit is verre van my! Ook ek is vas daarvan oortuig dat elkeen enkel en alleen van Hom die heil kan ontvang; maar ek is netsowel daarvan oortuig dat daar iets moet gebeur om die heil te realiseer. Dit is nou - of nooit!
[14] Herodus is Hom goedgesind. Die mag van die Romeine is juis nou minder hier, omdat hulle hulle strydkragte elders nodig het; alles lê dus gunstig vir Hom, die magtigste Man - as Hy maar net wil! Maar om die wil in Hom wakker te roep, daaroor gaan dit! Want ons het gesien hoe baie Hy aarsel, en wat die tempel wil, het ons gehoor. - As ek slegs `n baie klein deel van Sy krag besit het, dan sou ek netso goed met die liste van die tempel die spot gedryf het as wat Hy tot nou toe gedoen het! Die erbarmlike gespuis het beslis geen mag oor Hom nie; hulle het dit vroeër nie gehad nie en sal dit nooit hê nie. Maar ek vrees dat ook God self die krag van Hom sal ontneem, as Hy Hom verset teen God se wil om Sy volk gelukkig te maak.
[15] Hier in die Heer is alle voorwaardes verenig wat dit moontlik maak om die krag van God in Hom te hê. Ons sal ewighede moet wag voordat daar weer `n mens ontstaan wat tot so-iets groots in staat sal wees. Daarom móet Hy dit ook doen, nou of nooit, voordat God se lankmoedigheid opraak! As Hy nie die moed in Homself kan vind om te onderneem wat nodig is nie, omdat dit so deur God beloof is, dan moet Hy gedwing word dit te doen!"
[16] Verskrik spring Thomas op en fluister: "Dwing? Wie wil Hom dwing, uit wie die Almagtige self spreek?!"
[17] "As Hy dié Een is vir wie Hy Homself uitgee, laat Hy dit dan bewys! As Hy dit nie is nie, waarom wag ons dan op niks?!", mompel Judas half hardop en somber.
[18] Thomas fluister angstig: "Hoe sou mens Hóm ook kan dwing?! Broer, sit die gedagtes van jou af; dit deug nie - ek huiwer daarvan!"
[19] Duister spreek Judas nou: "Huiwer jy, swakkeling, vir groot gedagtes? - Maar ek weet self nog nie hoe dit moontlik sou wees nie. Ek voel alleen: daar moet iets gebeur, dit moet!
[20] Vaarwel, broer, swyg teenoor die ander oor wat ons bespreek het! Hoor jy? Belowe my dit! Hulle daarbinne het geen tyd vir my nie; Ek wil my nie nog meer haat op my hals haal nie."
[21] Thomas steek hom sy hand uit en sê: "Wie sou daarby baat as ek daaroor sou spreek? Ek belowe jou dit!"
[22] Daarop wend Judas hom met `n kort groet van My af en begeef hom na die top van die Olyfberg, om in eensaamheid na te dink. Thomas gaan egter weer met `n bedrukte gemoed na die ander en probeer sy onrus kwyt te raak deur `n kalm gesprek met die broers.
[23] Toe Ons nou, behalwe Judas, vir die oggendete aansit, vra Laserus wat Ek nou dink om te doen - of Ek, wat hom die beste sou pas, die feesdae by hom sou wou deurbring, of waarheen Ek anders gedink het om te gaan.
[24] Daarop sê Ek aan hom en die leerlinge, dat Ek van plan was om Betánië vandag nog te verlaat - nie uit vrees nie, maar dat Ek dit wil doen vanweë die volk en die tempeldienaars. Dit sou baie kwaad aangerig het as hulle geweet het dat Ek hier was en tog nie bereik kon word nie. Om dit te verhinder en niemand enig nadeel te berokken nie, sou Ek My nou vir enkele dae verberg en nie laat vind nie.
[25] Myne vra My waar Ek heen sou gaan.
[26] Ek sê: "As julle met My wil saamgaan, sal julle dit sien! Daar sluimer egter `n verraaier onder julle; daarom moet julle dit nou nog nie hoor nie."
[27] Die leerlinge skrik deur hierdie uitspraak en kyk verwonderd om hulle heen - nie alleen die apostels was hier aanwesig nie, maar nog vele van die huispersoneel van Laserus, wat hom hulp verleen het met die beheer van sy besittings - wie Ek dan wel kan bedoel het. Maar geeneen van hulle durf ook maar met één woord verder daaroor vra nie.
[28] Ons beëindig ons maaltyd swyend. Daarna neem Ek afskeid van Laserus en syne, wat My baie swaar en met bedrukte gemoed sien weggaan. Maar hulle geloof in My verhef hulle bo alle besorgdheid dat daar van die kant van die tempel iets met My sou kon gebeur.
[29] Ons slaan die weg na Jerigo in en sien weldra vir Judas na Ons toe kom, wat Ons vertrek vanaf die heuwel opgemerk het en hom by Ons aansluit, sonder om op die gesigte van die apostels te let, wat nou nie onmiddellik bly was daarmee nie. Hierdie reis maak Ek nou alleen met die twaalf, en van My orige aanhangers was daar verder niemand meer by Ons nie.
[30] Ons gaan weldra in die rigting van die Jordaan, daar waar Johannes gedoop het, `n plek wat nou heeltemal verlate was sedert die stem van die prediker in die woestyn weerklink het. Daar verblyf Ons dan ook volkome ongestoord.
[31] Die streek is baie aangenaam, veral in die voorjaar, omdat daar `n baie warmer temperatuur geheers het. Aan die oewer van die Jordaan groei weelderige bome en struike, wat elkeen koel skaduwee en veilige rusplek bied. Hier by die Jordaan bring Ons nog twee volle dae deur, nadat Ons van Laserus af weggegaan het, en Ek gebruik die tyd om die apostels nogmaals hulle roeping en My leer duidelik uiteen te sit.