Oor die dood van Laserus
32 Toe die aandmaaltyd nou beëindig was, deel Ek Myne mee dat Ek die voorneme het om môre alte vroeg weer verder te trek, en wel dieper Judea in, in die rigting van Jerusalem. (Johannes 11:7)
[2] Daarvan skrik die leerlinge wat die naaste aan My staan, terwille van My, en hulle fluister onder mekaar, totdat Petrus hom as woordvoerder oprig, hom tot My wend en sê: "Majesteit en Heer, elke keer wou die Judeërs in Jerusalem U stenig as U tot hulle gespreek het - en nou wil U weer na hulle toe gaan?"
[3] Daarop antwoord Ek: "Is daar nie twaalf ure in `n dag nie? Sal iemand wat oordag wandel en volledig in die lig staan, homself kan stamp?! Ek staan volledig in die lig en weet wanneer My uur sal kom; wees jy dus nie besorg oor My nie! Maar wie in die nag wandel, terwyl dit donker om hom heen is en binne-in hom, sal homself weldra stamp en kan maklik in die verderf gestort word. Julle weet tog dat niemand die mag oor My het nie, tensy Ek dit aan hom gee."
[4] Toe was die leerlinge nie meer ongerus ten aansien van My plan nie, en Ek sê verder aan hulle: "Julle weet tog dat ons vriend Laserus siek is en dat sy susters iemand na My uitgestuur het! Sou Ek nou dalk uit vrees vir die Judeërs nie tot hulle versoek inwillig nie?"
[5] Johannes vra My: "Heer, U weet immers alles! Hoe gaan dit nou met ons vriend Laserus?"
[6] Ek antwoord: "Hy slaap - maar Ek gaan daarheen om hom op te wek."
[7] Toe sê die leerlinge, wat gedink het dat Ek oor die liggaamlike slaap praat: "Heer, as hy slaap, sal sy siekte baie gou van hom wyk; want niks bring `n sieke weer so vinnig op sy kragte as `n gesonde slaap nie!"
[8] Ek antwoord: "Daarin het julle wel gelyk, maar tog vergis julle julleself; want Laserus slaap nie die slaap van die liggaam nie, maar het gesterf."
[9] Van hierdie verklaring skrik die leerlinge, te meer omdat hulle Laserus nog nie so lank gelede gesond en wel gesien het. Daar ontstaan `n harde gemurmel van meelewing onder hulle en ten slotte vra die mense angstig of daar nie tog nog hulp gebied kan word, omdat hy miskien maar net skyndood was, en of My krag hom nie sou opwek nie.
[10] Ek sê: "Laserus is dood en lê al lankal in sy graf; maar tog sal Ek hom opwek. Daarom het Ek so lank hier gebly, sodat niemand kan sê dat hy nie werklik gesterf het nie, en omdat die swak gemoedere volkome gelowig sal word deur die laaste openlike teken wat Ek sal doen. Ek is nou bly terwille van julle dat Ek nie daarby aanwesig was nie, en dat die Vader in My beveel het om aldus te handel, sodat julle en nou nog vele ander sal glo. En daarom sal ons môre na Betánië reis."
[11] Toe was almal tevrede.
[12] Net Thomas, wat soos so baie ander deur twyfel gepla word en ondanks sy geloof in My woord, tog bang was vir die fariseërs en Judeërs, sê aan sy broers: "Laat ons in ieder geval met Hom saamgaan om saam met Hom te sterf, as die Judeërs die hand aan Hom sal slaan!"
[13] Maar Jakobus wys hom tereg oor die woorde en wys daarop dat tot nou toe nog niemand enige mag oor My gehad het, ondanks die vele pogings daartoe. Daarop was ook Thomas rustig, en daar ontstaan `n algemene stilswye in die geselskap, omdat elkeen besig was met sy eie gedagtes.
[14] Ek spoor Myne aan om hulle nou ter ruste te begeef, aangesien die volgende dag groot inspannings van Ons sou vra, en weldra soek elkeen sy rusplek op en gee hom oor aan die noodsaaklike rus.
[15] Die volgende dag staan Ons vroeg op en maak Ons gereed vir die verdere reis. Raël loop met betraande oë op My af en wil, netsoos die ander, My volg.
[16] Maar Ek sê aan hom dat hy moes bly, en sê: "Raël, dit sal nie meer lank duur nie, dan sal jy vir ewig by My kan bly; maak jou daarom nou gereed vir die navolging en doen soos wat Ek jou reeds gesê het! Hierdie hier, wat My volg, het nog tydens hulle lewe `n groot taak in My Naam te vervul. Maar jy het joue reeds vervul, en daarom is jy geregverdig voor My, ook sonder dat jy My nou liggaamlik volg - wat Ek dikwels geëis het, en waaroor jy gehoor het!"
[17] Raël kalmeer nou ook by hierdie woorde en neem liefdevol afskeid van My en Myne.