Die visioen van Ebal
18 Toe die leerlinge uit hulle soort verdowing ontwaak, verbaas hulle hulle almal dat hulle plotseling so vas ingeslaap het, en hulle vra My wat daar eintlik met hulle gebeur het.
[2] Ek sê aan hulle: "Maak julle maar nie bedruk daaroor nie; want daar sal nog van alles gebeur waarby julle dieselfde vrae sal stel, sonder dat dit ook dadelik beantwoord kan word! Maar op die regte oomblik sal julle ook die regte opheldering kry."
[3] Nou was daar onder diegene wat My gevolg het, ook `n Judeër genaamd Ebal, wat My leer volledig in sy hart opgeneem het en hom vol ywer ingespan het om sy gees te wek. Deur sy vroeëre lewe, wat hom groter sielsvermoëns gegee het, het hy die gawe van die tweede gesig gehad, dit wil sê die gawe om in homself toekomstige, of gebeurtenisse wat al verby was, te kon sien.
[4] Hy kom na My toe en sê (Ebal:) "Majesteit en Heer! My siel huiwer steeds in smart, wanneer ek my U in rustige ure voor die gees bring. Ek sien dan donker beelde voor my opdoem, wat my huiweringwekkende dinge blyk aan te dui. Ek het al dikwels toekomstige en dinge wat verby is gesien; maar nooit het ek hierdie pyn gevoel, wat ek voel wanneer ek aan U dink en aan die beelde wat my in die gees voor oë swewe nie."
[5] Ek spreek: "My beste Ebal, sê watter beelde jy sien, sodat ook hierdie hier sal weet wat jou siel voel!"
[6] Ebal sê: "Heer, ek sien die poorte van die hemel geopen, en vanuit die onmeetlike dieptes van die skepping straal `n helder lig my tegemoet. En `n stem sê aan my: "Kyk, dit is die Lig van die wêreld, wat na die mense afgedaal het en by hulle kom woon het!"
[7] En verder sien ek U wandel, en U word helder bestraal deur die lig en volkome daarmee deurlig, en in U hart sien ek `n vlam opgloei, wat steeds ligter word. En hoe meer lig hierdie vlam uitstraal, des te meer verdwyn die lig wat van buite straal.
[8] Daarna sien ek `n donker gestalte nader, wat sy beste doen om die lig in U af te dek; en terwyl hy hom daarvoor inspan, sien ek die skare in die hemel, wat angstig op die gebeure neerkyk. En kyk, hoe meer die gestalte sy bes doen om U in duisternis te hul, des te meer straal die lig in U, en ten slotte stort hy, verblind deur die intense ligglans, voor U neer. U raak die donker gestalte aan, wat nou soos dood aan U voete lê, en sê: "Salig is alle sondaars wat boete doen, en daar is geen sonde so groot dat dit nie vergewe sou kan word, as die sondaar in My Naam daarom vra! Bid jy dus ook, sodat jy vergewe kan word!"
[9] En verder sien ek dat U hande en voete deurboor was en daar uit U hart `n druppel bloed vloei. Die gestalte wat aan U voete lê, suig die bloeddruppel op, verkry nou lewe en word steeds ligter en ligter, totdat ook hy ten slotte in `n helder glans straal. Toe klink daar `n stem deur die hemelse ruimte: "Kyk, Ek het My Seun uitgestuur, sodat Hy die verlorene vir My kan terugbring, en Hy het nie daarvoor teruggedeins om te sterf om met Sy hartbloed die verswakte te verkwik en tot lewe te wek nie! Heil aan Hom, want nou sal Ek volledig in Hom woon; want Ons het vir ewig één geword!"
[10] Toe die stem weggesterf het, het ek weer tot myself gekom. Maar so pas het ek dieselfde donker gestalte naas my gesien staan, honend na my, laggend, asof hy my iets wil sê en toe verdwyn hy.
[11] Sê my tog, o Majesteit en Heer, wat dit alles beteken; want hoe pragtig dit ookal was om te sien, tog voel ek, soos gesê, daarby steeds `n diepe smart in my, wat dit vir my dikwels onmoontlik maak om te dink of te voel!"
[12] Ek sê: "Ebal, wanneer jou siel voel wat daar in die komende dae sal gebeur, vrees sy tegelykertyd ook vir die gebeurtenisse, waarvan sy die uiteindelike doel nie kan deurgrond of bevat nie! Dit druk haar dan baie terneer en benou haar deur al die indrukke wat vir haar onbegryplik is, wat sy, omdat sy die begrip daarvoor ontbreek, nie kan oplos nie, ofskoon sy dit graag sou wil; dan voel sy pyn, soos `n gevange wat hom teen sy boeie verset en sy bes doen om hom daarvan te bevry. Trag om in jou hart die liefde vir God meer te laat ontbrand as tot nou toe! Maak jouself kalm in jou hart en luister na die stem van jou gees, dan sal jy weldra in die regte kennis en geduld `n skerp mes gegee word, wat die boeie sal lossny!
[13] Almal wat dieselfde aanleg het as jy en daardeur in staat is om hulle siel tot ver buite haarself uit te strek, sodat sy die toekomstige opneem wat hulle skaduwee reeds vooruitwerp, en die verlede in haarself kan wek en aanskoulik maak, moet bowenal geduld en rus beoefen, sodat dit wat sy sien, geen druk op haar uitoefen nie, maar volledig begryp kan word!
[14] So is dit ook met jou, en weldra sal die toekoms jou self toon wat waar is van jou visioen!
[15] Maar laat nou alle gesprekke agterweë en gun julle liggame die nog noodsaaklike nagrus, wat onder die vrye sterrehemel in hierdie suiwer berglug besonder weldadig en versterkend is; want môre staan Ons `n groot werk te wagte, uiterlik weliswaar net vir My, maar innerlik vir julle almal, en daarvoor moet julle volkome voorbereid en versterk wees!"
[16] Ebal loop van My weg, en alle aanwesiges gaan op die met mos begroeide aarde lê, wat hulle `n sagte lêplek bied. Bewaak deur My gees slaap hulle in die wye Vaderhuis rustig en soet soos kinders, vir die laaste keer onder die onvoorwaardelike sorg van My wil. Want vanaf hierdie dag begin die beskerming wat Ek in uiterlike opsig oor hulle gelê het, hom van hulle terug te trek, sodat - na gelang hulle geloof in My gegroei het - ook die teenstander mag oor hulle sou kon kry en hulle nou meer in selfstandige optrede geoefen kon word, in plaas van steeds omring te wees deur My persoonlike goddelike mag; want sonder dat hulle daarvan bewus was, hulle ook beskerm het en hulle voorsien het van alles, sonder dat hulle hulle daaroor hoef te bekommer het. Van nou af aan moes blyk in hoeverre My leringe en dade hulle laat rypword het en selfstandig gemaak het.