Die betekenis van die opwekking van Laserus
43 Toe Ons geruime tyd swyend oor die weg geloop het, kom Johannes na My toe en sê: "Heer, U weet hoe baie ek steeds opgelet het by alles wat U gedoen en gespreek het! Ek het vir myself ook baie aantekeninge gemaak, vernaamlik oor U leer, en al U woorde getrou in my hart en sodoende ook in my geheue ingeprent, sodat dit vir my op ieder oomblik maklik sou wees om dit skriftelik vas te lê, wat hoofsaaklik in ons harte moet lewe. Maar tot nou toe het dit slegs gedeeltelik gebeur. Hierdie gebeurtenis met Laserus, waarvan ons almal aandagtige getuies was, sou ek tog sekerlik wil opskryf; want dit lyk vir my asof dit `n besondere betekenis het, wat sekerlik nog `n ander oorsaak het as net die weer lewendig maak van `n dooie liggaam."
[2] Ek sê: Watter betekenis dink jy dan dat hierdie gebeurtenis nog verder het?"
[3] Johannes antwoord: "Heer, Laserus was U besonder dierbaar in U oë, vanweë sy regverdige lewenswandel, en moes tog sterf aan `n siekte, wat hy homself deur eie skuld op sy hals gehaal het. Is dit nie `n duidelike teken dat `n mens, sodra hy nie bewustelik voor U oë wandel nie - dit wil sê dat hy glo dat hy deur U alwetende oë gadegeslaan word - ondanks al sy regverdigheid tog maar al te maklik in allerlei foute kan verval, waardeur hy in `n geestelike sluimer van die dood beland, waaruit net U hom weer kan red?
[4] En as die lydende susters van die mens dan - met hulle daadwerklike liefde en hulle goeie wil - na U toe kom en sê: "Kyk, Heer, hy wat U bemin, maar tog gefaal het, is nou dood! Hy sou nie gesterf het as U hier gewees het nie!" - dit wil dus sê: As hy gevoel het dat hy onder U oë wandel, sou hy nie gesondig het nie - sal U hom dan nie uit erbarming uit die nag van die dood bevry, sy verbande laat wegneem en hom met die lewenswater weer sodanig verkwik en herstel, dat dit lyk asof hy nooit gesterf het nie?"
[5] Sien, Heer, hierdie en nog vele andere gedagtes het daar in my opgekom, en ek glo daarom ook dat daar nog baie meer in hierdie gebeurtenis verborge lê as wat getuies daarvan dink!"
[6] Ek sê: "Johannes, jy is geseën, omdat jy in die gees sien, wat alleen die gees jou kan openbaar, en omdat jy deur die uiterlike gebeurtenis heen die innerlike betekenis gelees het! Ek sê jou dan ook dat daar nog oneindig baie meer in hierdie gebeurtenis verborge lê.
[7] Eers wanneer die groot Laserus, ter wille van wie Ek in die vlees gekom het, deur My liefde opgewek sal word - dan eers het die oomblik gekom dat die liefde van die Vader vir elke skepsel so duidelik sal word, dat die innerlike liefde van julle harte julle uitmekaar sou laat spring, as julle siele nie deur vele skolings stewig genoeg gemaak was om die enorme liefdesbewussyn te kan dra nie.
[8] Nou sien die mense natuurlik net `n gewone, vir hulle ook die buitengewone opwekking van die dode daarin, wat hulle wel met verbasing, maar nie met liefde vir God vervul nie. En ook latere geslagte sal weinig van die innerlike betekenis bespeur. Maar jy, wat dit dan eerste opgemerk het, moet daarom ook daarvan getuie wees en in jou berigte nie hierdie belangrikste van alle gebeurtenisse vergeet nie!
[9] Maar swyg nou daaroor; want wat Ons bespreek het, is alleen vir jou en nog nie vir die ander nie!"
[10] Ons volg nou weer swyend Ons weg. Na `n etlike tydjie val dit Judas tog op, dat Ek glad geen aanstaltes maak om My te uiter oor die rigting en die weg wat Ons moes inslaan nie, en omdat hy eerder in Jerigo wou bly - wat soos bekend in My tyd `n baie bloeiende stad was, vol van alle toenmalige genoeëns wat `n woonplek van die rykes te bied het, om welke rede daar ook makliker as êrens anders die geld te verdien was deur as `n soort wonderdoener op te tree - vra hy My regstreeks of Ek dink om `n langer tyd in Jerigo te bly.
[11] Ek antwoord hom: "Wie sê jou dat Ek eintlik na Jerigo toe wil gaan?"
[12] Judas, wat enigsins bedeesd en teleurgesteld was deur die wedervraag, wat vir hom lyk dat sy wens verydel gaan word, verontskuldig hom dadelik en sê dat hy dit maar net vermoed het, omdat die weg daarheen lei.
[13] Ek antwoord hom: "Elkeen volg die weg waarop sy gees hom lei! As Jerigo jou aantrek, gaan dan daarheen! Ek hou jou nie vas nie. Maar vra nie waar My weg heengaan nie; want dit is nie joue nie!"
[14] Judas, wat dit nie kon nalaat om die palmstad te besoek nie, meen dat Ek stellig boos vir hom sou word, wanneer hy vir `n kort tyd daarheen sou gaan.
[15] Ek sê: "Ek het alle ander tog sonder misnoeë, ja, met My seën laat gaan, waarom sou Ek dan vir jou boos word? Laat elkeen gaan, waarheen die gees hom lei! Gaan jy dus ook na Jerigo; want jou siel is reeds daar!"
[16] Daarop bedank Judas My vir die toestemming en verdwyn ook ongemerk uit ons rye by die eersvolgende herberg, waarvan daar vele langs die weg na Jerigo was. Hy bring die hele tyd, waarvan nou verslag gedoen sal word, in die stad deur en doen daar by die Romeine en vreemdelinge, wat `n groot sug na wonderwerke gehad het en waarmee Jerigo vol sit, baie goeie sake as verteller en ooggetuie van die opwekking van Laserus.
[17] Daarnaas dien egter ook opgemerk te word, dat hy nie weinig bydra aan die bekend word van My leer nie, wat hy met baie vuur en redenaarstalent na vore bring - maar altyd met `n sekere bybedoeling, dat hy naamlik `n deel van die bewondering vir My wysheid na homself toe wil trek. So word hy tog juis vir die soort mense in Jerigo `n baie goeie instrument, ondanks al sy bybedoelings - soos ook nie genoeg benadruk kan word dat Judas geensins `n slegte mens was nie, maar alleen iemand wat tegelykertyd homself, en daarmee die wêreld, én die gees wou dien, maar daardeur in `n erge tweestryd geraak het waar dan ander, baie slegter mense later geweet het om gebruik van te maak.