|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11 LEOPOLD ENGEL
Hoofstuk 33
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79. |
|
|
Die oorsaak van die dood van Laserus
33 Ons loop nou vinnig voort om die weg wat Ons na Betánië voer, so vinnig moontlik af te lê.
[2] Om die plek te bereik, moes ons `n omweg maak, omdat Ek nie die bedoeling gehad het om langs Jerusalem te gaan nie, maar wou ongesiens in die woonplek van Laserus aankom, wat volgens die Judese maat vyftien veldweë daarvan verwyder was. Betánië lê egter nie op die plek van die huidige dorp God Azarije* nie, maar nog meer na die ooste toe, sodat Ons nie vanaf die westekant van die Olyfberg nie, maar vanaf die oostekant aankom. (* God Azarije of èizariya: huidiglik neem mense aan dat Betánië vroeër hier gelê het; was in die 4de eeu Lazarion genoem.)
[3] Die afstand van vyftien veldweë word gemeet vanaf die voorhof van die tempel, waar `n pilaar as Romeinse mylpaal opgestel was, soos julle dergelike merkerstene ook nou nog in kleiner dorpe aantref. Mens lê die vyftien veldweë, wanneer mens op sy gemak loop, in anderhalfuur af, totdat `n mens Betánië vanaf die so pas genoemde punt bereik.
[4] Daarmee kan `n oudheidkundige ter plaatse nou bietjie noukeuriger vasstel waar die egte Betánië moes gestaan het. Maar behalwe `n woeste gebied, behalwe klippe en struike sal hy teenswoordig niks meer vind van die plek waar Ek die laaste en vir die Judeërs onmiskenbaar grootste werk volbring het nie.
[5] Netsoos reeds bekend, was Laserus een van die rykste manne in die hele Judea, en omdat hy gesterf het sonder dat hy direkte erfgename gehad het, behoort volgens die wet van die tempel, `n derde van sy totale vermoë aan die tempel, terwyl sy susters, wat geen manlike familiebeskerming gehad het nie – want Laserus het verder geen noue bloedverwante gehad nie - onder die oppergesag van die tempel te staan gekom het, wat in sulke gevalle `n uiters onaangename voogdy uitoefen. Die fariseërs en tempeljode was al geruime tyd baie begerig oor die ryk besittings van Laserus en het, soos bekend, reeds allerhande truuks en liste bedink om Laserus in hulle kloue te kry, om so moontlik die hele ryk erfgoed in die hande te kry. Van sy twee susters verwag hulle nie te veel moeilikheid nie.
[6] Laserus het egter alle aansprake wat brutaal na vore gebring is en aanbiedings van die hand gewys en het hom sterk vererg aan die opdringerigheid van die tempelgespuis, sodat Ek hom vermaan het om die vurige drif af te lê, omdat dit kwade gevolge vir hom kon hê. Hy het My raad ook volgens vermoë opgevolg en het, sedert Ek hom toentertyd die honde besorg het, ook baie rustiger geword, omdat hy nie meer so baie lastig geval was nie.
[7] Maar nou, kort voor sy dood, het hy weer `n stryd met die lede van die tempel gehad, wat `n aanklag teen hom ingedien het, omdat hy nie die nodige respek vir die tempel sou getoon het nie, en dat hy so ver gegaan het, dat hy die lede van die tempel, wat met die beste bedoelings van sielesorg na hom toe gekom het, met geweld weggejaag het en sy personeel selfs daarvan weerhou het om die tempel te besoek en die noodsaaklike boete- en reinigingsoffers te maak.
[8] Ook al het die tempeldienare geweet dat hierdie en soortgelyke leuens ongegrond was, netsoos die pogings om hom as vriend van die volksopruier Jesus ook by die Romeine verdag te maak, reken hulle tog op die bekende opvlieëndheid van sy karakter, waardeur hy hom miskien by `n uiteindelike verhoor onversigtig sou blootstel; sodoende sou dit moontlik wees hom aan die tempel te bind, sodat hy, om vry te kom, op die minste groot beloftes met betrekking tot sy erfgoed sou moes gedoen het.
[9] Laserus het die geslepe planne baie goed deursien en weerlê die aanklagte wat teen hom ingedien was, teenoor die Romeinse stadhouer met gesag, sodat hy vry daar uitkom, sonder dat hy enige uiterlike sigbare opwinding daarby getoon het.
[10] Des te meer kook dit egter inwendig in hom, totdat hy `n gloeiende galkoors kry, wat hom binne `n baie kort tyd die dood gebring het. Dit was die uiterlike aanleiding tot sy dood; die innerlike, suiwer geestelike was al aangedui deur die antwoord wat Ek die kneg gegee het, en ook deur die woorde aan My leerlinge.
|
|
|
|
|