Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 4

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die fariseërs by die Heer

4 Byna met trane in sy oë sê die herbergier aan My: "Majesteit en Heer, ek het dit weliswaar reeds duidelik in my hart gevoel dat U en die Galileër, wat die fariseërs wat nou in my huis is, wil vervolg, een en dieselfde Persoon is. Maar wat my hart daarby vermoed het, het nou vir my ook volkome seker geword, naamlik dat U niemand anders is as die gepersonifieerde hoogste Godheid self nie; want dergelike wondere doen en in duidelike bewoordings uitlê hoe die huishouding van die natuur in mekaar sit, kan alleen iemand wat volledig daarin deurdronge is en in sigself `n allergrootste heerser daaroor geword het. Wie uit die niks brood en uit water wyn kan skep, kan ook die hemel en alle sterre daarvan met één woord tevoorskyn roep, soos Moses dit vir die Judeërs van sy tyd beskryf het. Ek dank U dus van ganser harte, Heer van hemel en aarde, dat U my waardig bevind het om my en my huis te besoek wat U altyd ywerig gesoek het, en nou ook in alle volheid gevind het."

[2] Ek sê aan My leerlinge: "Nou sien julle weereens hoe vinnig die heidene My herken en by hulle opneem, terwyl die uitverkorenes My verstoot en probeer gevange neem en dood. Hierdie Romein het My alleen in sy hart gevind, terwyl Ek elders die een wonder na die ander moes doen om die taaie harte in `n bruikbare bodem te verander om die saad van My woord te laat gedy. Daarom sal die hemelryk ook van die Judeërs afgeneem word en in alle volheid aan die heidene gegee word, want hulle sal beter weet om dit te bewaar as die nou buitengewoon duister geworde Judeërs en fariseërs.

[3] Maar jy, My Mucius, sal nog `n kragtige instrument vir My word hier in die suide, `n bolwerk teen die boosaardigheid van die fariseërs en skrifgeleerdes, wat My nog groot dienste sal bewys; want dit is nodig om stewige plekke te stig, wat oninneembaar is. En so `n stewige plek, wat die skat van My woord in hom dra, sal jou hart en die van jou verwante vir My word.

[4] Stuur nou die fariseërs en die kooplui na My toe, en terwyl Ek sal probeer om hulle tenminste op die beter weë te lei, laat jy jou deur My leerling Johannes in die diepte van My leer inwy, sodat jy dit heeltemal kan leer ken!"

[5] Die herbergier Mucius gaan nou eers na die fariseërs en kooplui en bring hulle die berig oor, dat hulle versoek word om self na My toe te kom om hulle wens kenbaar te maak, en dat hy hulle nie `n ander bevredigende antwoord kan oorbring nie.

[6] Of hulle dit nou aangenaam vind of nie, as hulle nie wil wys dat dit wat hulle daar gesê het, ernstig opgeneem word nie, moes die drie leviete hulle na die tuin begeef om My op te soek. Slegs die een koopman, wat Ek al voorheen as één van die tempelwisselaars aangedui het, sluit hom by hulle aan, omdat die ander uit besorgdheid oor hulle ware, voorgee dat hulle dit nie sonder toesig kon laat staan nie, en het hulle dus na hulle sakke begewe om vir `n spoedige vertrek te sorg.

[7] Weldra sou die mense, asook die drie fariseërs en die koopman die tuin inkom, gevolg deur Mucius, wat dadelik na Johannes gaan om met hom `n diepgaande gesprek oor My en My leer te voer.

[8] Die spreker van gister loop na My toe, omdat Mucius My al aangewys het, en sê op heel vriendelike, maar tog neerbuigende toon aan My (die fariseër): "Beste vriend, ons as lede van die Hoë Raad in Jerusalem vra U beleefd om enige informasie, wat U ons sekerlik bereid sal wees om te gee, vooropgestel die wat U ons nie kan gee nie, wat ons egter wel vermoed.

[9] Aan die wyse woorde, wat ons gister, sonder om dit eintlik te wil, in die nabygeleë kamer gehoor het, het ons gemerk dat U baie goed moet wees in die Skrif en in die volkekunde, anders kon u nie sulke diepsinnige verklarings gegee het, wat selfs vir ons, terwyl ons tog goed tuis is in die geskiedenis van ons eie en die omringende land, nog volkome onbekend gebly het. U het ongetwyfeld verre reise gemaak en dinge ondersoek wat ons ook baie sou interesseer om per geleentheid eers van U te hoor.

[10] Tog is dit vir ons nou heel belangrik om iets meer oor die Galileër te wete te kom, waaroor die herbergier herhaaldelik met U en met ons gespreek het, aangesien ons uitgestuur is om informasie in te win oor Sy aktiwiteite. Dit is immers baie goed moontlik dat U hom op U togte ontmoet het en ons dus meer oor Hom kan meedeel, en ons wil U vra om dit ook te doen, ingeval U dit kan."

[11] Ek antwoord: "Wat julle van My vra sou Ek maklik kan doen, omdat Ek die Galileër inderdaad baie goed ken; maar dit gaan daarom dat Ek weet wat Ek dan wel oor Hom moet sê. Goeie dinge sal vir julle onaangenaam in die ore klink, want julle het daarom uitgetrek om aanklagte teen Hom te versamel om Hom te gronde te kan rig. Maar as Ek ooreenkomstig die waarheid moet spreek, sal daar waarskynlik niemand in staat wees om te getuig dat Hy ooit iets slegs gedoen het, en net met berigte oor sulke dade, sou julle gediend wees. Wat wil julle dus dat Ek doen?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205