Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 74

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Kruisiging, dood en begrafnis van Jesus

74 Die tempel het nou, soos dit blyk, oorwin, en wou die uitgespreekte doodsoordeel so vinnig moontlik voltrek.

[2] Daar sal nou nie verder `n noukeurige beskrywing volg van alle martelings wat My liggaam moes deurstaan nie; want dit is dinge wat die siel van geen enkele mens in die liggaam kan bevat nie. Eers in `n vrye, geestelike toestand is dit vir `n siel moontlik om te begryp, in hoeverre die doodskwelling daartoe gedien het om My liggaam volkome te vergeestelik, en daardeur ook aan die verlossing van die materie by te dra, hoewel die pyniging nie per se noodsaaklik was nie.

[3] Hier sal alleen nog enkele dwalings reggestel word om duidelikheid te bring in enkele dinge, omdat aan die hand van die evangelies, wat met betrekking tot My liggaamlike dood taamlik noukeurig is, `n duidelike beeld gegee word van die laaste ure van die Menseseun.

[4] Hier moet Ons in die eerste plek die dra van die kruis in oënskou neem. Dit was gebruik by die Romeine, dat elke ter dood veroordeelde misdadiger sy martelhout self tot by die plek van teregstelling moes dra, en dikwels, as die kragte hiervoor hom verlaat, was hy baie wreed gepynig om die straf uit te voer. Ook vir My bly dit natuurlik nie gespaar nie; maar die kragte het My uiters uitgeputte liggaam baie vinnig verlaat, sodat Ek meermale op die grond geval het. 

[5] Simon van Cyrene, wat `n aanhanger van My leer was en as sodanig aan die priesters welbekend was, het die stoet teëgekom en slaan vol ontsetting en medelye My jammerlike toestand gade.

[6] Toe roep een van die tempeldienare hom honend toe: "Siedaar, jou groot Heer, wat Homself nie kan help nie! Nou kom al Sy bedrog op beklaenswaardige wyse aan die lig."

[7] Simon antwoord verontwaardig en met `n voorspellende gees: "Julle sal die uur nog vervloek, dat julle so-iets gedoen het! Maar Ek begeer om my Heer te dien, sodat hierdie lydensweg vir Hom ligter sal word." 

[8] "Dit sal jy!" roep enkele priesters boos. "Want omdat jy dit waag om die handelinge van die tempel met smaad te belas, lê ons jou `n boete op en jy sal die kruis van jou Heer dra! "Toe Simon dit hoor, snel hy vol vreugde te hulp, neem die swaar kruis op sy sterke skouers en strek My, waar Ek op die grond lê, nog sy hand uit, om My steun te bied. Ek neem sy hand, en Simon se krag word soseer versterk, dat hy met gemak die swaar las kon dra.

[9] Al My naaste vriende, wat tydens die beregting nie by die geregsgebou kon kom nie, het nou gevolg, en ook kom daar nou baie van die volk naderby, wat eers verskrik op `n afstand gestaan het, toe die aanhang van die tempel "Kruisig hom!" geskreeu het. Hulle neem dadelik `n dreigende houding aan, toe die stoet die poort nader, waar `n groot plein die vorming van `n uitgebreide menigte moontlik maak. Die fariseërs het egter al so-iets gevrees en het daarom `n taamlike groot groep Romeinse soldate opgeroep, wat die stoet by die poort na Golgotha ingewag het om die orde te bewaar. 

[10] Toe diegene wat My welgesind was, nou sien dat Ek reddeloos verlore en `n uiteindelike gewelddadige bevryding uit die hande van die geregsdienare onmoontlik was, word `n harde geweeklaag aangehef, waaraan, veral die vroue, sterk meedoen.

[11] Ek wend My daarom tot diegene wat die naaste aan My staan en sê aan hulle: "Huil nie oor My nie, maar oor julle en julle kinders; want hulle sal erger dinge oorkom as wat julle nou met My sien gebeur! Ek gaan in na My Vader; maar hulle sal nie weet waar hulle heengaan nie!"

[12] In die oorlewering van die kerk word gesê dat Veronica My in haar diensbaarheid `n doek aangereik het om My sweet af te droog. Dit is wel waar; want hulle het in die voorste rye van die weeklaendes gestaan. Maar die afdrukke van My gesig op die doek is `n later ontstane sage, netsoos hier gesê moet word dat daar in My tyd nooit `n Jood Ahasveros was, wat My van sy huis weggejaag het nie. Beide is mites wat later ontstaan het uit verhale van vrome gemoedere, wat hulle bes gedoen het om My liggaamlike dood met alle moontlike wonders op te sier, wat ook in die evangelies binnegesluip het.

[13] As al die soort dinge inderdaad sou gebeur het, terwyl Ek aan die kruis gehang het, soos berig word - die groot aardbewing, die verduistering van die son, die verskyning van geeste en baie ander dinge - dan sou Jerusalem, gedwing deur die kragtige tekens, nog dieselfde dag in sak en as boete gedoen het en My opstanding nie vol twyfel beskou het nie, maar met vreugde en as teken van vergewing van alle sondes. Maar in die tyd wat My liggaam gesterf het, het daar niks gebeur, wat so buitengewoon was dat dit noodsaakliker in verband gebring moes word met My dood nie. Dit kan ook nie anders nie, omdat die vryheid van die wil nie aangetas mag word nie; en as die vernaamste prinsiep nie dan onaantasbaar in ag geneem moes word nie, sou dit vir My in ieder geval al vroeër moontlik gewees het om deur sulke wonders dwang uit te oefen. Alles wat daar gebeur het, was van die aard, dat dit ook baie goed sonder My liggaamlike dood kon gebeur het – en daarom sal Ons nou noukeuriger bekyk wat dit was.

[14] Toe Ek nou weggevoer was na Golgotha, wat in die tyd die algemene plek van teregstelling van Jerusalem was, kom Judas Iskariot totaal wanhopig aangehardloop en probeer deur die ring heen te breek wat die tempelwagters rondom die plek gevorm het. Hy word met geweld teruggedryf en bly met starende oë naby staan en kyk, nog altyd in die hoop dat daar iets buitengewoon sou gebeur wat My sou bevry. Hy was steeds in die omgewing gewees toe My veroordeling plaasvind, en namate dit vir hom duideliker geword het dat My krag hier, oftewel verdwyn het, of nie deur My gebruik was nie, groei sy angs. 

[15] Ten slotte hardloop hy terug na die Hoë Raad om die geld terug te gee, en sê daarby dat hy onskuldige bloed verraai het en homself hewig aankla. Natuurlik word hy vol hoon afgewys, met die opmerking dat hy maar moes sien hoe hy met homself in die reine kan kom. Vol vertwyfeling werp hy die geld in die kis vir die aalmoese van die tempel en hardloop na buite, nog altyd vasklouend aan die swak hoop dat Ek Myself sou bevry, voordat die ergste sou gebeur. Toe hy nou sien hoe My liggaam op die grond gegooi en op die kruis gelê word, toe hy die hamerslae hoor wat die spykers deur My vlees in die hout dryf, skreeu hy dit uit en hardloop onmiddellik weg. Sonder om `n blik agtertoe te werp, hardloop hy na `n eensame gebied, waar hy hom met die koord van sy kleed aan `n vyeboom ophang.

[16] Hy het vir sy dwaling, sy geldsug en selfsug duur betaal. Oor hoe dit daarna met hom gegaan het, sal nog `n keer berig word.

[17] Eers enkele dae na sy dood word sy lyk gevind, wat van die koord losgeraak en geval het en waar honde en jakkalse aan geknaag het. Op dieselfde plek word hy ook begrawe.

[18] Daar word berig dat daar `n duisternis ingetree het, toe My liggaam aan die kruis gehang het. Ja, `n groot innerlike duisternis het daar oor Jerusalem geval, maar geen uiterlike nie. `n Innerlike duisternis, waardeur elkeen die gevoel gehad het asof hy iets verloor het, sonder om te weet wat dit was, en selfs die hoëpriesters, skrifgeleerdes, fariseërs en tempeljode, wat tog baie na My dood verlang het, beleef geen bevrediging en geen vreugde aan hulle daad nie.

[19] Dit was ook die rede waarom die tempel glad geen stappe onderneem het teen My leerlinge en naaste verwante nie, ook nie teen Nikodemus, Josef van Arimathea en Laserus, wat almal na My kruis gekom het en in My laaste lewensuur aanwesig was. Myne het dit vernaamlik deur die aansien van Nikodemus as lid van die Hoë Raad te danke, dat hulle toestemming gekry het om baie nader in die omgewing te bly, terwyl die plek andersins deur soldate afgesper is en daar niemand toegelaat was nie. Op sy voorspraak word daar `n uitsondering gemaak. My allernaaste leerlinge egter, behalwe Johannes, was nie aanwesig nie, soos Ek vroeër al dikwels gesê het. Die herder was geslaan, derhalwe het die skape verstrooi geraak. Na My gevangeneming het hulle deels na Laserus gevlug, en deels was hulle deur vriende verberg gehou.

[20] Slegs Johannes waag dit om hom orals openlik te vertoon en om die moeder van My liggaam, Maria, tot steun en troos te wees.

[21] Petrus, wat na sy val deur diep berou gegryp was, volg weliswaar heimlik die stoet wat My deur die strate van Jerusalem van die een heerser na die ander bring, maar bly tog ver van alle broers, omdat sy siel die behoefte voel om alleen te wees en nou eers volledige duidelikheid verkry met betrekking tot My werksaamheid, waarby veral die oefeninge in Efraim baie nuttig vir hom was. Hy deursien die wese en die doel van My aardse sterwe en was ook deurdring van die noodsaak daarvan, asook van My opstanding, wat Ek voorgesê het en waarop hy vas vertrou het, origens sonder om `n woord daaroor te sê.

[22] Met betrekking tot My laaste ure is die mees noodsaaklike al eerder gesê, en wie dit hom nogmaals voor die gees wil bring, lees "Die sieben Worte Christi am Kreuz (Die sewe woorde aan die kruis)",* dan sal hy voldoende ingelig wees oor My laaste ure. *[Die sieben Worte Christi am Kreuz, ontvang deur Anthonie Grossheim. Uitgegee deur uitgewery Die Ster, Tilburg.)

[23] Toe My siel haar van My liggaam skei, ontstaan daar inderdaad `n aardbewing; maar dit was wederom `n verskynsel wat nie al te baie opgeval het nie, omdat die onderaardse kragte van die Jordaandal in die streek in My tyd hulle nog baie beter laat geld as nou, vandaar dat aardskokke nie so seldsaam was nie. Dat die verskynsel werklik met My dood saamgehang het, het natuurlik nie by die verstokte Judeërs opgekom nie.

[24] Ook is dit waar dat die voorhangsel in die tempel geskeur het, as `n uiterlike teken dat daar nou geen belemmering meer was om die allerheiligste ruimte van die hart van die Vader te bereik nie, ja, dat elkeen daar kon kom om daar die ewige lewe te ontvang; maar ook die verskynsel, hoe verbasingwekkend ookal, het verder geen opsien gebaar nie. Die diensdoende priesters het die voorhangsel weer opgehang, en daarmee was die saak afgedaan.

[25] Verder word daar berig dat die son haar skynsel verloor het. Daar is alreeds gesê dat daar geen duisternis ingetree het nie - maar elkeen weet goed dat aardbewings in warm lande baie aangekondig word deur `n sterk newelvorming in die atmosfeer, waardeur die son aan glans inboet. En dit het ook hier op soortgelyke wyse gebeur. Dat die son haar glans verloor het, het egter `n ander rede gehad as die gebruiklike - ook al was die verskynsel dieselfde.

[26] Daar word ook nog berig dat daar dooies uit hulle graftes opgestaan het en aan vele verskyn het. Die berig moet op die korrekte manier begryp word, en elkeen sal dit beter begryp, wanneer hy die volgende in hom opneem.

[27] Toe My liggaam gesterf het en die groot groep vyande se wraak volledig verkoel het, versprei die volk hom ook baie gou, omdat `n innerlike huiwering - die innerlike, reeds vermelde duisternis - elkeen daartoe gebring het om beskerming in sy eie huis te soek, waar die Judeërs hulle volgens hulle voorskrifte nou moes voorberei op die Sabbat, wat met sonsondergang begin het.

[28] My aanhangers het nou steeds digterby die plek van teregstelling gekom, sodat die kring van diegene wat na aan My gestaan het, behoorlik groter geword het. Josef van Arimathea het al vroeër na Pilatus gegaan en het hom vir My liggaam gevra - `n guns wat nie altyd verleen was nie.

[29] Maar Pilatus het dit graag aan hom verleen, omdat hy daarmee die Judeërs wou erger, netsoos deur die opskrif boaan die kruis in drie tale, waarop gestaan het dat Ek die koning van die Judeërs was.

[30] My vriende neem die liggaam dadelik van die kruis af, reinig en salf dit en dra dit met baie sorg na `n rotsgraf, wat die eiendom was van Josef van Arimathea, op `n stuk grond wat hy van Nikodemus gekoop het om mettertyd sy eie laaste rusplek daar te vind. 

[31] Golgotha was weliswaar `n rotsheuwel, maar het vlakby `n digbevolkte dorpswyk gelê, waar baie ryk Romeine en Judeërs grond gekoop het en pragtige landhuise gebou het; van daar is die nabyheid van die tuin te verklaar.

[32] In die graf lê hulle die liggaam en beskerm dit goed, uit vrees dat die Judeërs in hulle boosaardigheid andersins ook die lyk nog kwaad wou aandoen.

[33] Maar hulle was op hulle beurt weer bang dat My aanhangers die lyk wou ontvoer en dan stellig beweer dat Ek opgestaan het; want hulle het gehoor en het baie goed geweet dat die woorde oor My voorspelde dood en ook van My opstanding onder die volk die ronde gedoen het. Daarom vra hulle Pilatus vir bewakers, wat dit ook vir hulle toestaan, al was dit maar net uit nuuskierigheid of daar miskien iets wonderbaarlik sou gebeur, soos alom deur die vriende verwag was en deur vyande gevrees word. Daar word dus bewakers aangestel, Romeinse soldate, wat vyf dae lank by die graf op wag moes staan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205