Die tempeldienare smee bose planne
41 Toe Ek hierdie woorde uitgespreek het, staan die aan almal bekende RafaEl al naas My, en hy begroet Laserus baie vriendelik. Hierdie was op sy beurt baie verblyd om RafaEl te sien en uiter sy vreugde in lewendige woorde, netsoos My leerlinge en verskillende vriende van Laserus, wat al voorheen getuie was van die uitsonderlike wonderkrag van die aartsengel.
[2] Nou word die saal met uiterste snelheid gereedgemaak om die aangekondigde gaste te ontvang, en dit word twee keer so druk in die hele huis, sodat `n gesprek tussen Ons moeilik word; Ons gaan dus na buite, om die bedrywige dienare van die huis, wat die aanwysings van RafaEl ywerig en blymoedig opvolg, nie te hinder nie.
[3] Dit is noodsaaklik om daarop te wys dat om reeds aangeduide redes - naamlik vanweë die vryere geestelike ontwikkeling van Myne - daar geen al te voelbaar ingryping van My krag meer plaasvind nie, maar dat alles, wat nou as wonderbaarlik en buitengewoon aangedui kan word, steeds `n uiterlike eenvoudiger, menslike aansien kry.
[4] As Ek nou sê, dat daar in die groot saal van Laserus en ook in die aangrensende vertrek binne ongeveer `n halfuur tafels neergesit word, waaraan enkele honderde mense gevoed moes word, en dat in byna dieselfde tyd ook die spyse vir hulle almal voorberei word, sal mens insien dat so `n werk ook deur baie ywerige dienare, waarvan daar ongeveer twintig ter beskikking gestaan het, nie tot stand gebring kon word nie; want die voorbereiding van die spyse alleen neem by `n natuurlike gang van sake meer tyd. Tog het alles sonder sigbare buitengewone hulp bymekaar gekom, die personeel blyk net baie behendig te wees.
[5] Met hierdie opmerking moet duidelik gemaak word dat die naderkom van die grootste gebeurtenis van die tye sonder buitengewone ingryping voorberei word; want selfs die opwekking van Laserus het vir die aanwesiges wel hoogs wonderbaarlik voorgekom, maar tog nie so oorweldigend as byvoorbeeld die verandering van woeste streke in vrugbare land, en ander dinge nie.
[6] Hierdie opwekking vorm egter die sluitstuk van My amp as leraar en lui die oes daarvan in.
[7] Wie begripsvermoë het en hom inspan om wakker van gees te wees, laat hy dit begryp! Wie nog in die graf lê, laat hy die klip daarvan afwentel, sodat die dooie Laserus opgewek kan word en hieruit kom. Amen!
[8] Toe Ons buite voor die huis staan, sien Ons op die weg vanaf Jerusalem al `n groot aantal mense kom, wat Betánië as doel gekies het. Dit was Judeërs, aan wie vertel was dat Laserus weer lewend geword het, en dat hulle hulleself daarvan wou oortuig. Hulle kom digterby, en toe hulle Laserus en My sien, haas hulle hulle met snelle treë na Ons toe en kyk vol verbasing na Ons beide, die opgewekte en die Opwekker.
[9] Laserus sê op vriendelike toon aan hulle: "Beste vriende, julle staan verbaas en begryp nie dat ek leef nie, terwyl ek tog sigbaar en baie verseker gestorwe was; maar julle weet dat by God geen enkele ding onmoontlik is nie, en Hy, wat alles tot lewe bring, sal tog ook die aardse stof wel weer tot lewe kan wek, ook al het die lewe daaruit verdwyn. Kyk, ek leef werklik, en hier staan dié Een wat my opnuut tot lewe geroep het! Kan julle nou nog daaraan twyfel dat die krag van God dit alles tot stand gebring het - die krag wat in Hom, die Messias, waarlik leef en hom manifesteer? Waarlik, wie nou nog twyfel, lyk soos `n baie harde klip, wat nie anders beweeg kan word nie as alleen deur middel van uiters ruwe kragte om hom uiteen te laat val en waarlangs die water na benede stroom, sonder om ook maar die kleinste deeltjie daarvan los te maak.
[10] Julle het gekom om my te sien. Bekyk my dan nou, en oortuig julle daarvan dat ek werklik leef! Maar gaan daarna na hierdie Heer van al die lewe toe en laat julle opwek tot die ware lewe en die ware kennis van alle geheime van God, wat Hy in die Menseseun voltrek; want die tyd het naby gekom dat die goeie en die slegte geskei word en die koring van die kaf gesuiwer moet word, sodat die koring uitgesaai kan word om hulle te vermeerder tot `n ryk vrug!"
[11] Hierdie woorde spreek Laserus vol besieling en in My Naam, sodat die Judeërs diep geraak word en hulle rondom My en Myne skaar en verlang om onderrig te word. Dit gebeur dan ook.
[12] Maar daar kom nog steeds meer mense uit die stad, sodat daar weldra byna duisend mense was, wat hulle almal oortuig van die wonder van God, wat in My sulke wondere doen, hardop prys en loof.
[13] Toe die gemoedere nou langsaam bedaar, gee Ek Laserus `n wenk, en hy versoek alle aanwesiges om met hom saam te gaan. En hulle volg hom almal na die kamers, waar die groot feesmaal voorberei was.
[14] Dit verloop nie op ongewone wyse nie, sodat daaroor niks besonders meegedeel moet word nie. Dit dien slegs om vermeld te word dat met My naaste leerlinge, die twaalf apostels, die rol vervul is van die onderrig en lering van die vele Judeërs, wat deur nuuskierigheid gedryf was, maar dat die ander leerlinge en aanhangers dit ook doen, wat My al `n lang tyd volg en eweneens goed onderrig was in My leer.
[15] Ons - dit wil sê Laserus met sy susters en die apostels, netsoos vanselfsprekend Ekself - sit afsydig aan die einde van die saal. Laserus bring nou die vraag na vore, wat die fariseërs nou van plan was om te doen, nadat die groot honde hulle so vreeslik aangepak het en hulle na Jerusalem teruggejaag het.
[16] Ek sê aan hulle: "Hulle het onmiddellik na die tempel gehardloop en het daar hulle kollegas bymekaar geroep. Hulle hou nou `n groot vergadering met mekaar en bring hulle klagtes na vore, wat daarop neerkom dat hier `n groot bedrog aan die gang is.
[17] Daar word baie heen en weer gepraat tussen die lede van die Raad; want daar is vele daarby wat hulle oortuig het van die feitelike wonders. Ook het daar berig ingekom van die fariseër wat ons by Mucius aangetref het, wat vertel dat die gebied by die Nebo wesenlik verander is, en dat hulle `n handelskaravaan ontmoet het wat verslag doen van die wonders wat by Afek plaasgevind het. Al die dinge het Ek gedoen - soos onbetwisbaar geloofwaardige mense verklaar het - sodat dit, as die dinge op waarheid berus, nie onmoontlik was dat Laserus gesterf en opgewek was nie; want hele gebiede te verander was tog nog wel `n groter werk as om `n liggaam, wat maar net ontsiel was, weer tot lewe te bring.
[18] Nou ontstaan daar `n felle stryd; want die fariseërs wat My vyandig gesind is, probeer die berigte so te verklaar dat daar bedrog in die spel is. Dan kom hulle egter in stryd met die vriende van die uitgestuurde fariseër, wat daarvoor wil instaan dat hulle hulle nie laat mislei nie, omdat hulle as besonder nugter denkende mense ook besonder geskik was om te ondersoek en die opdrag daarom ook aan hulle toevertrou was.
[19] Nou staan daar een van die eerste skrifgeleerdes op, wat sê: "Dit lei geen twyfel dat hierdie Man groot wonders doen, en om die rede het die tempel dan ook al baie moeite gedoen om Hom vir hulle te win, maar steeds sonder sukses. Maar dit is selfs seker dat Hy steeds aan die dienare geywer het en die minagting by die volk ten aansien van ons, die dienare van God, tot die uiterste gedryf het.
[20] As ons egter in vrede met die Romeine wil lewe, is dit absoluut noodsaaklik dat die volk ons blindelings gehoorsaam; want dit is die plig en die taak van die tempel om die te lei. Daarom adviseer ek dat ons die Jesus van Nasaret so vinnig moontlik as volksopruier probeer gryp en aan die gereg van die Romeine oorlewer, en dat ons van hulle verlang dat hy volgens ons tempelwet gestraf en onskadelik gemaak word."
[21] Kajafas, die hoëpriester, sê: "As die Romeine nie die baas was in die land nie, het die Man al lankal in boeie gelê; maar Hy het selfs onder die hoogste Romeine magtige vriende wat Hom sal beskerm. Daarom moet daar `n geleentheid gesoek word dat Hy homself aan ons oorlewer deur een of ander daad, wat ons die reg gee om in te gryp en waarop die strafreg van toepassing is. Maar Hy is slim genoeg om nie teen die Romeine, maar alleen teen ons te ageer, daarom is Hy gevaarliker as elke ander wat onmiddellik deur die Romeine as volksopruier gegryp en verhoor sou word."
[22] Nikodemus, wat ook aanwesig is, om stellig `n woord ten gunste van My in te bring, sê: "Beste vriende, julle weet tog dat `n groot deel van die volk Jesus aanhang; want van die vele wat hy gesond gemaak het, het hier miskien maar die kleinste deel bekend geword. Sou dit nie beter wees om Hom aan die volk oor te laat vanweë Sy wonderkrag nie, wat tog `n groot seën versprei?"
[23] Nou steek daar `n storm van verontwaardiging op in die Raad vanweë die ongehoorde onredelike voorstel, en ons Nikodemus moet baie skelwoorde en verdagmakings aanhoor, omdat hy so `n voorstel aan die Hoë Raad kon maak. Hy hoor dit alles egter baie gelate aan; want Ek gebied hom nou in sy hart om te swyg en hom hierheen te begeef.
[24] Kajafas spreek nou weer, nadat die rus weer teruggekeer het: "Werklik, julle weet niks en dink ook oor niks na nie! Dit is vir ons almal beter dat die man sterf vir die volk, voordat die hele volk te gronde gaan. En daarom beveel ek dat elkeen daarop bedag moet wees om die korrekte geleentheid te soek, waaroor ek spreek; want wat moet gebeur, laat dit gou gebeur!"
[25] Die lede van die Hoë Raad is dit met hierdie woorde eens en sluit hulle vergadering. Nikodemus verwyder homself egter stil en onopgemerk en sal weldra hier aankom.
[26] Kyk, nou weet julle hoe dit daar benede in die tempel uitsien; maar wees julle nie besorg nie! Hulle kan hulle planne nie vroeër uitvoer as wanneer Ek Myself in hulle hande oorgee nie!"