Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 19

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die Heer neem Sy intrek by Raël

19 Toe almal die volgende dag ontwaak, voel hulle baie versterk; maar tog val dit hulle baie op dat elkeen van hulle in sy siel `n eienaardige leegte en onafhanklikheid voel, wat hom veral uitdruk in die feit dat My leerlinge verskillende vrae onder mekaar bespreek, in plaas van die beantwoording daarvan aan My oor te laat soos wat hulle dit andersins gedoen het. Dit was die eerste teken dat hulle hulle op die daad laat geld het van hulle nuwe selfstandigheid en vrye besluitvorming oor hulle verdere weë en dat by Petrus, ondanks sy groot liefde vir My, dit later selfs tot verloëning sou lei.

[2] Weldra verlaat Ons die dal, wat ons die afgelope nag beskerming gebied het en die skoutoneel van so `n belangrike gebeurtenis was, en Ons gaan in `n noordwestelike rigting na `n klein stadjie meer noordoostelik van Jerusalem, wat Rimmon geheet het.

[3] Nouliks het Ons die plekkie binnegekom, of daar loop `n man op My af wat My op vraende toon - nadat hy hom eers kenbaar gemaak het as `n afgesant van die susters van Laserus, Martha en Maria - dringend versoek om onmiddellik na Betánië te kom, omdat Laserus ernstig siek was en sy susters vir sy lewe gevrees het. Hy vertel verder dat hy reeds twee dae hier gewag het, en dat daar, netsoos hy, nog baie bodes uitgestuur was om My te soek, aangesien Ek Laserus steeds om en by hierdie tyd sou besoek, en dat hy hom ter wille van sy meester verheug dat hy My gevind het.

[4] Ek antwoord die kneg: "Die siekte is nie ten dode nie, maar ter ere van God, omdat die Seun daardeur geëer sal word." (Johannes 11:4)

[5] Die kneg neem hierdie woorde op as `n seker teken dat Ek sy meester sou genees en vra My dringend om dadelik te kom, sodat sy meester nie so lank hoef te ly nie. Toe vertrek hy dadelik na Betánië, na die wagtende susters, om die blye mededeling te bring.

[6] Ek wend My egter tot die leerlinge en sê aan hulle: "Ons sal probeer om `n herberg vir Ons te vind, sodat Ons kan rus; want dit is nie so `n haas dat Ons na Betánië trek nie."

[7] Toe vra Petrus My: "Heer, het Laserus dan al gesond geword?"

[8] Ek antwoord hom: "Nee, maar hy sal gesond word, en daarvoor is dit nodig dat hy eers aflê wat daar onrein aan hom is, netsoos julle al die onreine moet aflê, voordat julle die ryk van My en julle Vader kan binnegaan."

[9] Nou vra die leerlinge nie meer verder nie, want hulle was al daaraan gewoond en het geleer om in te sien dat My verordeninge steeds die korrekte was.

[10] Nou loop Ons deur die stadjie, wat eintlik meer `n groot dorp genoem kan word, tot aan die ander kant daarvan, wat aan die pad na Jerusalem lê. Ons bereik `n lieflike huis, wat omgeef was deur `n tuin en eg afgeleë gelê het. Aan die goed versorgde tuin was te sien dat die eienaar tot die welgestelde mense behoort en hier klaarblyklik `n rustige plek gesoek het, weg van die lawaaierige wêreld.

[11] Ons staan voor die huis om te kyk hoe lieflik dit geleë was, toe `n kneg na buite kom om Ons in naam van sy meester te versoek om nader te kom en, as dit Ons gerief, by hom onderdak te neem.

[12] Ek word aan hom as die leier van die geselskap aangedui en sê aan hom: "Sê aan jou Heer dat Hy, wat hy al so lank verwag, gekom het om by hom Sy intrek te neem!"

[13] Die kneg gaan weg, en Ons loop eers die voortuin van die huis in. Die duur nie lank nie, of dieselfde kneg kom weer na Ons toe en vra Ons om hom te volg. Hy bring Ons na `n ruim vertrek, wat soos `n saal lyk en volgens die gewoonte van die tyd ryklik met tapyte en velerlei kunswerke ingerig was en onmiddellik die rykdom van die eienaar verraai het.

[14] Weldra verskyn hy self, steunend op `n dienaar. Dit was al `n baie ou man, wat baie eerbiedwaardig daaruit gesien het en verswak was deur die las van die ouderdom. Sy uiterlike vervul Ons hele geselskap met diepe ontsag; want uit sy gelaat straal vrede, en sy hele wese toon aan die eerbiedwaardige hoogheid van `n ou patriarg, ongeveer soos elkeen hom die beeld van `n aartsvader sou voorstel.

[15] Hy begroet Ons vriendelik en verontskuldig hom, dat die las van sy jare - want hy was al honderd-en-twintig - hom verhinder het om Ons dadelik te ontvang, en vra Ons om hierdie onbeleefdheid deur die vingers te sien, omdat hy nie anders kan nie.

[16] Toe hy (Raël) My beter aankyk, word hy baie verwonderd en sê: "Rabbi, U het ek vannag in `n droom gesien! U roep my toe: "Raël, Ek kom na jou toe, omdat jy na My verlang, en jou huis sal deur My geseën word!"

[17] En kyk, nou gaan My droom in vervulling! Wie is U, beste Heer, en wie is hierdie mense, wat by U skyn te behoort?"

[18] Ek sê aan hom: "Ek is dié Een op wie jy hoop en wat jy sedert jare verwag; dié Een wat jy al ken, maar wat vir jou `n vreemde geword het, omdat dit jare gelede is dat jy My vir die eerste maal gesien het!"

[19] Raël antwoord: "Rabbi, my geheue het swak geword. Ek weet dat ek U al eers vroeër gesien het, behalwe in my droom, en tog kan ek my nie herinner wanneer dit gebeur het nie. Maar daar is nog tyd om daaroor te spreek. Ek vra U: Beskou dié huis as Uwe en rus uit! My dienare sal julle as my baie geliefde gaste bedien, asof julle my ware broers is."

[20] Raël gee sy bediendes nou dadelik opdrag om water te bring vir die was van Ons voete en om `n maaltyd voor te berei. In `n ruim eetsaal word alles reggesit, en binne `n baie kort tyd sit Ons, nadat Ons Onsself verfris het aan die brood en die wyn in die ryk aangeklede saal van Ons eerbiedwaardige herbergier, waar Ons Onsself almal baie behaaglik voel.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205