Oor die dood van die Heer
75 Maar wat het nou daar gebeur, terwyl die liggaam in die graf gelê het, en wat was die eintlike, dwingende rede vir My sterwe? - Hieroor sal nou `n kort, maar duidelike verklaring volg. Luister dus:
[2] Daar is al vroeër en dikwels uiteengesit, dat Adam as eerste mens van hierdie aarde - dit wil sê as mens met volledige vryheid van gees - geskape was met die doel `n vorm te skep, van waaruit die materie weer na die vrye geestelike lewe teruggelei kon word. En daarvoor was bowenal die oorwinning van die materie self nodig, dit wil sê: daar moes deur `n vrye wilsbesluit `n toestand geskep word, wat aan die een kant die oorwinning van alle laer eienskappe laat sien, soos aardse luste, begeertes en neigings, om aan die ander kant `n vrye opstyging na die suiwerste geestelike lewe moontlik te maak.
[3] Daar is al vroeër genoeg gesê dat die menslike siel uit baie klein beginstadia bestaan, wat hulle tot steeds hoër vlakke van bewussyn ontwikkel en ten slotte in die mens weer die vorm bereik, wat as aardse vorm hom nie meer verder kan ontwikkel nie, maar wel wat die sielslewe betref. Daar kom dus in die mens twee beginsels saam: Die einde van die materiële lewe as hoogs ontwikkelde selfbewussyn, en die begin van `n sielslewe wat in die hoogste verwerfde voleinding van die vorm onveranderlik is. Daarom kan die mens op die skerpte van `n afsnyding van die aardse lewe hom nie afsluit van die bewussyn dat hy leef nie - want daarvan is hy self die bewys - terwyl hy tog geen vermoede daarvan het dat hy aangekom het op die drumpel van `n geestelike lewe nie, wat nou in die onveranderlike blywende menslike vorm sy begin het. Met ander woorde: Nadat hy vele veranderings van liggaamsvorm deurgemaak het, wat die bereik van die menslike gestalte ten doel het, ondergaan die gestalte nou in haar algemene vorm geen verandering meer nie, maar wel begin daar nou `n verandering van die siel, wat ten doel het om die Gees van God self steeds digter te nader en daarmee in gemeenskap te tree.
[4] Wie nou kan dink, moet dink! Wat kan daar gebeur, as hierdie oorgang nie tot stand gebring word nie? Want hier staan materie en gees skerp teenoor mekaar, wat hulle wel oor en weer steeds meer kan verfyn, maar mekaar nooit - aangesien dit polariteite is - heeltemal kan raak nie. Daar moet hier in ieder geval `n weg getoon, `n brug geslaan word, waarmee dit moontlik is om van die materie tot die gees te kom - en die weg moet `n voorbeeld wees wat elkeen in staat moet wees om te volg. As die weg nie gevind sou word nie, dit wil dus sê: As `n mens dit nie sou betree nie, dan sou dit onmoontlik wees om die materie te verlaat om in `n vry, geestelike lewe te kom.
[5] Dit moet dus die strewe van die Godheid self wees om Haar skepsele, wat Sy uit liefde en tot hulle redding dwing om die weg van die materie te gaan - nadat hulle die grens bereik het, van waar die geestelike weg moontlik is - ook na Haarself toe te trek en so in die verhouding van Vader tot kind te bring. Adam moes die brug in homself bou en het dit eintlik baie maklik gehad, aangesien die verlokkinge van die materie baie gering was in vergelyking met nou. Daar was by hom net selfoorwinning nodig, gehoorsaamheid, dan was die brug gebou en kon die geestelike lewe bloeiend in hom ontwaak, omdat gehoorsaamheid teenoor God by `n mens, wat vir die res vry van elke sonde is, die enigste beproewingsmiddel is. Eers uit ongehoorsaamheid volg alle ander oortredings vanself, soos wat elkeen maklik by kinders kan waarneem. Nou het Adam geval, en daarmee het daar `n terugtreding in die materie plaasgevind, dit wil sê in die polariteit, wat haarself netso ver van God kan verwyder as wat sy na God self tot steeds hoër saligheid kan opstyg.
[6] Met hierdie val het die sonde die wêreld binnegekom, omdat God nooit `n werk skep om dit uiteindelik weer te vernietig nie, maar die eenmaal geskape weg verder volg, so gesê probeer korrigeer, omdat die Wysheid van God vooraf rekening gehou het met die gevolge van `n mislukking. Maar as dit daarom gaan om vrye skepsele te skep, geen geestelike masjiene nie, dan is die weg van selfontwikkeling in die mens werklik die enigste weg daartoe. Met die ontstaan van die menslike geslag as volkere het die opeenvolging van alle sondes ontstaan, bestaande uit `n lang reeks na `n steeds diepere val, omdat die begin daarvan - die ongehoorsaamheid - nou eenmaal bestaan het. Dit wil sê: As Adam nie ongehoorsaam was nie, sou geeneen van sy nakomelinge ook ongehoorsaam kon gewees het nie, omdat hy in homself dan `n kiem sou vernietig het, wat dan nie meer oorgeërf kon word nie. Op hierdie wyse het hy egter die kiem, bevrug en in sy nakomelinge het dit uitgegroei tot die boom, wat die lig van die son nouliks meer deur sy digte blaredak laat skyn.
[7] Dikwels word daar nou deur besonder sterk siele gepoog om deur die blaredak heen te breek om die son daardeur te laat skyn, en na gelang hulle ook met enkele op sigself staande gedeeltes daarvan slaag, besit die mensdom oeroue gelowe. Maar hierdie sterk siele slaag nie om die kern van die boom sodanig te raak, of om sy kroon so te breek, dat die magtige boom moes sterf nie. En hulle slaag nie, omdat hulle in hulle aardse lewe self nie sonder skuld was nie, maar eers van die wêreld geproe het, voordat hulle die dors na waarheid, na kennis van God gevoel het. Die wêreld smaak vir hulle flou - en nou eers soek hulle iets beter.
[8] Die ou Indiese gelowe is die oudste wat julle ken; want die ou Egiptiese geloof in haar egte leer was die oudste, en die kennis daarvan het verlore gegaan. Al die leraars was sulke sterk siele, wat vir hulleself deur die blaredak heen gebreek het, die weg getoon, ook die ware en egte beskryf en uitgespreek het, maar wat tog nie anders kon skryf as vir hulle tyd nie, waardeur daar nou baie vervalle geraak het, wat in die samehang van dinge maklik te begryp is. Daaroor nou die volgende:
[9] God was, voordat die inkleding in die vlees as Jesus plaasgevind het, onpersoonlik.* Daarom kon niemand Hom ook aanskou nie, maar alleen Sy Wese voel, wat hy natuurlik maar net as Lig merkbaar kon maak, omdat God in Homself suiwer lig is, wat Sy strale uitstuur. Maar waar lig is, is dit orals; dit deurstroom alles en wek alles tot lewe. Die onpersoonlikheid van God veronderstel egter nie één punt van uitstraling, soos vanuit `n son nie, maar `n see van lig, waarin geen konsentrasie is nie. Diegene wat geestelik tot die goddelike Wese deurdring, kan die goddelike Wese dus ook nie anders gewaarword as `n lewe in die lig, wat swewe en rus in die lig, wat uiteindelik één word met die lig. Toe die mens Jesus nou die personifikasie van God geword het, was die ervaar van die Godheid vir diegene wat Haar genader het, baie anders - eenvoudig die nader van die een mens tot die ander. Derhalwe het die ou sieners gelyk; maar die nuweres, wat volgens My leef, het eweneens gelyk. *(Voor Sy menswording in Jesus het God in `n ontoeganklike lig gewoon en was vir geen enkele geskape wese sigbaar nie. Selfs die mees reine engelgeeste kon die Godheid nooit anders gesien het as `n son nie (Die geistige Sonne, deel 2/13:7). In Sigself en op Sigself is God egter van ewigheid af aan `n mens (Die Groot Johannes evangelie, deel 6/88:3) na Wie se ewebeeld die mens deur Hom geskape word. (Genesis 1:27. Die Huishouding van God, deel 2/139:20 en 138:26. Aarde en maan 54:9. Die Groot Johannes evangelie, deel 1/1:13-16; 2/144:4; 4/88:7; 5/70:3; 6/135:1 en 230:6; 7/121:3 en 219:11; 8/24:6; 9/58:7)
[10] Na die val van Lucifer, toe die materiële wêreld hom manifesteer het, was die geestelike son weliswaar geskape as setel van die Godheid; maar ondanks alles was dit nie as `n op sigself staande konsentrasie op te neem nie. Die lig was in die geestelike wêreld orals, en die geestelike son het vir die liggaamlike mens, solank sy siel aan die liggaam gebonde was, vóór My aardse lewe nie sigbaar geword nie. Die sigbaar word daarvan was `n bekroning van die geloof van die geestelike wesens; want eers vir hulle was die son sigbaar - maar nou ook vir die mens wat in My glo, sodra sy geestelike oog geopen word, omdat die mens Jesus op elke oomblik Sy hele ryk kan onthul aan almal wat in Hom glo.
[11] Nou is dit nog die vraag: Waarom vind mens in die ou gelowe dieselfde grondtrekke?
[12] Vir iemand wat hierdie onthullings begryp het, sou dit maar net verwonderlik wees as dit nie so was nie; want as hierdie ou gelowe voorlopers was van die leer van die Menseseun en Elohimseun, dan moes hulle ook die grondtrekke daarvan bevat; hulle kon geen dinge bevat wat daarvan verskil nie. Dat die lewe van die afsonderlike leraars wat opstaan, ook ooreenkomste vertoon met die van My, berus op dieselfde grondslag.
[13] As die Oud-Egiptiese geloof geheel en al bekend sou gewees het in haar oudste grondtrekke, wat deur die latere godekultus slegs vervaag na die huidige tyd gekom het, dan sou mens gesê het: Die Christelike geloof is aan die ou Egiptiese geloof ontleen - so sterk lyk hulle na mekaar, veral wanneer mens die wesenlike trekke van Osiris, Isis en Horus noukeurig in hulle aanvanklike oerbetekenis sou ken.
[14] In hoeverre het Ek egter geslaag om die boom van sondes te breek en nie net deur die blaredak heen te breek nie?
[15] In die eerste plek moet elkeen hom eers goed afvra wat dit wil sê om te "sondig"!
[16] Menigeen sal sy antwoord vinnig gereed hê en sê: Sonde is alles wat in stryd is met God se wil! - Dit is wel waar. Maar wat is God se wil eintlik, en hoe herken die mens dit, as hy nie eers in God glo en nog baie minder Sy wil erken nie?
[17] Dan moet daar vanuit die menslike lewe geoordeel word. - Sondig teenoor God kan niemand, as hy Hom nie leer ken het nie. Netso min as wat iemand hom sal vererg vir `n blinde wat beweer dat daar geen lig is nie, net omdat hy dit nie sien nie, sal God druk uitoefen op diegene wat Hom uit onverstand nie ken nie. Maar `n blinde kan wel sy buurman of iemand anders - wat hy weliswaar ook nie sien nie, maar wel hoor en voel, en wie se dadelik voelbare weldade hy kan ontvang - beledig, wanneer hy hom op die een of ander manier teen hom verset. Hy kan teen sy liefde sondig; want ondanks sy blindheid kan hy hom nie afsluit vir die feit dat die een bestaan nie.
[18] So is dit ook met `n geestelike blinde, wat baie seker teen die gebod van die naasteliefde kan sondig, ook as hy God nie ken nie. Die naasteliefde is die weg na die liefde tot God - dit is al baie uitgelê.
[19] Omdat die mens Jesus die gebod tot in die kleinste toe vervul het, en wel vanaf Sy jeug, groei in Hom ook die liefde vir God, sodat Hy ten slotte daarin kon opgaan. Die sonde het geen mag oor Hom gehad nie; want Hy streef daarna om van die aanvanklik sigbare weg van die naasteliefde, wat Hy kenbaar maak deur uiterlike werke, tot die innerlike, onsigbare weg in die liefde vir God te kom.
[20] God het Adam `n gebod gegee: Onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Hy minag dit en val. Die mens Jesus gee uit liefde vir God aan Homself die gebod om niks sonder die wil van die Vader te doen nie, en daardeur word hy die ligtende voorbeeld ter navolging. Hy verwerf dus in homself die vlak wat Adam nie verwerf het nie, en op die manier versoen Hy in sigself die Godheid, wat in Haar gewydheid gekwets was deurdat die gebod nie in ag geneem was nie.
[21] Die Wysheid het die gebod gegee; die Wil, die Krag het die vervulling daarvan verlang; die Liefde het die weg gevind om in die mens Jesus die voorwaardes te vervul wat noodsaaklik was om die vroeëre toestand van saligheid vir alle skepsele terug te bring. In die feit dat hierdie weg, wat direk na God lei, nou geopen is, en in die feit dat hierdie weg deur die Menseseun Jesus vervul was, wat daardeur tot Elohimseun geword het, is die verlossing geleë. Die sterf van Jesus is die beseëling van die onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Dit was nie noodsaaklik nie; maar omdat die mensdom dit met haar onbegrensde vrye wil deur Lucifer se invloed verlang het, onderwerp Jesus Hom ook aan hierdie eis en sterf Hy liggaamlik.
[22] Die verval van die een sonde in die ander bring `n steeds groter hardheid van die siel voort. Om die toestand uit te druk, spreek mens van versteende harte. Hoe ver dit kan gaan, is onafsienbaar. Die materie, die uiterlike lus, groei steeds meer, en vanselfsprekend verdwyn die bewussyn van `n geestelike steeds meer daarmee – wat die wesenlike kern van die siel is. Die verharding lei uiteindelik tot `n dierlike toestand, wat enkel en alleen nog maar instandhouding en voortplanting ken, sonder innerlike, geestelike vryheid. Slegs `n suiwer geestelike leer bied verlossing uit so `n toestand, wat tot `n sedelike bewussyn van die menslike waardigheid lei, en die leer word gegee in `n nie mis te verstane beknoptheid en in die grootste moontlike duidelikheid. Die opvolg daarvan laat die kettings van die materie afspring, maak die bande van die aardse genotsug los en lei ten slotte die materiële wense en begeertes na `n toestand van suiwer gewaarwording, as die ken van die kwaad, maar nie meer die ten uitvoer bring van die kwaad nie, omdat die eie ek steeds meer wegsmelt, terwyl die ek (egoïsme) andersins steeds meer uitgroei. Hoe meer dit verdwyn, des te losser (minder hard) word die boeie van die materie, om ten slotte nie meer as boeie gevoel te word nie.
[23] Die boom van die sonde word en kan dus slegs deur Jesus gebreek word, omdat Hy in Homself die Gees van God omsluit, wat reeds aan Adam die gebod gegee het, sonder dat hy dit uitgevoer het.
[24] Nou sal mens sê: Maar waar lê nou die bewys dat dit so is, en het die vroeëre leraars nie dieselfde volbring nie? Want wat hier gesê is, is onttrek van die menslike oog, dit is `n innerlike proses, waaroor niemand anders as Jesus self kan berig nie, terwyl die uiterlike proses, die optree van `n voortreflike leraar en die se lewe en goeie leringe en ook sterwe, al baie voorgekom het. Hoe is die boom van die sondes nou werklik deur Jesus gebreek en het die ander leraars net deur die blaredak gebreek? Van die uiterlike gevolge daarvan in die wêreld is nie veel te merk nie, want die sonde bloei in die huidige tyd soos nog nooit tevore nie - en anders as deur uiterlike kentekens kan die mensdom tog nie beoordeel nie!
[25] Ja, dit lyk of dit op die eerste oogopslag wel so is, maar by nadere beskouing - tog nie!
[26] Elkeen wat die innerlike weg gaan, sal weldra gewaarword hoe dit in werklikheid is. Die buitekant sê heeltemal niks; want dit is `n holle noot. Wie die innerlike weg nie wil gaan nie, is nie te oortuig nie en aan hom kan netso min `n beeld van die weg gegee word, soos wat dit onmoontlik is om vir `n blinde enige begrip van kleure by te bring. Hier beslis die resultaat. Die weg is daar; betree hom - en oordeel dan!
[27] Sonder My kan niemand tot die Vader kom nie, en sonder die geloof in Jesus het ook nog geen enkele wyse ooit die almagtige wese van God gevoel as die Oerbron van alle liefde nie, wat Hom persoonlik kan manifesteer. Slegs in Jesus word die onpersoonlike persoonlik, en die vereniging van hierdie twee in die menslike vorm maak die nadering moontlik van die skepsel tot die Skepper, die opgaan van die materie in die gees, die terugbring van die ontstane sondereeks opwaarts verby die skeidingswand van materie en gees, as punte wat mekaar andersins onmoontlik kon raak - en die brug is die lewe van Jesus.
[28] Nou ontstaan dus die vraag: hoe ver kon die gestorwe siele vóór die dood van die Menseseun eintlik gekom het?
[29] Hulle kon natuurlik, na gelang hulle `n gegewe leer gevolg het van die leraars wat al vroeër opgetree het, tot insig en ook tot saligheid in hulleself kom, maar natuurlik nie tot die aanskoue van die gepersonifieerde Godheid nie.
[30] Die het vir die eerste keer gebeur gedurende die tyd toe die liggaam van Jesus in die graf gelê het. Die suiwer aardse liggaam het daar gelê, terwyl die siel met die inwonende Gees van God oorgegaan het en Hom daar aan almal getoon het as dié Een wat Hy is en was.
[31] Dit sal hier net aangedui word. Later sal egter ook onthul word wat daar presies gebeur het.
[32] Met die sig-openbaring in die geesteswêreld ontstaan die bou en die bevolking van die nuwe Jerusalem as die stad van God, en dit sal tot in ewigheid bly bestaan.