Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 67

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Jesus in die tempel

67 Die fariseërs, priesters en dienare van die tempel het intussen baie in opwinding gegaan en hulleself afgevra wat hulle met hierdie groot betoging moes doen. Dat dit onmoontlik was om dit met wapengeweld te onderdruk, het hulle baie vinnig ingesien, omdat daar dan onmiddellik `n oproer sou ontstaan teen die alreeds ongeliefde tempelbedryf. Die volk het in `n roes van geesdrif verkeer waarteen niks met geweld te bereik was nie. Daar het dus vir hulle niks anders oorgebly as om alles voorlopig maar te laat begaan, om dan by `n onvoorsiene ommeswaai moontlike voordeel vir die aansien van die tempel daaruit te haal.

[2] Veral die hoëpriester Kajafas raai in `n vinnig byeengeroepte raad aan dat hulle moes afwag om te sien wat Ek eintlik van plan was om te doen en waarheen Ek die hele beweging wou stuur. As Ek Myself tot koning wou laat uitroep, sou die mag van die Romeine hulle baie vinnig bystaan, maar as Ek dit op die tempel en die dienare gemunt het, sou Ek ook maar weinig kon doen, sonder om die volk vertoornd te maak, omdat die volk nie hulle geloof in JaHWeH sou laat ontneem nie. Voor alles het dit nog daarop aangekom dat hulle moes wag en slim gebruik moet maak van alle uiteindelike foute van My kant af.

[3] Die priesters self besluit egter om hulle nie te laat sien nie, maar die tempel juis wyd oop te maak, sodat die gewydheid daarvan tot die volk sou spreek. Vinnig word alle poorte dus geopen, en ook die Heilige word nie afgesluit nie - die ruimte wat geen Israeliet sonder voorbereiding mag betree nie en waar ook geen priester sonder spesiale seremonies, gebed en voorafgaande wassing binnegegaan het nie.

[4] Die tempeldienare kry vinnig die opdrag om die verkopers in die voorhowe van die tempel, wat weer in groot getalle gekom het, My koms mee te deel, omdat `n ergerlike toneel, soos wat Ek hulle al voorheen besorg het, vermy moes word. Maar die voorsorg het te laat gekom, want nouliks het die geldwisselaars en allerlei verskillende verkopers, waaksaam geword deur die geskreeu buite die mure, en gehoor wat daar aan die gang was, of hulle pak, met My vroeëre daad nog goed in hulle geheue, baie vinnig hulle goedere bymekaar en verlaat die gebou byna vlugtend met hulle koopware.

[5] Hierdie tweede reiniging van die tempel, wat nie direk deur My optrede plaasgevind het nie, het aanleiding gegee tot die misverstand dat die eerder gesketste tempelreiniging by My intog plaasgevind het, terwyl dit tog baie vroeër gebeur het, naamlik by die begin van My amp as leraar. (Matthéüs 21:12-13)

[6] Toe die volk nou met baie geskreeu die tempel binnegedring het, soek hulle veral na die priesters; veral wou die mense dat die hoëpriester Kajafas My met heilige salfolie tot koning sou salf, waarna hulle My na die Sionsvesting wou bring om My in te huldig. - Maar die priesters was nie te vinde nie. Ongehinderd dring die volk deur die voorhowe die heiligdom binne.

[7] Die van My kom besorg om My heen staan, omdat hulle sien en hoor welke bedoelings die volk met My gehad het, en Petrus vra besorg aan My: "Heer, wat moet daarvan word, wil U Uself hier tot koning van Israel laat uitroep?"

[8] Ek sê dat hy moes swyg en gebied die omstanders om plek vir My te maak, om ongehinderd die tempel te kan binnegaan, nadat Ek al vroeër van die lasdier afgeklim het.

[9] Die volk gehoorsaam, en gevolg deur baie volk betree Ek deur die howe die binnenste heiligdom, betree die Heilige self en loop na die groot offeraltaar en beklim die treë daarvan.

[10] Hier mag, volgens die reëls van die tempel, die gewone volk nie gevolg het nie, maar hulle moes buite in die gange bly staan, van waaruit hulle die priesterlike handelinge in die Heilige kon aanskou.

[11] Die fariseërs en tempelowerstes het die lig ontvlambare stemming van die volk korrek beoordeel; want terwyl hulle nie vooraf daaroor nagedink het om die priester te dwing nie, indien hy hom nie bereidwillig sou betoon nie, was daar nou deur die indruk wat die plek self gemaak het, terwyl deur die afwesigheid van alle priesters geen persoonlike vyandigheid moontlik was nie, op die algemene opwinding `n indrukwekkende stilswye gevolg, in afwagting van wat Ek sou onderneem. Ek het Myne ook beveel om agter te bly, en so het Ek nou alleen daar gestaan, gesien deur die hele menigte.

[12] Met harde stem het Ek nou tot die volk gespreek: "Die uur het nou gekom wat elkeen aan homself sal moet ervaar waarheen die weë lei wat mense tot nou toe betree het en elkeen sal moet besluit of hy na die Vader wil of nie. Julle het My hier na die huis gebring, waar die Gees van God vroeër sigbaar gewoon het; maar nou het Hy uit hierdie mure gewyk, en die plek het leeg geword. Maar Hy het nou `n ander plek gekies, en elke mens kan nou vir homself `n tempel bou as hy handel volgens My woorde en My leringe wat Ek julle gegee het.

[13] Laat elkeen gedra word deur die nederigheid en dan regstreeks die geboude huis van God binnegaan, wat leeg geword het, maar opnuut gevul moet word met dade van liefde. Elke daad van liefde is `n bousteen vir die tempel, en die tempel sal gekroon word met die teken van Wysheid en Krag, as slegs die Liefde die fondament daarvan vorm. Ek het na julle toe gekom, sodat julle van My hierdie Liefde kan leer, wat julle geminag het - nie die eieliefde wat julle wel het nie, maar die liefde vir die naaste, wat julle nie het nie, maar wat julle egter sal vergoddelik en as enige tot God sal bring.

[14] As julle egter glo dat Ek julle koning is en dat Ek dit wil wees, weet dan dat My ryk nie van hierdie wêreld is nie, maar dat dit in alle heerlikheid in die mens woon en die erfdeel vorm wat die Vader aan die Seun en deur Hom aan alle mense op aarde en alle hemele gegee het. Dink dus nie dat Ek die vesting van Dawid sal binnegaan om `n aardse ryk te stig nie! Wie My wil volg, moet My in My dade navolg, dan sal hy salig word. Die Seun is uit die Vader, en omdat Hy uit die Vader is, is Hy in Hom en die Vader in die Seun, en wie die Seun volg, volg daardeur ook die Vader.

[15] Bring almal na My toe wie se liggaam en hart gebroke is, dan sal Ek hulle genees, sodat hulle gesond kan word! Maar hulle wie se verstand gebroke is, sal hulle vir My vererg en dit sal Ek nie kan genees nie; want wie aanstoot neem aan My, is vol ergernis en hoogmoed en mis die liefde, omdat dit hom onverstandig en hard toeskyn. Ek wil julle harte genees en daardeur julle siele en liggame; want slegs in die hart woon die geloof, en waar sy nie woon nie, heers duisternis. Want die geloof wat uit insig gegroei het, is `n lig wat elke duisternis verjaag. Glo dus in My en in die Vader, sodat julle sien en die duisternis van julle wyk!

[16] Waarlik, Ek sê vir julle: Sonder hierdie ware geloof sal niemand salig kan word nie! Maar Ek het julle gesê wat en waarin julle moet glo. Handel dus volgens My woorde, soos Ek volgens hierdie woorde van My gehandel het! Almal sal dan kan doen wat Ek gedoen het, en dan sal daar niemand meer op aarde wees wat kan sê dat die weë om die saligheid te bereik, ontoeganklik vir hom is nie.

[17] Maar om julle te laat sien wat die krag van die Vader in die mens tot stand kan bring: bring My die siekes wat aan hulle liggame ly, sodat Ek hulle kan genees!"

[18] Na hierdie woorde klim Ek van die altaar af en begeef My na die voorhowe, waar baie siekes gelê het wat wou offer en gehoop het om deur die gebede van die priesters gesond te word - wat vernaamlik met Pasga `n algemene gebruik was, egter meestal slegs vir diegene wat `n offergawe in goue munte kon gee, want andersins verleen die priesters geen voorrang aan so `n sieke nie. Menigeen skraap dus sy laaste besittings bymekaar om die laaste poging aan te wend om sy gesondheid te verkry, en daarna verlaat hy die tempel, sonder om sy gesondheid te gekry het.

[19] Na hierdie siekes gaan Ek, en Ek vra hulle baie ernstig: "Glo julle dat die God van julle vaders julle kan genees, as julle Hom daarom vra? Of dink julle dat julle deur menslike hulp gesond kan word?"

[20] Toe roep vele wanhopige siekes: "Heer, slegs God kan ons help, en hier in die tempel is ons beslis die naaste aan Hom!"

[21] Maar ander swyg, en Ek vra dus ook aan hulle wat hulle mening was.

[22] Daarop antwoord één van hulle My (`n sieke): "Heer, daar is vir ons gesê: As die hoëpriester nie by God in die Allerheiligste vir ons bid nie, sal ons nie gehelp kan word nie; want slegs hy is die voorspreker by God! Ons moet dus wag totdat dit gebeur!"

[23] Daarop sê Ek: "Glo julle dan nie dat God na elke mens toe kan kom nie, as hy Hom maar daarna vra nie? Waarom is `n middelaar daarvoor nodig? - Glo, dan sal ook julle gehelp kan word!"

[24] Toe sê die eerste spreker weer: "Heer, ons glo immers wat ons gesê is, en tog is ons nie gehelp nie! Wat moet ons dan nog meer glo?"

[25] Ek antwoord: "Julle moet glo dat God, die Vader van ewigheid af, oneindig goed is en na elkeen toe kom wat Hom in alle erns sal aanroep! Julle moet glo dat God nie eers mense nodig het om aan hulle Sy Krag te stuur nie, maar dat die krag deur elke mens deur sy liefde tot God aangetrek kan word, hom dan in die mens ontplooi en in werking gestel kan word! - Ken julle hierdie geloof?"

[26] Terwyl die sieke My strak aankyk, sê hy: "Heer, ek glo dit, omdat U dit vir my sê; want soos U het niemand nog met ons gespreek nie!"

[27] Ek sê: "My "woorde is die waarheid, en omdat hulle die waarheid is, is hulle ook die lewe en die krag van die lewe. Ek het as mens steeds daarvolgens gehandel, en Ek het `n Heer van die lewens geword. Daarom sê Ek aan julle almal: Gaan heen en doen netso, maar sondig nie weer nie, nóg in woorde nóg in werke! Sondig nie meer nie, deur niks te doen wat in stryd is met die liefde tot God en die naaste nie, dan sal julle gesond bly en ware meesters van die lewe word! - Staan op en loop!"

[28] Na hierdie woorde verdwyn alle kwale uit die liggame van die siekes, en hulle staan op, gesond en sterk van liggaam. Die volk wat daaromheen gestaan het, bars weer uit in harde geroep en juig en loof My hemelhoog. Vele val voor My neer en probeer My hande en klere te gryp om dit te soen. Ek weer hulle nie af nie, maar laat almal na My toe kom.

[29] Vele wil nou nogmaals `n poging aanwend om tot die hoëpriesters deur te dring, om hulle voorneme uit te voer om My te salf; maar die het hulle so goed verberg dat daar geen spoor van hulle te ontdek was nie, en daarom keer die afgesante weldra onverrigter sake terug.

[30] Toe hierdie na My toe deurdring om My stormagtig te omring, gebied Ek hulle om kalm te wees en sê aan hulle wat so op `n koning belus was: "Sê eers, kan iemand wat voor God staan as `n draer van God se Krag, op aarde nog hoër geplaas word as wat hy al voor God staan?!"

[31] Die aanvoerder van die skare sê ietwat onthuts: "Heer, hyself waarskynlik nie; maar diegene wat Hom aanhang wil tog `n sigbare teken van Sy mag hê - ook na buitentoe, sodat die volk onder Sy magtige hand gelukkig sal wees en nie uitgepers word nie!"

[32] Ek sê: "Toe Samuel op uitdruklike wens van die volk vir Saul tot koning gesalf het - wat het die volk daardeur gewen? Beslis geen vrede en rus nie, maar stryd en onrus. En waarom? Omdat die mense die sagte juk wat die Heer hulle na gelang van hulle handeling opgelê het, moeg geword het en na die kragtige hand van `n sigbare heerser gestreef het. Dit het verder ook nie aan konings ontbreek nie, en ook nou het julle in Herodus `n koning gekry. Glo julle nou dat `n nuwe koning, wat julle in My soek, julle vrede sou bring, as hy ook `n uiterlike, magtige koning moet wees? Herodus en die Romeine sou al sy aanhangers en hom self ten gronde probeer rig. Daar sou ellende, oorlog en nood opgeroep word, as Ek julle aardse koning sou word. Maar hoe sou dit rym met My leer: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself!", as Ek oorlog en moord vir julle sou bring?! Laat dus die uiterlike weg by My - My ryk is nie van hierdie wêreld nie - en vestig in julleself die egte ryk van vrede; daar wil Ek steeds graag julle koning wees en bly!"

[33] Na hierdie woorde wend die koningsgesindes hulle wrewelig van My af en sien dat Ek geen held was nie, van wie die volk Israel ook na buite geen heil sou kon verwag nie.

[34] Die koningskreeuers begeef hulle nou onder die volk in en verberg nie hulle wrewel oor My afwysende woorde nie. Tog keer die orige volk hulle geensins daardeur van My af nie, omdat My dade `n te groot indruk op hulle gemaak het om My onmiddellik te laat val, vanweë die feit die Ek dit afgewys het om koning van die Judeërs te wil wees.

[35] Na die geweldige opwinding word die stemming onder die volk nou rustiger, en sowel Ek as My leerlinge maak gebruik daarvan om My leringe nogmaals aan vele uiteen te sit. So ontstaan daar nou afsonderlike groepe, wat verspreid in die voorhowe van die tempel gestaan het.

[36] Toe gebeur dit dat daar twee Grieke bykom, wat eweneens na die fees gekom het, maar wat nie aanwesig was by die begin van die hele gebeurtenis nie. Dit was egter vir nie-Judeërs verbied om die inwendige heiligdom te betree, waarvoor daar by die grens, tot waar die nie-Judeërs mag gekom het, waarskuwingsborde aangebring was. (Johannes 12:20)

[37] Die Grieke sien vir Philippus by die grens staan en sê aan hom dat hulle Jesus graag wil sien en so moontlik wou spreek. Philippus durf die twee egter nie na My toe bring nie, omdat hy gevoel het dat die verbod in ag geneem moes word. Daarom sê hy dit aan Andreas, en beide kom na My toe, terwyl Ek in `n kring staan van vele toehoorders wat na My woorde luister, en lê My die versoek van die twee Grieke voor, en sê ook dat hulle vanweë die volk nie na My toe durf kom nie. Toe sê Ek aan hulle dat hulle die Grieke na My toe moes stuur. Beide gaan nou weg om dit te doen. Maar tog was die Grieke te bang om die verbod te oortree, en daarom bly hulle by die grens staan. (Johannes 12:21-22)

[38] Die tempeljode, priesters en fariseërs het nou gemerk dat daar `n baie rustiger stemming gekom het, en enkele van hulle het hulle verkleed onder die volk begeef om te spioeneer hoe dit nou daar staan. Vinnig het hulle met die koningsgesindes, wat nou baie ontstemd was met My, gemene saak gemaak om die volk teen My op te steek en `n vyandige stemming op te roep. Een van die verklede opruiers het nou ook digter teen My gestaan en spreek dadelik die omstanders ontstemd toe, hoe Ek heidene kan sê dat hulle die Judese heiligdom kan betree en dit op die manier onrein te wil maak. Was dit dan die Messias, wat Ek tog wil wees, waardig om heilige gebruike te minag?! Sommige, vir wie My versoek aan die heidene ook nie geval het nie, val saam met die spreker in, sodat daar `n gemompel ontstaan het.

[39] Ek merk dit baie goed op en sê aan Johannes en Laserus, wat steeds naby My gebly het, netsoos aan die ander leerlinge: "Nou het die tyd gekom dat die Seun van die mens verheerlik sal word; want nou het Hy Homself geheel en al oorwin. Waarlik, waarlik, Ek sê vir julle: As die koringkorrel nie in die aarde val en sterf nie, bly hy alleen; maar as hy sterf, lewer hy vele vrugte op. (Johannes 12:24) So sal ook My handeling wat julle nou sien, vele vrugte oplewer."

[40] Met `n verwysing na die Grieke, wat eerbiedig `n endjie verder gestaan het, spreek Ek nou hardop: "Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; en wie sy lewe op hierdie wêreld haat, sal dit ontvang vir die ewige lewe. As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, sal My dienaar ook wees. En wie My dien, sal deur My Vader geëer word." (Johannes 12:25-26)

[41] Die spreker nou, wat voorheen al saggies ten nadele van My gespreek het, stook nou weer verder deur te sê: "`n Mooie Messias is die, wat heidene en elkeen uitnooi om Hom te dien, omdat die Vader Hom eer! Wie is Sy Vader eintlik? Ek bedank daarvoor om my lewe te haat om `n onbekende, ewige lewe te ontvang; dan is die bekende my tog beter!"

[42] Op soortgelyke wyse trek ook die ander verklede tempeljode party teen My en probeer omsigtig die volk teen My op te rui.

[43] Maar My siel voel nou dat My uur geslaan het, en word verdrietig vanweë die lyding wat ophande is, omdat die volk so wankelmoedig was; daarom sê Ek aan My onmiddellike omgewing: "Nou is My siel bedroef. En wat moet Ek sê? Vader, help My uit hierdie uur? Maar daarvoor het Ek vir hierdie uur gekom. O Vader, verheerlik U Naam!"

[44] Toe klink daar `n stem soos uit die hemel, wat egter in werklikheid weerklink het in die harte van almal wat nog enigsins tot `n geestelike lewe te wek was: "Ek het Hom verheerlik en sal Hom nogmaals verheerlik!"

[45] Diegene wat hierdie innerlike beroering gehoor het, sê nou, na gelang hulle gees ontwaak was: "Dit donder", en ander sê: "Daar het `n engel met Hom gespreek."

[46] Geeneen van hulle het egter die stem in hulleself gevoel nie, maar het dit buite hulle geplaas, na gelang hulle gewek was.

[47] Daarom sê Ek aan hulle: "Hierdie stem het nie terwille van My geklink nie, maar terwille van julle; want nou gaan die oordeel oor hierdie wêreld. Nou word die vors van die duisternis, wat `n vors van hierdie wêreld was, uitgestoot. Daar staan niemand meer tussen die Vader en Sy kind as alleen die Seun van die mens nie. En wanneer Ek verhoog sal word van die aarde, sal Ek hulle almal na My toe trek, sodat hulle tot die Vader kan kom."

[48] Toe antwoord die spreker weer, en enkele wat hom goedgesind was: "Ons het in die wet gehoor dat die Messias ewig bly. Hoe kan Jy dan sê dat die seun van die mens verhoog moet word? Wie is die menseseun oor wie Jy spreek? Kan iemand nog hoër styg as wat hy ewig is en Sy ryk vir ons bring?"

[49] Nou antwoord Ek hulle, omdat Ek goed kan insien hoe My woorde steeds deur hierdie verstokte verdraai word: "Die Lig is nog `n kort tyd by julle. Wandel terwyl julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie! Wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy heengaan nie. Glo in die Lig, solank julle dit nog het, omdat julle kinders van die Lig is en geen kinders van die duisternis word nie!"

[50] Nadat Ek hierdie woorde gespreek het, wend Ek My van hierdie groep af, en ons gaan na die voorhowe van die heidene, die uiterste grens tot waar die nie-Israeliete mag gekom het. (Johannes 12:27-37)

[51] Die priesters en tempelowerstes was intussen egter noukeurig op hoogte van die feit was dat die volk rustig geword het, en dat Ek geweier het om `n openlike staatsgreep te pleeg om My tot meester en koning te laat uitroep. Verder wis hulle dat daar as gevolg daarvan nou op die oomblik sommige wrewel geheers het, en vinnig probeer hulle om die stemming te benut. Alle priesters en Leviete word vinnig ontbied om `n skitterende stoet te vorm. Basuinblasers loop vooruit, en heroute verkondig aan die volk dat die hoëpriester van JaHWeH bevel gekry het om `n groot, uitsonderlike soenoffer te bring vir die sondes van die volk, omdat JaHWeH die volk barmhartig gesind was en Hy alle sondes sal vergewe wat die volk die laaste halfjaar begaan het. Met alle skittering en groot feesvertoon trek die skare op, en Kajafas self verrig die offer op die groot brandaltaar van die tempel.

[52] Deur hierdie handeling bereik die tempel sy doel; want die volk het nog sterk aan ou seremonies en aan alles wat van die tempel uitgaan, gehang. So word daar op die gemoedere `n sterk teenkrag uitgeoefen, wat `n diep indruk maak deur sy uitsonderlikheid, en nog binne `n halwe dag was daar van die buitengewone opwinding van die volk, wat deur My intog ontstaan het, niks meer te bespeur nie. Die tempel betoon hom toe baie barmhartig op hierdie dag en die volgende dae: daar word in die voorhowe aan vele armes voedsel en geld gegee, daar word gebede opgesê en al die moontlike gedoen om `n goeie stemming teenoor die tempel en sy verteenwoordigers op te wek en op die manier die vreeswekkende gevaar, wat deur My invloed gedreig het, af te wend.

[53] Die skitterende stoet kom na vore op die oomblik wat Ons die voorhowe bereik het. Vol nuuskierigheid keer elkeen hom na die ongewone skouspel, en Ons maak van die oomblik gebruik om ongemerk die enorme gebou te verlaat, om weer na die huis van Laserus te gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205