Die wedergeboorte van die siel
50 Die volgende dag kom Simon Petrus na My toe en sê: "Majesteit en Heer, ons sien nou almal baie goed in dat ons verkeerd gehandel het, aangesien God self sekerlik nooit die hulp of sorg van mense sal nodig hê nie; maar tog is dit vir ons tot nou toe nog steeds nie so duidelik hoe dit is dat U liggaam soms in `n soort tydelike onafhanklikheid van U innerlike gees kan verkeer, sodat dit ook in U woorde klink asof U nou eers die ewige Gees van God in persoon self is, maar dan weer asof U liggaamlik mens geheel en al onafhanklik en slegs by tyd en wyle van Hom deurdring is! Ons raak daarby steeds in `n bepaalde tweespalt in ons sienswyse, wat U ons seker sal vergewe, omdat ons U immers vas aanhang en in U glo, maar U in U innerlike natuur tog nog nie heeltemal begryp nie. Hoe is dit nou eintlik daarmee gestel!"
[2] Ek sê aan hom: "My beste Petrus, jy en ook jou broers begryp baie dinge nog nie, omdat julle nog nie in julleself die geestelike vlak bereik het om die op sigself tog eenvoudige proses te kan begryp nie, wat Ek tog al genoeg vir julle uitgelê het. Maar julle is nou hier om self te ondersoek wat vir julle nog onduidelik is aan My.
[3] Waarvoor het dit nut om julle steeds te wys op die verskil tussen die Menseseun en die Elohimseun, as julle nie in staat is om by julleself die verskil te ken en te voel tussen die geestelike en die liggaamlike mens nie?
[4] Eers wanneer julle volledig in die liggaam wedergebore sal wees, sal hierdie vrae tot julle volle tevredenheid opgelos wees; julle almal het daartoe reeds belangrike stappe gedoen, sodat die doel vir julle nie meer veraf is nie. Tog is dit nog nie heeltemal bereik nie.
[5] Maar beantwoord nou `n paar vrae vir My, sodat julle die belangrike punt beter kan leer begryp!
[6] Ten eerste: hoe belewe julle jul denke en gevoel? Is dit uiterlik of innerlik, dit wil sê: Kan julle `n vraag wat aan julle gestel word, maar net beantwoord omdat julle met julle geheue die antwoord van julle leraar geleer het, of beantwoord julle eie innerlike ek die vraag deur gevolgtrekkings te maak?
[7] Julle sal sê: "Dit kan albei!" As die mens nou maar net `n masjien was, wat ook voorsien is van `n selfbewuste siel, dan sou hy alleen uiterlik kon dink, dit wil sê dat hy deur indrukke van sy geheue kennis kon verskaf wat alleen deur onderrig aangeleer is, ongeveer soos wat `n mens `n dier afrig. Die kom tot `n gevolgtrekking is egter dat die siel vrae stel aan `n in die mens lewende, innerlike prinsiep, wat antwoord gee op gestelde vrae, as die gees ook in die siel as sodanig leef en, soos Ek julle al baie gesê het, volmaak is. Daarom kan daar in die innerlike van die mens ook `n werklike spel van vraag en antwoord ontstaan.
[8] Mens sal sê: "Ja, as die gees volmaak is, waarom kom daar dan baie sulke buitengewoon dwase gevolgtrekkings te voorskyn? Gee die gees dan nie altyd die regte antwoord nie?"
[9] Dit doen die gees wel; maar omdat hy in die eerste instansie in die mens die lewensbeginsel van die siel is, kan sy, omdat sy selfbewus is, ook ooreenkomstig haar eie wese soos `n spieëlbeeld handel. Presies soos `n egte spieëlbeeld sou sy nie kon ontstaan het sonder dat daar `n objek aanwesig is wat volkome aan haar gelyk is nie, so kan ook die siel haar oordeel maar net self te kenne gee, wanneer dit as refleksies van haar gees uitgaan. Maar soos `n spieëlbeeld alles omgekeerd weergee, presies teengesteld aan die objek, en tog waar is, so gebeur dit ook hier, solank hulle beide nie probeer om in mekaar in op te gaan nie.
[10] Slegs `n mens wat sy gees in soverre in homself gewek het, dat sy siel geen aardse, omgekeerde refleksies meer weerkaats nie, het die wedergeboorte bereik en staan in die volledige waarheid. Natuurlik is dit nie maklik om die grense te deurbreek nie, omdat die aards ingestelde siel deur die materieel-aardse liggaam sterker aangetrek word as deur die gees, wat sy slegs swak voel en waarvan sy die werking graag as haar eie werk aanneem, as sy nie geleer het om die onderskeid te maak nie.
[11] Om hierdie grense te deurbreek is My en julle taak, netsoos van al My volgelinge - en die weg daarheen vind julle deur julle innerlike gees, wat julle tot spreek en dien moet bring. Hy alleen is die enigste egte leraar, omdat hy saamhang met die algemene Gees van God en in die kleine `n afbeelding daarvan is, en derhalwe alle waarheid alleen daaruit put.
[12] As die siel haarself nou volledig ondergeskik gemaak het aan die wese van haar gees en sy daardeur in aardse opsig geen begeertes meer het nie, sodat sy enkel en alleen nog na die geestelike streef en derhalwe as selfbewuste siel in die geestelike opgegaan het, dan het die meer voltooide mens `n vlak bereik wat deur die Indiese wyses as "Nirvana" aangedui word, `n toestand dus waarin elke wil wat gebaseer is op vleeslike, aardse neigings tot niet gedoen is, en elke lewe in die vlees as materiële bestaan, uitsluit. Die toestand is in die materiële lewe moontlik en moet selfs bereik word sodat die totale vrede sy intrek kan neem in die menslike hart.
[13] Hierdie wedergeboorte van die siel het julle nou byna bereik. Anderkant in My ryk is daar, wanneer Ek opgevaar sal wees, egter nog `n ander wedergeboorte: Dit is die van die gees, wat dan bestaan uit `n onlosmaaklike gemeenskap met My. Dan heers daar die hoogste geluksaligheid van die kinders in die Vaderhuis en vreugde wat geen menslike hart ooit kan vermoed nie, omdat dit puur en suiwer geestelik is, en waarvan julle vóór die tyd nog nie die kleinste glimp daarvan duidelik gemaak kan word nie.
[14] Streef dus eers daarna dat julle siel die wedergeboorte bereik, sodat julle siel kan leer om alleen nog maar met die oog van die gees te kyk en daardeur haarself en haar oorsprong steeds beter leer ken!
[15] Maar omdat Ekself, netsoos julle, al die treë in Myself as mens moet beklim - omdat Ek die Baanbreker is vir die mensdom, wat ondanks vele afgesante, altyd weer in dwalings verstrik het - sal julle ten slotte ook goed begryp dat Ek, om vir julle die opklim tot voleinding aanskoulik en duidelik te maak, nie anders kan praat as wat Ek nou doen nie!"