Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die ontwikkeling van die Judese volk

28 (Die Heer:) "Solank `n volk hom op die korrekte punt van die na buite strewende rigting bevind, is dit in My oë ook goed en sal hulle derhalwe uiterlik ook `n sterk en magtige volk wees, soos byvoorbeeld die Romeine nou, wat die aarde beheer.

[2] Nou verbaas julle julleself en dink: "Hoe is dit moontlik dat `n volk in God se oë goed kan wees, terwyl dit nie eers die geloof in God besit nie, maar in vele gode glo?"

[3] Wel, Ek sê vir julle dat dit op die oomblik weinig saak maak hoe die naam lui, as die innerlike voorstelling van die hart, waarmee die heerskappy van die Godheid erken en liefgehad word, maar waaragtig en eg is! 

[4] As `n Romein byvoorbeeld vas in sy heidense gode glo, hulle eer, en sy beste doen om `n korrekte lewenswandel vol regverdig­heid en afsku van die kwaad te lei, ooreenkomstig sy gewete en die ontsag vir die almagtige, hoogste kragte - dink jy dan dat hy, wat ware deugde nastreef, dan verdoem sal word, omdat hy in Jupiter of Minerva geglo het? Sekerlik nie, en dit sal maklik wees om aan hom die kennis van die God by te bring, wie se wese niks anders verlang as die gode wat hy tot dan toe vereer het, naamlik om sedelike volkomenheid te beoefen en na te strewe, soos wat julle dit self by baie Romeine waargeneem het.

[5] Ek sê julle daarom: Kyk altyd na die hart van `n mens, en laat dit julle in die eerste instansie nie uitmaak hoe die liefde van die mens jeens God tot uitdrukking kom nie!

[6] Rome het magtig geword, omdat dit die Romeinse wette is wat die beste bodem vir My komende ryk kan lê. En solank die Romeine strewe om daarvolgens te handel, sal hulle ook bly wat hulle is.

[7] Die na buite strewende volkere sal daarom ook geoefen wees in die korrekte wilskrag en taaiheid van die liggaam; die na binne strewende volkere besit meer die taaiheid en die vashou aan dit wat van oudsher oorgelewer is, wat julle goed kan sien as julle die Romeine en Judeërs met mekaar vergelyk.

[8] Die Romeine is daarom ook die volk van die verowering, van die neiging om hulle steeds meer uit te brei - die Judeërs is die volk van die behou, en vind dit selfs strafbaar om die tradisionele grense te oorskry. Deur die afsluit na buite toe is die Judese volk egter ook moeisaam opgevoed om die innerlike kern te bewaar.

[9] En met dieselfde taaiheid waarmee hulle tot nou toe aan die voorskrifte van Moses vasgehou het - wat weliswaar deur veel starre woordekramery oorwoeker is, maar dit tog in sigself waar en eg is - sou hulle selfs My nuwe woord presies bewaar, as hulle dit maar net wil aanneem. Deur die duisende jare lange opvoeding is hulle baie goed in staat om die waarheid van My leer te herken. Maar nou het hulle ook die korrekte middelpunt verlaat, en in plaas van om seëlbewaarders te bly, het hulle hardnekkig, verstok en ontoeganklik vir vernuwing geword - uit traagheid, waarin die deug van volharding omgeslaan het.

[10] Andere volkere, wat na buite strewe, sal later op soortgelyke wyse handel, maar dan teengesteld; want die uitdra na buite, om te versprei, verloor hulle maklik in onbestendigheid, oppervlakkigheid en sinnelike lus.

[11] As daar eenmaal `n standpunt bereik is wat aangetoon het dat die middeweg die gulde weg is, neem die volkere in later jare ook die weg die beste en sal nie meer heeltemal `n ander rigting inslaan nie, soos wat nou en ook later nog sal gebeur. Met die vrykom van die vele miljarde oergeeste, wat die weg deur die vlees sou afgelê het, sal daar ook `n baie ander verhouding tussen die geesteswêreld en die mensdom intree. Want hoe meer geeste die weg van die vlees voltooi het, des te meer neem hulle invloed toe op diegene, wat as mense hulle verandering van die sfeer van die wysheid na die sfeer van die liefde wil bewerkstellig.

[12] Dan ontstaan daar `n geweldige drang van diegene wat eweneens die voorneme het om die weg te voltooi, en `n soort sorg van hulle wat die weg reeds agter die rug het. Hand in hand met die gedrang sal en moet daar ook `n toename van die menslike geslag plaasvind; want die aantal leerlinge neem steeds meer toe, en `n ander skool as hierdie aarde is daar nie.

[13] Omdat die laaste so is, kon Ek nêrens anders as juis hier neergedaal het en ook weer nêrens anders as onder die Judese volk nie, wat in sy wet en sy voortskreidende ontwikkeling die saadkorrels dra waardeur alleen die vryheid van gees en wil kan ontwikkel. Maar omdat die saad deur die al te groot starheid van die volk gevaar loop om te verdroog en onvrugbaar te word, het Ekself gekom en Ek wek en bevrug dit tot een des te groter vermoë om nuut opbloeiende lewe voort te bring. 

[14] Of die Judeërs nou verder nog aanspraak sal maak op hulle taak as verdedigers en seëlbewaarders, ook van hierdie nuwe leer, lê by hulleself. Maar ook al bly hulle star en erken hulle My nie, dan bly hulle kragtens hulle jarelange skoling tog die uitverkore volk van God en kan te alle tye, ook in die komende duisende jare, netsoos die verlore seun, die weg na die Vaderhuis vind, en sal hulle ook opgeneem word. Daar sal wel baie rampspoed nodig wees vir hulle omkeer en hulle sal nog `n lang tyd varke moet oppas. 

[15] Ek weet weliswaar dat alle moeite by die volk nou vergeefs is, en hulle sal My ook die uiterste kan aandoen, sodat niemand sal sê dat dit ontbreek het aan tekens waarmee `n profeet hom kenbaar gemaak het nie; maar selfs die grootste teken sal hier niks bereik nie! Daarom sal na My ook die tyd aanbreek dat daar nie meer deur tekens gewerk sal word nie, maar slegs deur die woord, soos wat Ek dit vir julle spreek, wat veel meer geloof sal wek as dwingende wonders. 

[16] Nou weet julle waarom die Judeërs die uitverkore volk is en waarom hier sulke groot dinge gebeur. Daar rus nog net om te vertel waarom daar geen stappe onderneem word om hierdie skynbare misslag te verhinder nie - waarom toegelaat word dat daar in die geheel geen gelykmatige, kalme ontwikkelingsgang plaasvind nie!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205