Die Heer neem afskeid van die herberg
14 Ons gaan nou weer terug na die kamer waar Ons voorheen was, en Mucius bedank My nogmaals vir alle weldade wat Ek aan hom en die dorp bewys het.
[2] Ek sê aan hom: "My beste Mucius! Gister het Ek aan jou gesê dat jy gierig was en die Judeërs nie vriendelik gesind was nie en dat Ek, as dit nie so laat was nie, dit wel sou vermy het om jou huis binne te gaan. Laat My jou nou nog iets uitlê, sodat jy vir jou verdere lewe die regte rigsnoer sal hê!
[3] Kyk, jy is van geboorte weliswaar `n Griek, maar wat jou hart betref Romeins gesind; doen nou voortaan ook jou beste om wat jou gees betref, net My leer te volg! Want by My bestaan daar geen Romeine, Grieke, Judeërs, Perse of ander volkere nie. Daar bestaan slegs mense, wat almal deel sal kry aan die Godsryk in die hart en ook op aarde. Eén volk moes egter uitgekies word waaruit die heil moes voortkom, en dit kon slegs die Judese volk gewees het, omdat die korrekte basis, net daar, reeds deur Moses en die profete gelê was. Daarmee het dié volk egter niks voor by ander volkere nie, o nee; net as hulle die leer sou aangeneem het en die egte Messias, wat Ek ewig is en sal bly, sou erken het, sou dit die magtigste en ook die edelste volk geword het, want die voorwaardes daartoe is deur die eeue lank bewerkte bodem in die volk aanwesig. Maar omdat dit nie sal gebeur nie, sal dit ook hier wees; "Die eerstes sal die laatstes wees".
[4] Omdat jy dit nou weet, moet jy dié volk nie gaan verag of stellig haat nie, wanneer jy binnekort sal hoor wat hulle met My sal doen, maar beskou hulle as verdwaaldes wat nie weet wat hulle doen nie, en probeer van harte om hulle, daar waar jy kan op die korrekte weg te bring. Trek dus nie jou landgenote voor nie, maar wees regverdig teenoor elkeen, sodat jy nie die slegte naam kry van bars, onvriendelik en gierig wees nie!
[5] Trag om My steeds na te volg, en doen veral jou bes om geduldig te wees! Want sien, ondanks alle, vele geleenthede waarby die draad van die geduld al lankal by julle sou gebreek wees, bly Ek geduldig, luister kalm na die vele dwaashede van die mense en poog om hulle te onderrig op `n manier wat nie afstotend werk nie, en doen goed soveel as wat moontlik is. Kyk, Mucius, so moet julle almal doen, wanneer julle werklik My leerlinge wil wees!
[6] Dit was by jou hoog tyd om tot inkeer en insig te kom. Want jy het al veel aansporings gekry om jou innerlike te open en toeganklik te maak vir die gees van liefde, verdraagsaamheid en waarheid, sodat dit by jou al laat in die aand geword het; anders sou Ek nie My intrek by jou geneem het nie, soos Ek jou gister gesê het, welke woorde jy nou eers op die korrekte manier sal begryp.
[7] Handel dan nou ooreenkomstig My woorde! Wees verseker daarvan dat My seën jou en jou huis altyd op jou lewensweg sal begelei, sodat jy `n stewige steun in My ryk sal wees!"
[8] Mucius was na hierdie woorde van My so ontroerd, dat hy nie in staat was om ook maar één woord te sê nie. Hy wou aan My voete neerkniel, maar Ek tel hom liefdevol op, omarm en seën hom, waarna hy hom geheel versterk en in sy innerlike diep bewoë na My leerlinge begeef, wat hom almal liefdevol die hand druk, sonder dat `n woord daarby gespreek word; want waar die gees in die hart hom laat geld, is die mond nie in staat om in woorde uit te druk wat die siel voel nie.
[9] Nou kom Phoikas, die koopman, na My toe en sê: "Majesteit en Heer, wees tog so goed om goeie raad vir my te gee wat ek moet doen! Ek weet nou dat die lewe nie net by U te vinde is nie, maar dat Uself die Lewe is. Ook al het ek nie met veel woorde geuit wat daar in die korte tyd van my aanwesigheid hier alles in my gebeur het nie, dan weet ek tog dat vir U, o Heer, niks verborge is nie en U in my hart al lankal gelees het hoe dit daar met my voorstaan. Ek is nou vasbeslote om die eenmaal gevonde heil nie weer te laat vaar nie en voortaan net so te lewe soos wat in U oë korrek kan wees. In die korte tyd wat ek vanaf die aarde weggevoer was, het ek ook helder kon sien wie U eintlik is. En die engel wat my weggevoer het na sy sonnewêreld, het baie duidelik aan my getoon waar God gesoek moet word en dat die volle Godheid in U self woon. Maar wanneer jy volledig van die waarheid deurdring word soos ek, is dit tog ook natuurlik dat ek alleen nog die wens koester om U wil, o Vader van ewigheid, te vervul en waar moontlik my lewe volgens U welgevalle in te rig."
[10] Ek sê aan Phoikas: " Hierdie gesindheid van jou verheug My des te meer, omdat al jou strewe tot nou toe slegs daarop gerig was om aardse skatte te vergaar, waar dit jou nou dan ook bepaald nie aan ontbreek nie. Maar omdat jou vroeëre leefwyse jou nou, nadat die gees in jou ontwaak is, armsalig en weersinwekkend voorkom - wat immers ook nie anders kan wees nie, aangesien dit alleen uit die materie voortspruit - staan tog niks in jou weg om dit geheel en al op te gee nie.
[11] Ek dink daarom dat jy hier by Mucius `n eg vriendelike huis sou vind, veral omdat jy glad geen kinders en familie het nie, en niemand jou dus belemmer om heeltemal volgens oortuiging oor jou tyd te beskik, sodat julle beide, vanweë die vele vreemdelinge wat deur die dorp kom, baie goed sal kan doen. Want skatte wat jy weliswaar deur eerlike arbeid verwerf het, sal jou eers egte seën bring, wanneer jy dit gebruik om die armes en behoeftiges te ondersteun, en daarvoor is hier ruimskoots geleentheid. Die laaste tyd het jy baie die wens gehad om jou werk neer te lê, maar jy was bang vir die niksdoen en vanweë die verveling daardeur. Kyk, hier lê `n groot werkterrein vir jou, waar dit jou nie aan besigheid sal ontbreek en ook nie aan My seën nie. - Wat dink jy nou van dié voorstel?"
[12] Phoikas sê: "O Heer, dit kom heeltemal ooreen met die gedagtes wat al in my opgekom het, maar wat ek nie durf uitspreek nie, omdat ek nie geweet het of Mucius dit graag sou wou hoor nie. Maar noudat U self daaroor praat, weet ek ook dat hy dit sal goedvind, omdat dit in ieder geval tog U wil is dat ons saamwerk, en ek glo vas en seker dat ek in hom `n goeie vriend sal vind."
[13] Mucius haas hom om dit te bevestig, en mens sien die vreugde uit sy oë straal om iets te kan doen wat aan My wens beantwoord. Omdat hy gehoor het dat Ek vandag nog verder wil reis, vra die koopman My of hy My met sy muildiere van diens kon wees, omdat die bale met goedere immers netso goed hier kan bly en die verkoop daarvan geen haas is nie. Maar Ek sê dat Ek nie oor die groot weg via Jerigo na Jerusalem sou reis nie, maar meer na die noorde die Jordaandal in, waar sy diere ons nie sou kon volg nie. Hy kan dus wel dadelik na Jerusalem reis, sy saak daar in orde kry en daarna alles vir sy verhuising in werking stel.
[14] Hy vra My ook wat hy met sy metgeselle moes doen, wanneer dié uit Petra sal terugkeer, wat oor `n nie al te lang tyd sou gebeur nie. Ek sê hom dat hy niks moes doen nie, omdat hulle weliswaar nie onredelik gesind was nie, maar dat hulle hulle gedagtes nog veels teveel op die gewin van hierdie wêreld gerig het en daarom nog geen bodem het om My gees en My leer op te neem nie. Hulle sou hom as `n sonderling beskou, wat hy hom egter rustig kan laat welgeval omdat hy geen skade daarvan sou ondervind nie. Later op hulle verdere reise sou hulle hom steeds opsoek en dan ook op die korrekte tyd deur hom onderrig word.
[15] Daarmee was Phoikas ook tevrede, en hy gee sy bediendes onmiddellik die nodige bevele om op te breek, omdat hy geen uur wou versuim om My wil te vervul nie.
[16] Nou was alles gereël en die uur van afskeid het gekom. Die herbergier en syne, die bure en Phoikas neem onder veel dankseggings afskeid van Ons, nadat Ek hulle almal nogmaals geseën het, en Ons loop nou almal langs die groot weg tot by die deurwaadbare plek (drif) van die Jordaan.