Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Oor geestelike en wêreldse mense

27 Ek sê: "Raël, Ek het inderdaad goed geweet hoe weinig invloed Ek hier met My leer sou uitoefen, en My woorde het dit ook genoeg bevestig. Maar omdat Ek ook in My Gees, dit wil sê, as die Vader in My, nog veel verder kyk as die tye van die volk, kan Ek ook presies sien dat hierdie weg die enigste korrekte is. Die eintlike rede is egter geleë in veel dieper geheime van die skepping as wat julle selfs maar vermoed. En om dit aan julle uit te lê, het Ek hier na jou huis toe gekom; want al diegene wat nou hier in My nabyheid is, staan in noue verband daarmee en moet al tydens hulle lewe kan deursien waarheen alles lei, omdat hulle op die korrekte wyse die veld verder kan bewerk, wat Ek hulle sal toewys.

[2] Luister dus: Dit is tog al lank aan julle bekend dat daar mense is wat `n innerlike in hulleself gekeerde lewe lei, en mense wat na buite strewe en hulle om die innerlike, die gees, gladnie of weinig bekommer, maar net daarna strewe om teenoor hulle medemense `n so roemryk moontlike rol te speel.

[3] As julle dit besien, moet julle erken dat daar `n strewe na binne en `n strewe na buite bestaan - geestelike mense en wêreldse mense. Beide strewes het, omdat hulle aanwesig en derhalwe deur die Gees van God ingestel is, `n middelpunt, waar die twee soorte mekaar raak en in My oë, die van die Vader, geregverdig is. Beide strewes kan hulle egter ook van die middelpunt - of beter: Van die ruspunt van My skepping - verwyder en dan in verkeerde dinge verstrik raak.

[4] Vir sover beide strewes in My oë geregverdig is, is hulle te vergelyk met `n vrug, wat in homself die lewenskragtige saad dra, maar daaromheen die voedende, vir mense smaaklike en voedsame omhulling hê. Elke vrug toon egter in die eerste instansie die uiterlike vorm wat nodig is vir eet, en selfs `n verstandige mens weet om die inwendige saad te versamel en te plant, en op die manier met moeite en werk, nuwe, vrugtedraende bome en struike te kweek.

[5] Kyk, soos die natuur julle reeds geleer het hoe om te werk gegaan moet word om die liggaamlike mens te voed, so gebeur dit ook met die geestelike mens! Daar moet `n vrug geskape word, wat saad en eetbare voedsel bied. Maar omdat die voedsel nie net die mens toekom nie, maar tewens die hele universum, moet daar ook spesiale weë bewandel word. Omdat daar verder aan die mense `n vrye wil gegee is, kan hulle hulleself egter ook verwyder van die korrekte skeppingspunt, van waaruit beide rigtings uitgesit word. Uit die volgende sal julle dit veel makliker begryp.

[6] Die eerste mens, wat so geskape was dat hy, in die korrekte ewewigtigheid, as te ware sowel saad as voedsel in hom gedra het, was Adam. Hy was nie in alle opsigte die eerste mens nie, maar wel die eerste mens wat bestem was om uit vrye, eie aandrang vereers die kern van My woord in homself te bewaar, te vermenigvuldig en vrywillig deur te gee. Hy was die eerste vrye mens en het daarmee in homself die moontlikheid gehad om homself skeppend te ontwikkel. Aan al die res van die wesens voorheen, was slegs die begrensde krag in My gegee, wat hulle egter nie uit hulleself sodanig vry kon gebruik soos Adam nie. Daarom het hulle net in die wysheid gestaan, wat aan hulle gegee was, maar nie in die liefde, wat hulle vry uit hulleself moes ontwikkel nie.

[7] Die nakomelinge van Adam ontwikkel hulle nou aldus na buite en na binne. Na buite diegene, wat daartoe bestem was, om groot aantal beliggaamde wesens te word wat, ingeslote in die vlees, die voedsel, wat die saad omsluit en verberg, in hulle moes opneem - om sodoende selfstandig te word, dit wil dus sê: Te leer van diegene wat die mees innerlike stam vorm en die leer behoed, en dan te leer om hulle in die liefde te verwarm, ieder na sy eie aard.

[8] Alle mense wat lewe is immers reeds as geskape geeste voorhande, en ontstaan dus nie eers as volkome nuut gebore in die gees nie, soos wat julle weet. Die doel van hulle bekleding met `n stoflike liggaam is egter enkel en alleen dat hulle hulle vrye selfbestemming nie vanuit die wysheid bereik, waarin hulle immers vanaf die allereerste begin geskape is nie, maar vanuit die liefde, wat hom nou in My beliggaam het. Die doel kan nie bereik word, as die innerlike lewensaad ontbreek nie, wat steeds op dikwels baie kunstige wyse beskerm moet word teen elke verderf.

[9] Die klein stam nou, wat bestem is om die saad te vorm, het vanaf Adam uit slegs weiniges bestaan en het in die volk van die Judeërs in stand gebly. Alle orige volkere kan min of meer as uiterlike vrug beskou word, om te dien as voedsel vir diegene wat vanuit die groot vergaarbekken van oergeeste die weg van die vlees wil gaan. Die oergeeste moet, wanneer hulle eenmaal in die vlees ingekleed is, elke herinnering aan hulle vroeëre bestaan kwytraak, sodat hulle hulleself vry kan ontwikkel en nie, gedrewe deur die bewussyn van `n voorafgaande lewe, rekening daarmee hou nie. As die laaste sou gebeur, dan sou die wysheid, en nie die liefde, die dryfveer vir hulle ontwikkeling gewees het. Die wysheid oorweeg, die liefde handel slegs ooreenkomstig geloof en gevoel.

[10] Nou weet julle dus dat die Judese volk te vergelyk is met die saad van `n vrug - maar let wel: Met die individuele Judese mense as sodanig, maar alleen die prinsiep, die gees wat in die gemoedere leef en die volk opvoed, maar wat nou ook vir die siele byna geheel en al verlore gegaan het."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205