Die bekering van baie Judeërs
37 Toe dit gebeur het, herken Laserus My dadelik en kom vinnig na My toe. Hy kniel voor My neer en roep hardop uit: "My Heer en My God!"
[2] Ek tel hom egter op, druk hom teen My bors en sê: "Laserus, jy het deur My die dood oorwin - sorg dat jy dit ook sonder My hulp kan; want `n mens is eers werklik vry van alle bande van die dood, wanneer hy uit homself My Krag na hom toe trek en dan as oorwinnaar en heerser uit sy graf tree, waarin sy siel sluimer! - Maar gaan nou na binne en versterk jou, sodat jou liggaam nuwe kragte kan versamel vir die aardse lewe!"
[3] Laserus spreek verder geen woord nie, maar groet swyend en loop, gesteun deur sy susters, langsaam, gekleed in die grafgewaad, na die huis toe.
[4] Alle ander wat by hierdie gebeurtenis aanwesig was, word egter so deur verbasing aangegryp, dat hulle eers na geruime tyd woorde vind om uitdrukking daaraan te gee.
[5] Veral die Judeërs, wat hulle aanvanklik twyfelend uitgelaat het oor My wonderkrag, kyk met `n angstige skroom in My rigting, sodat Ek aan hulle sê: "Is julle bang vir My, noudat julle gesien het dat Ek die dood kan gebied? Sien julle dan nie dat Ek `n Heer van die lewens is nie?! Maar as julle Die vrees, wat sal daar dan gebeur as julle weet dat Ek die dood as begeleier met My meevoer?! Het julle nie alle redes om te juig nie? Waarom aarsel julle dus?"
[6] Een van hulle, wat voorheen as woordvoerder vir die ander opgetree het, sê: "Heer, ons sien nou wel baie duidelik in dat in U werklik al God se krag beliggaam is; maar as ons dit insien, moet ons dan nie bang wees om teenoor Hom te staan, wie se asem ons in die lewe geroep het en wat ons vanweë ons vele sondes weer met één asemteug sou kan vernietig nie? Want sien, hoe erbarmlik ons in U oë is en hoe nutteloos in wat ons doen – dit het nou vir ons baie duidelik geword, nadat ons oë die werk van U mag gesien het! Ons is daarom bang, hoe ons voor U kan bestaan!"
[7] Ek sê: "As geregtigheid die enigste eienskap van God sou wees, sou julle nie - en geeneen van almal hier - voor My kon bestaan nie; want daar is geen haar aan julle, wat nie aan die sonde en daarmee aan die vernietiging ten prooi geval het nie! Maar God se liefde, sagmoedigheid en barmhartigheid is selfs oneindiger as die oneindigheid van die totale heelal, en daarom vergeet Hy selfs nie eers die minste van alle skepsele wat Hy ooit geskape het nie.
[8] Hy wil egter vir julle almal `n liefderyke Vader wees - geen God vir wie se toorn julle sidder en bewe nie. Die God van die wraak leef net in julle fantasie. Julle het dit van Hom gemaak, omdat alleen `n wraaksugtige, strenge God vir die Judeërs werd lyk om vereer te word; daarom word daar deur hulle ook soveel nadruk gelê op die veelvuldige strafgerigte, wat egter nooit egte strafgerigte nie, maar enkel en alleen gevolge van die slegtheid, domheid en verstoktheid van die mense was.
[9] Ek is egter die Vader self, wat nou in mensgedaante neergedaal het om die mense Sy meer as groot liefde te bewys en die poorte van die lewens vir hulle te open, wat julleself versper het. Waarom vrees julle dan, as julle sien dat Ek die poorte van die dood oopbreek, sodat die lewe in volle strome kan binnegaan?"
[10] Die woordvoerder, wat nou vertroue kry en digterby kom, sê: "O Heer, ons is ook nie meer bang nie! As U ons sou wil aanneem, sou ons graag ewig by U bly!"
[11] Ek sê: "Het julle ooit gehoor dat Ek iemand wat na My verlang, afgewys het? - Kom daarom almal na My toe, omdat Ek julle verkwik en nou volkome vrymaak van alle bande van die dood!"
[12] Na hierdie woorde hardloop al die aarselende toeskouers na My toe, en ieder van hulle probeer My hande te gryp of My kleed aan te raak. Daarby staan hulle almal met trane in die oë; want hulle word magtig deurdring van My Gees van liefde, wat in hulle `n vurige verlange na My wek.
[13] Ek maan hulle nou tot kalmte en om saam met My na Laserus te gaan, wat intussen die huis bereik het en deur die talryke personeel van sy huis aanvanklik as `n spook aangestaar word, maar toe, na die verklarende woorde van sy susters, met groot gejuig omring word; want Laserus was `n baie regverdige man, wat deur elkeen in sy huis baie bemin was. Deur sy dood het egter die voortbestaan van sy landgoed baie onseker geword, omdat - soos al eerder vermeld - Laserus geen manlike erfgename nagelaat het nie, sodat die vele arbeiders, diensmaagde en knegte, wat op sy landgoed werksaam was, baie besorg was vir hulle verdere werkgeleenthede en veral oor wie hulle toekomstige meester sou wees. Nou was die besorgdheid skielik oorbodig, en die gejuig was in tweërlei opsig - naamlik vanweë Laserus en vanweë hulle eie, vrye toekoms - uiters blymoedig.
[14] Dit is nie moeilik jou voor te stel hoe Ek by die binnegaan van die huis, nadat die eerste vreugderoes vervlieg was, nou deur almal bestorm en begroet word as Redder uit hoë nood nie. Ek neem al die dankseggings vriendelik in ontvangs en sê aan hulle, wat werklik dronk van vreugde was, om aan JaHWeH hulle dank te bring en Hom te dank wat in die Menseseun sulke groot dinge volbring het. Ek moes daar so spreek, omdat vele van hulle nog lank nie daarvoor ryp was om te weet dat Ekself die Heer (JaHWeH) was, wie hulle dank moes geld.
[15] Laserus, wat hom intussen met spys en drank versterk het en nou frisser en opgewekter was as ooit tevore, gee opdrag tot `n groot feesmaal, wat volgens Judese gebruik by geen enkele blye geleentheid mag ontbreek nie. Hy nooi My uit om dit met syne te deel en vra of hy ook sy bure mag uitnooi, wat nog nie aanwesig was nie. Dit staan Ek hom graag toe; want dit stem ooreen met My wil dat hierdie daad in die wydste kringe bekend sou raak, omdat nou begin sou word met die laaste en grootste visvangs vir My ryk.