|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11 LEOPOLD ENGEL
Hoofstuk 22
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79. |
|
|
Die Heer spreek oor verdienste
22 Raël, wat My by die noem van die twaalfjarige jong seun steeds aandagtiger aankyk, sê aanvanklik niks nadat Ek uitgepraat was, maar toe gryp hy My hand, druk dit aan sy hart en, terwyl hy My liefdevol in die oë kyk, sê hy met ontroerde stem: "Heer, dan het ek tog nie vergeefs op U gewag nie, maar my oë het U werklik gesien! O liefdevolle Vader, dit maak U slegte dienaar gelukkig! Nou sal U die swaar las van my liggaam seker weldra van my afneem, omdat my gees geheel in U lig sal staan en U groot heerlikheid sal aanskou, wat Hom gehul het in die kleed van `n mens. Nou eers begryp ek waaragtig die woorde: "God is mens, en die Seun van die Mens regeer die wêreld. God het Sy Seun die mag gegee in die hemel en op aarde, en die volkere kan nie anders salig word as alleen deur Hom nie!"
[2] So lui enkele van die leringe wat aan my oorgebring is en steeds verkeerd deur die toehoorders begryp word, vandaar dat dit ook aan my as bewys vir die onjuistheid van die nuwe leer meegedeel word.
[3] Maar hier is dit immers volkome duidelik dat God in U werklik mens geword het en U alle mag gegee het - aan U, Sy Seun, as liggaamlike mens met `n siel, terwyl U oereie gees die Vader is. O Heer, waardeur het ek tog die groot barmhartigheid verdien, dat U my huis deur U aanwesigheid so wy?"
[4] Ek sê: "Raël, sou jy liewer gesien het dat Ek verbygegaan het? - Dit wat jy die laaste gesê het, was volkome oorbodig, omdat Ek goed weet wie Ek opsoek en wanneer Ek hom tot sy heil opsoek, en daarby kan van verdienste in die geheel geen sprake wees nie; want nog altyd het Ek, sonder om na verdienste te vra, maar net deur die liefde wat My aantrek, na die mense toe gekom. Maar as Ek dan eenmaal daar is, moet mens nie so-iets uit `n soort aardse beleefdheid vra nie, maar bly wees vanweë die feit dat Ek My intrek geneem het!
[5] Ek weet baie goed hoe dit daar in jou hart uitsien, en dat jy werklik `n groot liefde vir My voel en groot vreugde het omdat Ek hier is; maar Ek sien nie graag dat die mense, as hulle My eenmaal herken het, na die eintlike redes vir My koms vra en dit dan as beloning vir een of ander verdienste beskou nie.
[6] Kyk net na al My leerlinge hier! Waardeur het hulle verdien dat Ek steeds in hulle nabyheid is en hulle inwy in alle geheime van die hemele? Ek sê vir jou: Deur niks nie! Hulle het liefde vir My, en die liefde bind hulle vrywillig aan My persoon. En as die liefde sou verkoel, sou hulle hulle eweneens vrywillig van My afkeer, om agter dinge aan te gaan waar hulle liefde, wat hulle van My laat afkeer het, hulle na toe sou trek. Maar in geen geval is daar sprake van een of ander verdienste wat hulle waardig maak om in My teenwoordigheid te verblyf nie. Daarom het Ek ook steeds gesê: Kom almal na My toe, wat vermoei en belaai is, sodat Ek julle laste van julle kan afneem! Ek verlang niks anders as dat julle My daarvoor liefhet nie, en dan sal Ek julle almal verkwik. Wie egter ondanks sy groot sondelas nie vrywillig na My toe kom nie, sal My aangesig nooit kan aanskou nie; en hy sal gladnie, selfs nie deur die edelste dade, sonder liefde in sy hart, `n verdienste verwerf wat My dwing om na hom toe te kom nie.
[7] Kyk, Ek sê dit alles vir jou, Raël, omdat die laaste res van jou filosofie, wat jou gebied om verdienstes te vergaar om daardeur geestelik vooruit te kom, in die korrekte lig geplaas word, en omdat jy weet dat alle verdienstes sonder liefde niks vir My voorstel nie! - Maar Ons sal dit nou laat rus!"
|
|
|
|
|