Die besigheid van die Heer en Sy leerlinge in Efraim
47 Nou sal mens vra wat Ons eintlik so gedurende die dag gedoen het in die ruïne, waar Ons so afgesonder was van die wêreld; want dat dit sou gebeur het sonder nut vir My leerlinge, is tog seker nie aan te neem nie.
[2] Dit is waar! Want terwyl hierdie tyd van afsondering vernaamlik daartoe gedien het om My aardse mens voor te berei op die swaar tyd en geskik te maak vir die transformasie tot ewige, onveranderlike Messias, moes My leerlinge, en veral die apostels, terselfdertyd tog ook voorberei op hulle toekomstige beroep, naamlik om leraars vir al die mense te word. Die proses wat hom in My voltrek het, het vir alle oë verborge gebly, maar hoe My leerlinge hulleself en mekaar opgevoed het, sal hier noukeurig onthul word, omdat elkeen wat werklik aan sy innerlike vervolmaking wil werk, daarin `n rigsnoer sal vind wat tot die wedergeboorte van die gees sal lei.
[3] Luister dus waaruit Ons uiterlike en innerlike besigheid uit bestaan het!
[4] Die uiterlike is vinnig uit te lê. Dit het eenvoudig bestaan uit die presiese reël van alle huislike werksaamhede, wat elkeen graag uit liefde vir sy broers op hom geneem het, en wat by die geringe behoeftes van Ons geselskap ook nie baie tyd in beslag geneem het nie. Die hoofsaak hierby was dat elkeen hom ongevraagd daar nuttig gemaak het, waar hy gemerk het dat daar een of ander diens verleen kon word; want die oplettendheid is al `n teken van werksame naasteliefde, terwyl iemand met `n trae gees, gladnie opmerk waar een of ander klein daad van liefde verrig kan word nie.
[5] Gedurende Ons verblyf het Ek die uiterlike werksaamhede van die huis maar weinig ondersteun, soos byvoorbeeld die sorg vir die voedingsmiddele, om enersyds die traagheid geen ruimte te gee nie, maar andersyds ook om Myne te leer om nie net op buitengewone kragte te reken nie. Dat dit Ons desondanks aan niks ontbreek het nie, hoef Ek natuurlik nie te benadruk nie.
[6] Die hoofsaak was die geestelike voeding! En hoe was dit nou gelei? In die eerste instansie deur die bewaring van `n volledige innerlike rus, wat homself nie deur een of ander ergernis of kleingeestige prikkelbaarheid uit sy ewewig laat bring nie - en vervolgens deur die beoefening van die wilskrag, wat in staat is om elke hartstog en neiging tot die teenpool te oorwin. Slegs iemand wat homself oorwin het, kan ook ander oorwin!
[7] Verder word die innerlike, geestelike gesig geoefen en steeds meer ontsluit. Nie dat Ek die innerlike gesig van Myne self geopen het nie, maar hulle moes in staat wees om self hulle geestelike blik te rig op voorwerpe wat hulle wou leer ken. Die vermoë vereis ewenwel `n baie spesiale loutering van die siel; want aangesien sy van huis uit aards ingestel is, kan sy natuurlik net dan suiwer geestelike dinge vanuit haarself beskou, wanneer sy haarself al in `n aansienlike mate vergeestelik het, of, meer korrek gesê, wanneer die gees wat in haar woon, so magtig geword het, dat hy die siel, wat sy liggaam moet vorm, soveel begrippe van die geestelike bygebring het en haar sodanig met sy lig verhelder het, dat sy ook die geestelike beelde sien, herken en begryp. Solank net die uiterlike, suiwer liggaamlik materiële dinge deur die kunstige meganisme van die liggaam vir die siel duidelik gemaak word, is sy nog geestelik blind. Sodra sy geleer het om deur die omhulsel van die uiterlike liggame heen te kyk, word sy geestelik siende.
[8] Die mikroskoop van die huidige wêreld gee slegs `n baie noukeurige beeld van die uiterlike omhulsel tot in die kleinste detail, sonder om uitsluitsel te gee oor die suiwer geestelike lewe van alle dinge. Slegs `n siel wat siende geword het, is in staat om dit te herken, maar die instrumente van `n geleerde, hoe vernuftig hulle ookal is, nooit.
[9] En as die siel eenmaal in staat is om die mees innerlike lewe te herken, deursien sy natuurlik met dieselfde gemak ook die fynste bousels van die omhulsel wat die innerlike lewe omsluit.
[10] Dit spreek vanself dat My leerlinge, wat as meesters van die lewe en leraars moes optree, in alles onderrig moes gewees het, wanneer Ek nie meer liggaamlik by hulle sou wees nie, en derhalwe moes hulle alles vir hulleself geheel en al eie maak.
[11] Nou sal mens vra: Het Myne hulle die dinge dan nie al volledig eie gemaak nie, en was die teruggetrekte verblyf in `n afgeleë oord dan eers daarvoor nodig om die innerlike heerskappy oor hulleself te bereik?
[12] Hier moet opnuut daarop gewys word dat hulle vroeër steeds gely het onder `n soort dwang, wat My persoon deur sy aanwesigheid op hulle uitgeoefen het, en tewens deurdat elkeen van hulle self daarvan bewus was dat hulle steeds deur al die volk gadegeslaan was wat Ons steeds gevolg het. Elkeen weet waarskynlik baie goed dat dit baie makliker is om die kwade te vermy, wanneer `n mens weet dat hy gadegeslaan word - omdat daardeur `n soort skaamte teenoor vreemdes of ook die eersug, om vir goed deur te gaan, optree – as wat `n mens hom volkome vry voel van elke dwang.
[13] Hier was nou oorvloedig geleentheid gebied vir beproewing; want ten eerste trek Ek Myself dikwels daelank byna heeltemal terug vir My eie voorbereiding, en ten tweede leef Myne hier geheel en al vry van die bewonderende menigte, want baie het gedink dat My leerlinge tenminste gelyk moes gewees het aan hulle leermeester of Hom selfs moes oortref, aangesien dit immers al baie voorgekom het dat leerlinge die meester oortref het.
[14] Die inwoners van Efraim bekommer hulle so goed as gladnie oor Ons nie, maar doen hulle werksaamhede stil en beskou Ons as `n soort nuwe sekte van die Judeërs, soos wat dit juis in My tyd dikwels ontstaan het, en hulle dag dat Ons aanhangers was van Johannes, wat hulleself hier wou voorberei op die Godsryk wat sou kom. Omdat hulle bowendien geweet het en ook gesien het dat Ons die ou kasteel weer herstel het, beskou hulle Ons eers eg as sonderlinge, waarmee jy liewer nie omgegaan het nie, om nie deur hulle eienaardigheid aangesteek te word nie.
[15] Hierdie plek was daarom ook die mees geskikte vir innerlike selfskoling; want diegene wat My hiernatoe gevolg het, het hulle verlange na die uiterlike wêreld al lankal afgelê, sodat beproewings in die opsig nie meer nodig was nie. En diegene wat in die opsig nog moes leer, het Ons agter Ons gelaat.
[16] Daar het egter tog nog verskillende dinge hier voorgeval wat weergegee moet word, sodat elkeen nog daaruit kan leer hoe die skoling moet gebeur, en hoe gebeurtenisse, wat dikwels onbetekenisvol is, `n diep indruk kan maak by die innerlike loutering en versterking van die wil. Dit sal nou hier gegee word, sodat julle kan weet wat Johannes eintlik bedoel het met die woorde: "En daar het Hy verblyf met Sy leerlinge". (Johannes 11:54)