Oor die sterwe
30 Nadat die tafereel ongeveer `n uur geduur het en alle aanwesiges alle moontlike vrae aan die geeste gestel het, wat hulle baie vriendelik beantwoord, roep Ek vir Johannes die Doper en Elia, wat die aanwesiges slegs in die persoon van die Doper ken, na My toe en sê in die teenwoordigheid van alle aanwesiges hardop aan hom: "Jy was My voorloper in hierdie groot tyd van My koms tot die mense, en jy sal dit ook weer wees wanneer die groot tyd aanbreek waaroor Ek gespreek het. Maar die mense sal jou dan nie herken nie, desondanks sal jy weet wie jy eintlik is; want die laaste beproewing in die vlees wat jou te wagte staan, sal die fondament word vir die gebou van die aanbrekende ryk van vrede!
[2] Weliswaar sal die mense hulle ten tye van jou volgende lewe weinig oor jou woord bekommer; maar dit sal vir hulle met gloeiende letters in hulle siel geskryf word, sodat hulle dit nogtans sal voel, wanneer hulle vry van hulle liggaam sal wees. Die woord van jou sal egter My Woord wees, en Ek sal rekenskap eis van elkeen wat dit gehoor het en geen ag daarop geslaan het nie!
[3] Maar julle, My geliefdes en getroues, wat om My heen versamel is en julle verbaas oor die dinge wat nou duidelik voor julle oë gebeur, sal die stam vorm van diegene wat die nuwe uitverkore volk sal vorm, en julle sal self bydra tot die vestiging daarvan in My Naam as `n groot broederskap, wat uit My gees die krag put vir groot dade.
[4] En so laat Ek julle nou gaan om die begin te maak, waardeur die verlore seun gedwing sal word om na die huis terug te keer, omdat hy nie na die lokkende roep van die Vader wou geluister het nie. Amen."
[5] Na hierdie woorde verdwyn die hemelse bewoners, en Ons was weer alleen soos tevore in die groot eetsaal van Raël. `n Lang tyd sit Myne nog soos verdoof deur die heerlikheid van wat hulle gesien het; want so diep het hulle nog nooit `n blik in die geheime van die hemele gewerp nie, en hulle het tydens hulle liggaamlike lewe ook nooit weer so `n blik gekry nie. Dit het egter gebeur sodat hulle siele nou sterk sou bly - ook sonder wonderwerke wat Ek uitsluitlik in hulle kring gedoen het, en nie in die openbaar nie. Die laaste diepgaande beskouing moes onuitwisbaar by hulle ingeprent word en vir hulle `n rigsnoer bly vir hulle verdere lewe, asook vir hulle verdere lewe sonder stoflike liggaam in My ryk.
[6] Ons begeef Ons nou swyend na die aandmaaltyd en neem dit swyend tot Ons. Raël wys elkeen die mees aangename rusplek aan wat hier en daar in sy huis gereedgemaak word, en vra My ten slotte of Ek hom `n gesprek onder vier oë sou toestaan.
[7] Ek sê aan hom: "Nie jy nie, maar Ek het die begeerte in jou gewek, sodat jy nog opheldering sal kry oor iets wat slegs jy hoef te weet."
[8] Toe volg Ek hom na sy eensaam geleë kamer, terwyl die ander gaan rus.
[9] Toe ons alleen was, sê Raël aan My: "Majesteit en Heer, ek is `n sondige mens, wat nie werd is dat U met U voete dié huis wy nie; maar ek weet ook dat U buitengewoon barmhartig is en my dus alle dwaashede wat ek in my lewe tot nou toe begaan het, sekerlik sal vergewe, as ek U eg van harte daarom vra. Ek vra U daarom, Heer en my God, in die eerste plek vir die volgende: Wil U my die groot swakheid wat ek tot nou toe nog het, nie aanreken nie en my vergewe dat ek ooit bewustelik of onbewustelik sondes bedryf het!"
[10] Ek sê: "Raël, al jou sondes is jou al lankal vergewe; want Ek is geen God van straf nie, maar van liefde. Hoe sou Ek dan iets kan bestraf, as - soos by jou - iemand in volle erns meen waarom hy dit vra, soos jy nou?! Maar Ek het in die wêreld gekom om die groot sondelas wat die mense in hulle groot blindheid op hulle laai, te vernietig en die weë na die grootste geluksaligheid vir hulle vry te maak.
[11] Het dus geen sorg meer oor jou sondes nie, wat jy veral net nog in `n vroeëre tyd begaan het, en wat jou by die afskeid van hierdie aarde as kwade werk sou volg netsoos die goeie - dit is verteer deur My liefde! Maar sê nou wat jou verder nog bedruk; want jy het `n spesiale versoek, waaroor jy in die geheim met My wil spreek!"
[12] Raël sê: "Heer en Vader, ek dank U uit die diepte van my hart vir U woorde! Ek is nou des te meer vervul van die wens wat my besiel het sedert ek U ontmoet het. Kyk, ek is oud, my liggaam is broos en weinig meer geskik om behuising vir hierdie siel te wees! Die hoop dat ek die Uitverkorene God nog sou kon sien, het tot nou die vermoeide lyf aan die gang gehou, en noudat hierdie hoop vervul is, vra ek U, Heer en Vader: Laat U kneg in vrede die graf ingaan, sodat hy in U ryk - wat ek nou met my liggaamlike oë gesien het - `n nuttiger instrument kan word as wat hy nou in sy liggaamlike lewe nog kan wees! As ek onder U oë sou kan heengaan, sal ek die dood sekerlik nie smaak nie en veilig en vreedsaam binnegaan in die ryk wat U ons beloof het."
[13] Ek sê: "Raël, hierdie wens rus al `n lang tyd in jou hart, en daarom moes jy jou uitspreek, sodat jou siel ook van hierdie laaste druk vry kon word. Die ander, wat nou slaap, is nog lank nie ryp om te hoor, wat jy moet weet nie.
[14] Kyk, wat is die dood van `n mens eintlik?! Niks anders as dat die ryp vrug van die boom val, en die val gebeur ook vanself, sonder veel toedoen van die vrug. As `n mens in sy mees innerlike wese sover gelouter is, dat hy as ryp vrug kan geld, dan sal die losmaak van die ryp siel van die stam, die liggaam, ook sonder enige dwang gebeur. Die oomblik tree by iemand wat ooreenkomstig My wil geleef het, op `n sodanige wyse in, dat hy ook sonder My aanwesigheid volkome pynloos, ja selfs met die mees vreugdevolle gevoelens oorgly van die aardse na die geestelike lewe.
[15] Maar ondanks die feit dat jy nie eg aan die lewe hang nie, het jy tog `n soort besorgdheid vir die oomblik, en jy dink dat jy die maklikste oor die onaangename keerpunt vir jou sal kan heen kom, wanneer jy versterk sal word deur My teenwoordigheid. Maar Ek sê vir jou nou dat jy ook die vergeeflike menslike swakheid moet aflê, omdat jy glo, dat jy tot nou toe behou is en jy hierdie hoë leeftyd bereik het, om volkome sterk te word; want die glo in My sal juis die beste en enigste middel wees om alle dreigende verskrikkings van die dood te oorwin.
[16] As `n mens volkome gelowig geword het, en as Ek hom in die hart gelê het dat dit sy tyd is om die bande met sy vlees los te maak, omdat sy aardse dagtaak volbring is, sal Ek hom selfs die krag gee om self die bande te verbreek, en dan ontslaap hy sag en in vrede voor die oë van syne.
[17] Dit is die dood soos hy moet wees, maar soos hy slegs in die mees seldsame geval kan intree, omdat die mense die oomblik wat hulle weggeroep word, meer vrees as al die ander en hulle oorgang nie veroorsaak deur normale slytasie nie, maar deur die liggaamlike masjinerie met geweld te verwoes. Die verkeerde lewe het daarom ook die vele siektes teweeggebring, wat met die eintlike dood niks te make sou moes gehad het nie, omdat nie hierdie siektes nie, maar die volledige rypheid van die siel die oorgang moet bepaal.
[18] Beskou dit dus nie, My Raël, asof Ek jou `n wens sou wil weier, wanneer Ek vir jou sê: Leef nog `n kort tydjie; sien dit nie as straf nie, maar oefen jouself om ook hierdie laaste res van jou binding aan die aardse te doen, om dan verenig met My My ryk binne te gaan!"
[19] Raël sê: "Ja, Heer, soos steeds het U ook hierin volkome gelyk, en ek sal my dwase verlange in myself opsy sit, om U hele liefde waardig te word. Ek sal die dwase angs vernietig, en ek glo byna dat dit deur U gesprek met my, nou ook al geslaag het.
[20] Maar hoe moet ek dit eintlik verstaan: Verenig met U sou ek U ryk binnegaan? Hoe, o Heer, bedoel U dit dan? Sal U hierdie aarde ook verlaat?"
[21] Ek sê: "Seer seker, sodra die werk voltooi sal wees. Die Judeërs sal mag kry oor My liggaam en die dood. En op die dag sal Ek jou self My stad binnelei, wat in die hemele gebou word in plek van die Jerusalem wat hier op aarde verwoes sal word, terwyl dit `n stad van die stede sou kon gewees het, as die inwoners daarvan maar wou en nie so goddeloos geword het nie. Dan sal Ek van daaruit die wêreld regeer, en My getroues sal saam met My woon binne die heilige mure wat gebou word deur die lewe van My op hierdie aarde en waarvoor die werk van My hande stuk vir stuk die boustene sal lewer. - Maar genoeg hieroor - jy sal saam met My `n burger van die stad wees, en weldra sal jou gees helder aanskou wat Ek jou nou maar net kon aandui!
[22] Maar My Raël, laat nou ook jou liggaam die nodige rus kry; want môre is daar ook nog `n dag, waarop nog veel bespreek kan word!"
[23] Raël gee gehoor aan die raad en begeef hom ter ruste, terwyl Ek na Myne terugkeer en op `n gereedgemaakte rusplek die nag deurbring.