Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 9

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Drie belangrike vrae van Mucius en die beantwoording daarvan deur die Heer

9 Nadat die maaltyd beëindig was, sê die herbergier Mucius aan My: "Majesteit en Heer, ek sou nou tog baie graag enkele vrae wil stel, wat my deur Ons gesprek van gister voelbaar op die hart lê. Daar is nou geen fariseërs meer aanwesig wat ons afluister nie, sodat vraag en antwoord ongehinderd kan plaasvind. As U dit dus toestaan, o Heer, sou ek U wil versoek om my vrae te beantwoord."

[2] Ek sê: "Vra maar gerus, en laat ook die aanwesigheid van Phoikas jou nie hinder nie; want hy sal nou ook binnegelei word in die ryk van die ware lewe, as beloning vir die feit die hy sy wêreldse handel opsy gesit het en sy hart gevolg het, hoewel hy maar half en half vermoed en voel dat die wind van die suiwer gees van die waarheid hier waai.

[3] Ek sê jou, Phoikas, daarmee het jy My hart goed gedoen en jy het daarmee `n weg opgegaan wat na die ewige heil lei.

[4] Maar vra nou maar openlik, My beste Mucius, sodat jy `n goeie antwoord kan kry!"

[5] Mucius sê: "Omdat U, o Majesteit en Heer, dit vir my toegestaan het, vra ek U om `n duidelike uitleg, waarom ons mense eintlik lewe, wat daar met ons na die dood gebeur, en hoe ons die beste in alle lewenswysheid ingewy kan word.

[6] Gister het U my gesê dat deur die hou van U twee gebooie, wat U leerling my van naderby uiteengesit het, die korrekte kennis in die hart van die mens vanself ontwaak - maar die "hoe", het vir my nog baie versluier gebly, en daarom vra ek U vir opheldering daaroor."

[7] Ek sê aan die herbergier: "My beste Mucius, juis hierdie drie vrae wat jy stel, omvat in hulle die hele wysheid van alle hemele en die redes vir My leraarskap op hierdie aarde. Hoeveel ookal deur My daaroor gespreek is, tog kan die basisleer nooit genoeg kere steeds weer herhaal word nie, omdat die geestelike hart van die mens die ewige waarhede volledig in hom opneem, goed in homself verteer en in homself geheel in vlees en bloed sal omsit. Ek sal jou vrae daarom uitvoerig beantwoord, in die eerste instansie ter wille van jou en Phoikas, omdat julle My leerlinge nie ken nie, en in die tweede instansie ter wille van Myne, wat al `n langer tyd by My is, maar tog nog nie in alle waarheid deurgedring is nie. - Luister dus goed!

[8] Die mens leef vanuit tweeërlei wêrelde, wat hy in homself moet verenig. Enersyds is hy die sluitsteen van die uiterlike, materiële skepping, waarin hy die kroon van die skepping genoem word en as sodanig geprys word, andersyds is hy die beginpunt van die suiwer geestelike wêreld, wat met hom die eerste fase van die volledig vrye selfbewussyn bereik het. Hy is dus aan die een kant die begin, aan die ander kant die einde van `n ketting en moet in homself, deur sy daartoe geëiende lewe en die vrye ontwikkeling, die korrekte skakel te vind waarmee hy die twee kettings tot één kan maak. Ek sal dit duideliker vir julle uiteensit.

[9] Alle wesens vanaf die kleinste skepsel vorm `n trapsgewys opklimmende reeks, en wel op so `n manier, dat die een tree steeds die ander aanvul, groter volkomenheid te siene gee en daardeur ook `n steeds groter intelligensie kan ontwikkel.

[10] Kyk na die diere, waarby laer soorte voorkom wat geen ander doel blyk te hê as om hulle liggame in stand te hou en ander diere tot voedsel te dien nie! As daar `n vyand van hulle liggame en lewe kom, gee hulle hulle Stoïsyns aan hulle lot oor en verweer hulle nie, en is ook nie daartoe in staat nie; kyk na die vele insekte en laer amfibieë!

[11] Op `n iets hoëre trap sien julle ewenwel dat die intelligensie al so ver ontwikkeld is, dat die diere meer bewus is van die gevare wat hulle liggame bedreig, en dan ook weet om deur allerhande listighede te ontkom.

[12] By nog hoërstaande diere sien jy dat die eienskap nog verder ontwikkel is; hulle is dan ook van geskikte wapens voorsien, soos skerp kloue en tande, om hulle van hulle vyande te ontdoen, maar daarmee tegelykertyd ook vyande van ander diersoorte word. Daar ontstaan nou `n stryd oor en weer waarby listigheid en sluheid aangewend word, weliswaar vir die dood van die liggame, maar ook vir die voortskreiding van die intellek, omdat dit hulle geleidelik ontwikkelende karakter, wat by die steeds hoër opklimmende diere spesifieke eienskappe verkry, kan vorm.

[13] Nou word daar `n grens genader, van waar die diere geneig is om hulle by die mens aan te sluit; julle noem dit dan huisdiere. Hulle is deurgaans gedweër of makker, soos julle sê. Hulle kan `n baie vergaande intelligensie ontwikkel en afgerig word. Hulle gaan daardeur in sekere sin meer lyk na die mens, weliswaar nie in hulle uiterlike vorm nie, maar wat wel die bepaalde karaktereienskappe betref. Julle kan hierby dikwels eg verbluffende handelinge van diere waarneem, wat van oorleg getuig en ook van `n sekere beoordelingsvermoë, sodat julle verbaas staan en sê: Die dier kan nog net nie praat nie. Kyk, dit is diere wat in hulle geestelike ontwikkeling alleen nog die stap tot mens moet doen, soos `n onmondige kindjie ook maar net `n bepaalde stap in jare hoef te doen om `n verstandige mens te word! By die dier kan die doel egter nie bereik word nie, omdat die vorm van die siel nog nie voleindig is nie, terwyl by `n kind, wat tog baie veel dommer en onbeholpener lyk, die sielevorm, wat in staat is om hom verder te ontwikkel, aanwesig is, soos in elke saadkorrel die beeld van die toekomstige plant lê."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205