Die Pasgalam. Die voetwassing. Judas verraai die Heer. Die aandmaaltyd van die Heer
71 Toe die middag aangebreek het, sê Ek aan Myne dat hulle moes opbreek, en Ons begeef Ons weer teen `n rustige tempo op die groot weg tussen Jerusalem en Jerigo. Vandag was dit die dag van die Pasgalam, en Myne vra My, of en waar Ek dit met hulle wou eet. Ek beantwoord die vraag bevestigend en vra of twee van hulle voor ons wou uitgaan die stad in, om die lam daar gereed te maak; daarna sou Ek met die ander volg. (Markus 14:12-13a)
[2] Nou het daar in die stad `n man gewoon, wat tot diegene behoort het wat al in die begin van My tyd as leraar deur My gesond gemaak was, toe Ek die eerste keer self in Jerusalem opgetree het. Hy was `n troue aanhanger van My leer en was nie bang vir die Judeërs en die afgunstige fariseërs nie. Hy het `n klein herberg gehad wat steeds deur gegoede gaste besoek was. Daar het veral baie Romeine gekom wat na Jerusalem gereis het en daarom het hy in aansien by die volk gestaan en kon hy goed in sy lewensonderhoud voorsien. Hierdie herbergier het My al herhaaldelik via My leerlinge uitgenooi om na hom toe te kom.
[3] Na hom toe het Ek nou vir Petrus en Johannes gestuur, om die Pasgalam daar gereed te maak. As teken waar sy huis te vinde was, sê Ek vir hulle dat hulle `n man sou ontmoet wat `n waterkruik na sy huis sou dra, en dat hulle hom moes volg. (Markus 14:13b-14)
[4] Die eienaar het hulle albei geken, en toe hy My versoek hoor, laat hy onmiddellik sy beste saal in sy woning gereed kry, wat hy andersins by familiefeeste vir homself gebruik het, sodat Ons ongestoord die tradisie van die Pasgalam kon volg. Hyself, wat volgens die mening van die tempel `n afvallige Israeliet was, wat hom by die Romeine geskaar het, het die tradisie nie meer in ere gehou nie, veral omdat hy `n Griekse vrou gehad het, met wie hy volgens My leer geleef het, sonder allerlei reëls van die tempel.
[5] Dit is die eienaar van die geplaveide saal, oor wie die evangeliste, behalwe Johannes, berig, omdat dit hulle later baie belangrik toeskyn om aan te gee waar die aandmaaltyd plaasgevind het (Markus 14:15-16), terwyl Johannes hom maar net bekommer het oor die daarby gespreekte woorde en nie oor die uiterlike dinge nie.
[6] Dit het aand geword toe Ek met Myne daar aangekom het. Nadat Ons vreugdevol deur Ons gasheer en sy gesin begroet was, word Ons na die betrokke saal gebring, waarby hy Ons verseker dat niemand Ons daar sou steur nie, en daar neem Ons plaas om die toebereide Pasgalam te gebruik.
[7] Wat die aand alles daar gesê is, het die evangelis Johannes ook noukeurig opgeskryf, en daar kan dit nagelees word. (Johannes 13-17) Hier moet net nog `n paar dinge vermeld word, sodat `n mens beter kan begryp hoe die gebeurtenisse hulleself voltrek het.
[8] Nadat Ons die lam op die tradisionele wyse geëet het, staan Ek op, omgord My en begin met die voetwassing (Johannes 13:4-12), waarmee die diepste verdeemoediging van die Menseseun uitgedruk word, omdat dit `n taak van die laagste dienare en slawe was. Tegelykertyd word daarmee gesê dat niemand My weë kan bewandel sonder dat Ek eers die instrumente vir hom gereinig het nie, wat dit vir hom moontlik maak om ook op hierdie weg te gaan - dit wil dus sê: Sy hart moet volledig gereinig wees van al die stof van die weë van die wêreld, wat hy tot dan toe bewandel het, en Ek is die Een wat hom die middele daarvoor sal aanreik. Daarom moet niemand die wassing vrees nie, anders sal hy geen deel aan My hê nie.
[9] Ek gee die leerlinge hiermee dus `n diepsinnige leer in `n simbool, waarby die simbool natuurlik nie die hoofsaak is nie, maar die daarin vervatte kern.
[10] Netsoos wat Ek My leerlinge gereinig het, moet ook die mense onder mekaar daarna strewe om mekaar te reinig, sodat hulle My met `n gesuiwerde hart, dus met gewaste voete, werklik kan navolg.
[11] Nou was die gebruik dat daar na die maaltyd deur die meester van die huis nog `n stukkie brood uitgereik word, terwyl hy daarby `n spreuk uit die Skrif gespreek het aan diegene wat die stukkie gekry het. Die gebruik het nie tot die huidige tyd bewaar gebly nie, maar was destyds algemeen uitgevoer en het by vele gegeld as `n soort voorspelling vir die komende tyd.
[12] Terwyl Ek dit afhandel, oorval `n groot treurigheid My siel, en Ek spreek hierdie woorde: "Eén van julle sal My verraai!" (Johannes 13:21)
[13] Die leerlinge, wat geskok was deur hierdie uitspraak, wat vir hulle duister voorgekom het, bestorm My met vrae hoe Ek dit bedoel en wie My sou kan verraai. (Johannes 13:22) Ek weier egter elke antwoord en begin die stukke brood uit te deel, terwyl Ek aan elkeen van hulle, na gelang van sy karakter, nog `n vermaning spreek. Petrus, wat een van die eerstes was, was die meeste terneergedruk deur My uitspraak; hy wink vir Johannes, wat die naaste aan My gesit het, dat hy sou vra wie die een was wat Ek bedoel het. (Johannes 13:23-24)
[14] Die "aan-My-bors-lê " is in velerlei opsig verkeerd begryp, deurdat die vele uitleggings ontstaan het deur die misverstaan van die spraakgebruik. Ons het nie aan tafel gelê soos die Romeine dit gedoen het nie, soos dit baie uitgelê word nie, maar Ons het gesit. Die gebruik het die Judeërs nie aangeneem nie, omdat dit heidens was, soos wat hulle alles vermy het wat hulle met die heidense volke gemeenskaplik sou maak. Dié een nou aan wie `n besondere eer as vriend toegeken word, sit regs van die meester van die huis en word deur hom geëer, deurdat hy die spyse vir hom toeberei. As dit gebeur, moes die meester van die huis hom dikwels na hom toe wend, "hom sy bors toewend". In die taalgebruik van destyds is dit die betekenis van die omstandigheid wat nou met die "aan-My-bors-lê" vertaal is, waardeur daar natuurlik `n ander betekenis ingesluip het, wat nie bedoel was nie. (Johannes 13:25a)
[15] Johannes vra My nou saggies wie dit was, en omdat hy My mees vertroude leerling was, sê Ek aan hom: "Dit is die een aan wie Ek die stuk brood sal gee.", waarna Judas dit ontvang met die woorde: "Wat jy doen, doen dit vinnig!" (Johannes 13:25b-27)
[16] Natuurlik kan die res van die leerlinge nie uit die woorde afgelei het wat Ek bedoel het nie. Maar Judas, wat eweneens vir My eerste uitspraak geskrik het, omdat dit hom geraak het, vat die woorde nou heeltemal op as `n uitnodiging wat sy planne goedgekeur het, staan vinnig op en gaan innerlik triomferend na buite. (Johannes 13:28-30)
[17] Die hele hoogmoed van `n toekomstige medeheerser, wat hy nou gehoop het om deur My te word, netsoos die enorme begeerte om niksontsiende roem en eer na hom toe te trek, het hom nou soseer vervul, dat Satan met alle hoogmoedsduiwels besit geneem het van sy siel, wat slegs gegloei het in die begeerte om te heers en om alle teenstanders te vernietig.
[18] Kon Ek dit nou nie alles vermy het nie?
[19] Sekerlik wel! Maar hier het die Menseseun voor die keuse gestaan om alle glans en alle eer van die wêreld te besit. Hy moes dus ook werklik in die geleentheid kom om te kies, en daarin het vir Hom die beslissing gelê, in die sin soos dit al voorheen aangegee is.
[20] Daarom sê Ek, nadat Judas weggegaan het: "Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik. As God in Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en sal Hy Hom weldra verheerlik!" Dit wil dus sê: Die Menseseun sal werklik God se Seun wees, en die Vader sal Hom weldra vir alle ewigheid met Hom verenig. (Johannes 13:31-32)
[21] Nou gee Ek My leer vir My leerlinge nogmaals geheel in korte bewoordings weer, soos in Johannes 13 tot 17 presies te lees is met alles wat daar oor en weer deur die leerlinge gesê is, en met die bedenkinge van Petrus en Philippus en die antwoord daarop.
[22] Deur al die gesprekke het dit al laat geword, en nou neem Ek nogmaals die brood, waarvan Ek die eerste stukke toeberei het, en sê aan die elf: "Laat elkeen nog `n stukkie neem, wat Ek hier klaarmaak. Dit is My liggaam, die vleesgeworde Woord, wat in julle lewend moet word. Neem ook hierdie beker, drink almal daaruit; dit is My bloed, wat vir julle vergiet sal word ter vergewing van julle sondes. Wie nie My vlees eet en My bloed drink nie, sal nimmer salig word nie. Julle weet nou hoe julle dit moet begryp en sal julle nie meer vir sulke woorde vererg nie. Eet en drink, en doen dit, steeds wanneer julle dit doen, ter gedagtenis aan My. Waar twee dit ter gedagtenis aan My sal doen en in My Naam byeen is, daar sal Ek ook onder hulle wees." *(Sien hiervoor onder andere deel 9, hoofstuk 73:2, Wie in My woord die brood van die hemele eet en deur te lewe volgens My woord, dus deur die werk van die ware, geheel onbaatsugtige liefde tot God en sy naaste die wyn van die lewe drink, die eet ook My vlees en drink My bloed. Want soos die natuurlike brood wat die mens eet in die mens tot vlees word en die gedrinkte wyn tot sy bloed omgevorm word, so word in die siel van die mens ook My woord brood tot vlees en die wyn van die werk van liefde tot bloed.)
[23] Die leerlinge doen nou soos wat Ek gesê het. Daarna verlaat Ons die huis, nadat Ek ook Ons herbergier bedank het, wat liefdevol afskeid van My geneem het.