Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 68

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Nikodemus en die owerstes by die Heer

68 Ons kom binnekort daar aan. Elkeen het die weg stilswyend afgelê, en dikwels tref besorgde blikke van die van Myne My, omdat dit vir elkeen duidelik gelyk het dat Ek vandag `n belangrike slag wou geslaan het wat egter, onbegryplik vir hulle almal, misgeloop was. Waar het My wonderkrag gebly, wat tog so maklik deur `n sterk uiterlike teken My sending kon bekragtig het? Want die genesing van siekes het by hulle reeds as iets alledaags gegeld, wat My leerlinge ook kon doen, en dus iets wat vir die volk niks buitengewoon was nie. Ook oor die stem uit die hemel het hulle hulle twyfel gehad, omdat dit nie magtig genoeg geklink het om aan alle twyfel `n einde te maak nie. 

[2] Al hierdie vrae bespreek Myne uitvoerig toe ons in Betánië aangekom het en Ek My in `n eensame kamer teruggetrek het om Myself, dit wil sê My siel, tot kalmte te bring en te versterk. Veral was dit Judas in die kring van My naaste leerlinge, wat die meeste opgewonde was oor die oënskynlike mislukking, en hy gee ook onomwonde te kenne dat My al te groot sagmoedigheid en goedheid My belet het om die volk met mag tegemoet te tree.

[3] Hy (Judas) sê: "Die Heer is beslis `n mens met baie uitsonderlike krag en wysheid, en ek twyfel ook absoluut nie daaraan dat Hy en niemand anders die verwagte Messias is nie; maar die sterke gees, wat baie soos `n bliksemflits met sy uitsonderlike krag in Hom woon, word omsluit deur `n te swak omhulsel, wat vir die mense nog te veel swakhede vertoon. Dit is nie slegs sagmoedigheid en goedheid wat die wêreld regeer nie, maar ook die vuis wat weet om die swaard te voer en as dit moet, met bloedige strengheid ingryp om sukses te verseker! As die Heer gedwing sou word om Homself en Syne te beskerm teen die hande van die gretige beulsknegte, sou die Krag van God, wat in Hom woon, baie anders moet optree, sodat Hy nie met Syne ten gronde gaan nie, maar dat Sy werk gedy. Maar op hierdie manier het Hy nog altyd misluk."

[4] Petrus sê aan hom: "Judas, het jy dan nog nooit gesien hoe baie, beide die Heer asook ons in nood geraak het, en dat ons sonder die Krag wat in Hom woon al lankal ten gronde sou gegaan het?! Herinner jou maar net hoe Hy die storm gebied het, en hoe baie die aanslae van die tempel, wat die geregsdienare op ons afgestuur het, verydel was!"

[5] Judas antwoord: "En tog is dit geen bewys nie, want altyd gebeur daarby sulke gunstige omstandighede, waar ons onsself miskien ook wel deur eie krag tog uit al die gevare kon gered het! Nee, ek glo dat as daar baie skielik `n liggaamlike gevaar op Hom sou afkom, sodat elkeen dit sou sien en bang sou word - sou die Heer dan nie baie kragtiger moet optree nie?! Sou die volk Hom dan nie baie anders aangehang het en hulleself nie weer deur `n onnosel, pronkerige spelletjie van die tempel teen Hom gedraai het nie?!"

[6] Petrus en die ander meen hoofskuddend: "Hoe kon so-iets gebeur het, en wie wil dit beslis? Die Heer sal self wel die beste weet wat Hy van plan is en hoe Hy wil optree."

[7] Judas swyg nou nadenkend en bly die res van die dag somber en geslote.

[8] In die huis van Laserus was dit rustig, en niemand steur My, terwyl Ek alleen in My kamertjie bly en tweespraak hou met My Vader in My nie. Geen mens sal egter heeltemal begryp hoe laasgenoemde moontlik was nie. Daarom moet hier gesê word dat My siel baie goed gesien het hoe dit moontlik was om al die lyding te systap, en dat sy geweifel het, omdat ook sy aan die aarde geketting was, netsoos die siel van elke ander mens wat `n taak moes vervul het. Alleen die Gees in My, van wie elkeen weet wie Die was, het vir My die weg voorgeskryf en het die siel voor die keuse gestel of sy uit liefde vir Hom en die mense die aangewese weg wou gaan of nie. So kom die beslissing dan ook nou ten laaste opnuut nader, en die Menseseun kies nogmaals vir die weë van die Vader.

[9] Toe dit nou aand begin te word, begeef Ek My weer opgewek na Myne en gee aan Laserus opdrag om vir Ons liggaamlike welsyn te sorg. Dit word dan ook ryklik gedoen, en gesamentlik met die twaalf, Laserus en sy susters, asook Maria van Magdala, wat sedert My vorige verblyf nie meer die huis van Laserus verlaat het nie, neem Ons `n nagtelike maaltyd vir Onsself.

[10] Na hierdie maaltyd kom daar `n dienaar van Laserus na Ons toe met die mededeling dat daar enkele manne buite staan wat vir My en Laserus wou spreek, maar sonder om herken te word. Laserus vra My wie dit dan was.

[11] Ek antwoord hom: "Dit is enkele owerstes van die volk, en onder hulle is Nikodemus ook; gedryf deur die gebeurtenisse van vandag kom hulle na Ons toe, maar hulle vrees die wêreld meer as God, daarom kom hulle ook verkleed en in die nag na Ons toe - weliswaar met goeie bedoelings, maar tog so geheim moontlik."

[12] Daarop wend Ek My tot die dienaar en sê vir hom dat hy die vreemdelinge moet uitnooi om na Ons toe te kom, en dat hy aan hulle moes sê dat hulle openlik kan kom omdat daar niemand by Ons was wat hulle sou verraai nie.

[13] Na `n kort rukkie kom die vreemdelinge binne. Dit was Nikodemus en drie hoër Judese beamptes, familie van hom, wat belangrike posisies in Jerusalem beklee het, maar wat tog almal min of meer van die tempel afhanklik was.

[14] Nikodemus snel onmiddellik na My toe en gryp My hand vol gevoel, terwyl hy My vra om hom in ieder geval die eerste tyd hier nie te laat sien nie, omdat die tempel deur My optrede van vandag `n toppunt van woede bereik het en Kajafas netsoos die Hoë Raad gesweer het om My tot elke prys onskadelik te maak.

[15] Hierdie keer, meen My teenstanders, was dit deur My onverstandige handel gelukkig om die gevaar te keer. Maar wie kon weet of dit by `n volgende geleentheid ook nog moontlik sou wees?! Daar moes dus vinnig opgetree word, voordat Ek sou slaag om die volk weer op My hand te kry, wat nou deur My weifelende houding ontmoedig was, maar selfs vinnig deur `n flinke daad van My enersyds weer kan ontvlam.

[16] Ook het hulle goed geweet dat Herodus My goedgesind was, netsoos destyds vir Johannes. Die sluwe jakkals het die tempel altyd maar net vir sy eie doeleindes uitgebuit en geldsugtig soos wat hy was, het hy hom van harte verheug oor die netelige situasie waarin die priesters ten opsigte van die volk geraak het. Daar moes daarom des te vinniger opgetree word, omdat Ek My nie met hom in verbinding moes stel om daardeur beter beskerm te word nie; want as die tempel die beskerming van Herodus teen die volk sou nodig hê, sou die beskerming enorm baie geld gekos het, omdat hy niks uit liefde doen nie en minstens sou probeer om Jesus as troef teen die tempel te speel.

[17] Nikodemus en ook diegene wat met hom saamgekom het, was dus angstig besorg oor My en het My dringend gevra om nóg vir Herodus te vertrou, nóg My bloot te stel aan die groot gevaar wat nou van die kant van die tempel gedreig het. Net hulle het dit gewaag om hierdie berigte vir My te bring. Nog vele ander uit hulle kringe was My vriendelik gesind, maar hulle durf terwille van die fariseërs nie self na My toe kom nie.

[18] Ek sê nou aan Nikodemus en sy vriende: "My geliefdes, wat julle My nou meedeel, is al lankal aan My bekend en goed deur My oorweeg; want as die Vader nie sou gewil het dat alles gebeur soos wat dit gebeur het nie - sou dit dan so gewees het? En as die Vader nie met My sou wees nie, sou Ek dan geweet het wat die komende tyd My moet bring?

[19] Glo dus maar dat alles goed is, juis soos dit gebeur het, en soos die Vader dit ook wil; want wie in My glo, glo nie in My nie, maar in dié Een wat My gestuur het! En wie My sien, sien dié Een wat My gestuur het. (Johannes 12:44-45)

[20] Ek het in die wêreld gekom as `n lig, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sal bly nie, maar dan op `n klaarligte dag wandel. Daarom het Ek ook vir die volk so gespreek soos dit altyd gebeur het; Ek het hulle ook gesê dat My ryk nie van hierdie wêreld is nie, en Ek het hulle ook altyd die weë gewys wat hulle moet bewandel om hierdie ryk van My te verwerf. (Johannes 12:46)

[21] Wie dus My woorde hoor en nie glo nie, sal Ek nie daarvoor oordeel nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel en as `n tirannieke koning te gebied nie, maar om die wêreld salig te maak deur die woord en om aan haar die vrede te bring. Wie My verag en My woorde nie wil opneem nie, het al voldoende van dit wat hom oordeel; want die woord wat Ek gespreek het en wat ewig sal bly, sal hom oordeel op sy jongste dag, waarop hy afskeid sal neem van hierdie aardse wêreld om die ewige ryk binne te gaan, waar Ek die waaragtige Koning sal wees en ewig sal bly. (Johannes 12:47-48)

[22] Ek het niks uit Myself gespreek nie, maar die Vader wat My gestuur het, het My gebied wat Ek moet doen en sê. En Ek weet dat Sy gebod die ewige lewe is. Daarom spreek Ek ook soos wat die Vader aan My gesê het. Wees dus onbesorg oor wat daar gebeur het en wat nog sal gebeur; die Vader wil dit so hê!" (Johannes 12:49-50)

[23] Daarop sê Judas opgewonde: "Heer, die Vader is tog met U in Sy hele Krag! Kan die Krag van U wyk, terwyl U albei tog één is?"

[24] Ek sê: "Die Vader, die Seun en die Krag is één en sal dit bly, en hulle kan ook nooit geskei word nie, soos wat jy goed weet; en die Vader is in die Seun en die Seun ook weldra in die Vader, verenig deur die Krag. Maar die Seun moet die Vader gehoorsaam, en as Hy dit doen, sal die Vader Hom ook alles in besit gee; en dit weet die Seun, omdat die Vader dit vir Hom gesê het. Dit sal nog `n kort rukkie duur, dan is die Seun ewig in die Vader. Maar hoe dit bereik moet word, gaan julle nou nog niks aan nie; maar dit sal julle en die hele mensdom ten goede kom."

[25] Nikodemus sê: "Heer, ons begryp hierdie woorde van U gladnie; bowendien lyk dit vir ons veral noodsaaklik dat U aan U eie persoonlike veiligheid dink; daarom het ons hierheen gekom, naamlik om dit aan U volgens vermoë te verskaf. Sou dit dus nie die beste wees as U hierdie plek verlaat om U te verberg nie? Die seun van my broer hier sal U veilig begelei, omdat hy baie verbintenisse oor die grens het, waar U volkome veilig vir `n tydlank sou kan lewe."

[26] Ek sê: "Wees nie so dwaas nie; Ek het nie die hulp van mense nodig nie. As Ek My vyande wou vernietig, sou dit vir My `n kleinigheid gewees het. Maar so wil Ek dit nie; want ook hulle sal nog die heil deelagtig word en met hulle die hele volk. Ek bly hier - en wees seker daarvan dat niemand My sal gryp voordat Ekself dit sal wil nie!"

[27] Nikodemus was weliswaar nie dadelik gerusgestel nie, omdat die vrees vir die tempel hom steeds agtervolg het. Maar ten slotte neem hy tog genoeë daarmee, en vind dat hy gedoen het wat hy verskuldig was. Ek erken dan ook sy goeie wil, en weldra gaan hy saam met sy begeleiers, onder beskerming van die duisternis, weer terug na Jerusalem, waar hy ongehinderd en sonder om herken te word, aankom.

[28] Ons self begeef Ons weldra ter ruste, omdat hierdie dag ook van Ons liggame `n groot inspanning geverg het. Ons bring die nag in groot rus deur; alleen die siel van Judas kan geen rus vind nie. Vele gedagtes en menige influistering trek daar deur sy siel, sodat hy die nag slapeloos deurbring.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205