|
Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11 LEOPOLD ENGEL
Hoofstuk 38
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79. |
|
|
Die plan van die fariseërs
38 Enkele van die Judeërs wat tot die vriende van Laserus behoort en hulle die meeste oor die onbeskaamde optrede van die fariseërs vererg het, het nou na die herberg op die Olyfberg gegaan, waar hulle geweet het dat die fariseërs nog was, omdat hulle hulle geheime leedvermaak nie wou ontsê om self die hongerige wolwe die vet hap uit hulle kake te trek nie. Mens kan jou maklik indink met watter skrik en ongeloof die berig deur hulle ontvang was, terwyl hulle juis geswelg het in die gevoel dat hulle reeds eienaars van die herberg is en hulle baie heerssugtig gedra het teenoor die herbergier, wat vanweë die vooruitsig baie bedroef was. Hulle het hulleself ook dadelik die beste wyn laat gee en heeltemal volgens hulle gewoonte in, ook die geregsdienare van die tempelwag ryklik laat onthaal. Die hele geselskap was reeds in `n aangeklamde, opgewekte stemming, toe die Judeërs binnekom en met hulle berig die al aardig benewelde hoofde sterk ontnugter.
[2] Toe hulle nou hoor dat Ek daar was, dag hulle, nadat hulle hulleself vir oorlegpleging teruggetrek het, dat daar in Betánië waarskynlik `n geweldige Esseense bedrog deur My uitgevoer was en dat daar iemand, wat sterk soos Laserus gelyk het, in sy plek gesit was, om die tempel sy aandeel te onttrek. Ek was immers steeds `n gesamentlike minnaar van die twee susters gewees en sou natuurlik alles in werking stel om My geliefdes diensbaar te wees.
[3] In `n egte opwekking glo hulle in geen geval nie. En so was dit hulle eerste sorg hoe hulle My, die valse Laserus en die twee susters in hulle mag kon kry. Hulle het ook `n baie slim plan uitgedink, naamlik dat twee van hulle My en die valse Laserus na buite moes roep; hulle sou in die geheel geen twyfel mag toon nie, maar hulle vreugde laat blyk vanweë die opwekking, en daarby moes hulle probeer om Ons twee langs die huis te lok. Dan sou die tempelwagte te voorskyn kom en Ons onmiddellik in versekerde bewaring stel.
[4] Die plan was in soverre goed, dat die fariseërs wat uitgekies was om My en Laserus te begroet, in hoë aansien gestaan het en wat in stryd met elke fatsoen en gebruik sou gewees het om hierdie hoëpriesters nie tegemoet te kom nie, as hulle `n huis met hulle aanwesigheid dag te eer. As Ons egte Judeërs van die tyd gewees het, moes Ons onmiddellik die hele huis en personeel ter beskikking van hierdie hoë gaste gestel het, anders sou dit vir Laserus as diepste minagting van die tempel en sy verteenwoordigers aangereken gewees het.
[5] Die Judeërs het onmiddellik weer weggegaan, saam met die herbergier wat buite homself van vreugde was toe die vir die fariseërs so onaangename berig oorgebring was. Hulle kom vinnig weer terug om te meld wat hulle gedoen het - daar vas op vertrouend dat Hy, wat die dood gebied, vas en seker ook die boosaardigheid van die tempel sal kan vernietig.
[6] Ek wys hulle egter met sagte woorde tereg vir wat hulle gedoen het, wat wel menslik genoem kan word, maar tog nie volgens My orde was nie, omdat leedvermaak selfs teenoor sulke hardvogtige booswigte nie op sy plek was nie en hulle harte daardeur ontoeganklik word vir medelye met die duisternis van die mense. Hulle was baie bedruk deur hierdie berisping en kalmeer eers, toe Ek hulle verseker dat daar in die geval deur hulle handeling weliswaar niemand geskaad was nie, maar dat hulle dergelike dinge in die toekoms agterweë moes laat. Dit beloof hulle ook en was daarna weer welgemoed.
[7] Die fariseërs het intussen met die geregsdienare van die tempel genader, en was nog ver genoeg van die huis verwyder om nog ongesiens `n verborge plek as hinderlaag te soek. Nogmaals beraadslaag hulle oor hulle plan, en wat hulle vernaamlik moes doen om My in hulle mag te kry, om My onmiddellik as bedrieër en volksopruier te kon aankla.
[8] Hulle bevind hulle op `n afstand van ongeveer tien minute van Betánië, by `n kromming in die weg, wat die huise nog vir hulle verberg. Die twee hoëpriesters wil nou op weg gaan met `n dienaar, wat hulle koms in die huis moes meld - toe daar `n aaklige streep deur hulle rekening getrek word.
[9] Met woedende geblaf storm die bekende groot waghonde te voorskyn en omring die hele groep op so `n angswekkende manier, dat geeneen van hulle, hulle durf verroer nie. Hierdie honde, wat deur My aan Laserus gegee was, het hulle sedert sy dood volkome apaties gedra en was nie meer te beweeg gewees om hulle funksie van beskermers en bewakers uit te oefen nie, om welke rede die tempeldienare hulle ook volkome ongehinderd kon laat geld het. Maar noudat Laserus leef, het ook die ou krag en wakkerheid in hulle teruggekeer, wat hulle vir die fariseërs op hoogs onplesierige wyse merkbaar maak. Die reusagtige diere loop tandewysend rondom die groepie, en toe een van die knegte dit waag om na een van die diere te slaan, lê hy onmiddellik op die grond en loop gevaar om verskeur te word. Die een voorbeeld was voldoende om die geregsdienare daarvan te weerhou om van hulle wapens gebruik te maak, veral omdat die diere genoeë daarmee neem om die hele geselskap aan te hou, sonder om hulle aan te val, maar ook sonder om hulle van hulle plek te laat kom.
|
|
|
|
|