Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 46

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die Heer gee die redes vir Sy sterwe aan

46 Toe die woning nou in orde gebring en verdeel was en elkeen ook `n huishoudelike taak op hom geneem het wat by hom pas, sê Petrus aan My: "Heer, dit is hier tog behaaglik rustig onder die dak! O, `n eie huis sonder sorg is tog wel iets heerlik! Waarom het U nie eerder iets dergeliks gedoen nie? Nooit voorheen het U daarvoor gesorg dat U `n eie plek het om te rus nie; eers nou maak U een vir Uself! Sou ons nie altyd hier kan bly en slegs af en toe die Judeërs daarbuite opsoek om hulle te onderrig nie? Dit sou tog wel die beste wees as ons van nou af aan altyd hier sou bly; want hulle daarbuite is tog, op enkele uitsonderings na, nie werd om U dade te sien en U stem te hoor nie!" 

[2] Ek sê: "Beste broer, ook dit is geen blywende plek vir die Menseseun nie; maar Hy het een nodig om krag te vergaar vir die sluitstuk van Sy werksaamheid! Solank Ek daarbuite werksaam was en onderrig het, het die innerlike gees My gedryf, aan wie die liggaam ook onderworpe is - maar nou moet die sluitsteen gelê word, sonder dat die gees aandryf, maar die siel moet alleen haar besluit uit liefde neem.

[3] Sien, van wat daar nou in My siel omgaan sal `n menslike hart nooit iets ervaar nie; want nou moet die Menseseun Homself tot Elohimseun verhef! Daarom word die Menseseun ook ontdaan van al Sy mag, en dan sal julle, wat tot nou toe om My heen gewees het, sien wat die Vader wil!" 

[4] Petrus vra: "Ja, Heer, U is tog self die Vader - hoe kan U dan van U mag ontdaan word?"

[5] Ek antwoord: "Die grootste kryger en held is hy, wat ook sonder wapens die vyand tegemoet tree en die dood nie vrees nie, wanneer hy weet dat hy die vyand die vinnigste vel deur sy doodsveragting. Ek lê dan ook alle wapens van krag af en tree die vyand alleen tegemoet met die krag van die woord, van die sagmoedigheid en van die liefde, sodat ook hy alle wapens van arglis en boosaardigheid kan aflê en berouvol naderby kom as verlore seun.

[6] Maar sien, dit kan jy nog nie vat nie! Let daarom goed op - op alles wat jy nou sal sien!

[7] Petrus gaan nou baie ernstig na sy broers toe en deel hulle My woorde mee, maar ook hulle begryp dit nie en vind dat Ek in My wese weer baie eienaardig was, soos al voorheen by Kapernaum. Maar hulle vra nie verder nie, maar probeer om My woorde te deurgrond.

[8] Op `n dag, toe Ons ongeveer agt dae in Ons kasteel gewoon het, kom die stadsoudste weer na My toe en sê: "Heer, ek het van `n inwoner van Efraim U laaste groot daad verneem, maar ook dat die hele tempel daarom nou baie teen U gekant is en alles in werking stel om die opwekking as die reinste swendel voor te stel.

[9] Ja, daar is selfs `n poging gedoen om Laserus voor die Raad te bring, omdat hy hom sou reinig deur alles te herroep. Maar Laserus het nie verskyn nie en sê dat as `n mens iets van hom wou hoor, mens dit ook in sy huis te wete kan kom. Die priesters het sy huis egter onrein verklaar en weier om na hom toe te gaan - waarskynlik alleen uit angs; want mense sê dat hy op wonderbaarlike wyse beskerm word.

[10] U weet dit natuurlik alles al lankal. Maar terwille van U is ek baie bang, want omdat Jerusalem hier so vlakby is, kan `n toevalligheid U verraai en hulle sou probeer om U hier op te gryp."

[11] Ek sê: "My beste leier van die stad, wees nie bang daarvoor nie; want solank Ek dit nie self toelaat nie, het geen enkele boosaardigheid van die tempel mag oor My en kan niemand slaag om My te gryp nie. Netsoos Ek tot nou toe onbekend gebly het, sal Ek dit bly. Selfs die inwoners van hierdie stad het immers geen vermoede en geen verlange om My te leer ken nie, alleen omdat Ek dit so wil hê! Wees dus geheel onbesorg! Jy is hier die enigste wat met My en Myne wil omgaan en vir wie die poort van die huis dus ook nie gesluit is nie. Maar verder sal niemand hierdie drempel so maklik betree nie - tensy die gees hom na My toe sou lei." 

[12] Die leier, wat heeltemal deur My woorde gerusgestel was, sê: "Heer, ek weet dat U meer is as `n profeet of `n ander gesalfde van God; want alleen iemand in wie die Krag van God self woon, kan sulke werk doen soos wat daar deur U plaasgevind het! Ek is dit dus ook heeltemal eens met U handelswyse en U wil. Uself sal nou seker die beste weet waarom dit so en nie anders deur U bepaal is nie! Maar ek vra U of U my nie heeltemal in U leer wil inwy nie, wat ek slegs gedeeltelik leer ken het!"

[13] Ek verwys hom nou na My leerlinge, wat hom dan ook in die dae daarna volledig onderrig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205