Die opwekking van Laserus
36 Omdat Maria nog altyd huilend in My arm gelê het, vra Ek aan die Judeërs, om hulle op die proef te stel: "Waar het julle hom neergelê? "Want hulle moes geweet het dat die plek wel baie bekend was vir My.
[2] Maar hulle sê (die Judeërs): "Heer, kom en kyk!", en hulle draai om om vir My die weg te toon.
[3] Ook Maria droog haar trane af, maak haar los uit My arm en loop vooruit om My die weg te toon.
[4] Het Hy, wat alle weë ken, gidse nodig? - En My oë was vol trane.
[5] Toe sê die Judeërs onder mekaar: "Kyk, hoe het Hy hom liefgehad!"
[6] Nota bene. As die mense sou geweet het wat die gebeure alles bevat, en wat dit in die geestelike wêreld beteken, sou hulle nooit of te nimmer meer daaraan getwyfel het dat God enkel en alleen liefde is nie!
[7] Dit moet bewaar bly vir latere skrywers, wanneer die harte ontvankliker en suiwerder geword het, om die diepste hartsgeheime van die ewige Gees van God duidelik te maak en in gepaste woorde vir die gelowige, kinderlike gemoed weer te gee, sodat hulle kan insien hoe oneindig groot en onuitputlik die bron van My liefde is. Amen.
[8] Enkele van die Judeërs, wat met Efraim saamgekom het, fluister nou onder mekaar, wysend op die wonder wat Ek aan die blinde langs die weg na Jerigo verrig het: "Kan hy, wat die blinde sy oë geopen het, nie ook daarvoor gesorg het dat Laserus nie gesterf het nie?!"
[9] Opnuut ondervind My innerlike - omdat al hierdie woorde, hoewel hulle vir diegene wat om My heen gestaan het, nie hoorbaar was nie, terwyl hulle vir My wel duidelik te hore was - `n diepe weemoed vanweë die feit dat hulle geloof so weinig lewend was.
[10] En Ek wend My tot My leerling Johannes, wat naas My loop en sê aan hom: "Johannes, as jy berig oor die daad waarvoor Ek My nou na die graf begeef, berig dan ook oor die twyfelaars, omdat die latere geslagte `n duidelike teken sal hê hoe weinig nut wondere het, en dat alle krag net leef in die woord, wat van geloof deurtrek is! Daarom moet Myne ook in latere tye alleen met die skerpste wapen stry; want wat van God is, is onfeilbaar vanweë die innerlike, blywende wese!"
[11] Ons kom nou by die graf, wat buite Betánië lê op `n plek met `n oop uitsig, omgeef deur olyfbome en struikgewas, en wat in die rotse uitgekap was. Laserus het dit al tydens sy lewe laat maak, omdat dit vroeër `n geliefde gedagte van hom was om op sy landgoed te rus en as te ware ook na sy dood `n beskermer daarvan te wees. Die graf, wat selfs nou nog aanwesig is, maar geensins die graf is wat aan vreemdelinge en reisigers getoon word nie, was nie op die gebruiklike manier van die Judese graftes gemaak met `n voorkamer en `n graf nis nie, maar meer op die wyse van die Romeinse begraafplase of columbaria.* *(Columbarium: `n Ruimte waar vase met die as van oorledenes bewaar word.)
[12] Daar was `n diep gang in die rotse gekap, taamlik hoog gewelf, en aan die einde daarvan was `n dieper gedeelte in die rots, waar die dode in gelê was, afgedek deur `n groot vierkantige klip, wat maar moeisaam weg te wentel was. Hierdie gang moes volgens die idee van Laserus regs en links nisse bevat vir die toekomstige graftes van sy susters. Maar hulle wou nie reeds tydens hulle lewe hulle toekomstige grafte leer ken het nie; daarom het hulle broer dit agterweë gelaat en één enkele graf gemaak.
[13] Toe Ons by die graf kom, sê Ek aan enkele knegte van Laserus, wat besig was om die omgewing van die graf in orde te kry en nou nuuskierig toekyk wat daar sou gebeur: "Tel op die klip van die graf!"
[14] Ongelowig hoor hulle My oproep, en Martha, wat hulle nie te verstaan gee dat hulle My bevel moes opvolg nie, sê op besorgde toon aan My: "Heer, hy stink al; want hy lê al vier dae daar!"
[15] Ek antwoord haar: "Martha, waarom bied jy teenstand teen My woord? Het Ek jou nie gesê dat jy die heerlikheid van God sal sien nie, as jy glo?! - Doen dan wat Ek julle gesê het!"
[16] Toe tel hulle met veel moeite die swaar klip van die graf, en onmiddellik loop die arbeiders weg van die graf vanweë die bose geur wat van die dooie af kom. Daarom kon niemand ook vlakby die rotsgang bly nie, maar diegene wat saamgekom het, gaan staan opsy, verwonderd en vol verwagting toekykend wat Ek gaan doen.
[17] Ek gaan egter by die ingang van die rotsgang staan en sê met harde stem: "Vader, Ek dank U dat U My, U Seun, verhoor het! Maar Ek weet dat U My altyd hoor; want U stem leef en klink in My. Nie ter wille van Myself nie, maar ter wille van die volk wat hier rondom staan sê Ek dit, sodat hulle eindelik geheel en al sal glo en insien dat U My gestuur het en dat U in My leef, soos Ek in U!"
[18] Na hierdie woorde wend Ek My na die graf en roep met harde stem: "Laserus, kom hier uit!"
[19] Onmiddellik verdwyn die slegte geur, en die liggaam wat opgewek is, begin hom te beweeg. Maria en Martha, wat in hulle hart gevoel het wat daar sou gebeur, toe Ek my na die graf begeef, maar tog die twyfel in hulle gevoel het of Ek daarin sou slaag - soos wat elkeen altyd eerder glo wanneer dit oor ander gaan, maar as dit oor homself gaan, veel minder geloof aan die dag lê - skreeu dit uit van blydskap en hardloop die graf binne.
[20] Laserus was egter heeltemal in lykdoeke gehul, sy gesig bedek met `n sweetdoek. Hy het regop gaan sit en sit in die graf soos iemand wat uit `n diepe slaap ontwaak en sy gedagtes nog nie goed kon versamel nie.
[21] Daarom sê Ek aan sy susters: "Maak die doeke los en laat hom gaan!"