Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 52

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die wedergeboorte van die gees

52 (Die Heer:) "Al diegene wat reeds op aarde My en My woorde volg, sal die doel bereik, wat Ek julle al so baie as die wedergeboorte van die siel aangedui het; dit is dus wanneer die siel deurdring geraak het van die gees, waardeur sy reeds in die liggaam bekwaam word om in alle hoëre wysheid van die hemele deur te dring en nie alleen meester oor haarself nie, maar daarmee ook meester oor haar omgewing word, ja, selfs ook oor die natuur en oor verborge kragte, wanneer sy poog om uit liefde My wil te vervul tot nut van die naaste. Die middele om die doel te bereik heet geloof en ware liefde vir die naaste.

[2] Sulke wedergebore mense kan en moet ook baie regverdige mense wees, soos wat daar steeds in alle tye gewees het, wat die uiterste voleinding van die siel besit; maar daarom hoef hulle nog nie die gemeenskap met die persoonlik werksame Gees van God bereik het nie.

[3] Tot nou toe was dit trouens nog nie moontlik nie, omdat behalwe in My die Godheid nog nie persoonlik sigbaar aanwesig was nie!* Alle regverdiges wat vóór My liggaamlik gelewe het wat die wedergeboorte van die siel bereik het, kan desondanks nog lank nie die Godheid aanskou soos wat julle dit doen nie. Daarom gee hulle leringe ook aan dat die binnedring in eie hoogste voleinding hulle `n opgaan in die oneindigheid toeskyn, omdat God self, as onpersoonlike Wese, die oneindigheid beteken, waarin die waai van Sy krag wel geestelik gevoel kan word, maar destyds nie vir die siel aanskoulik in `n persoon getoon kon word nie. (* Sien ook "Die Geestelike Son" 11/13:7; "Die Huishouding van God" 11/139:20 en 138:26; "Die Groot Johannes Evangelie "VI/83:l l - almal ontvang deur Jakob Lorber.)

[4] Eers na My dood, wanneer die liggaam opgeneem sal wees as `n kleed van die Almagtige, oneindige Godheid self, sal ook al diegene wat vóór My tyd die liggaamlike lewe verlaat het, in staat wees om deur die aanskou van die nou persoonlike Godheid in ewige gemeenskap met Hom lewe, en wel in `n stad wat Ek julle reeds getoon het, toe die twaalf ligtende suile die Jerusalemmers in die nag verskrik het, en wat die ware hemelse Jerusalem, die ewige stad van God voorstel. Die gemeenskaplike ewige saamwoon van God met Sy kinders is die wedergeboorte van die gees. 

[5] Na My sal nog vele die wedergeboorte van die siel baie goed kan bereik en derhalwe ook baie salig en gelukkig wees, maar sonder om die hoogste en laagste vlak te bereik. Vele afgesante van My gees daal af na die aarde en toon die verdwaalde mense die weë, hoe hulle tot vrede en innerlike verligting kan kom, maar sonder dat hulle in staat was om die direkte weë na My toe te toon, omdat dit immers nog nie geopen was nie. Almal wat op die manier die vroeëre weë wou bewandel, kon dus baie goed tot die wedergeboorte van die siel gekom het, maar nie tot gemeenskap met My nie.

[6] Die laaste is alleen moontlik deur die geloof in My, naamlik dat Ek waarlik die Messias is, die Gesalfde, aan wie alle krag en heerlikheid van die Vader gegee is, sodat die mense gelukkig en hoogs salig kan word deur die Seun. Ek is die poort - `n ander is daar nie! Wie die weë na die hemel wil betree sonder om My te wil ken, kan wel `n hoë graad van volmaaktheid bereik, maar nooit tot helder, aanskoulike gemeenskap met God self kom nie. - Het julle dit nou begryp?"

[7] Almal sê: "Ja, Heer, dit was immers duidelik gespreek; wie sou dit nie begryp nie?"

[8] Nou meen Petrus weer: "Heer, sal diegene wat nou die wedergeboorte van die siel bereik het en wat nou eendag eg salig lewe, ook almal die wedergeboorte in die gees bereik, of is dit moontlik dat hulle ook sal bly staan op die vlak van hulle voleinding?"

[9] Ek sê: "Die vraag sou jy eintlik self kan beantwoord; want dit spreek tog vanself dat niemand gedwing word nie! Maar as `n land deur `n breë rivier geskei is, en daar kom `n bekwame boumeester wat `n brug bou, waarna hy almal bymekaar roep wat tot nou toe nie na die ander oewer kon kom nie, om daar saam met hom verby te gaan na die ander oewer - sal almal hom dan volg? In ieder geval die grootste deel, en die agterblyers sal seker na enige tyd van wag ook daar verby gaan, as hulle sien dat die eerstes nie terugkom nie - en nog meer, wanneer hulle sien dat die ander oewer in die helder sonskyn lê en lieflik daaruit sien! 

[10] Kyk, so `n Boumeester is Ek! En ook na My sal elkeen daarna strewe om die opgang na die "brug te vind"; want sy innerlike gees sal vir hom sê: "Daar bestaan nog `n hoër, kosbaarder ding as dit wat jy jouself berei het deur jou regverdige lewe; soek daarna!"

[11] En elke soeker wat die liggaamlike lewe afgeskud het, sal die brug ook kan vind, of hy nou deur die leer wat deur My aan julle gegee is, of deur die leer van `n deur My gewekte, vroeëre of latere leraar self tot `n regverdige* geword het. *(Die woord "regverdige" (oorspronklik in die Duits "Gerechte") word hier gebruik in die sin van "(ge)regverdig(d) in God se oë" - die Judese "tsaddik".)

[12] Sulke regverdiges tree Ekself wel te gelegener tyd as brugwagter tegemoet, en dan betaal hulle vrywillig hulle tol, dit wil sê: Hulle neem die leer aan, dat die Vader in die Seun is, en dat wie die Seun sien, ook die Vader sien!

[13] So sal hulle dan netso wel opgeneem word as al diegene wat van die begin af aan My weë bewandel het.

[14] Daarom moet julle nie veragtelik op die heidene neerkyk nie; want Ek sê vir julle dat daar onder hulle regverdiger mense is as wat daar ooit onder die volk van die Judeërs geleef het, en daarom sal ook die heidene aangeneem en die Judeërs verwerp word!"

[15] Petrus sê: "Heer, as daar onder die heidene sulke regverdige mense bestaan, hoe het hulle dan die regverdigheid bereik?"

[16] Ek antwoord: "Ek het jou immers al gesê dat hulle steeds onderrig word deur afgesante van My Gees, wat die lig vanuit My hemele oorbring en die mense, en hulle onderrig, na gelang van hulle begripsvermoë. Hierdie afgesante het egter bowenal oor die inkeer in die innerlike van die gees onderrig, sodat elkeen wat die waarheid in homself wil vind, dit ook sal vind; maar dit is, soos julle weet, die wedergeboorte van die siel. Hierdie inkeer het Ek julle ook dikwels aanbeveel as `n geskikte middel om die siel vry en skoon te maak van alle vlekke en smette van haar selfsug en om daardeur tot My te kom.

[17] Oefen julleself daarin, omdat julle innerlike oog homself meer sal open en julle sal self ervaar wat die gees alles kan openbaar, wanneer hy in julle lewend geword het! Hoe dit moet gebeur, weet julle baie presies van My; handel dan ook daarvolgens!"

[18] Die leerlinge trek hulle nou almal terug en dink baie na oor My woorde, wat hulle baie ter harte neem. Veral Petrus - wat hom tot nou toe weinig besig gehou het met die eienskappe wat die gees aan die siel kan gee - was dié een wat hom nou sterk beywer het om sy geestelike oog oop te hou, om homself en sy omgewing beter te leer ken.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205