Die koopman soek die Heer
7 Ons wag nou rustig af wat die drie fariseërs, wat met die koopman oorleg pleeg en uit My persoon nie goed wys kan word nie, na vore sou bring, en maak asof hulle gladnie daar was nie. Mucius was ondertussen in korte bewoordings deur Johannes onderrig, en beide loop na Ons toe. Mucius wil My bedank. Maar Ek wys hom op die vier wat daar langsaan staan, waarop hy My begryp en swyg.
[2] Nou kom die weer na Ons toe en nou neem die koopman die woord en sê: "Heer, uit U woorde het ek duidelik uitgemaak dat U die Galileër baie goed moet ken, veral deurdat U wys op Sy groot krag, waarteen niks weerstand kan bied nie. Hoewel ek Hom self nooit gesien het nie, het ekself die krag baie goed gevoel en hierdie vriende van my ook na vermoë daarteen gewaarsku om nie die toorn van die Galileër op hulle te laai nie, omdat hulle volgens my as reddeloos verlore sou wees. Maar deur die waarskuwings het hulle maar net des te begeriger geword om die Wonderman te leer ken en so moontlik Sy krag te beproef."
[3] Die herbergier vra die koopman watter gebeurtenis dit dan was, waarna hy verwys.
[4] Onmiddellik vertel die koopman nou: "Dit sal die komende Pasgatyd nou drie jaar gelede wees, wat ek in die tempel `n klein kraampie kon neersit om my besigheid as geldwisselaar uit te oefen, wat juis in die Pasgatyd vanweë die vele offers `n baie aansienlike wins oplewer. Op `n dag hoor ek dat die bewuste Galileër in Jerusalem was en die tempel binnegegaan het om daar te onderrig. Ek was van plan om nader na Hom toe te gaan om die Wonderman, wat destyds net nuut opgestaan het, noukeuriger te bekyk, toe `n magtige stem plotseling deur die gebou van die tempel dreun, waarvan ek my nog die woorde herinner: "Die huis van My Vader is `n bedehuis, maar julle het dit tot `n moordkuil gemaak!" Ek het enorm daarvan geskrik. Op die plek waar die Galileër moes gestaan het, ontstaan groot verwarring en almal, ook ek, word plotseling deur so `n verskriklike angs oorval, dat die hele volk tegelyk op die uitgange afstorm.
[5] Ek durf die tempel en my geldwisselaarskraampie nie meer betree nie, uit vrees dat die magtige Man stellig dieselfde spel sou herhaal - en ek het by die plotselinge vlug ook `n aansienlike som geld verloor, wat vas en seker die tempel baie ten goede sou gekom het, en ek weet daarom uit ervaring watter groot mag die Galileër besit."
[6] Daarop vra Petrus hom: " Het jy die Galileër nooit weer gesien nie?"
[7] Die koopman antwoord: "Nooit, want enersyds hou `n groot vrees vir Hom my daarvan terug, en ten tweede had ek geen tyd daarvoor nie. Ek moes probeer om die verlies aan vermoë wat ek in die tempel gely het, weer goed te maak, en reis onmiddellik na die kusstede, waar ek handel dryf met baie goeie olie wat na Griekeland en Rome uitgevoer word, en daarna ook met vele ander produkte van die land, en ek woon eers vanaf onlangs weer in Jerusalem. Vanuit Petra soek ek nou na nuwe verbindings om die produkte van Indië en Arabië na die kusstede te bring en van daaruit na Rome te kan uitvoer. Dit is die doel van my huidige reis.
[8] Ek het dus tot nou toe geen geleentheid gehad om iets daarvoor te onderneem nie, ofskoon ek die Jesus van Nasaret graag sou wou gesien het. Vele maak Hom uit as `n harde, afstotende man, wie se leer presies so is soos Hyself - ander roem weer Sy mildheid, wysheid en onbegryplike krag, waarmee Hy die grootste wondere doen. Op my reis het ek baie geleentheid gehad om my daarvan te oortuig dat Sy krag geen verbeelding, maar daadwerklik aanwesig is. Ondanks dit alles kom dit egter steeds so uit, dat my sake my daarvan weerhou om Hom te ontmoet."
[9] Ek sê aan die koopman: "Waar wêreldse verstand en die najaag van rykdom hand in hand saam met eiebelang gaan, moet die sagte stem natuurlik verstom, wat die mens toeroep: "Soek na waarheid!" `n Klein omweg op jou togte van Jerusalem na Jaffa, Tirus en Sidon sou jou geen nadeel berokken het nie, sodat jy baie maklik die Man kon ontmoet het wat jou meer onverganklike rykdom kon getoon het en eie besit kon gee, as wat jy ooit in staat sou wees om bymekaar te skraap.
[10] Wie nie soek nie, sal ook nie vind nie, vir wie nie klop, word ook nie oopgemaak nie! Wie glo dat die geestelike kennis van die goeie en ware hóm moet opsoek, sodat dit hom vanself op sy reëlmatige wêreldse weë moet toeval, sal ewig lank wag totdat hy dit ontvang. Wie uit gemaksug en vanweë wêreldse sake selfs nie `n baie klein omweg wil maak om die bron van die waarheid te soek nie, ofskoon hy reeds daarvan gehoor het, behoort tot die wêreldse mense tot wie die Heer aan die einde van die tye sal sê: Julle het oor My gehoor en het My tog nie gesoek nie - nou soek Ek julle nie, ondanks die feit dat Ek weet dat julle daar is. Gaan weg van My en gaan daarheen, waar julle liefde julle heentrek!"
[11] Die koopman sê heel nadenkend: "Heer en meester, ek sien dat ek dit nie goed gedoen het nie! Want hoe lank sal ek nog lewe!? Ek is nou ruim vyftig jaar oud en voel dat my siel verdor is, want wat hulle in Jerusalem leer, glo ek nie. Ek weet hoeveel bedrog daar heers, en my lewe loop ten einde, sonder dat dit my bevrediging skenk. Ek het al baie navraag gedoen na die leringe van die Galileër en het mooie pêrels van mensliewendheid daarin ontdek - sou dit miskien tog moontlik wees om deur Hom die bevredigende weg na kennis van die werklik goeie te vind? Sou U my kan sê, o heer en meester, waar ek Hom kan vind? Hierdie keer sal ek geen spyt hê van `n omweg nie, hoe groot ookal, om met Hom kennis te maak nie!"
[12] Ek sê aan hom: "As jy so`n honger het, sal jy ook versadig word. Miskien sal jy ontvang wat jy wens. Maar hoe staan dit dan met jou metgeselle? - Begeer hulle ook om die Galileër self te ontmoet?"
[13] Die fariseër wat tot nou toe met My gespreek het, sê: "As dit sou kan gebeur, sonder om veel opsien te baar, sou ons dit goedvind. Ons sou Hom die voorstelle van die tempel voorlê en Sy wondere ondersoek, en dan sou ons wel verder sien."
[14] Die fariseër spreek hierdie woorde met `n sekere neerbuigendheid teen Ons, omdat hy hom daaraan vererg het dat die koopman oor bedrog van die tempel gespreek het, en hy wou ons duidelik maak dat hy die gesprek as geëindig beskou, aangesien daar tog niks uit Ons te kry was nie.
[15] Daarom antwoord Ek hom: "Vriend, waarom erger jy jou oor hierdie man, omdat hy die waarheid gepraat het? Dit sou beter vir jou wees as jy in jouself trag om te deurgrond of nie ook jou siel verdord is en nog bevrug sou kan word nie. Maar as jy wil weet waar die Galileër die laaste `n groot wonder gedoen het, reis dan verby die Nebo na die stad Afek, waar Hy tot nou toe die hele woeste streek in vrugbare land verander het, soos die inwoners daar julle drie haarfyn sal vertel! Ondersoek goed of die wonder eg is en of daar geen bedrog daaraan ten grondslag lê nie, en let daarna op wat julle harte julle sal influister! Bring verslag uit in Jerusalem oor wat julle gehoor en gesien het, of hou dit vir julleself, heeltemal soos julle dit sal aanvoel!
[16| Dit is ook moontlik dat die Galileër, as julle met `n gereinigde hart terugkom, Hom deur julle laat vind; want altyd vind net diegene hierdie Lewensmeester, aan wie Hy Homself openbaar - ander bly blind, selfs wanneer hulle al met Hom omgaan."
[17] Die fariseër sê spottend: "Met Hom omgaan sonder om Hom te herken sal vir ons waarskynlik nie moontlik wees nie. Ons het baie helder oë in ons kop. Maar tog dank ons U vir U raad; want nou weet ons waar ons Hom kan soek en daarna ook kan vind."
[18] Daarmee neem hulle afskeid van Ons en gaan saam met die koopman, wat My steeds baie nadenkend aankyk, terug in die huis. Ek gee Mucius nou die opdrag om hulle te volg en `n uiteindelike vertrek van hulle nie te verhinder nie, maar hulle heeltemal vry vanuit hulself te laat beslis. Mucius gaan hulle dus agterna, en Ons bly nou `n rukkie ongestoord alleen in die tuin.