Die intog in Jerusalem
66 Die volgende môre, nog voor die son opgegaan het, was almal wakker, en Ons begeef ons dadelik na buite.
[2] Daar roep Ek My leerlinge, die twaalf apostels, om My heen en sê die volgende aan hulle: "My geliefdes, hierdie dag sal vir die Seun van die mens tot `n dag van hoë eer word, omdat die Vader dit ter wille van die mense so wil! Maar tog sal dit julle nie dieper raak as wat die gees in julle toelaat nie, sodat julle nie hoogmoedig sal word nie! Sluit julle harte dus vir alle influisteringe van ydelheid en heerssug, sodat die vyand geen mag oor julle sal kry en julle tot sy instrumente maak nie!"
[3] Toe vra die leerlinge, onder wie ook Judas hom weer bevind het, wat teen die oggend in die geheim teruggekom het: "Heer, hoe bedoel U dit, en waarmee kan ons onsself teen die vyand beskerm?"
[4] Ek sê: "Sien toe, en open julle siele vir die lig van die Wysheid, dan sal julle nou begryp waarvan die profete gespreek het! Wees slegs vir God lief en nie die wêreld nie, dan sal julle julleself ook teen alle aanvalle kan beskerm!"
[5] Hierop wend Ek My na die rigting van Jerusalem en roep hardop: "Maar jy, Dogter van Sion, maak jou gereed om jou Koning te ontvang!"
[6] Na hierdie woorde kom die son helder stralend op met `n glans, soos nog nooit gesien was nie, en op dieselfde oomblik sien My leerlinge - behalwe Judas, wat opgewonde langsaan gestaan het - met geestelike oë, hoe `n groot, omvangryke stad haarself in die eter vorm, wat `n ewebeeld van die aardse Jerusalem was, maar baie pragtiger. Wyd was die poorte geopen, en `n onafsienbare menigte pragtige menslike gestaltes staan daar vol verwagting, asof hulle op `n vors wag wat daar ingebring sou word.
[7] Slegs vir `n kort tyd duur die geestelike visioen; daarna verdwyn die beeld, en Ek sê aan hulle: "Daar word die Seun verwag en sal Hy van nou af aan troon tot in ewigheid. Dit is billik dat ook die Seun van die mens verhoog word. Kom en volg My!"
[8] Petrus vra My of Ek wil gaan sonder om van Betánië afskeid te neem en sonder om vir Laserus en sy susters op hoogte te stel.
[9] Ek sê: "Weet jy waarom dit nodig is? Maar Ek weet wat vir My noodsaaklik is om te doen. Maak jou dus oor niks bedruk nie! Laserus en sy susters sal weet om Ons op die regte oomblik te vind - netsoos nog vele ander vir wie hierdie dag nodig is."
[10] Nou sê die leerlinge niks meer nie, maar hulle verwonder hulle baie en vra hulleself fluisterend af wat My opmerklike manier van doen sou beteken het; want so het hulle My vir `n lang tyd nie meer gesien nie. Maar Johannes vermaan hulle om hulle van elke woord te weerhou en stilswyend te doen wat Ek sou verlang, sodat daar nie die minste teen My wil gedoen sou word nie. Dit beloof almal ook, en veral Petrus verseker plegtig dat hy My tot in die hel sou volg, ook al wis hy nie waarom Ek hierdie weg gaan nie.
[11] Judas, wat die woorde gehoor het, sê glimlaggend: "Vriend, die Heer weet wel welke weg Hy moet gaan! Nie na die hel nie, maar tot roem en eer van Sy volk bewandel Hy die weg van die gestuurde God!"
[12] Vol geesdrif kyk hy na My; want My harde woorde lyk vir hom die bevestiging te wees van al sy wense, sodat hy die weg oop sien lê na alle eer, wat ook hy sou ontvang as wegbereider van die Messias, wat baie aan hom te danke sou hê.
[13] Petrus kyk verbaas na Judas, wat so `n trotse, selfbewuste houding toon, maar hy swyg, omdat die hele gebeure van hierdie môre vir hom baie vreemd voorkom, en saam met die ander elf sit hy nou rustig sy weg voort.
[14] Ons het nou halfpad op die weg van Betánië tot by die poorte van Jerusalem gekom. Voor ons aan die linkerkant lê `n dorpie, wat Bétfagé heet, maar wat nou heeltemal verdwyn het. Hier vra Ek My leerlinge of twee van hulle aan My `n liefdesdiens wil bewys. Almal meld hulle aan daarvoor. Ek kies vir Johannes en Petrus uit en dra hulle op om na die plekkie te gaan wat hulle voor hulle sien. Daar sou hulle by die eerste huis `n eselin vind wat daar vasgemaak met haar vul geloop en wei het.
[15] (Die Heer:) "Bring vir My die vul; want Ek het haar nodig! As mense julle vra wie julle gestuur het, antwoord dan maar net: "Dit is die Heer, en Hy het die dier nodig!", dan sal hulle haar aan julle gee!" (Markus 11:1- 3)
[16] Die twee gehoorsaam dadelik en begeef hulle na die dorp, terwyl Ons langs die weg onder struike en bottende bome gaan sit om die terugkeer van die uitgestuurdes af te wag.
[17] In Bétfagé het `n man gewoon wat Migram heet, wat `n Romeinse lansdraer was. Hy het vele veldtogte meegemaak en in die leër `n gewaardeerde posisie verwerf deur sy dapperheid en slimheid, om welke rede hy geliefd was by sy hoëres in rang. Toe `n swaar verwonding, waardeur hy met sy regterbeen sleep, hom gedwing het om afskeid te neem, was hy ryklik beloon en onder algehele vrystelling van die betaal van belasting ontslaan. Hy was `n vroeëre bekende van Markus, en het by sy vriend in sy bad genesing gesoek en het by sy vertrek die reeds eerder genoemde eselin gekoop en saamgeneem na sy huis, waar sy hom gedien het as `n troue dier, wat vir sy meester die opbrengs van sy klein tuin na Jerusalem gedra het om dit daar te verkoop.
[18] Hierdie Migram het deur Markus baie oor My gehoor, was in My leer ingewy en as Romein, wat hom nie oor die Judeërs van Jerusalem bekommer het nie, aangesien hy hom alleen bemoei met die afgesante en burgers van Rome, was hy `n openlike aanhanger van My. Toe die twee leerlinge dus by sy huis kom en ook die twee diere daar aantref, waarvan hulle die jongste van sy tou losgemaak het, kom die eienaar vinnig sy huis uit, saam met `n paar ander wat na hom toe gekom het om vrugte te koop, en vra hulle bars hoe hulle daarby kom om die dier te wil saamneem. (Markus 11:4-5)
[19] Johannes antwoord dadelik ooreenkomstig My woorde, en toe Migram baie verheugd hoor dat dit daarom gaan om aan My `n diens te bewys, wou hy ook onmiddellik die ou eselin losmaak, om haar self saam met die vul na My toe te bring. Weliswaar sê die leerlinge dat die Heer slegs die vul nodig gehad het. Maar in sy ywer luister hy nie daarna nie en dryf die diere vinnig voort om die plek te bereik waar Ek My opgehou het, sodat die leerlinge moeite gehad het om hom te volg. (Markus 11:6)
[20] Toe Migram My die diere bring, wat hy My vol vreugde aanbied, sê Ek aan hom: "Migram, Ek sien jou goeie wil en sal jou vergeld wat jy onmiddellik vir My gedoen het, toe Ek Myne na jou toe gestuur het! Maar maak nou die dier wat My leerlinge van jou verlang het, vir My gereed as rydier!"
[21] Dit doen hy ook dadelik deur sy mantel, wat hy volgens Romeinse gebruik gedra het, saamgevou oor die rug van die dier te sprei. Dit doen ook enkele van Myne om `n goeie sitplek te verkry. (Markus 11:7)
[22] Terwyl Ons nog met hierdie voorbereidings besig was, kom daar `n groot groep mense oor die weg van Jerusalem aan. Toe hulle Ons in die oog kry, hardloop hulle na Ons toe, en in die kortste tyd was Ons deur enkele honderde mense omring, wat My stormagtig verwelkom het en as redder van Israel begroet het. Dit was vir die merendeel Judeërs wat na die fees gekom het, waarvan `n deel My geken het van My reis deur die land en My en My leerlinge dus al vroeër as heilbrengers leer ken het. Hierdie mense prys My as hulle koning, veral omdat daar vele onder hulle was wat destyds op wonderbaarlike wyse deur My gespysig was en toe almal die bedoeling gehad het om My tot koning uit te roep, om welke rede Ek My van hulle teruggetrek het.
[23] Terwyl hulle My geesdriftig toeroep, kom Laserus, sy susters en sy mees vertroude personeel, wat daarop uitgegaan het om My te soek, ylings na My toe, dring deur die omstanders heen en was bly om My te gevind het. Toe die aanwesiges vir Laserus sien, wat hulle almal goed geken het en wie se naam sedert sy opwekking op alle lippe was, ken hulle gejuig geen grense nie en onder die roep van "hosanna" en "heil" word Ons almal omring. Ek wys hierdie eerbetuigings nie af nie, maar beklim swyend die gereedgemaakte dier, wat nou in die rigting van Jerusalem begin te loop.
[24] Die menigte groei egter steeds meer aan, omdat elkeen deur die lawaai aangelok word en die stoet volg. Die mense trek groen takke van die bome af en strooi dit op die weg. Daarna sprei hulle hulle klere uit om die lasdier verby dit te laat loop - almal eerbetuigings waarmee die vroeëre konings begroet was. Toe Ons die helling van die Olyfberg nader, vanwaar mens `n wye uitsig oor Jerusalem gehad het, het Ons duisende mense by die poorte gesien staan en ook was die dal van Kidron vol mense. (Johannes 12:12-16)
[25] Jerusalem was weliswaar `n groot stad, maar tog kon dit in die Pasga nie die groot aantal vreemdelinge huisves nie. Daarom was die gebruik dat die armes en ook diegene wat te laat gekom het, om nog in die oorvol herberge `n heenkome te vind, onder die blote hemel of in tente in die Kidrondal te bly; want behalwe die tempel, was ook die Kidrondal as heilige grond beskou. Al hierdie mense, wat ook nou in die dal `n plek gevind het en die gerug verneem het dat Ek na Jerusalem sou kom, stroom na Ons toe om My te verwelkom, waarby hulle My dade en veral die opwekking van Laserus, wat nou sigbaar langs My geloop het, hardop prys en sodoende inval met die algemene lofgesang. (Johannes 12:17-18)
[26] Toe Ons by die poort van Jerusalem kom, wat vanaf die Olyfberg die hoofingang vorm, probeer die Romeinse poortwag dit sluit, omdat die wagters gevrees het dat daar `n opstand voorberei word. Hulle word egter daarin gehinder deur die enorme gedrang van die volk, wat uit die stad uit wou gaan, omdat hulle vanaf die tempelvoorhof die naderende stoet gedeeltelik gesien het en ook die geroep gehoor het. Toe die Romeine bowendien sien dat die volk vreedsaam naderkom met boomtakke en palmblare in hulle hande, laat hulle elke verset vaar en kyk veeleer met verbasing na die stoet as iets wat hulle nog nie geken het nie en dat dit stellig by die fees hoort. So kom Ons almal ongehinderd die stad binne en trek dadelik in die rigting van die tempel.