DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 74

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 72 Die inwendige sonne en hul inwoners. Ordelike en wanordelike opstyging van die son-grondliggeeste 1. Ons het al in die begin verneem dat die son geen volkome kompakte liggaam is nie, maar dat sy uit sewe, as’t ware in mekaar liggende, sonne bestaan, waartussen daar steeds 'n hol ruimte van verskeie duisende myle is. 2. Daar is reeds gesê dat ook hierdie binnesonne bewoon is. Nou is dit die vraag: Met welke inwoners? Is dit werklike wesens met 'n menslike liggaam, of lyk hulle dalk soos julle aardmannetjies* en die sogenaamde lug-, vuur-, water- en aardgeeste? Of is hulle miskien baie besonderse wesens, wat verder nêrens anders as net in die son voorkom nie? Dit is dus drie moontlikhede, waarvan nóg die een, nóg die ander verwerp kan word, maar ook nie heeltemal beaam kan word nie. Hulle het weliswaar die skyn daarvan dat hulle baie ooreenkomste met genoemde wesens vertoon, maar in werklikheid en volgens innerlike betekenis is daar geen enkele ooreenkoms nie. * Natuurgeheime, JL Hfs 33 3. Julle moet naamlik by die son steeds voor oë hou dat daar altyd net wesens van primêre of solêre aard daarop bestaan, terwyl hulle op die planete van sekondêre of antisolêre aard is. By die beskouing van die vorm sien julle dat hulle weliswaar op dieselfde manier tot uiting kom as op die planete, maar dat die innerlike gesteldheid en die oorsprong daarvan in skrille kontras staan met alle vergelykbare spesies op die planete. 4. Nou kan ons 'n blik werp op die inwoners van hierdie binne¬sonne. Hulle verskil onderling netsoveel as wat die kleure van die reënboog verskil. Gevolglik het ons hier in ’n ware sin nóg aardmannetjies, nóg lug-, water-, aarde- en vuurgeeste, en nóg minder werklike natuurlike, liggaamlike mense, maar geesmense wat eers mettertyd in die natuurlike lewe, óf op die oppervlak van die son óf, in 'n minder gunstige geval, ook in 'n liggaamlike lewe op die planete kan oorgaan. 5. Wie hierdie geeswesens met 'n algemene naam wil aandui, doen goed om hulle as son-grondliggeeste aan te dui. Hierdie geeste is vir mekaar netso sigbaar as natuurlike mense vir mekaar, want hulle kan vir daardie doel uit die aanwesige lug ook 'n liggaam vorm, hoe en wanneer hulle wil; dit kan hulle doen vanuit hul volle vryheid binne die ruimte wat hulle deur My ter bewoning toegeken gekry het. 6. Gebruik hulle hierdie toestand van selfstandigheid en volledige vryheid op die regte manier, dan word hulle hele wese mettertyd stabieler en meer duursaam, waarna hulle weldra via die weg van verwekking en geboorte na die oppervlak van die son kan oorgaan. Van daar af staan die deur dan vir hulle oop vir die verdere geestelike reis tot finale voleinding, soos wat reeds vroeër bespreek is*. *sien hfst. 3:9 e.V. 7. As hierdie geeste van die binnesonne egter hierdie toestand van intelligente vryheid gebruik op 'n manier wat nie met My orde ooreenstem nie, dan kry hulle ook wanordelike vorme, wat onuitspreeklik verskillend van aard kan wees. As hulle sien hoe die ordelike geeste na afloop van hul gunstige ontwikkeling vertrek, dan vorm hulle groepsgewys sameskolings van triljoene en nogeens triljoene wanordelike geeste, wat ook wil vertrek en met geweld wil bereik wat die ordelike geeste langs die kort en korrekte weg bereik het, naamlik uiteindelik die oppervlak van die son en daarmee die deur hulle fel begeerde, mees volledige vryheid. 8. Die sterkste en skrilste kontraste vind ’n mens op die laaste binneson, wat die eerste is na die werklike, sigbare son, want in die nog verder na binne geleë sonne is die verskille lank nie so opvallend nie, dit wil sê dat die inwoners, ten minste volgens voorkoms, meer gelykgesind van aard is as op die laaste binneson. 9. Die minste opvallend is die verskille op die allerbinneste, kompakte son, wat in ’n sekere sin die hart van die son vorm. Vanuit hierdie hart stroom hierdie geestelike wesens in allerlei vorme tot by die boonste son, soos wat die bloed vanuit die hart tot in alle dele van die liggaam vloei, waar dit die voedsame elemente oral afgee en die minder voedsame weer teruglei. 10. So gebeur dit ook dikwels, ja, eintlik voortdurend, dat die wanordelike geeste, ook al het hulle die oppervlak van die son binnegedring, weer in allerlei vorme moet terugkeer en wel via die pole. Op hierdie wyse word hulle dan weer met die hart van die son verenig en probeer daar na ’n lang tyd, hetsy op ordelike-, dan wel op wanordelike wyse, weer uit te kom en op te styg. 11. Dit weet ons nou, maar hoe gebeur die opstyging? Die opstyg deur die binnesonne is merendeels 'n geestelike en derhalwe grootliks ongemerkte opstyging. Dit gaan dus nie met gewelddadige uitbarstings gepaard nie. Die opstyg vanaf die laaste binneson na die werklike oppervlak van die son uiter homself egter altyd op ’n buitengewoon gewelddadige wyse. 12. Die effek van die gewelddadige opstyging het julle al by die uitleg van die sonvlekke gesien. Ons hoef dus net nog te bespreek hoe dit van binneuit gebeur, en nie net langs die meer natuurlike weg wat reeds aan ons bekend is nie, maar eerder langs die intelligente, geestelike weg. 13. Hierdie geestelike wesens van die wanordelike soort versamel hulself, soos reeds opgemerk, in talloos vele triljoene, gewoonlik in 'n gebied by die ewenaar van die laaste binneson. Wanneer hulle sterk genoeg voel, verhef hulle hulself in groot massas en dring aldus omhoog tot aan die binnekant van die werklike son en probeer daar deur hul gevoel die swakste plek te vind. As hulle so 'n plek gevind het, wat ook terselfdertyd na alle moontlike rigtings 'n klomp are en kanale het, dan dring hulle weldra daarbinne en begin steeds meer met groter intensiteit te ontbrand. Daardeur bring hulle ook geleidelik aan die vlak, waaraan hulle hulleself vasgeplak het, tot gloeiing, verbind hulleself boonop nog met die gebonde geeste in die materie en oefen, steeds sterker ontbrandend, so ’n geweldige krag uit, dat die enkele duisende myle dik, buitenste kors van die son uiteindelik voor hulle moet wyk, homself op die reeds bekende wyse moet laat opstu en ten slotte selfs moet laat deurbreek. 14. Deur hul uiters wanordelike strewe kry hulle in ’n sekere sin ook ietwat materiële gewig, en dit kom hul by hierdie aktiwiteite baie goed te pas, want hulle maak sodoende ook gebruik van die geweldig vinnige draaiing van die son om haar as. En dan is dit letterlik by hulle: “Alle hande op die dek; ons moet ons doel bereik!” 15. As julle dit nou met die eerste toeligting op die sonvlekke vergelyk, dan sal baie duidelik word van wat andersins vir julle duister sou gebly het; op die minste sou julle julleself mettertyd teen 'n teenstrydigheid gestamp het, wat julle nie maklik sou kon opgelos het nie en menige geleerde jakkals sou daarin goeie voedsel vir sy skerp tande, sy skerp oë en kloue gevind het. 16. Ek sal julle slegs één teenstrydigheid aandui: Sou julle bekende opwellings by die ewenaar van die son uitsluitlik ontstaan het as gevolg van die middelpuntvliedende krag, deur die draaiing van die son om haar as, dan sou Ek graag diegene wil ken wat in staat sou wees om 'n tempel te bou, en boonop op 'n berg, waar die middelpuntvliedende krag nog groter is as in 'n dal, sonder dat so ’n tempel, tesame met sy inwoners, onmiddellik weggeslinger sou word! ’n Mens sou tog nie eens daaraan hoef te dink dat, onder sulke omstandighede, dit net nie moontlik kan wees om so 'n tempel te bou nie! Die middelpuntvliedende krag van die son staan derhalwe in die korrekte verhouding tot haar groot aantrekkingskrag, maar kan desondanks by sulke geestelike ondernemings goed te pas kom en is vir hul gewelddaad dus bevorderlik en nie belemmerend nie.