DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 26

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 24 Rus- en vakansiedae. Die sterwe van die inwoners op die middelgordel. 1. Het die sonbewoners soms ook 'n Sabbat of 'n ander rusdag? 2. O, hoe sou dit op die son moontlik wees, aangesien daar geen afsonderlike dae of nagte bestaan nie. Hoe sou daar dan rus- of feesdae kan wees? Daarom heers daar op die son ook altyd 'n ander orde as op die planete. 3. Desondanks word daar tog ook op die son 'n tyd vasgestel waarop daar van die gewone daaglikse aktiwiteite uitgerus word. Wanneer breek so 'n tyd nou aan? 4. Julle weet dat die hele son in 29 dae om haar eie as draai. Julle weet ook dat die sonbewoners die sterrehemel bo hulle baie goed kan sien. Hulle sien, veral die vaste sterre wat julle as die eerste, tweede en derde grootte reken, baie goed. Dit lyk vir hulle byna net so groot soos die son by julle. Dit geld vir die vaste sterre van die eerste en tweede grootte. Die sterre van die derde grootte sien hulle egter ongeveer as die helfte kleiner. Af en toe, by ongewone kalm en helder lug, kan hulle ook wel sterre van die vierde en vyfde grootte ontdek, maar verder reik die oog van die sonbewoners van hierdie gordel nie. 5. Wanneer die inwoners die vaste ster wat julle Sirius noem, as die grootste en mees stralende ster, net sien opgaan, dan begin daar 'n rusdag wat duur totdat hierdie ster ongeveer tot op die hoogtepunt geklim het, waarvoor volgens julle aardse dae gereken, 'n tyd van ietwat meer as sewe dae voor nodig is. 6. In hierdie tyd moet elke pendulum gestop word, slegs die hoof-pendulum van die tweede of groot tempel mag nooit stil bly staan nie. Gedurende hierdie tyd word daar dan nie gewerk, of nóg iets geleer nie en elke huisvader bly met sy gesin in sy huis. Gedurende hierdie tyd mag daar deur niemand een voet verby die grens van die pilare van 'n huis gesit word nie, behalwe by die dreigende, groot gevaar van die elemente wat reeds aan julle bekend is, wat egter in die eerste helfte van die verskyning van hierdie ster selde plaasvind, maar wel in die tweede helfte, wat net so lank duur as die eerste. Maar dit spreek vanself dat dit in een en dieselfde streek nie altyd so is nie, maar onder sekere voorwaardes onder die invloed van 'n hoër orde, dit wil sê, ooreenkomstig die orde en die wil van die goddelike wysheid. 7. Wat doen die mense dan in hierdie tyd in hul huise? Hulle lê hulleself bepaalde geloftes op en hou hulleself gedurende hierdie tyd dan uiters stiptelik daarby. 8. So ’n gelofte bestaan gewoonlik uit allerlei oefeninge in selfverloëning, wat 'n bietjie lyk soos die ware vas by julle. Dit gebeur egter nie in elke huis op dieselfde manier nie, want die aanleiding daartoe is altyd een of ander swak punt in die gesin van 'n huis. 9. As 'n gesin erg praatlustig is, dan word daar gedurende hierdie tyd aan alle tonge 'n volkome vas opgelê, en niemand mag dan gedurende hierdie tyd ook maar één woord oor sy lippe bring nie, maar moet hom slegs aan innerlike beskouings oorgee. Let wel: So ’n vas sou ook op aarde buitengewoon nuttig en aanbevelenswaardig wees, veral in die huise waar daar van die vroeë môre tot die aand oor baie nuttelose sake gebabbel word, waarby die eer van die naaste soveel moontlik afgetrek word en nog meer van sulke dwase onsin. 10. En verder, waar die mense in 'n huis op die son erg op eet ingestel is, word daar gedurende hierdie tyd so min as moontlik geëet om daardeur weer 'n halt vir hierdie swakheid toe te roep. 11. As daar in 'n huis persone met 'n twissieke karakter is, waarby elkeen van hulle graag gelyk wil hê en sy mening as die beste erken wil sien, dan moet daar gedurende hierdie tyd elke lus tot gelyk wil hê geheel en al ophou en die een moet die ander onbetwis sy gelyk gee, veral diegene in 'n gesin wat die meeste op voornoemde wyse twissiek is. Omdat alle kinders van die laer skole ook gedurende hierdie tyd huis toe kom, is daar in elke woonhuis ook altyd 'n groter aantal mense. Wanneer daar rusiemakers by is, kom hierdie tyd en die daarmee gepaardgaande vas hul heel goed te pas. 12. En soos reeds gesê, op hierdie manier word die vas in elke huis verskillend uitgevoer, na gelang ’n mens opgemerk het dat die een of ander swakheid oorheers. 13. As die ster sy hoogtepunt bereik het, word al die poorte van die huis weer geopen, en elkeen haas hom na buite na die drie tempels om daar die toepaslike dank te bring vir die verkreë versterking gedurende hierdie tyd. Aan wie? Dit sal julle sonder meer goed verstaan. 14. Na die beëindiging van die danksegging, die wedersydse seëning en die algemene seën deur die hoogste priester, gaan elkeen en keer dan haastig huiswaarts en begin weer met die gewone daaglikse werk. 15. Dit is die seremoniële godsdienstige kultuur op die son. Wat die geestelike godsdienstige kultuur egter aanbetref, dit duur ononderbroke voort, want die hele lewe van 'n sonbewoner bestaan daaruit dat hy homself onophoudelik besighou met die leer ken en noukeurige opvolging van die goddelike wil, en dit is tog wel die mees geestelike deel van elke godsdienstige diens. Die mees geestelike deel bestaan egter daaruit dat hulle met mekaar praat oor My menswording en hulle probeer om die groot liefdeswerk daarvan steeds digter te benader. Dit is dus die mees geestelike deel van die godsdienstige kultuur van die sonbewoners. 16. Merkwaardigerwys, altans vir julle, word die liggaamlike sterwe van die mens op die son ook by die godsdienstige kultuur betrek. Waarom dan eintlik? Omdat die sterwe op die son, veral op hierdie gordel, 'n buitengewone geestelike aangeleentheid is. 17. Nou sal julle vra: Hoe vind dit dan plaas? 'n Bietjie geduld en julle sal dit dadelik hoor. 18. Die mense daar word nooit siek nie. Wanneer hulle gees egter die regte rypheid bereik het, vernietig hy sy omhulsel oombliklik deur 'n vlammende uitbarsting van sy wese en gaan dan oor na 'n hoër wêreld, waaroor ons later nog meer sal hoor. 19. Ons het heel aan die begin sommige aanwysings hieroor gekry, maar in die volgende sal ons hierdie dinge nog veel uitvoeriger bespreek. 20. Kyk, omdat die mense op die son in ’n sekere sin skielik verdwyn wanneer hulle sterf, word daardie verdwyning deur die sonbewoners met innerlike, geestelike aandag gevier, waarby die Heer geprys word omdat Hy weer 'n broer van die aardse bande bevry het en hom na die oerryk van alle lig en lewe teruggeneem het! 21. Die geestelike deel van die godsdienstige kultuur word dan ook die laaste lofsang genoem, omdat geen lofsang 'n gestorwe mens meer volg nie. 22. ’n Gestorwe mens word egter nie uit die herinnering van die langslewendes gewis nie, omdat die vak wêreldgeskiedenis op die son verreweg beter in praktyk gebring word as op welke planeet dan ook en heel in die besonder dan by julle op aarde, waar uiteindelik slegs die persone vir die geskiedenis behoue bly, wat hul hoofde laat kroon het of wat die meeste broers gemoor het! So is dit dus op die son nie met die vak wêreldgeskiedenis gesteld nie, want daar word elke bewoner in die tempels opgeskryf en wel aan die hand van sy karakter en sy manier van lewe, en hoe hy getuie was van die een of ander groot natuurverskynsel. Ook word die voortbrengsels van sy wil bewaar en wel in die woonhuise self; daarom dat daar geen enkele sieraad is wat so woonhuis verniet versier nie, maar dit is 'n betekenisvolle letter in die geskiedenisboek van 'n mens wat in daardie huis gewoon het. 23. Op so 'n manier word die nagedagtenis aan 'n gestorwe mens op die son dan ook nie gevier soos by julle op aarde nie, met dure begrafnisse en daaropvolgende, byna ewige betaalde misse nie. Wel word die nagedagtenis aan 'n gestorwe mens gevier deur 'n dikwels herhaalde beskouing van dit wat hy deur My inwonende genade voortgebring het. En dit is ook onvergelykbaar veel beter as alle betaalde misse vir 'n oorledene, want Ek, die enigste een wat kan help, het geen geld nodig nie. Diegene wat hom egter laat betaal om My sodoende via die weg van ydele seremonie tot hulp te dwing, bevind homself altyd op 'n donker dwaalweg. Waarlik, Ek sê vir julle: Eerder sal die gekwaak van 'n padda My daartoe beweeg om genade te gee, as 'n betaalde gebed. En glo maar dat van alle euwels wat 'n mens kan begaan, die volgende boaan staan: Die een wat hom deur sy broeders laat betaal vir passende kragtige gebede. As 'n vlieg zoem, 'n meul kraak of 'n padda kwaak in 'n plas, waarlik, dit vind Ek aangenaam, maar 'n gebed vir geld klink vir My afskuwelik en weersinwekkend; meer hoef Ek julle nie daaroor te sê nie! 24. Uit hierdie weinige sal julle baie maklik kan aflei waartoe al die duur begrafnis-plegtighede en die daaropvolgende, goed betaalde siele-misse dien. Meer hoef Ek julle alweer nie te sê nie, maar ek verwys julle maar net na die evangelie. Lees dit, dan sal julle ontdek watter loon Ek belowe het aan die Joodse priesters, wie vir geld die arme weduwees en wese lang gebede voorgelieg het. Indien julle sulke tekste goed oordink, sal julle daaruit heel maklik kan uitmaak hoe dit met julle, veral Rooms-Katolieke begrafnis-plegtighede, gesteld is. 25. Maar genoeg hieroor! Laat ons nou weer na ons son terugkeer en daar nogeens in 'n huis kyk waarin die vader of moeder die verlossing ontvang het. Op die son sterf absoluut geen kinders nie, want daar moet alles in die grootste orde tot volkome rypheid kom, veral op hierdie gordel. 26. Wat gebeur daar eintlik met die agtergeblewe gade? Hy/sy dra spoedig die hele huishouding oor aan die oudste seun, en leef daarna nog gedurende die tyd wat die gees nodig het om volledig ryp te word, in die huis as 'n leraar en raadgewer in goddelike sake. 27. Die wewenaar of weduwee het daarna ook nog herhaaldelike ontmoetings met die oorledene. So ’n geestesverskyning word egter deur niemand anders gesien as slegs deur diegene met wie hy of sy in 'n ewigdurende, egtelike verbinding gestaan het nie. 28. Daarom trou niemand op die son ook vir ’n tweede keer nie, maar slegs één keer, en begeer sy/haar hele lewe lank niks anders as die ewige onafskeidelikheid met die uitverkorene van sy hart nie. 29. Dit is nou wel die mees merkwaardige wat daar oor hierdie hoofgordel op die son te sê is. Daarom sal ons hierdie beskouing nou ook afsluit en ons na die naburige, maar wel ietwat kleinere gordel begewe. 30. Daarby moet altyd baie goed in die oog gehou word dat daar aan elke kant van die hoofgordel nog sewe gordels is, wat ooreenkomstig die orde met mekaar harmonieer. Wanneer ons dus na 'n gordel kyk en daar maar oor één gordel gepraat word, moet daaronder altyd twee harmoniërende gordels verstaan word, omdat 'n gordel aan die suidekant van die hoofgordel en 'n gordel aan die noordekant van die hoofgordel op die son, met slegs enkele verskille, altyd een en dieselfde karakter het. 31. Wat die volgende kleiner en die daarmee ooreenstemmende gordel ons egter almal te siene sal gee, sal ons eers by die volgende mededeling verneem. Daarom laat ons dit hierby vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205